Monday, August 31, 2009

VERBEELDINGSVLUG

Op 'n dag stap 'n man deur die plantasie op sy plaas. Sy hart is verskriklik beswaard. Sy gedagtes dwaal oor sy lewe tot hiertoe, en hy besef dat daar baie dinge in sy lewe is wat nie reg is nie. Hy dink oor almal wat vir hom gelieg het terwyl hy nog sy besigheid gehad het. Sy gedagtes huiwer 'n oomblik by diegene wat van hom gesteel het en hom benadeel het. Sy gedagtes wentel om sy siekte wat niemand op die stadium instaat is om te genees nie.

Sy hart is gevul met woede, bitterheid en frustrasie.Terwyl hy na antwoorde soek, kom hy tot die besef dat hy eintlik 'n mislukking is en dat alles en almal hom gefaal het.
Hy kniel neer by die stam van 'n ou eikeboom en met betraande oë roep hy Hom aan wat hy weet altyd daar sal wees.

"Here U het wonderlike dinge vir my gedoen in my lewe. U het my gedring om baie dinge vir U te doen en ek het gehoorsaam. Vandag dring U my om te vergewe. Ek is treurig Here, ek kan nie, want ek nie weet hoe nie! Here dit is onregverdig, ek het nie verdien om so in my lewe benadeel te word nie en ek moes nie by hierdie punt kom waar ek iemand moet vergewe nie. U weë is perfek Here, maar hierdie ding van vergifnis kan ek nie doen nie, want ek weet nie hoe nie.

Here my woede is so groot dat ek bang is ek sal U nie hoor nie, maar nogtans bid ek dat U my daardie een ding sal leer wat ek nie kan doen nie. Here, leer my asseblief om te vergewe?"

Terwyl hy so in die skadu van die ou eikeboom kniel, voel hy iets op sy skouer val. Hy maak sy oë oop, en sien uit die hoek van sy oog iets rooi op sy hemp. Hy kan hom nie draai om te kyk wat dit is nie, want skielik, daar waar die ou eikeboom was sien hy 'n groot vierkantige stuk hout in die grond. Hy lig sy kop 'n bietjie op en daar verskyn twee voete met 'n groot spyker in, binne sy gesigsveld. Hy lig sy kop verder op en dan vul sy oë opnuut met trane as hy Jesus aan die kruis sien hang.

Hy sien die spykers in SY hande die gapende wond aan Sy sy, 'n stukkende en vernielde liggaam, doringgate in SY hoof. Hy sien ook die lyding en pyn op SY geliefde gesig.

Wanneer hulle oë ontmoed begin die man hartstogtelik te snik, en Jesus begin met hom praat:
"Het jy ooit 'n leuen vertel?"
"Ja Here"
Het dit ooit gebeur dat iemand jou te veel kleingeld gegee het en jy het dit gehou?"
"Ja Here" en hy snik al harder!"
"Het jy ooit iets by die werk gevat wat nie joune was nie?"
"Ja Here"
"Het jy ooit gevloek en My Vader se naam ydelik gebruik?"
"Ja Here" die trane rol nou vrylik!

Jesus vra nog baie keer "Het jy ooit.....?"
Die trane loop nou onbeheerbaar want al wat die man kan antwoord is "Ja Here"

Dan draai Jesus Sy kop van kant tot kant en die man voel hoe daar weer iets op sy skouer val. Hy kyk en sien dat dit die Bloed van Jesus is. As hy weer opkyk en sy oë die van Jesus ontmoed skyn daar 'n sagtheid uit Jesus se gesig en Sy oë straal liefde uit soos die man nog nooit in sy lewe gesien het nie.

Jesus sê: "Ek het dit ook nie verdien nie..., maar ek vergewe jou..!"

Soms kan ons nie die anderkant van ons moeilikheid sien nie en ons kan nie sien hoe ons ooit anderkant gaan uitkom nie.
As ons egter terugkyk op ons lewens, dan besef ons dat ons dit nooit sou maak as dit nie deur die genade van die Here was nie. Dan sien ons daardie enkel ry spore soos Hy ons gedra het.

Thursday, August 27, 2009

Déja vu of Vuja dé ??

Jy het sekerlik al gehoor van déja vu - daardie gevoel dat jy vantevore op 'n plek was, selfs al was jy nog nie daar nie. Wel, wat ook van 'n Vuja Dé gevoel. Wat van 'n omgekeerde manier van leef? Dink bietjie - wat sou gebeur as jy jou lewe begin leef asof jy dit vandag vir die heel eerste keer beleef? Dinkl jy nie dit sal jou totale ingesteldheid verander as jy daagliks van voor af begin met jou huweliksmaat, jou vriende, jou kollegas - ja, sommer met alles en almal rondom jou nie? Sal dit nie asemrowend wees as jy elke aand jou wrokke vergeet en daardie swart notaboekie opskeur wat jy stilletjies in jou hart in stand hou nie?

Weet jy, God doen elke dag Vuja Dé met jou en my. Hy begin daagliks oor en voor met ons. Sy genade is elke oggend kraakvars en nuut soos wat Klaagliedere 3 vir ons leer. Die Here vernuwe ons elke dag innerlik, soos wat Paulus glashelder in 2 Korintiërs 4:16 sê. Die Apostel skryf dat al vergaan ons uiterlik, dan maak God ons nogtans elke dag innerlik nuut.
Volg vandag in die Here se voetspore! Begin nuut. Begin voor. Begin oor. Wees leergierig. Wees onversadigbaar nuuskierig. Leef asof die lewe vandag vir die heel eerste keer aangebreek het en alles vanaand tot 'n einde gaan kom. Delf met oorgawe in God se skatkamers rond op soek na nuwe hemelse skatte. Word 'n fynkenner van die nuutste wonders wat Hy verrig. Leef van nou af op die Vuja Dé roete. Dan bruis daar weer lewe in jou hart.

Met dank aan: Dawie de Koker

Sunday, August 23, 2009

TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES

In die Sondagskool sing ons kindertjies:

"Weet jy nie, weet jy nie, jy's 'n tempel, jy is 'n tempel van die Heilig Gees."

Kom word ons groot, dan vervaag daardie waarheid en verskiet dit in die verte.
Dit wil voorkom asof ons dan probeer om daardie tempel so vinnig as moontlik te verniel en af te breek. Dan gee ons nie meer om dat ons die tempel waar die Heilige Gees in woon, moet mooi en gesond en skoon hou nie.
Hoe doen ons dit? Deur die misbruik van drank, verdowingsmiddels, sigarette en al die ander sosiaal aanvaarbare maniere wat satan uitgedink het waardeur ons ons liggame se imuunsisteem kan afbreek.
As daar nou 'n dooie rot in ons huis lê en verrot, sal mens instaat wees om saam met daardie reuk te lewe? As daar dag vir dag 'n nuwe stinkende rot ingedra word waaroor ons geen beheer het nie. Dink nou maar daaraan, as jy 'n huis huur en die ding gebeur met jou. Jy sal sekerlik die landlord aantree en dit met hom opvat. Selfs as die bure elke aand raas en baklei, sal jy dit ook met landlord opvat. Wat gaan jy maak as hy niks aan die saak doen nie? Hoe lank sal ons dit kan hanteer voordat ons, ons meubeltjies pak en 'n ander plek gaan soek waarin ons kan bly? Nie baie lank nie, miskien loop ons sommer oornag weg!

Vraag is nou, hoe voel die Heilige Gees oor die tempel wat jy vir Hom aanbied om in te bly. Is Hy gelukkig met wat Hy kry? Praat Hy met jou oor dit waarmee Hy nie gelukkig is nie? Doen jy iets daaraan om die probleem uit te sorteer of ignoreer jy Hom sommer net. Of sê jy vir hom jy sal anderdag wanneer jy 'n kans kry aandag daaraan gee!

Skuif bietjie nader, ek wil jou iets vertel: "Het jy geweet, Jesus het gekom om ons te verlos en van ons ware tempels te maak met Hom as die hoeksteen? Die Heilige Gees maak woonplek in elke gereinigde hart!(1Kor 3:16) Sy blyplek moet skoon wees, met geen nare reuke wat Hom ontstel nie."
Hoe lyk en ruik jou tempel wat jy vir die Heilige Gees aanbied om in te bly?
Bly die Heilige Gees nog ooit in daardie tempel?
Miskien moet jy soos 'n goeie landlord bietjie gaan kyk wat daar aangaan. Doen introspeksie. Gaan kyk of die plek nog skoon en bewoonbaar is, en maak seker dat die Heilige Gees nog daar woon en nie dalk lankal getrek het nie.

Thursday, August 20, 2009

IS JY 'n "LIFE COACHING" OUER?

"Life Coaching" is nog vir baie mense 'n vreemde konsep. Dit word baie keer verwar met terapie of konsultasie. Terapie fokus op jou huidige situasie en werk dan terug na die verlede om die oorsaak van die probleem te gaan soek en dan word daar 'n oplossing gesoek vir die pad vorentoe(heelword-proses). Konsultasie is wanneer 'n kundige se hulp benodig word en hy of sy kom gee raad en deel kennis.

Coaching is nie een van bogenoemde nie. 'n Life coach help jou om duidelikheid te kry oor wat jy graag wil bereik en stap dan die pad langs jou, gefokus op die einddoel.

Maar is life coaching regtig 'n vreemde konsep of is dit 'n Bybelse konsep wat se hande en voete stomp geraak het? Deut 6:4-8 (NLV) sê mos baie duidelik dat ouers hulle heelhartig moet verbind aan God se gebooie, en dit oor en oor, aan hulle kinders herhaal moet word.

Vir jou as Christen ouer is die uitdaging om jou kinders te coach sodat hy of sy kan word wat God graag wil hê.

Life coaching word basies in 3 stappe ingedeel.
Stap 1: Waar is jy nou? (jou huidige realiteit)
Stap 2: Waar wil jy graag wees(jou droom of doelwit)
Stap 3: Hoe kan jy dit bereik?(strategie)

NB!! Stap 2 is NIE 'n eie-ek fokus nie, maar 'n God fokus.
Ons as ouers mag nooit Ef 6:4 ignoreer in die grootmaak van ons kinders nie. Die woord van die Here sê dat ons nie ons kinders so moet behandel dat hulle verbitterd word nie........
(Die Boodskap) Vir die pa's wil ek dit sê: moenie julle kinders so behandel dat hulle nie meer na julle wil luister en rebels raak nie. Maak hulle liewer groot soos die Here van julle verwag. Leer hulle wat om te doen en help hulle op die regte pad, al moet julle soms streng optree.
........"pas my skape (skapies) op", het Jesus gesê......

Met dank aan: Ds. Danie Jacobs - Leraar Kinders

Monday, August 17, 2009

Betaaldag - Genadedag

Groete en Vrede!!!

Vandag is betaaldag,genadedag op Noeniesput. Vir die meeste van die mense in die Agter-Kalahari is dit maklik die belangrikste dag van die maand want betaaldag is koopdag, uithangdag, kuierdag en selfs skuldaflosdag. So word nuus met ver familie en vriende uitgeruil terwyl 'n klomp hulself oorgee aan die rondslingerende wêreld van te veel soetwyn en groen twak. Betaaldag is wanneer die staat verniet geld weggee en elke maand het 'n betaaldag, 'n genadedag.

Die meeste van Noeniesput se mense op die winkeltjie se blink stoep is gedas en gejas in hul heilige sabbatsklere. Willem se boonste knoop belemmer die in-en-uit van sy asem en gevolglik rek hy kort-kort sy nek soos 'n langnek Kalahari hoenderhaan. Martha, sy té ronde vroutjie, dra blink polvye saam met haar stywe sweetpak en Angeline vee kort-kort oor die dun stfgevlegte hare op haar kop. Swart Piet (met sy langmouhemp, bont das en blinkswart skoene) loop vroom en statig met die kerkboekie rond terwyl ou Dikkes brom-brom met homself praat want die wynwinkel se pryse is hoeka al weer op. Oom Jan Jors en Katie (met rooipropwyn styf onder die arm) skel vir Apie want dié moet nog loop vullis laai met sy donkiekarretjie en dit wegry voor uitvaltyd. Dan stop Swartkopdam se bakkie met 'n gelag, geskree en gesels terwyl 'n witvaal stofwolk die winkel toevou....... en skielik oorweldig 'n kakofonie van klank, Noenieput. Oral is klein groepies mense en almal is besig om te doen wat belangrik is, almal behalwe Melkie.

Met haar jongste op die heup, staan sy so half eenkant, weg van die geroesmoes om die winkel en beskou die aktiwiteite diepdenkend. Veilig weggebêre naby haar hart, is haar vernietgeld. 'n Staatstoelaag van vernietgeld bepaal deur haar skynbare hoe bloeddruk, haar jongste op die heup en twee skoolgaande kindertjies. Dan verskyn 'n skamel spierwit glimlaggie op haar ligbruin gesig en ek weet dat sy ook herkou aan 'n paar aande gelede se gebeure toe sy met nat traanspore op haar wange die Mooiste
Mooi se hand styf vasgegryp het. Daardie aand toe sy die waarheid van Vader se vernietgenade begin verstaan het en dit gretig so begin uitleef het.

Vernietgenade wat elke dag vrylik sonder enige berekeningsfaktore beskikbaar gestel word omrede elke mens vir Hom kosbaar en belangrik is. Elke dag is Sy betaaldag, Sy weggeedag van vernietgenade. Vernietgenade om net te aanvaar en dan uit te gee aan ander - nes vernietgeld.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou..................
 
Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene
DIVINE LIFE SENDING.
(Landlyn 054-551 1000)

Thursday, August 13, 2009

SUKSES = Harde Werk + JESUS

Die ander dag hoor ek iemand sê: "Manlief het my verras en vat my vir 'n paar dae see toe. Daar gaan my dieet!" Ek hou nie daarvan om te praat van 'n dieet nie, maar gebruik eerder graag die woord, eetpatroon. 'n Dieet is iets wat jy volg vir 'n bepaalde tyd en dan gaan jy weer terug na jou normale eetpatroon.
Vir baie mense is dit 'n noodwiel en iets wat hulle gewete sus, want al volg hulle nie eintlik die voorskrifte soos dit van hulle verwag word nie, kan hulle darem sê dat hulle wel op dieet is.

Ek dink ons kan nogal ons eetpatrone goed vergelyk met die van Christenskap:

Is jy bereid om jou hele lewe vir Jesus te gee, of is jy net 'n Christen wanneer dit vir jou gerieflik is? Is Christus net vir jou 'n noodwiel wanneer jy Hom nodig het? Gaan jy net Sondae kerktoe om jou gewete te sus? As jy eerlik is met jouself, en jou antwoord is "ja" op sommige of al hierdie vrae, is jy nie ernstig met Christus nie, en is jy op die verkeerde pad sonder die vooruitsig van 'n ewige lewe!
As jy net 'n gesonde eetpatroon volg wanneer dit vir jou gerieflik is, of wanneer jou klere weereens gekrimp het, of wanneer jy dit net af en toe volg om jou gewete te sus, is jy ook op die verkeerde pad sonder die vooruitsig van enige langtermyn sukses.

Om 'n Christen te wees is harde werk! Jesus sê in Mark 8:34
"Neem jou kruis op en volg My." Om gewig te verloor is vir baie mense so moeilik soos om Kilimanjaro te klim, maar ek wil graag vandag vir jou kom sê, dat as jy bereid is om elke dag hard te werk aan 'n verandering in jou hele lewensstyl, en nie net soms in jou eetpatroon nie, sal jy weldra 'n groot verandering waarneem!

Of dit nou in jou verhouding met Jesus is en of dit 'n gewigsprobleem is, Jesus is altyd daar om jou te help dra aan daardie kruis, maar jy moet dit net optel

Dank aan: Dawie van Schoor

Monday, August 10, 2009

SEëN IN DIE HUISGESIN

Psalm 128
Die Boodskap

Hoe gelukkig is jy wat die Here dien en eer, jy wat presies doen wat Hy sê!
Jou harde werk sal elke dag vir jou 'n goeie oes oplewer, jy is die gelukkigste mens op aarde, want God sorg dat dit goed gaan met jou.
Jou huwelik sal een groot vreugde wees, en jou kinders jou trots!
Jou vrou en kinders sal soos 'n goeie oes op die land wees wat jou baie bly maak
Die Here is so ontsettend goed vir jou wat Hom vrees, jy staan in die sonskyn van Sy goedheid!
Mag die Here jou daar van die Sionsberg af oorlaai met Sy goedheid, mag jy elke dag sien hoe goed dit gaan met almal wat Hom dien.
Mag jy so oud word dat jy ook nog jou kindrs se kinders sien grootword.

Is hierdie nie 'n lieflike Psalm nie? Hierin word presies gesê hoe dit met die huisgesin sal gaan as die hoof van die huis die Here dien! Daar rus 'n ontsettende groot verantwoordelikheid op elke man om te sorg dat sy verhouding met die Here reg is wanneer hy die dag trou, sodat dit in sy huis kan gaan soos die Psalmis hierbo beskryf.
Dit is elke man se verantwoordelikheid om priester van sy huis te wees en om by die Here leiding te kry om sy huisgesin te lei.

Die anderkant van die prentjie is seker ook waar. As jy as hoof van die huis nie die Here dien nie, hoe kan jy verwag dat die Here jou en jou huisgesin sal seën?
Is dit dalk die rede hoekom daar so baie egskeidings in Suid Afrika en wêreldwyd is......?


Thursday, August 6, 2009

GOD STAAN REG

Maak jou oë toe
En jou hart oop
En voel hoe al jou sorge wegloop.
Jy moet jou net aan God toevertrou
Hom toelaat om jou
In liefde toe te vou.

Want die lewe op aarde
Is nie maklik
En van die uitdagings

Voel so onredelik,
Maar God vra ons net vir ons bes -
En belowe Hy sal sorg vir die res.

Wanneer jy moeg is, Hoop verloor, berou,
Is daar altyd een deur
Wat oop staan vir jou.
Dit is die deur
Na die huis van gebed,
Waar God altyd reg staan
Om jou te red.

Digter onbekend , maar ek het dit per e-pos van Annatjie Pretorius ontvang.
Opskrif het ek maar self gegee

Monday, August 3, 2009

NOAG SE ARK

'n Ware verhaal van HOOP

Na die skepping was God hartseer oor die boosheid daarin. Daar was darem nog een goeie man: Noag. God het hom toe 'n opdrag gegee om 'n houtskip te bou vir hom en sy drie seuns: Sem, Gam en Jafet en hulle vrouens. God het vir hom presies gesê hoe hy die houtskip moes bou: dit sou van goferhout gebou word, met pik geverf word en drie verdiepings hoog wees, soos vir Vader, Seun en Gees, Die skip is DIE ARK genoem en moes groot genoeg wees vir Noag en sy familie en ook vir die diere wat God sou stuur om in die ark te wees.

Noag het honderd-en-twintig-jaar aan die ark gebou. Hy was ses-honderd-jaar-oud toe hy in die ark ingegaan het. God, het die diere gestuur en toe almal in was, die deur aan die kant van die ark toegemaak. Wat God toemaak, kan mense nie weer oopmaak nie! Daar was geen ander opening in die ark nie behalwe 'n luik-venster op die boonste verdieping sodat die mens moes opkyk. As jy opkyk kan jy voorentoe gaan!

Veertig dae en veertig nagte het dit gestortreën, totdat die hele aarde onder water was, vyftien meter hoër as die hoogste berg. Dit het honderd-en vyftig dae gevat vir die water om te begin wegsink. Die ark het op berg Ararat tot stilstand gekom Na nog drie maande was die toppe van die berge sigbaar. nog veertig dae later het Noag die luik oopgemaak en 'n kraai uitgestuur. Die kraai het heen en weer gevlieg, maar nie terug gekom ark toe nie.

Wie sou hom verkwalik? Dit was al amper 'n jaar vandat die vloed begin het! En met al die vars lug en nuwe lewe buite die ark, het die kraai sy vryheid geniet! Dalk bietjie selfsugtig....soos kraaie maar is! Kraaie was ook as onrein beskou.

Daarna laat Noag 'n duif uitvlieg. Die duif kon nie rusplek kry nie en kom terug ark toe met 'n boodskap: Dis nog te nat buite! Dis anders as die kraai wat net wegbly. Na nog sewe dae, stuur Noag weer die duif uit. Hierdie keer het die duif weer terug gekom met goeie nuus: 'n groen olyfblaar in sy bekkie vertel sy eie storie. Noag weet die waters is besig om te verminder. Sewe dae later het hy weer die duif uitgestuur, maar die keer het die duif nie terug gekom nie en Noag het geweet die aarde is droog. Na meer as 'n jaar in die ark, 377 dae, het Noag en sy gesin en al die diere hulle veilige vesting verlaat. En God het 'n verbond met die aarde gemaak en die teken van die reënboog gegee.

Hoe simbolies dat die duif, die simbool van die Herilige Gees, nie soos die kraai net weggebly het nie, maar teruggekom het. Die tweede keer bring hy 'n boodskap van hoop, die groen olyftakkie om die Heilige Gees te verteenwoordig. Die derde boodskap is van vryheid en oorwinning! En God stuur 'n reënboog met sewe kleure wat die verbond bevestig.

Mag die duif, olyfboom en reënboog ook vir jou 'n bevestiging wees van jou ewige verbond met die Vader, Seun en Heilige Gees in die veiligheid van Sy Ark.

Met dank aan: Terry Steenkamp.