Monday, September 28, 2009

DIE OORGAWE-TRAPPIE......

As God met jou praat en aan jou openbaar wat Hy gaan doen, is daardie openbaring jou uitnodiging om jou lewe aan hom oor te gee. As jy eers jou lewe by Hom, Sy planne en Sy metodes aangepas het, is jy in 'n posisie om gehoorsaam te wees. Oorgawe, berei jou voor op gehoorsaamheid. Jy kan nie maar soos tevore aangaan met jou lewe of bly waar jy was en terselfdertyd saam met God gaan nie. Dit is 'n feit wat ons dwarsdeur die hele Skrif aantref:

* Abraham kon nie in Ur of Haran bly en die vader van 'n volk in Kanaan word nie (Gen.12:1-8)
* Dawid moes sy skape los om koning te word (1Sam.16:1-13)
* Jona moes sy huis verlaat en sy vooroordele te bowe kom om in Ninevé te gaan preek (Jona 1:1-2,3:1-2,4:1-11)
* Matteus moes sy tolhuis verlaat om Jesus te volg(Mat.9:9)
*Paulus moes in sy lewe heeltemal van nrigting verander voordat God hom kon gebruik om die evangelie aan die heidene te gaan verkondig(Han. 9:1-9)

Veranderings moes defenetief gemaak word. Party het families, ander het lewensdrome en ideale prysgegee. Alles moes aan God oorgegee en hulle lewe by Hom aangepas word. En die oomblik toe die nodige aanpassings gemaak is, het God begin om Sy planne deur hierdie mense uit te voer.

Elkeen het geleer dat om jou lewe by God aan te pas, oor en oor die moeite werd was.

Hoeveel moet jy nog aanpas en oorgee aan God?

Met dank aan: Danie Jacobs

Thursday, September 24, 2009

BESITTINGS TEENOOR RYKDOM

'n Belastinginspekreur kom eendag by 'n arm Christen aan om vas te stel hoeveel belasting hy moet betaal. "Watter besittings het jy?" vra die gaarder. "Ek is regtig baie ryk", antwoord die Christen. "Gee my 'n lys van jou besittings asseblief", sê die agent toe.

Die Christen antwoord:
1. Ek het die ewige lewe, Joh3:16
2. Ek het 'n huis in die hemel Joh14:2
3. Ek het vrede wat alle verstand te bowe gaan Fil4:7
4. Ek het onuitspreeklike vreugde 1Pet1:8
5. Ek het liefde wat nie nie vergaan nie 1Kor13:8
6. Ek het 'n getroue vlytige vrou Spr31:10
7. Ek het Ek het gesonde gehoorsame kinders Ex20:12
8. Ek het goeie betroubare vriende Spr18:24
9. Ek het liedere in die nag Ps42:9
10. Ek het die kroon van die lewe Jak1:12

Die agent maak sy boek toe en sê: "Meneer, jy is waarlik skatryk, maar jou rykdom is nie belasbaar nie."

God wil vir my en jou seën, ons soek die fisiese tasbare dinge, terwyl God die ewigdurende in gedagte het. Dit kan ons ook alreeds hier begin ervaar, veral as ons na die lysie hierbo kyk. Wat is die skatte wat jy in jou lewe het, maar nie erken nie? Wanneeer laas het jy 'n inventaris van jou skatte gemaak?

Mag jy ook op hierdie manier skatryk wees!

Met dank aan: Manie Delport

Monday, September 21, 2009

KOUE BEKEERORE

Groete en Vrede


Die sit in hulle huisie was maar so in die skemerte gewees want die wintersonnetjie het vroeg-vroeg loop aanstaltes maak om te wyk voor die murgsuig windjie en naderkomende donkernag koue. Vandag se kuier is die tweede keer dat ons hier kom oorstaan en ek onthou nog die gekerm en gekla oor die genadelose kerk en sy se mense tydens ons vorige besoek. Meedoënloos vervelig laat die ysige windjie se waai die vaalkleurige kantgordyne geruisloos heen-en-weer voor die vaal, vuil vensters verby beweeg. My se hande vryf heen-en-weer oor mekaar om die diep byt van die koue teen te werk terwyl ek woordloos wonder wat hierdie besoek gaan inhou.

Saggies klop iemand aan die deur en die gesprek steek skielik vas soos ‘n rooijakkals wat ‘n jaghond ruik. Versigtig word die houtdeur eers op ‘n skrefie oopgemaak. Daarna word die deur vinnig al groter en groter oopgeskuif sodat die ongenooide oorstaner kan inkom. Karools is sy naam en hy het maar kort voor laaste week hier ingewaai. Sy handdruk is ferm en vertel sy lewensverhaal vol kennis en ervaring. Ons praat is los en vas en handel oor skape, slange en laaste somer se lekker reën. Dan verander sy swartbruin oë blitsig in klip toe ek die gesprek in die rigting van gelowiges en kerklopers as Sy verteenwoordigers hier op stofaarde draai.

Ek kyk hom vol in die oog en besef dadelik dat sy hart vol littekens en ‘n geelrooi oorryp sweersel is, diep uitgekerf en veroorsaak deur genadelose gelowiges en liefdelose kerklopers. Met sy skouerknoppe effens agteroor getrek, sy kop omhoog soos ’n regopstaan geelslang, sit hy trots en kyk my aanvallend en uitdagend aan. Duidelik lees ek in die vensters van sy klipkoue hart die opskrif van sy binnekantstorie en ek besef dat Karools geensins ‘n binnenste-binne warmte vol liefde en genade ken nie.

“Vandag is die dag wat jy gaan leer om met jou se koue bekeerore na ander se seer te luister,” fluister Hy in my se gemoed. “Vandag is die dag wat die sandstorm van ‘n littekenhart na buite gaan waai sodat jy met bekeerore My liefde daarin kan saai.”

Skaars het Sy woorde my se hart bereik toe woede en frustrasie deurtrek met teleurstelling, haat en verwyt vanuit Karools se binneste-binne onverpoosd begin te woed. Hierdie uitbarsting en tirade het die huismense soos ‘n uitbundige uitbreekskaap heel onkant gevang. Verdwaas en verbaas sit hul daar terwyl ysige hartswoorde hard in my se ore basuin. Kort neffens die eerste salvo’s gevuur is, begin hulle ook stadig maar seker vertel van dit wat kerkloop so moeilik maak. So word vertel van lang jare se gelieg en bedrieg en hoe kerklopers en gelowiges met ‘n vlymskerptong mos jou se toekoms en selfs saligheid bepaal.

Heelwat later en Karools se litteken en geelrooi sweersel hart is leeg gepraat en hy sak moeg in die rusbank terug. ‘n Klompie minute gaan verby terwyl ‘n amperse goddelike stilte oor ons hang. Selfs die murgsuig windjie het sy asem opgehou. “Dankie, pastoorgoed, dat jy met oop ore geluister het,” het hy lateraan gegroet toe hy my se hand saggies druk.

Stadig, met onse vingers inmekaar gevleg en diep in my se baadjiesak gesteek, stap ek en die Mooiste Mooi daardie donkernag na onse woonhuis toe. Karools se groetwoorde maal deur my kop en ek onthou weer Vader se sagte opdrag gefluister. Dan besef ek om met bekeerore te luister is dieselfde as om Sy woorde “Jy’s ‘n uitgesoekte en uiters kosbare mens,” saggies in ‘n ander se hart te fluister.

Mag jy van vandag af aan met jou se bekeerore na ‘n ander luister want jy is ‘n Jesuslig in sy se duister.


Wel vanuit die Agter-Kalahari tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ...................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene
DIVINE LIFE BEDIENING.
(Landlyn 054-551 1000)

Thursday, September 17, 2009

WIE GAAN DIE WAARHEID VIR HULLE VERTEL

Ef 6:14 "Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan...."

Ek en jy het die voorreg om van die waarheid te leer en ook die waarheid te ken. Wanneer ons bv. na 'n Cinema gaan om 'n fliek te kyk en jy sien al die mense, dan wonder jy of hulle die waarheid ken? By 'n vol rugby stadion sien jy al die mense en weer kom die vraag: "Wie gaan hulle vertel?" Stap in die Mall en jy sien die geskarrel van mense en weereens kom die vraag dan ook of hulle die waarheid ken? Ons is almal besig om oral te beweeg en baie keer besef ons nie die enorme taak wat ons het om hulle te vertel nie. Ons kry wel 'n angsgevoel wanneer ons besef dat ons eintlik deel daaraan het hoekom die Groot Opdrag nie uitgevoer word nie, want ons dink mos soms dat die opdrag net vir 'n paar gekose mense is. Luister wat sê die Woord van God oor die opdrag:

Matt 28:19 "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het."

Hier was Jesus besig om met die skare te praat en nie met die uitgesoekte paar nie. Toe die skare Hom gesien het, het hull Hom aanbid en daar was ook die wat getwyfel het. Dus moet ek en jy eintlik net vir onsself die saak uitmaak of ons deel van skare is wat die opdrag hoor en gaan doen en of ons deel is van die skare wat twyfel in die krag en werking van die Here. Dit is HY wat ons die vermoë gee deur die Heilige Gees om te doen ver bo wat Jesus gedoen het - dit is ook 'n belofte van die Woord.

Joh 14:12 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in MY glo - die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na My Vader gaan.

Glo ons dit, of twyfel ons? Ek en jy ken die Waarheid, (Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe) en daarom moet ons ander vertel van die Waarheid. Dit is ons gegewe opdrag, 'n inklusiewe en nie 'n eksklusiewe opdrag nie, van God en dit sluit elke gelowige Kind van God in.

Die vraag bly egter - "WIE GAAN DIE WAARHEID AAN HULLE VERTEL?"

Met dank aan: Manie Delport

Monday, September 14, 2009

ADAM & EVA

Dink net daaraan hoe lekker kon Adam en Eva in die tuin van Eden gebly het. Hulle kon laat slaap in die oggend, sonder dat ‘n wekker hulle wakkermaak. Daar was geen telefone of selfone wat hulle heeldag gepla het nie. Hulle kon rustg wees en kwaliteit tyd met mekaar deurbring. So ‘n lekker laat ontbyt van vrugte en watter ander kosse hulle ookal geeët het net om die dag reg te begin. Eva het nie nodig gehad om vuur te maak en pap te kook nie, hulle het net tussen die pragtige boorde ingeloop en gepluk waarvoor hulle lus gehad het.Hulle het geen klere gedra nie, so Eva het ook nie nodig gehad om knope aan te werk en nate in te sit of klere te maak nie. Adam het nie ‘n werk gehad waarheen hy elke dag moes gaan nie, hy het nie nodig gehad om tweemaal op ‘n dag die verkeer te trotseer nie.
Hulle was darem nie heeltemal ledig nie, nee hulle het ‘n baie groot opdrag gehad om uit te voer. Hulle moes al die diere van die aarde name gegee het

Dink net aan die ander wonderlike voorreg wat hulle gehad het. Saans het God op die aandwindjie gekom en saam met hulle deur die tuin gewandel. Dink net hoe lekker dit moes wees om met die lewend God te gesels en aan Hom al die vrae te vra wat hulle gehad het. Dalk het hulle geen vrae gehad nie omdat hulle baie gelukkig moes gewees het om in die wonderlike plek te woon.
Sekerlik het God hulle onderrig terwyl hulle so deur die tuin gewandel het. Van al die bome in die tuin mag julle eet, maar van die boom wat in die middle van die tuin staan daarvan mag julle nie eet nie. Dit is die boom van goed en kwaad van hom mag julle nie eet nie, want as julle dit doen sal julle sekerlik sterwe.

Elke dag as Adam en Eva so deur die tuin wandel om kos in te samel, het hulle seker maar onwillekeurig so deur die middel van die tuin gestap en die pragtige verbode vrugte bewonder. Seker ook maar baie gewonder hoekom God nie wou hê dat hulle van die vrugte mag eet nie, want hulle is darem so mooi.

Heerlik het Adam en Eva in die tuin gebly, tot op daardie dag..........!

Toe hulle vroeg die oggend wakker word, het hulle nie geweet wat daardie dag met hulle sou gebeur nie en hulle het ook nie die vêrrykende gevolge wat daardie dag op die ganse mensdom sou hê, besef nie...!

Hoeveel oggende word ons wakker en ons besef nie wat daardie dag vir ons inhou nie. Dit is ‘n dag soos elke ander dag, maar ons weet nie dat dit die dag is wat die slang uitgekies het om ons te besoek en vir ons daardie geestelik slaggat te stel nie.
Ons staan lekker op, stort en doen. ‘n Rukkie later begin ons normale roetines. Ons ry werk toe waar ons daaglikse dagtaak vir ons wag. Dit is vergaderings, beplannings, afsprake,papierwerk, briewe en e-pos lees en antwoord. Ons dagtaak slurp ons gedagtes so op dat ons aan niks anders dink as die voor die handliggende take nie. Miskien kry ons deur die dag kans om vir Liefie te skakel en net vir hom/haar te vra hoe dit gaan, of net ‘n sosiale afspraak te bevestig, verder is ons so besig met ons eie dinge dat daar nie tyd is vir ander dinge of gedagtes nie.

Dan net so voor huistoe gaan tyd, wanneer die ergste druk van die dag af is en die spanning so bietjie begin lig, dan kom staan daardie slaggat voor ons reg in die pad wat ons moet loop. Hierdie slaggat kan verskillende vorms aanneem, en kan jou op verskillend maniere pooitjie; Met humeur, met taalgebruik, met begeerte, met jaloesie, met vergrype, met versoeking, met twyfel, met oneerlikheid, met ongehoorsaamheid, met bakleiery en ‘n legio ander dinge.

Kyk laat ons maar eerlik wees, Eva en ook Adam, het daardie slaggat wat die slang vir hulle gestel het nie sien kom nie. Hulle het pens en pooitjies daarin beland en moes die gevolge daarvan dra. Die uitsetting uit die Paradys...!

Wanneer die slaggat voor ons verskyn, hoe hanteer ons dit? Het ons geleer uit die geskiedenis van Adam en Eva? Is ons bedag daarop dat die slaggat voor ons mag verskyn, of gaan ons maar net voort en val soos ‘n oningeligte daarin.Het die elende van Adam en Eva se val ooit tot ons deurgedring?

Onthou die sielevyand is slim, hy kom altyd op so ‘n bedekte manier, die Woord sê vir ons dat hy hom voordoen as ‘n engel van die lig. As ons oningelig is omtrent die Woord van God, sal ons swaarkry om te onderskei want die vyand kom met sy leuen so naby aan die waarheid dat ons dit so maklik kan verwar met die waarheid. Dan beland ons ook pens en pooitjies daarin.

As ons inval, wat doen ons dan? Bly ons dan maar net lê en kry ons self jammer, “sulk” in ons elende en wag vir iemand om ons te kom soebat om op te staan. As daar nie gou genoeg iemand by ons uitkom nie,dan bly ons lê soos ‘n babatjie in sy vuil doeke en kerm. Agterna is dit maklik om die Predikant, Pastoor of Prediker te bekuldig dat hy nie in jou belangstel nie en jou nie die heeltyd gepamperlang het nie. Dan verkies ons om maar in die vuil doeke te bly lê omdat die Predikant nie ons hand kom vashou het nie.

Nee genade man/vrou, jy kan nie so in jou elende en eie gemors bly lê nie! Daar is ‘n lewe wat ons moet lewe....!

Staan op uit die gat, stof jou af, vra vergifnis in berou, van die Vader, vergewe jouself (dit is gewoonlik die moeilikste) en gaan aan met jou lewe. Leer iets uit die voorval, skerp jou heiligmaking op, bestudeer die Woord en lewe voluit vir Jesus.

Wees van een ding verseker, Jesus het die vyand oorwin, hy is verslaan, hy het nie tande nie. Die woord sê vir ons : “weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”

Bestudeer die woord leer die woord en gebruik die woord teen die vyand sodat hy jou sal uitlos, maar wees bedag daarop dat hy soos ‘n brullende leeu rondloop en net ‘n geleentheid soek....!

Jy is nie immuun daarteen om versoek te word nie. Jesus was versoek maar Hy het die vyand telkemale platgesit met sy antwoorde.

Jy kan ook! Kry net jou skietgoed bymekaar. Daar is ‘n oorlog daar buite aan die gang.

Thursday, September 10, 2009

DIE DRIE VARKIES

Ons almal ken die verhaal van die 3 varkies wat op hulle eie wou gaan bly en die wêreld gaan ondersoek. Baie opgewonde oor hulle nuwe lewenspaaie, het elkeen met die geleerdheid en die opvoeding wat hulle van hulle ouers gekry het, die onbekende aangedurf.

Gou het hulle besef dat hulle vir hulle self 'n lewe moet skep deur met 'n huis te begin. Die varkies het ondermeer die volgende besluite geneem: 'n huis van strooi, stokkies en bakstene. Dit was elkeen se besluit en moes met die gevolge van hulle besluite saamleef.

So is dit ook in elke persoon se lewe, soorgelyk aan die 3 varkies. Ons leef ons lewe onafhanklik van die wat ons opgevoed het. Ons moet sekere keuses uitoefen en met die keuses se gevolge saamleef. Ons lees in 1Kor 3: 9 - 23 die verhaal van die bouwerk wat ons kies.
1Kor 3: 12 - 13 En as iemand op dié fondament bou, goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels - elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel hoedanig dit is.

Laat ons, ons bouwerk oprig soos uit die pen van die perfekte Argitek aan ons beskikbaar gestel.

Daar is tyd om weer van voor af te begin, maak die keuse nog vandag!

Met dank aan: Flip Nel

Monday, September 7, 2009

KRUMMELS EN GENADE

Hierdie twee stukkies van Christa Els per e-pos ontvang. Die skrywer is onbekend

KRUMMELS
'n Brood val uit 'n bewegende broodwa en rol 'n entjie verder. 'n Stukkie breek af en bly in die straat lê.

Drie mossies peil af op die stukkie wat afgebreek het. 'n Hewige bakleiery breek los. Een kry die oorhand en begin die krummels gretig oppik, terwyl die ander twee met luide protes in 'n boom gaan sit.

Nie een van hulle het die groot brood 'n entjie verder raakgesien nie. Hulle was besig om oor die krummels te baklei!

Ons maak rusie oor klein dingetjies en ignoreer dit wat eintlik belangrik is. Oor die nietighede word ons vir mekaar so kwaad dat kosbare verhoudinge verbreek word. Voordat ons oor die krummels twis, kom ons kyk eers rond en sien die brood raak! Die krummels is nie die gevolge van die twis werd nie!


SWEM IN GOD SE GENADE
Die klein vissie swem, duidelik gestres, op en af in die middel van die oseaan.
Hy swem by die groot vis verby, en die ou kan sommer dadelik sien daar's fout.
Hy roep die klein vissie terug en vra hom waarna hy so ernstig opsoek is.
Die vissie sê toe dat hy dringend opsoek is na water, want hy't iemand hoor sê dat 'n vis doodgaan sonder water.
Die groot vis, duidelik al 'n "old campaigner", antwoord: "Maar Vissie, jy Swem nog jou hele lewe lank in die water.....!"
Wat 'n openbaring vir die klein vissie!
Hy kon nie gou genoeg terugswem na sy vriende toe om vir hulle die goeie nuus te gaan vertel nie!

As ons maar elke dag kan besef ons swem in die seën van God,
swem in voorspoed,
swem in geluk en blydskap en
swem in die liefde van ons almagtige Vader!
Dit is somtyds net nodig dat ons stop en dit raaksien!
Somtyds is dit selfs nodig dat ons so 'n tydjie afknyp om God te bedank daarvoor.
Wees jy nou die klein vissie en gaan vertel jou e-pos vriende waarmee God jou VANDAG geseën het!
Ek het vandag 'n werk, kos, klere, gesondheid, 'n huis, 'n motor, familie, vriende en ervaar liefde.
Ja ek LEWE in GENADE.

Ek DANK U, My Vader Heer vir alles waarmee U my so ryklik geseën het.

Heer, laat ek vandag onderskei tussen krummels en die dinge wat werklik saakmaak.
Amen

Thursday, September 3, 2009

SPIEELTJIE, SPIEELTJIE IN MY HAND

Spieeltjie, spieeltjie in my hand.......! wie is die mooiste in die land?
Spieeltjie, spieeltjie in my hand.......! hoe lyk my binnekant?

'n Spieel is seker een van die vieslikste goed wat daar is. Wanneer 'n mens voor 'n spieel staan wys dit nie die perfekte, dit wat reg is nie. Nee, dit wys alles wat verkeerd is uit. Kyk maar na iemand wat in 'n spieel kyk, hulle vroetel altyd aan die hare of aan die klere of aan die grimering.
Iets is altyd verkeerd en dit is nou daardie spieel wat dit uitwys. Dit is net die uiterlike wat beoordeel word voor die spieel. Ons draai in die rondte en soms buig ons, ons amper uit lit uit om op plekke te sien waar mens normaalweg nie kan sien nie. Dit net om te kyk watter fout die spieel uitwys.
Hoekom doen ons dit? Omdat ons gesteld daarop is om goed te lyk. Ons wil nie dat ons vriende, kollegas en andere waarmee ons elke dag skouer skuur, sleg van ons dink nie. Hulle mag nie daardie fout aan ons hare, klere, grimering of skoene sien nie. Nee ons moet 'n toonbeeld wees van 'n goedversorgde persoon, wat jy altyd deur 'n ring kan trek.

Die vraag wat natuurlik op duik is; Hoe gesteld is ons om die perfekte goedversorgde beeld van ons geestelike lewe aan ons vriende en andere waarmee ons elke dag skouerskuur te vertoon. As ons in die oggend ons huise verlaat, is ons dan die perfek voorberei en gegroom sodat andere nie 'n fout in ons mondering kan sien nie.
Trek ons elke oggend die wapenrusting van God aan sodat andere kan sien hoe 'n kind van die Here moet optree? Dit gaan oor; staande bly, worstelstryd teen die owerhede en bose geeste in die lug, weerstand bied, waarheid, vas staan, geregtigheid, evangelie van vrede, geloof, vurige pyle uitblus, verlossing, die woord van God. (Eff6:10-20)

Kan ons en maak ons seker, dat ons elke dag geestelik deur 'n ring getrek kan word?