Tuesday, December 21, 2010

... met vele danksegging

‘n Ooste windjie gly geruisloos sag oor my se rug terwyl die Kalaharison sy diep rooi spiere ontwakend bult na ‘n donker nag se dankbare rustige slaap. Bewegingloos sit ek op die sementbankie buite die huis en staar oor die verlate vlak wat wyd uitgestrek in die vroeë skemerte lê. Die skoonheid wyd en hoog geskilder vanaf die verste sien help dat ek onwillekeurig my se hartsdeur oopmaak en weer gistermiddag se gekuier in die koelte van ‘n eenkant staan Suidwesdoring onthou.

Weggesteek en veilig beskut teen die verskroeiende aanslag van die warmste hemellig het ons gistermiddag ons sit in ‘n klein kringetjie gemaak. Die Mooiste Mooi het sitplek op ‘n omgekeerde verfblik gekry terwyl Sara en Wilmien elk ‘n kleiner verfblik langs haar staangemaak het. Kef, met die erosieplooie op sy gesig, het ‘n ou geroeste skopgraaf omgekeer en sit tussen my en ou Zol. Dié sit plat op die grond en speel met ‘n gebrande vuurhoutjie tussen sy bruin gevlekte tande terwyl sy ander arm styf om sy se bene gevou is.

Op my versoek maak ou Zol hierdie saak met gebed oop. Eerbiedig haal hy en Kef hulle vuilbruin hoedjies af en glimlag skamerig vir die Mooiste Mooi want hulle weet dat hulle hare nou weer elkeen in sy eie rigting staan. Wilmien maak haar se oë toe, vleg die vingers inmekaar en laat dan haar se ken tot op die bors sak terwyl Sara met sielshonger oë ver verby die verste sien staar. Kinderlik opreg bid ou Zol uit sy hart, eers vir ons, ons kinders en uiteindelik vir die bymekaarkom onder die groot Suidwesdoring. Sonder seremonie en ophaal van woorde, sluit hy af met die tradisionele Kalahari gebedswoorde “... en met vele danksegging. Amen.”

Warm sweet loop teen ons gesigte af tesame met Paulus van ouds se oproep en uitdaging om alles in gebed en danksegging aan Vader bekend te maak. Aandagtig word daar geluister want netnou se los en vas gekuier het plek gemaak vir die saam kou en sluk aan goddelike sielsbrood. ‘n Rukkie later en ‘n Goddelike stilte hang roerloos in die lug terwyl die koppe skuins-skeef hang. Elkeen onder die groot ou Suidwesdoring is besig om op sy eie manier die skades wat deur ‘n hartsdroogte van ondankbaarheid aangerig is, te ondersoek. Skades wat tog so maklik voorkom kon word.

Spontaan begin die Mooiste Mooi sommer so uit die bloute saggies dankie sê. Dankbaarheid borrel en stroom soos ‘n oorlooptenk uit haar se binnekant uit. ‘n Sagte liefdesblos kry lêplek in die vensters van haar se binneste-binne en weerspieël Vader se sagte aanraking in haar hart. Haar opregtheid is aansteeklik en skielik wel ‘n begeerte ook in my op om my eie dankies aan Hom voor te hou. Daarna volg die res, eerste Sara en toe Wilmien terwyl ou Zol en Kef geduldig hulle kans afwag. Vinniger en vinniger spoed die dankies soos ‘n draai-swaai buite beheer oor hulle se lippe en in my se binneste-binne juig dit want aaklige hartsdroogtes word met dankbaarheid gebreek.

Net so skielik en spontaan raak dit weer stil om ons. Saggies word ons weer deur Sy se stilte omring en die Veilige Gees se teenwoordigheidskombers skep ‘n dankbaarheidservaring. Ek wou nog vir Kef vra om hierdie saak toe te maak toe Hy saggies sê ...

Laat My daagliks meer en meer na ‘n opregte soetstem danksegging luister, want dis al hoe die mens kosbare en ware liefdeswoorde vir My kan fluister”.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ...............

Êrens tussen duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn 054 - 551 1000)

Naskrif

Mag 2010 se Kerstyd en 2011 se koms ‘n besondere tydperk van liefde en danksegging in u lewe wees. En wanneer die kersboom met al die liggies weggepak word tot volgende jaar, weet dat Jesus nie saam gebêre wil word nie want waar Sy se liefde is, is daar altyd kosbare wonderwerke.