Thursday, July 9, 2009

PSALM 34 - Die Here beskerm die gelowige

Hierdie wonderlike Psalm het my weer opnuut getref toe ek dit gisteroggend gedurende my stiltetyd gelees het. Toe ek dit herlees in Die Boodskap van Jan van der Watt en Stephan Joubert, het ek gevoel ek wil hierdie weergawe met julle deel.
Alles hierin is voorwaardelik: Jy moet die Here liefhê en jy moet Hom ten volle dien, nie met 'n halwe hart nie.

Ek wil die Here heeltyd prys;
ek sal Hom dag en nag met lofliedere loof.
Ek sal liedere oor die Here sing om Hom te eer.
Kom julle, kom maak die Here se Naam saam met my groot.
Kom laat ons Hom vereer.

In gebed het ek die Here gevra om my te help, Hy het dit gedoen.
Hy het my gered van al die dinge wat my lewe bedreig. Mense wat swak is en hulp nodig het, sien dit raak. Hulle gesig straal van blydskap. Wanneer hulle die Here se hand styf vashou, sal Hy hulle nooit teleurstel nie.
Kyk maar na my. Ek was swak en hulpeloos.
Toe het ek gebid en die Here het my gehelp.
Hy het my uit al my krisisse gehelp.

Op baie maniere beskerm die Here elkeen wat Hom dien. Hy verlos hulle wat Hom aanbid.
Julle moet self kom kyk hoe goed doe Here is.
Jy is baie gelukkig as jy van die Here afhanklik is om jou op te pas.
Julle almal wat aan die Here behoort kom dien Hom.
Onthou, die Here voorsien in elke behoefte van die mense wat Hom dien. Jy sal niks nodig hê nie.
Selfs sterk roofdiere soos leeus met hulle groot krag vang partykeer niks nie. Dan ly hulle honger.
Maar as jy van die Here afhanklik is, sal jy niks nodig hê nie.
Die Here sal vir jou sorg.

Kom laat ek julle iets leer!
Ek gaan julle wys hoe om die Here te dien.
Is daar iemand onder julle wat lief is vir die lewe? Wie wil graag die goeie dinge van die lewe geniet en gelukkig wees?
Jy, pas dan op om nooit verkeerde dinge te sê nie! Moenie oneerlik wees en ander mense met leuens verkul nie.
Vermy slegte dinge.
Doen net goeie dinge aan ander.
Lewe in vrede met mense

Die Here sorg vir almal wat doen wat Hy sê.
Hy help hulle wat om hulp vra.
Maar die Here ignoreer mense wat kwaaddoen.
Hy gaan hulle laat verdwyn.
Niemand sal ooit weer aan hulle dink nie.
Die Here help die wat Hom liefhet.
As hulle Hom vra, red Hy hulle uit al hulle probleme. Die Here is naby mense wat hartseer is;
Hy gee mense wat moedeloos is weer nuwe moed.
Al tref duisende rampe mense wat die Here liefhet, Hy sal hulle nooit alleen los nie.
Uit elke krisis sal Hy hulle red.
Hy beskerm Sy kinders tot in die fynste besonderhede.
Daar sal nie 'n been in jou liggaam breek sonder dat Hy daarvan weet nie.
Maar mense wat weier om die Here te dien, sal deur hulle slegte dade aan hulle einde kom;
hulle wat die Here se kinders sleg behandel, sal in eie munt daarvoor terugbetaal word.
Die Here red almal wat Hom dien.
As jy op die Here vertrou om jou op te pas, sal Hy jou nooit teleurstel nie.

Wednesday, July 8, 2009

WAT DRYF OF MOTIVEER JOU

Wat laat jou elke oggend opstaan? Wat dryf jou om elke dag deur te gaan? Wat motiveer jou om alledaagse dinge te doen en daagliks jou ure tot barstens toe te vul? Dit kan tog nie geld wees nie want by die 7de van die maand is die geld op, wat dryf jou dan vir die res van die maand?
As mens kyk na die armstes van die armes wat geen kans het om geld te verdien nie wat met ingesonkte oe en ribbes wat baie ver uitstaan daagliks 'n sleurbestaan voer, wat motiveer hulle? Is dit hoop? Hoop dat daar vandag iets sal wees om te eet? Wat motiveer daardie persoon wat op die straathoek staan en bedel, wat sy plakkaat omhoog hou om te wys hy het nie 'n werk nie en geen inkomste nie. Is dit hoop dat iemand vandag vir hom iets sal gee sodat hy kan eet en sy gesin kan voed, al is dit net vir een maaltyd? Wat van daardie straatkind wat langs jou motor kom staan? Jy kan sien daar het baie lanklaas water by hom verbygekom, daardie gesiggie en handjies is asvaal. Wat laat hom elke dag opstaan waar hy tussen plastiek en karton op die harde grond die nag gelê en koud kry het? Is dit hoop wat hy in hom koester dat iemand hom dalk vandag 'n kombers sal gee sodat hy nie vannag koudkry nie.

Is dit verkeerd om te wonder, wat het God gemotiveer om sy Seun Jesus Christus na die aarde te stuur om te sterwe vir ons sondes? Is dit dalk die hoop dat die mensdom in totaliteit sal afsien van die sonde en hom onvoorwaardelik bekeer tot God? As ons om ons kyk is dit helaas nie moontlik dat die mensdom as 'n geheel 'n 180 grade omdraai sal maak om versoen te raak met die Vader nie. Ek is seker God is dankbaar vir elkeen wat bereid is om daardie verandering in sy lewe te maak. Om homself te verloën die prys te betaal en Jesus aan te neem as Verlosser en Saligmaker.

Wat motiveer elke ware kind van God om daagliks die Bybel te lees en stiltetyd te hou, om Woensdagaande die weeklikse biduur of selgroep byeenkomste by te woon, Sondae die oggend en aanddienste by te woon, asook nog ander gemeentlike aktiwiteite wat op 'n weeklikse basis aangebied word te ondersteun? Wat motiveer ons om reg te lewe en nie te wil sonde doen nie?
Is dit dalk die hoop om Jesus eendag op die wolke te sien kom om Sy kinders te kom haal? Om die goue straat in die Nuwe Jerusalem te bewandel? Om eendag van aangesig tot aangesig te ken? Om die krone vir jou arbeid in diens van die Meester te ontvang?

Wat motiveer jou as individu regtig om die Here aan te hou dien?

Tuesday, July 7, 2009

LEWENDMAKEND GEES VAN GOD

Lewendmakend Gees van God,
Daal weer op my.
Lewendmakend Gees van God,
Daal weer op my.
Breek my, smelt my, vorm my, vul my.
Lewendmakend Gees van God,
Daal weer op my.

Wanneer ons hierdie woorde sê, en dit is dalk nie gereeld nie, miskien het ons dit nog nooit gesê nie, dalk is hierdie die eerste keer. Dan wonder ek of ons dit regtig bedoel? Bedoel ons regtig dat die Here ons maar kan breek en smelt en vorm. Sodat Hy ons kan maak om vir Hom bruikbaar te wees. Is ons bereid om regtig die prys te betaal? Die pad van geen omdraai te loop. Alles aan Hom te gee sonder enige voorbehoud sodat ons gevul kan word met die Heilige Gees van God.

Monday, July 6, 2009

KLIPPE GOOI

Dit is so maklik om andere te beskuldig van verkeerde dinge en daarop te hamer. "Ja, ek het jou mos gesê jy moet dit nie doen nie. Kyk wat het jy nou weer aangevang, ek weet nie hoe ons uit hierdie gemors gaan kom nie.......!"

Johannes 8 :3 - 11
Hulle sê vir Jesus: Jy is mos die hele tyd besig om mense te vertel wat hulle moet doen. Nou ja, ons het hierdie vrou op heterdaad betrap toe sy by 'n man geslaap het wat nie haar eie is nie! Moses se wet vertel ons presies wat ons met so 'n vrou moet maak: sy moet dood! Met klippe moet ons die laaste asem uit haar uitgooi. Maar sê jy nou bietjie vir ons wat dink jy moet ons met hierdie vrou maak? Die Joodse geleerdes wou egter nie regtig hoor wat Jesus dink nie. Hulle het Hom dit maar net gevra om Hom in die moeilikheid te probeer bring. Hulle het gehoop dat Hy Sy mond verby sou praat en iets sê waaroor hulle Hom voor die hof kon sleep.

Maar Jesus was te uitgeslape vir hulle, Net daar waar Hy gesit het, het Hy vooroor gebuig en met sy vinger iets op die grond geskryf. Die Joodse geleerdes het egter aangehou neul. Uiteindelik kyk Jesus op en sê vir hulle: "Nou goed. gaan dan maar aan. Julle weet skynbaar wat om te doen. Maar daar is een voorwaarde: die een van julle wat nog nooit aan God ongehoorsaam was nie, moet die leiding neem. Hy moet eerste 'n klip optel en haar daarmee gooi." Weer het Jesus vooroor gebuig en iets op die grond geskryf.

Daar staan die Joodse geleerdes toe met die mond vol tande. Hulle het nie geweet wat om te doen of te sê nie. Een vir een het hulle toe maar weer tussen die mense in verdwyn. Die belangrikstes het eerste gemaak dat hulle wegkom. Hulle het die vrou net daar by Jesus gelos.

Jesus kyk toe weer op en sê vir haar: "En nou? Waar is al daardie mense? Kon niemand so ver kom om 'n klip op jou te gooi nie?" "Nie eers een nie, Here," kom die antwoord.

Jesus sê toe: "Ek gaan dit ook nie doen nie. Gaan gerus, maar ook vir jou is daar 'n voorwaarde: gaan stel nou vir daardie mense 'n voorbeeld hoe om gehoorsaam aan God te leef?

Die Boodskap
Jan van der Watt
Stephan Joubert

Friday, July 3, 2009

GOIINGSAK VOL WATER

Ek het hierdie verhaaltjie nou onlangs as 'n Power Point aanbieding deur die e-pos ontvang en kan aan niemand die krediet daarvoor gee nie. Geniet dit

Hoekom die Bybel lees as ek niks verstaan of, as ek verstaan, nie onthou wat ek gelees het nie?

Storie van 'n Oupa wat iewers in die berge gebly het met sy kleinseun. Die knaap het baie hoë agting vir sy oupa, en soos dit maar gaan, het hy probeer naboots wat Oupa doen.
Oupa se gewoonte was om elke oggend, dou voor dag op te staan, die ou koolstoof aan die brand te kry, en dan vat hy sy ou gehawende Bybel en gaan sit in die lekker warm kombuis by die tafel en lees uit die Bybel. Die kleinseun het Oupa dopgehou en ook sy Bybel gaan haal, en net soos Oupa, soggens by die kombuistafel gaan sit en lees.
Maar iets het die knapie baie gepla: "Oupa, ek weet nou nie so mooi nie," sê hy een oggend, "ek probeer ook die Bybel lees soos Oupa, maar ek verstaan nie wat ek lees nie. As ek die slag verstaan, dan waai dit by my ore uit en netnou het ek alweer alles vergeet wat ek gelees het. Oupa, is dit ooit die moeite werd om nog uit die Bybel te lees? Ek meen- wat is nou die nut daarvan as ek tog alles vergeet?"

Oupa het diep gedink, en toe sien hy 'n leë steenkoolsak, al pikswart gevlek van die roet langs die stoof lê. "Boetie, gaan haal vir Oupa 'n sak vol water in die stroompie hier onder," vra hy die seun.
Gretig om Oupa te plesier, spring die knaap daar weg met sy goiingsak en laat vat af stroompoie toe. Dis harde werk om die sak vol te kry, maar hy byt vas. Met die sak oor sy skouer hardloop hy terug huistoe, na Oupa wat sukkel om nie uit te bars van die lag nie. Natuurlik was die sak dolleeg gelek teen die tyd dat hy by Oupa aankom. "Ai man," sug Oupa. "Jy sal maar weer moet gaan probeer jong," en daarmee suiker die knaap weer af stroompie met sy sak. Hierdie slag hardloop die outjie terug met sy sak water so vinnig as wat sy beentjies hom kan dra, maar steeds is dit verniet want natuurlik is die sak weer leeg by sy aankoms. "Nee Oupa," blaas hy uitasem. "Dis onmoontlik - hierdie sak lek!" en daarmee gooi hy die sak eenkant en gaan gryp 'n emmer. "Nee Boetie", keer Oupa hom. "Ek wil nie 'n emmer water hê nie ek wil 'n SAK water hê! Toe jong, jy kan dit mos doen! Jy probeer net nie hard genoeg nie." Oupa gaan staan in die kombuisdeur wn hou die seuntjie dop waar hy die onmoontlike taak probeer uitvoer. Die seun het lankal besef dat hy besig is met 'n gejaag na wind, maar hy probeer so hard om vir Oupa te plesier, dat hy maar gedweë weereens die sak in die stroompie volmaak en met sy lekkende vrag so vinnig as wat hy maar kan, die bultjie ophardloop na Oupa toe.
"Nee Oupa, dit werk nie," Huil-sê die outjie moedeloos. "Kyk hoe hard probeer ek, maar niks gebeur tog nie!"

"Dink jy regtig dat daar niks gebeur het?" vra Oupa. "Kyk dan 'n slaggie na die sak. Wat sien jy anders aan die sak as toe jy begin het?"

Met 'n vraag in sy oë bekyk hy die sak - wat kan Oupa tog bedoel? Die steenkoolsak is natuurlik sopnat van al die gewaterdraery. Skielik besef hy dat die sak ook skoon is- al die steenkoolstof is uitgewas! "Oupa, die sak is skoongewas! Maar ek verstaan nog nie Oupa?"
"Boetie," sê Oupa. "Dis wat gebeur wanneer jy die Bybel lees. Miskien verstaan jy nie alles wat jy lees nie en dalk vergeet jy amper alles wat jy so hard probeer onthou. Maar terwyl jy lees gebeur daar iets met jou - jou binnekant word verander- jy word as't ware skoongewas van binne af terwyl jy die Bybel lees"




Thursday, July 2, 2009

SLAAF OF VRYMAN

Miljoene mense bewandel hierdie aarde in 'n staat van absolute gevangeneskap. Hulle is vasgevang in allerhande welluste wat hulle lewens regeer. Allerhande ding word aan hulle voorgehou as die utopia net om dan in hulle aanvaarding daarvan al hoe dieper in die gemors ingetrek te word. So word die mens deur die satan verslaaf om sy wil te doen en sy wense uit te voer. 'n Slaaf word vasgevang in dit wat hy doen, hy kan nie sy kop optel nie en moet net altyd met sy neus in die gemors rondloop.

Dit is eintlik tragies om dit te sien. Dit lyk asof die mense dit geniet om, so kop onderstebo met die neus in die drek, hulle lewens te slyt. Dit lyk asof hulle dit geniet om daardie dampe in te adem en maar net aan te gaan. Hulle lewe in die waan dat hulle oppad is na 'n beter toekoms, dat alles een of ander tyd een honderd persent sal regkom. Intussen sak hulle stadig dieper in daardie gemors in. Dit is net jammer dat die wat al hulle wil verloor het om uit die gemors te kom, andere wat miskien nog 'n kans het, saam met hulle af te trek.

As die slawe op die aarde net geleentheid maak om hulle koppe op te tel en 'n slag weg te kyk vanaf dit waarmee hulle besig is, sal hulle sien dat daar werklik 'n ander beter lewe is. Nie iets wat miskien eendag sal kom nie maar 'n beter lewe wat nou alreeds beskikbaar is. Hulle moet net lankgenoeg opkyk sodat die skille van hulle oë kan afval, dan sal die Lig wat die Here Jesus in die wêreld ingebring het vir hulle deurbreek.

Dan sal hulle agterkom dat God nie slawe maak van mense nie, maar Hy maak hulle vry van sonde en hy gee hulle die reg om Sy kinders genoem te word. Hy gee aan hulle 'n nuwe hoop op die ewige lewe en die wederkoms van Sy Seun Jesus Christus.

Is jy 'n Slaaf of 'n Vryman...?

Wednesday, July 1, 2009

GERAAMTES

Elkeen van ons loop met 'n klomp geraamtes in ons hangkas rond. Ongelukkig is dit nou ook so, dat sonder dat ons dit agterkom teel die geraamtes nog aan ook. Ons loop met die vaste voorneme dat ons nog met hulle gaan deel of sal deel. In ons koppe bestaan daar net die ma en pa geraamte wat ons wil uitmoor, maar ons kom nie agter dat die kleintjies reeds aan die werk is en al amper net so onwelriekend is as wat die ma en pa is nie. Wanneer ons by die punt kom wat ons sê dat ons met hulle gedeel het en ons kan nou aangaan met ons lewe of ons kan nuwe verhouding aangaan dan sit daardie ander baselisk daar en pootjie ons in die nuwe verhouding. Om met bagasie te deel is amper soos om vure dood te slaan. As jy die een onder beheer het, is daar alreeds weer 'n ander klein vuurtjie wat aan die brand is en waarop jy moet konsentreer.

Wat is die antwoord, wanneer jy met die goed deel moet jy dit so gou as moontlik en so diep as moontlik met wortel en tak uitruk en uit jou lewe kry. Ons kan dit nie self doen nie want ons gaan altyd party stukke agterlaat wat weer gaan groei. Ons het 'n Hand nodig wat diep en raakvat en behoorlik skoonmaak, en dan met liefdevolle vingers genesing bring waar die wonde agter gelaat is. Alleen Jesus kan dit vir ons doen.
As ons sukkel met die geraamtes in ons lewe, kan ons dit nie wegwens nie, ons kan dit nie net ignoreeer nie, ons moet ons self oop en bloot voor God stel sodat dit deur Sy vergifnis uitgewis kan word. Eers dan kan ons aangaan met ons lewens en met ons verhoudings, maar as daar 'n stukkie al is dit net 'n baie klein stukkie agterbly gaan dit weer groei en jou iewers in die toekoms inhaal.
Dit is belangrik dat jy God volkome vertrou wanneer jy na hom toe gaan, jy kan niks terughou nie al is dit hoe pynlik. Deur in gebed na Hom te gaan met diepe berou in jou hart moet jy Hom toelaat om daardie geraamtes totaal uit jou gedagtes te verban en jou volkome te reinig.
Slegs deur die Jesus se bloed kan ons volkome oorwinning oor daardie geraamtes kry, sodat ons daardie nuwe lewe of bestaande verhouding nuwe lewe kan gee en daardie vlammetjie koester totdat die gevaar dat dit sal kwyn en verdwyn, nie meer bestaan nie.