Sunday, January 8, 2012
Vriendskapsvlam van hoop
Die geur van die laatmiddag se sterk moerkoffie vul ons vriende se oorloop kombuis en verwelkom ons sintuie in ‘n wêreld van oorvloedige smaak en bederf. Ons was al van tevore ‘n paar keer hier en het elke keer lekker oorgestaan. Dis juis in hierdie einste voorslagplaas se kombuis waar ek en die Mooiste Mooi voor verlede maand ons rondom vol geëet het en dit, nog voor die soetigheid voorgesit is.
Kort na die groet en ons uitvra na ons vriende en hulle hartsmense se wel en weë, kan my Mooiste Mooi die opgewondenheid in haar se binneste-binne nie meer inhou nie. Met haar se groen oë wat skitter vertel sy breedvoerig en sonder stop, soos ‘n onkeerbare standstorm uit die woeste weste, van die groot lekkerte om kool, spinasie, wortels, tamaties, aartappels, uie, patats, beet, blomkool, appels, piesangs, perskes en ‘n verskeidenheid ander vrugte en groente aan die vergete mense van die Agter-Kalahari te kon uitdeel. Nes ‘n goeie Graad 1 onderwyseres word alles deeglik gedoen en geen detail is oorgeslaan nie.
Eers vertel sy van die kosbare voorwêreld mensegoed wie se gewersharte daardie dag so wyd oop gelê het soos die Rooisee met die volk se deur-loop. Daarna beskryf sy in die fynste besonderhede hoe elke kartondoos aan die binnekant eers met polistireen uitgelê en daarna met vars produkte gevul is. Want hierdie vars groente en vrugte moet na meer as 870 km se vervoer in die warmste somer nog kraakvars in die Agter-Kalahari afgelaai word. Ai, die meet, die sny en die insit, so saam met die gesels en gekoggel, het almal se harte sommer so ‘n bietjie vroliker saam met die werksaamhede laat klop. Opgewonde, tussendeur die werksaamhede, wonder ek wat die Kalaharimense se reaksie sal wees op hierdie ongekende genadegeskenk uit Vader se hand.
Die Mooiste Mooi se tee word koud maar dit bring haar geensins van stryk nie. Onverpoosd borduur sy voort terwyl haar se hande al vinniger en yweriger saampraat. Dit waai en swaai saam met elke woord en beklemtoon die opgewondenheid in haar se binneste-binne. Ai, waarvan die hart van vol is, stroom mos by die mond uit, word daar altyd gesê.
Dan vertel sy dat die boodskap van vars groente en vrugte soos ‘n weghol veldbrand deur die gemeenskap gespoed het. Netnou kan daar by die vernietwinkel na hartelus met ‘n briefie vol dankiewoorde gekoop word. ‘n Groepie wat van vroeg af buite die hek gewag het, kom koeskop nader om op my versoek te help uitpak. Grootoog staan hulle en kyk na die vrag groente en ander snuisterye op die agterstoep wat donkertyd die vorige aand afgelaai is. Nou moet dit net in pakkies gemaak word en dan ... dan begin die hartsvreugde se gejubel.
Die hoogtepunt oomblik breek aan. Die vernietwinkel is oop. Met pynlike presiesheid beskryf die Mooiste Mooi die verwondering op die mense se gesigte want so ‘n groot verskeidenheid van kossigheid ken hulle nie. Daarna deurdring blydskap en dankbaarheid hulle menswees en dit spoel oor hulle se lippe. Ai, die lekkerte van ‘n opregte glimlag (veral uit ‘n tandlose mond) kan mos nie geweeg of gemeet word nie. Daar word dankie gesê en gekuier en gekoggel en geskerts met mekaar. Voorwaar ‘n oorverdowende kakofonie van klank.
Die stilte in rondom die kombuistafel in die oorloop kombuis is hoorbaar toe die Mooiste Mooi weer asemskep. Sy wou nog vertel en beduie van ‘n vergete Kalahari mens se opregte woorde “Die Djere se voorsieningheid het my se lewe nou gemaak,” toe ons plaasvrou vriendin haar skielik onderbreek. “En julle het vir my niks gebring nie! Waar is myne? Het jy al daardie goete vir die hotnotte gegee en niks vir my nie? Nee wat, julle maak nie mooi nie, dis mense soos julle wat maak dat hulle so suip. Julle dra mos kos en klere aan en nou hoef hulle nie meer daaroor te worry nie. Julle maak dat hulle so suip want julle sit geld in hulle se hande.”
Skok slaan spierwit op my en die Mooiste Mooi se gesigte uit. Stomstil en oopmond sit ons daar terwyl onse oë met verbasing na mekaar staar. Hierdie uitbarsting van ons vriendin het niemand verwag nie. Stadig maar seker kom ek tot verhaal en wou iets sê maar Hy het my ferm tot stilte gemaan. In stilwees en hoop word Hy meer en ek minder.
‘n Dag of wat later sit ek en die Mooiste Mooi êrens op ‘n groot rooi sandduin en beleef die stille skoonheid van ‘n diep rooi en helder oranje sonsondergang. Die wolke lyk soos vlamme wat in die hemelruim en op die verste sien brand. Nog ‘n dag is verby en ek wou net darem eenkeer oor daardie dag se kwetsende ervaring protesteer toe Sy Geeswind saggies fluister, “Ware vriendskap is om saam met iemand te hoop in die soeke na ‘n egte waardering terwyl daar saam gesmag word na opregte liefde. Al beteken dit soms dat jy deur ander se wrede woorde in die sand vertrap word.”
En nou ... brand êrens in my se binnekant brand weer ‘n vriendskapsvlam van hoop ... want om goed te doen bly steeds beter as om reg te wees.
Wel, vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ..................
Êrens tussen duine woon mense wat vir jou omgee omrede jy kosbaar en spesiaal is.
Die Kalahari Cronjé’s
(Landlyn 054-551 1000)
Naskrif
Mag 2011 se Kerstyd en 2012 se koms ‘n besondere tydperk van liefde en danksegging in jou lewe wees. En wanneer die kersboom met al die liggies weggepak word tot volgende jaar, weet dat Jesus nie saam gebêre wil word nie want waar Sy se liefde is, is daar altyd kosbare wonderwerke.
Tuesday, July 5, 2011
Gatdamme van lewe
Monday, June 6, 2011
HERKOUSELS
Alleentyd in jou
eie eenkant-wees wêreld is die teelaarde van stilwees saam met Hom as Skepper
van hemelgoed en stofaarde. Kosbare stilwees, in jou en om jou, want in daardie
kosbare stilwees vind ons dit wat ons soek en kry ons dit wat ons vra. En
wanneer Hy jou menswees in stilte met Sy liefde betrek, deponeer Hy soms
herkou-woorde in die bêreplekke van jou se binneste-binne.
Herkousels soos
...
Ware liefde soos
Syne is nes sagte intrekreën wat dae lank wyd oor ‘n dorre woestyn val.
Die
woestynlewe hier aan die vergeetkant van die land leer jou gereeld dat geloof
jou daaglikse brood is en nie net soetigheid vir spesiale geleenthede nie.
Ware geestelike
legendes het nooit hulle kinderlike harte êrens tussen die dwarsduine van die
lewe verloor nie.
Wees dankbaar
teenoor hulle wat onse binneste-binne volmaak: hulle is padmakers wat jou se
hart se grondpaaie gelykstoot.
Êrens
tussen die gekuier en gekerk op 'n veraf plaas besef ek so tussen die gesels
deur dat die meeste wat ons van liefde af weet ons by die huis geleer word.
In die oorlewing
van jou eie eensame en alleen woestynwêreld moet jy eers waarlik kan hoop en
droom voordat jy doen, asook opreg glo alvorens jy planne maak.
Stilwees maak die
binneste-binne vol en die kop skoon.
‘n Avontuur saam
met Hom is nie net die ontmoeting van onbekendes nie, maar ook om ou bekendes
met nuwe oë raak te kyk.
Terwyl die winter
se koue rek en strek, is die hoop van my se hart dat dit wat in blomtyd in jou
se binneste-binne geskryf is, die toets van tyd sal deurstaan.
In die winter
windstiltes van jou lewe eggo Sy se kosbare sagte fluistering hoorbaar duidelik
dat as ander hulle rugkant vir jou wys, jy maar kan omkyk om Hom reg agter jou
te sien staan.
Die saamsit langs
‘n alleenvuurtjie, êrens tussen niks en nêrens, oortuig telkens weer dat ware
vriendskap, nes yskoue kondensmelk, aan die lewe ‘n diepe soetigheid bied.
Die stilsit en staar
na ‘n Kalaharivlak vol verlatenheid verduidelik gereeld dat jou vermoë om te
groei beperk word waar jy en net jy alleen jou verste sien se grense trek.
Wel uit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker
slaap en onthou …………………………
kosbaar en spesiaal is.
Sunday, May 8, 2011
Die Lewensresep
Iemand klop saggies en versigtig aan die agterdeur
van die kombuis. Verbaas kyk ek en die Mooiste Mooi vir mekaar want dit is heel
ongehoord dat iemand so laat op ‘n Saterdagmiddag sal aanklop. Verwese staan
die Bruin vroutjie daar met oë, wat nes haar se skouers, grondlangs kyk.
“Middag jong” groet ek vriendelik. Ek wil-wil haar koggel maar hou my in want
haar se oë bly verslae grondlangs kyk. “Is Mevrou dan hier Pastoor?” vra sy so
half binnensmonds en skielik besef ek dat stilbly nou die regte ding is. ‘n
Swaar saak het loop nesskop in haar se binneste-binne en druk haar se skouers
en hart vas teen die grond.
“Mevrou, daar is niks om te eet by die huis nie.
Nie broodmeel nie, nie oorskiet kossies nie, niks nie Mevrou, niks nie. Ek het
nou maar die vrymoedigheid gevat en kom vra want die ander sal my tog net
verjaag. Is hier nie dalk ietsie kleins vir my en my Felicity se binnegoed
nie?” hoor ek haar koeskop sê.
Die woorde slaan die Mooiste Mooi diep in die hart
en sy laat haar se kop in stilte sak en draai terug die kombuis in. Groot
traandruppels vorm diep in haar se sagte groen oë terwyl sy saggies begin snik.
Ek trek haar nader onder my se blad in en saam-saam staan ons daar terwyl
smeektrane breë spore op onse gesigte los. Verslae tot in onse gebeente staan
ons styf teen mekaar want ‘n aaklige realiteit martel ons genadeloos daar waar
dit saak maak. Die realiteit van slegs twee blikkies Bully Beef op ons spensrak
en verder niks, absoluut niks. Die werklikheid van ‘n naweek met net ‘n blikkie
vleis per dag om te eet en verder dan niks. Daar is ys in die vrieskas en in
die yskas staan bottels en bottels koue water maar op die kosrak pryk slegs
twee rooi blikkies Bully Beef eensaam en verlate. Ons enigste kos totdat ons
weer die komende Maandag hopelik kan kry of aankoop.
As gestuurdes wil ons so graag hierdie sukkelaar
help maar ons het nie eens genoeg vir onsself nie. “Here hoe kan ons hierdie
vergete vrou en haar kind dan help as ons nie eens genoeg het vir onsself nie”
pleit ek saggies. “Dis mos nie regverdig nie Here, U is dan ‘n God van oorvloed
en U het gesê dat ons kosskottels nooit leeg sal wees nie,” wil-wil ek Hom
begin afdreig.
Met die Mooiste Mooi steeds onder my se blad steek
ek hoopvol my hand uit na die yskas. Versigtig word die deur oopgemaak en ek
hoop om meer as net bottels koue water te sien. Ek hoop op ‘n wonderwerk van ‘n
vrieskas oorlopens toe vol van wit gevriesde vleispakkies en ‘n yskas wat kreun
in oorvloed. Teleurstelling oorspoel my soos ‘n vloedgolf want steeds is die
yskas leeg. Tog bly hoop bestaan want Hy het mos eenmaal duidelik gesê dat ons
kosskottel en waterbekers nooit leeg sal wees nie.
En so onthou die Mooiste Mooi weer stukkies van Sy
Lewensresep.
“meer gee en minder
vra,
…
Ken ‘n boom aan sy vrugte en nie sy blare, want dis
My se binnekant snare.”
Woordeloos kyk ons vir mekaar dan draai die Mooiste
Mooi haarself onder my se blad uit. Sy gaan staan voor die amperse leë kosrak
en vat ‘n blikkie vleis in elke hand vas. “Here U het mos gesê” sê sy terwyl sy
doelgerig kombuisdeur toe stap om vir die eensame ons laaste stukkie kossigheid
te gaan gee.
Vroeg Sondagoggend en daar is ‘n weer klop aan die
kombuisdeur. Dié keer egter ‘n klop vol selfversekerdheid, ‘n klop wat dadelik aandag eis. Verbaas maak
ek die deur oop en kyk die groot Kalahariboer verbaas in die oog. Ek wou nog
groet toe hy verskoning vra vir sy haastigheid terwyl hy die oorvol slagskottel
met skaapvleis in my se hande druk, omdraai en wegstap. Stil, verstom staan ek
daar terwyl hy kop omhoog, al fluitende, om die hoek van die huis wegraak.
Dan onthou ek weer Sy Lewensresep gefluister
gistermiddag voor ons leë kosrak.
“Meer dank en minder kla, meer gee en minder vra
Meer doen en minder praat, meer liefde en minder
kwaad
Meer vreugde en minder vrees, meer musiek wat
spanning genees
Meer blomme in die lewensuur as om helderkleurige
ruikers na die graf te stuur
Ken ‘n boom aan sy vrugte en nie sy blare want dis
My se binnekant snare.”
Wel uit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker
slaap en onthou …………………………
Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy
kosbaar en spesiaal is.
Die Kalahari Cronjé's
(Landlyn
054-551 1000)
Monday, April 18, 2011
Hartsafdruk sonder woorde
Die duine bewe-bewe onder die warm sonstrale toe
Jakobus met sy vuil, stukkende, blou oorpak ons tegemoet loop nadat ons so ‘n
ent van sy blyplek af stilgehou het. Elke tree wat hy gee is korter as
die vorige en sy hande is diep in die veiligheid van sy leë sakke weggesteek.
Hy staanloop koponderstebo en ek kan die verwarring in sy binneste-binne
aanvoel. Hy skud sy kop onbewustelik in ongeloof toe ek met die groetslag
daarop aandring om sy hand te skud en laat sy se oë dadelik grondlangs
loop. Die Mooiste Mooi word so half en half geïgnoreer en word slegs met
‘n stywenek kopknik gegroet. Skielik kyk hy verskrik om en sy se oë soek
vir Maria, sy al-te-maer-net-vel-en-been vrou wat verbouereerd met hulle
jongste aan die hand by hulle woonplek ronddraai.
Ons loop maar so staan-staan en praat-praat nader
na waar hierdie egpaar met hul drie kindertjies bly. Hulle eenvertrek
huisie is piepklein – skaars plek vir hulle enigste enkelbed sponsmatras, ‘n
wankelrige hangkas en die lendelam tafeltjie sonder stoele. ‘n Klompie groot
klippe hou dekade-oue, geroeste sinkplate as dak oor hulle koppe in plek.
Net buite die huisie se deur, hang ‘n wit smeulrook dik in die lug wat uit die
geroeste sinkplaat kookskerm draal. Dis hier waar Maria dié laatmiddag
water kook sonder iets wat daarin kan gaar word.
Maria hou kop en besef dat sitplek nou prioriteit
is. Vinnig soek haar se oë oor die vlak en sien dan ‘n verslete buiteband
raak. Sy skreeroep haar oudste van so ses jaar om hierdie stukkie weelde
nader te sleep sodat Vroulief daarop kan sit. Dan word hy geskel omdat hy
nie gou genoeg stene nadersleep sodat ek
daarmee ‘n stoel vir my kan prakseer nie. Hulle jongste, senuweeagtig en
skrikkerig omdat daar vreemde oorstaanmense is, soek verward melk, vertroosting
en ‘n skuilplek teen sy ma se bors.
Die son skuifel-skuifel van drie-doringbos tot
drie-doringbos om dan kleurvol gemaklik te loop lê by die westelike kim.
Daar raak hy vergete en sy laaste strale veg verbete om sigbaar te bly teen die
naderende donkerte. Jakobus se wêreld staan stil en niks maak meer vir
hom sin nie. Hy verstaan nie my aandring netnou om hom met die hand te
groet nie. Geen Boer het hom al in sy drie dekade lewensjare so met die
hand gegroet nie. Daarmee saam het dit nog nooit gebeur dat iemand met ‘n
ryding by sy se slaapplek kom stilhou het nie. Elke ryding hou mos maar
verby opstal se kant toe om daar te loop stop. Die meeste kere word daar
in die weelde van ‘n verkoelde sitkamer tee, koffie of iets koels gedrink
terwyl alledaagse belangrike sake bespreek en opgeklaar word.
My en die Mooiste Mooi se vrae en hulle antwoorde
raak stadigaan op en waarheen dan? ‘n Sagte suidewindjie stoot ‘n heilige
swanger stilte vol barensnood oor die rooi-bruin vlak en ek maak my se oë styf
toe. Diep in my se binneste-binne smeek ek om hulp “Here help!”
Skielik dink ek aan die kleine Saggeus en sy se plan om boom te klim. Ek hoor
ook die blydskap en vreugde in die kort mannetjie se stem want die Kêrelkind
van God gaan by hom kom oorstaan. En dan fluister Hy saggies, “Jy
is hier – nes Jesus - om ‘n hartsafdruk by soekende mense te los:
‘n Hartsafdruk vol liefde.
‘n Hartsafdruk vol blydskap.
‘n Hartsafdruk vol vrede.
‘n Hartsafdruk vol lankmoedigheid.
‘n Hartsafdruk vol vriendelikheid
‘n Hartsafdruk vol goedheid
‘n Hartsafdruk vol getrouheid.
‘n Hartsafdruk vol sagmoedigheid.
‘n Hartsafdruk vol selfbeheersing.”
‘n Hartsafdruk sonder dat een woord gepreek is.
Wel uit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker
slaap en onthou …………………………
Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy
kosbaar en spesiaal is.
Die Kalahari Cronjé's
(Landlyn
054-551 1000)
Monday, April 11, 2011
ALLE IS MOONTLIK
Die vroegoggend winterwindjie het
hoendervleis-vrywend deur ons gewaai waar ons onder ‘n alleenstaan peperboom
bymekaar gekom het. Vir ‘n heel eerste keer se kerkmaak daar by hulle was
die opkoms veel meer as wat ek en die Mooiste Mooi kon verwag het.
Hopelik het hulle gekom om meer van Hom te leer maar ek vermoed dat die meeste
het ander motiewe gehad. Die Kalaharikoerant het mos maar ‘n manier om
ook goeie nuus oor te dra.
Die meeste sit naby mekaar terwyl hy met sy
skreeu-groen hemp heel alleen homself geselskap hou. Kort-kort krap sy se
keel en dan probeer hy met ‘n dieperige gegrom die ongerief uit sy se keel kry
terwyl hy sy hand bak oor sy se dowe linkeroor hou om beter te kan hoor.
Op versoek van die Mooiste Mooi het iemand ‘n lied
ingesit en heel bedeesd en bedaard het die groepie woestynbewoners begin
sing. Die hande word saggies, statig en gereserveerd geklap.
Langsaam begin hulle die ritme en tempo verhoog en so begin almal se voete
ritmies in die rooibruin Kalaharistof op en af tik. Vinniger en vinniger
jaag hulle die tempo aan totdat nie een van hulle kon stilsit nie.
A
l skuifelend begin hy op die maat van die musiek
sonder instrumentale begeleiding te dans. Eers draai hy en dan swaai hy
en dan begin die res van die kerklopers inval. Hulle vorm ‘n dansende ry
met ‘n iedere een wat die voordanser met die heldergroen hemp volg.
Niemand besef dat daar nou geen probleem met sy se dowe oor is nie. Met
eentonige reëlmaat word daar in die rooibruin stof van die Kalahari
geskuifeldans, soms vinniger en dan weer stadiger. Om en om hou hulle aan
terwyl die stof hoër en hoër styg. Geeneen stamp of raak aan mekaar
nie. Elkeen is op ‘n unieke manier besig om die Skepper van Stofaarde op
die maat van die koortjie te loof en Hom te eer. Met sy se oë half toe en
hande omhoog is hierdie voordanser se binne-oog – nes ‘n Dawid van ouds –
net gefokus op Hom wat so kosbaar in sy se hart brand. Hy wat Koning,
Heer, Redder en Geneesheer is.
Die uitbundige lofdans is vir eers verby en die stof kry kans om in
die winterwindjie oor die vlak te verdwyn. Die stowwerige sweetdruppels
wat oor die meeste se gesigte afstroom vertel ‘n eiesoortige verhaal om voor
Hom te kon dans. Die voordanser het weer so aan die eenkant onder die
boom gaan sit en steeds kort-kort sy se keel probeer skoonmaak. Meelewend
is hy voorwaar want elke kort-kort steek hy sy se hand in die lug en probeer ‘n
woord uitkry maar sy se stem bly weg, heel weg. Uit radeloosheid klap hy
maar sy se hande want dis al hoe hy die opgewondenheid in sy se binneste-binne
kan uitdruk. Sy karaktervolle gesig is ‘n studie van verwagting terwyl hy
onbewus is dat diep in sy se binneste-binne iets kosbaars aan die gebeur is.
Die woorde “Die oomblik wat jy ‘Hoop’ kies, is
alles moontlik” tref diep en trane jaag resies teen sy bruin wange af.
Met elke druppel wat tussen sy se skoene in die stof val, raak sy las ligter en
ligter en sy se gesig begin straal. Dan skielik raak die ding met sy se
keel en dowe linkeroor net te veel vir hom want hy sukkel al vanaf die draai
van die eeu daarmee. Hoop begin smeul in sy se binneste-binne en kort
voor lank begin klein vlammetjies aan die kante van sy hart te lek.
Vasberade staan hy op en stap met hoopvolle verwagting die Groot Geneesheer se
operasietafel daar in die ope vlak tegemoet.
Asof hy uit ‘n diepe slaap wakker geword het, bekyk
hy almal half verbaas aan en begin terugstap na sy se sitplek doer eenkant
onder die boom. So in die loop vryf hy sy se oor en maak sy se keel
skoon. Iemand aan sy linkerkant verduidelik saggies aan ‘n nuweling van
sy se stryd teen die stom en dowigheid terwyl almal se oë in stilte op hom gerig
is. Skielik steek hy vas en begin met ‘n sagte stem te sing.
Oopmond verbaas sit ons en staar. Vinniger en vinniger, harder en harder
weerklink die hemelklanke oor die vlak. Dankbaar steek hy sy se hande
omhoog en begin weer ritmies en skuifelend te dans. Gou-gou is almal uit
die stoele en dans en sing saam. Hy met sy skreeugroen hemp voor en die
res al skuifelend agterna.
Heelwat later en die meeste begin in klein groepies
huise toe loop. Snikkend fluister hy in my se oor terwyl ons by die
Genadewa groet, “Voorwaar Pastoor, die oomblik wat jy ‘Hoop’ kies is alles
moontlik …, alles is moontlik.”
Wel uit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker
slaap en onthou …………………………
Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar
en spesiaal is.
Die Kalahari Cronjé's
Landlyn(054-551 1000)