Wednesday, January 2, 2008

KINDERS EN HONDE - WAT IS DIE VERSKIL?

Groot konsternasie het in vroulief se broer se huis losgebars toe sy waghond sy kleindogter van so 3 jaar gebyt het. Dit het twee dae na kersfees gebeur. Twee lelike merke oor die voorkop en nog ander merk oor die res van haar kop. Al skreeuend en bloeiend is hulle daar weg met haar hospitaal toe vir steke en 'n nag of twee se oorslaap.

Almal huil snot en trane, natuurlik van die skok of dalk is dit woede, selfs die hond loop kop onderstebo op die werf rond.

Die hond het geen reg gehad om die kind te byt nie, sy dae is getel, hy moet SPCA toe gaan of doodgeskiet word.



Nadere ondersoek wys die hond het rustig in die koelte gelê en slaap. Boetie, so 5 jaar oud het gesien sussie mik om die hond te pla en vir haar gesê sy moet nie, die hond sal haar byt... Ore was daar natuurlik nie en sy het op die slapende hond geval en hom aan die ore begin ruk.

Dit is so, die hond het nie die reg gehad om die kind te byt nie..., maar hy het darem seker die reg gehad om homself te verdedig op die enigste manier wat hy ken, met sy tande...

Het sussie die reg gehad om op die hond te val en aan sy ore rond te pluk? Natuurlik nie!

Sussie het verkeerd opgetree, die hond het verkeerd opgetree, sussie is nie gestraf nie en oupa is sy hond kwyt. Ja, sussie het dalk nou 'n letsel op die voorkop wat vir die res van haar lewe sigbaar sal wees, maar so what, sy het daarna gesoek.
Sy kon haar oog verloor het, maar sy het nie...
Sy het wel teen 'n spoed geleer om respek te hê vir 'n hond...., blykbaar iets wat mammie en pappie nie kon doen nie

Nou kan mens redineer dat sussie nog te klein was, en sy het nie geweet wat gaan gebeur nie, ja maar, die hond het geslaap hy het ook nie geweet wat gaan gebeur nie.

Nou waar lê die probleem dan?
Gaan dit dalk oor dit wat mammie en pappie die kinders toelaat om te doen? JA
Moes mammie en pappie gekyk het na die kinders? JA
Moes mammie en pappie vir sussie geleer het om honde te respekteer? JA (blykbaar het boetie respek vir honde gehad want hy het vir sussie gewaarsku)

Nee mammies en pappies, julle tug julle kinders nie meer nie. Ten minste nie op 'n manier wat hulle laat voel nie. As so 'n ding gebeur dan is daar trane en die hond moet vort. Leer julle kinders om aan andere, dit sluit honde en katte in, te doen wat hulle wil hê andere aan hulle moet doen.

Wat is nou die verskil tussen 'n kind en 'n hond?

Friday, December 28, 2007

Crime tref ons Vanoggend 04h00

Stemme....... die newel om my kop wil nie breek sodat ek kan hoor nie.


"Ou man word wakker daar is mense by die deur"


Ek is deur die weer as ek met 'n vaart uit die bed opspring en so struikel-struikel na die toe kamerdeur beweeg terwyl ek probeer om my swart kortbroek aan te trek. My vrou is 'n halwe tree voor my en eerste by die deur. "Sit aan die ligte dat ons kan sien wie is daar"





Die helder ligte skiet neer uit die plafon, vir 'n sekonde kan ek niks sien nie..."wie is daar"?


"Dis julle buurvrou! Ek wil net seker maak dat julle olraait is. Hier was iemand in julle garage.

Die swartman het die hasepad gekies met iets in sy hande toe my man hom vra wat hy hier maak. Hy is nou met die kar hier weg agter die man aan."



Ek gaan loer by die garage, die deur staan wawyd oop ek kan nie agterkom of iets weg is nie, dit sal ek seker eers anderdag agterkom wanneer ek iets soek wat ek het of dink ek het gehad



Nadat ek die buurman bedank het vir sy moeite toe hy terug kom en natuurlik nou die garage agter slot en grendel het was die vaak ook weg. Vroulief het weer so stadigaan kooitoe geskuifel en ek het besluit om maar in die sitkamer te sit en dink.



Hedendaags is dit mos iets wat ons nie meer doen nie, die televisie blêr mos tydig en ontydig