Thursday, April 30, 2009

DANKIE

Dankie, vir hierdie goeie more, dankie vir hierdie nuwe dag........sing Lance James.

Hoeveel vra ons van ons Hemelse Vader op 'n dag en hoeveelkeer se ons dankie.
As ons vir 'n oomblik stil word en met die gedagte deur ons seëninge werk, is daar 'n oneindige lys van dankies wat ons aan die Vader moet gee. Maar doen ons dit....? Nee ons dink as ons selfvoorsienend is dan hoef ons nie daarvoor dankie te se nie:

Dankie Heer vir gesondheid sodat ek kan werk!
Dankie Heer dat ek 'n werk het om te kan geld verdien, sodat ek vir my gesin kan voorsien in 'n dak oor ons koppe, 'n warm bed om in te slaap, kos om elke dag op die tafel te sit, 'n motor of motors om mee te ry, klere om aan te trek, skoene aan my voete.
Dankie Heer dat ek voete het om mee te loop, oë om mee te sien en na u handewerk te kyk, 'n neus om om mee te ruik aan al die wonderlike geure wat uit 'n prag blomtuin uit kom. Dankie vir ore om mee te hoor en elke geluidjie wat daar is, die veraf gerammel van 'n donderweer die stemmetjie van 'n klein babatjie mee te kan hoor. Dankie dat ek 'n mond het om mee te kan praat en met ander mense te kommunikeer.
Dankie vir die suurstof wat ons elke dag inasem. U het geweet toe U die mens geskape het en die asem in hom ingeblaas het, dat ons suurstof sal nodig hê om te lewe. Suurstof raak nooit op nie Here, in U alwetendheid het U dit so gemaak dat bome en plante daardie broodnodige suurstof vervaardig. Help ons asb om daardie bron nie te verniel en te vernietig nie.
Danie Vader vir die maat wat U vir my gegee het, sonder hom/haar sou my lewe maar bra vaal gewees het. Dankie Here vir die kinders wat u vir my geleen het, en dankie Vader vir die voorreg om hulle groot te maak soos U dit wil hê. Ek weet nie of dit altyd suksesvol is of was nie maar sonder U genade sou dit 'n groot fiasko gewees het. Dankie vir U genade.

Bo alles Here dankie vir U. Dat U die lewende God is dat U alles gemaak het dat U ons verstand gegee het om al die wonderlikste uitvindings mee te kan doen. Dankie Jesus dat u die prys betaal het, dat U gesterf het sodat ek kan Lewe. Dankie dat U die weg en die waarheid en die lewe is en dat U die enigste Weg na die Vader is.
Dankie Vader dat ons in nederigheid voor U kan neerbuig, om U te aanbid en aan U al die EER en AANBIDDING van ons harte te kan gee.
Dankie vir alles my Pappa-Vader ek het U lief.
Amen

Wednesday, April 29, 2009

WOORDE

Baie jare gelede het 'n Engelse liedjie "Words" die lig gesien en iewers in die liedjie is die volgende woorde:

Talk in everlasting words, and dedicate them all to me,
And I will give you all my life, I'm here if you should call to me
You think that I don't even mean a single word I say
It's only words and words are all I have to take your heart away

Woorde is die goed wat uit jou mond kom wanneer jy praat. Terwyl jy praat spat woorde in alle rigtings, party na links, ander na regs, ander weer na onder en party weer na bo. Part woorde word sag uitgespreek en ander word weer hard uitgespreek en dan is daar natuurlik ook die wat uitgeskreeu word. In sommige gevalle is daardie woorde fluweelsag en in ander gevalle is hulle weer kliphard. Die oomblik wat 'n woord jou mond verlaat, tref dit iewers iemand se oor. Partykeer tref dit net een paar ore maar ander kere tref dit weer meer pare ore, partykeer tref dit die regte ore en ander kere weer die verkeerde ore. Hoe dit ookal sy, woorde kan 'n blywende uitwerking op mense hê. In sommige gevalle kan woorde 'n goeie uitwerking op iemand hê en in ander gevalle weer 'n slegte uitwerking!

Ons moet versigtig wees wat ons sê, en natuurlik, hoe, ons dit sê. Die invloed van woorde, as dit geglo word, kan vêrrykend, maar dit kan ook verrykend wees. Partykeer skerts jy net en almal weet om jou nie ernstig op te neem nie want dit is net 'n gekskeerdery en jou woorde word nie geglo nie.

Dit is nog al die eeue so, met woorde kan jy iemand oplig en amper van die persoon royalty maak, maar jy kan hom ook afstamp dit hy in die diepste van elende beland.

Dawid bid in Psalm 141:3 Here, stel 'n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.

Kom ons maak dit ook ons gebed!
As ons nie iets goeds of opbouends van iemand kan sê nie kom ons bly liewers stil..!

Tuesday, April 28, 2009

TWEE STEMME

Het jy ookal een van daardie dae gehad. Jy weet mos! Jy staan die oggend op met so 'n effense mof gevoel tussen die oë. Dit is seker maar die begin van 'n sinus aanval troos jy jouself. Jy voel 'n bietjie nukkerig. Daardie voorkop is so op 'n plooi getrek en die oggend koffie is ook nie so lekker nie, so 'n hond in die mond smaak...! Ag ek sal wel beter voel as ek eers deur die bad of die stort gespring het........ Die water druk het geval en daar kom net so 'n ou dun straaltjie water uit die kraan, dit help nou ook nie juis veel om my nukkerigheid te laat oorgaan nie.

Die dag sleur verder so stadig aan, maar die nukkerigheid wil jou nou ook nie heeltemal los nie. Gelukkig is dit 'n redelikke stil dag by die werk, op stadiums wil die baklei waarmee jy opgestaan het met alle geweld uitkom, maar jy byt dit terug, gryns net daardie aangeplakte glimlag na jou kollega toe. Jy probeer jou so ver as moontlik afsonder van die res van die werkers sodat die versoeking jou nie moet ry nie. Kort-kort kyk jy op die horlosie en wens die dag om.

Gou na werk net by 'n besigheidsplek aangaan om iets op te tel wat jy bestel het. Dit is net daar waar die paw-paw die waaier tref. Die dametjie agter die toonbank het net soos jy die oggend met 'n mof gevoel opgestaan, en sy probeer ook al die hele dag al om nie bakleierig te wees nie. Skielik kom julle bymekaar uit met katastrofale gevolge.......! Sy wil jou vertel dat daar drie items vir jou bestel is terwyl jy voor jou siel weet dat jy net twee items bestel het. Die artikel wat jy bestel het is nou veel duurder as die prys was aanvanklik genoem is. Op die ou einde is julle aanmekaar en vlieg woorde en beskuldigings oor en weer. Van jou kant af voel jy dat jy nie weer die onderneming sal ondersteun nie, en jy sê dit vir haar...!. Aan die anderkant voel sy dat dit beter is as jy nie weer van die onderneming gebruik moet maak nie, en sy sê dit vir jou.....!

Na dese lê daardie frons soos ploegvore oor jou voorkop en jy is so ontsteld dat jy in jou spoeg kan stik. By die huisgekom is jy en jou lewensmaat uit die staanspoor haaks, jy so opgeblase soos 'n brulpadda en jou maat is besig om te karring aan jou. Wat is verkeerd? Sulke vrae in jou toestand, sleep jou humeur net nog verder deur die modder en kort voor lank gebeur dit waarteen jy al die hele dag veg. Jy ontplof!! Jy sê dinge wat jy nie bedoel nie, jy begin skreeuerig raak asof jy maat doof is, maar dit is nie waaroor dit gaan nie dit is daardie opgekropte frustrasie wat jy al die hele dag in jou ronddra wat jou laat voortstoom sonder brieke. Totdat jy uitgewoed is en dan gaan sit jy daar eenkant met jou dikbek. Nee, dit is ook nie oordat jy dikbek is nie, dit is omdat jy skaam is vir jou uitbarsting...! Jy voel diep binne jou dat jy met hierdie uitbarsting jouself verneder het, jy is skaam, jy weet nie eintlik hoe om dit wat jy gedoen het reg te maak nie.

Jy kyk na jou maat en sien daardie verleë uitdrukking op die gesig. Jou maat voel afgejak, verstoot, die vrae was uit belangstelling gevra, jou maat het nie die uitbarsting uitgelok nie. Dit was jou reaksie want jy wou eintlik alleen gelaat gewees het, jy wou daar eenkant gesit en sulk het. Nou sit jy daar eenkant, net jammer dat jy eers met jou maat moes veg. In jou gedagtes is jy besig om die hele geveg van a tot z oor te veg. Jy voel al skamer...., en jy weet as jy 'n greintjie menslikheid in jou het moet jy jou maat om verskoning gaan vra, want die hele geveg tussen julle twee was ongevraagd. Jy moet gaan regmaak waar jy verbrou het.

Jy kan ook voel daar is iets anders ook fout met jou. Daardie rustigheid en vrede waaraan jy so gewoond is, is ook nie daar nie en daar is 'n stemmetjie wat vir jou sê dat jy die Gees van God wat in jou woon, bedroef het met jou optrede en jy moet Hom om vergifnis vra, want wat jy gedoen het was sonde.
Dan is daar nog 'n stemmetjie wat in jou oor fluister, "ag man dit was nou ook nie so erg nie, hoekom moet jy nou eintlik om verskoning vra? Hoekom moet jy nou eintlik om vergifnis vra, gaan net aan met jou lewe. Jou maat sal in 'n dag of twee oor dit wees en vir die res.........!"

Na watter een van die stemme luister jy? Is jy bereid om die vrede van die Here permanent uit jou lewe te ban? As jy eers eenkeer hardekwas was en nie regmaak wanneer die stem van die Heilige Gees jou herinner dat jy verkeerd opgetree het en dat jy vergifnis moet vra nie, is dit 'n volgende keer makliker om daardie Stemmetjie weer te ignoreer. So verloor jy daardie pand!

Maak reg met jou maat en maak reg met die Here en die vrede wat alle verstand te bowe gaan sal jou deel wees! Onthou ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die magte en die owehede en die bose geeste in die lug.
Liewe Heer help my om stadig te reageer met my tong. Ek kan daarmee soveel skade aan my maat en medemens en ook aan myself aanrig. Bewaar my asseblief daarvan dat dae soos hierdie nie die alledaagse word nie, maar as dit gebeur Here, ek in diepe berou na U sal gaan om weer herstel te word, Amen

Monday, April 27, 2009

EEN OP 'N SLAG.....OF 200,000 OP 'N SLAG?

Het dit al met jou gebeur dat jy 'n projek aanpak en dan kry jy die gevoel dat dit baie langer gaan neem as wat jy gedink het, of jy voel dat jy nooit die eide gaan bereik nie? Jy gaan die huis regpak tydens die vakansie en na 3 dae is jy nog steeds besig met dieselfde vertrek, Dan wil jy sommer handdoek ingooi. Jy besluit om 'n nuwe oefenprogram te begin om die oortollige gewig 'n bietjie minder te maak en sommer terwille van algemene goeie gesondheid..... en na 'n week of wat is jy weer terug waar jy begin het.
Ons raak baie keer so vinnig oorweldig deur die grootsheid van 'n projek en die eindpunt wat nooit in sig kom nie, dan vergeet ons heeltemal van die reis waarmee ons besig is. Jy begin voel asof jy nooit die einde gaan haal nie, maar na 'n rukkie sien jy tog die vordering raak.

Mighty men konferensie, 200,000 mans. Wow!!!
Hierdie manne gaan die land omkeer!!!
Die hele land is aan die praat....

Miskien is jy jaloers op al die manne wat daar was en 'n goeie geestelike inspuiting gekry het, maar onthou elkeen van hierdie manne het presies dieselfde aantal ure in 'n dag teenoor jou wat nie daar was nie. Hoe maak ek 'n verskil vir Jesus? Om net daar waar jy elke dag leef, deur jou lewe die JESUS verskil te maak.

Die land gaan nie verander deur 'n politieke party nie. Die land gaan verander deur "een op 'n slag", Een kind van die Here wat 'n begeerte het dat ander ook kan deel in die avontuur van Christenwees. As daardie 200,000 manne na die naweek terugkom, kan hulle 'n verskil maak, maar doen jy ook net elke dag jou deeltjie vir die Meester.
Geniet die reis en los die eindpunt vir die Heilige Gees!!!

Met erkenning aan: Danie Jacobs

Friday, April 24, 2009

KRAGBRON

Die wêreld waarin ons leef, beweeg so vinnig dat ons amper nie kan byhou nie. Die hedendaagse lewe eis so baie van ons en daardie eise word by die dag sterker. Luister maar na die mense om jou, almal kla hulle is moeg en sat. Sommige mense bedank hulle veeleisende werke en pak op in die stad en trek na iewers op die platteland om hulle dae in rustigheid te slyt. Hulle kon doodeenvoudig net nie die druk langer hanteer nie.

Sou dit die antwoord wees om alles op te pak? Vir party mense is dit seker die antwoord, maar wat van die kinders van die Here? Hulle is net so onderhewig aan die druk en vind dit net so moeilik om dit te hanteer. Hulle wêreld val ook maar soms uit mekaar en dan verloor hulle perspektief.

Tydens Jesus se wandeling hier op aarde, het Hy ook maar tye beleef dat die samedromming van die skare om Hom, so erg was dat hy 'n wegbreek kans nodig gehad het. Jesus het hom dan afgesonder en eenkant gaan stil word voor Sy Vader. Daar het Hy weer krag geput sodat Hy kon aangaan om Sy taak hier op aarde te volvoer. Dink maar hoe Hy Hom gaan afsonder het die nag in die tuin van Getsemane, die nag toe Hy in hegtenis geneem is. Daar het Hy krag gekry vir dit wat voor Hom gelê het.

Is dit nie wat ons ook moet doen nie? Gaan stil word voor ons hemelse Vader, ons gaan inprop by die Kragbron van die lewe nie? Hy sal ons die krag gee om aan te gaan, ons moet Hom net vertrou, al ons vertroue op Hom plaas en ons lewe sonder terughouding aan Hom oor te gee.
Ons moet teogewyd wees en daagliks Sy aangesig opsoek, daagliks inprop by die Kragbron sodat ons batterye gelaai kan word, daarsonder sal ons in ons lewens op 'n ramp afstuur. Kom ons wend opnuut 'n poging aan om daagliks ons stiltetye by die Here te onderhou. As ons, ons dag met stiltetyd begin, dan kan daardie dag nie 'n flop wees nie!

Thursday, April 23, 2009

GEE DIE EERSTE TREE

Baie mens hoor God se stem wat hulle roep om hulle saak met Hom reg te maak. Hulle weet dat hulle dit moet doen en die begeerte om dit te doen is baie maal brandend, maar hulle is huiwerig om die oorgawe aan die Here te maak. As hulle dan die koste van so 'n oorgawe bereken dan voel hulle die prys is te hoog om te betaal. Hulle besef dat die hulle nie beide sonde en die Here in hulle lewens kan huisves nie. Wanner die Here jou uitnooi om die saak met Hom reg te maak, dan bedoel hy dat jy jou alles op die altaar moet sit vir Hom. Jy moet jou sonde bely en laat staan. Dit help nie om belydenis van sonde te doen en dan net weer aangaan om dit wat jy bely het te doen nie. Dit is iets waarmee jy klaarkry in jou lewe.

Baie mense dink dit is 'n vernedering en verleentheid om die knie te buig en hulle sonde emosioneel voor die Here te bely. Hulle wil nie met so iets vereenselwig word nie. Ons is mos grootgemaak met die idee dat sulke dinge by die sektes hoort. Ons gesindheid omtrent hierdie saak verhoed dat ons die wonderlike ervaring van sondebelydenis en sondevergifnes smaak. Dit is seker die mees verlossende ervaring wat 'n mens kan ondervind. Jy voel lig, jy voel gemotiveerd en jy het daardie wonderlike begeerte in jou om die Here te loof en te prys en te dien met alles wat in jou is.
Het jy dit al voorheen probeer? Dit het nie vir jou uitgewerk nie en nou is jy skaam omdat jy Hom voorheen teleurgestel het.
Wanneer die Here jou uitnooi om sy juk op te neem, dan is daar geen veroordeling in Hom jeens jou nie, trouens Hy staan met ope arms om jou terug te verwelkom. Die Woord sê: Nader tot God en Hy sal tot jou nader. Ons moet net die eerste tree gee.......!

Wednesday, April 22, 2009

BO OF ONDERSTEBO

Elke kind van die Here wat die begeerte het om 'n nader verhouding met sy Hemelse Vader te hê moet maar weet dat daardie paadjie ook nie elke dag met rose besaai sal wees nie. Ja daar sal sekerlik tye wees wat jy op die toppe van die berge sal wees, maar wees verseker dat dit ook gaan gebeur dat jy onder in die valleie gaan beland. Gedurende daardie tye dat jy bo is, ondervind jy geestelike groei, en dit voel vir jou of die Here baie naby jou is. Jy twyfel geen oomblik nie en jou geloof in God is groter as ooit en die vrede en vreugde wat alle verstand te bowe gaan is jou deel.

Dit is in hierdie tyd dat die vyand rondloop soos 'n brullende leeu en net na 'n geleentheid soek om jou onderstebo in die dieptes van die valleie te laat beland. Pasop ook daarvoor dat jy nie ongehoorsaam raak aan God omdat jy daar bo is nie, of dat jou liefde vir Hom afkoel nie, want dan sal jou vallei ervaring jou eie toedoen wees.
Ek luister nou in die afgelope week na 'n inbel program op die radio waar daar gepraat word oor wat sal jy doen as jy in so 'n situasie beland waar jy voel dat nie eers God jou sal kan help nie. Dit is interessant dat mense kwaad is vir God en Hom beskuldig as dinge in hulle lewens verkeerd loop, maar as dinge reg loop dan wil hulle in werklikheid niks met Hom te doene hê nie en vat hulle die krediet vir als. Dan lewe hulle hul lewe sonder enig gedagte om God te ken in hulle beplanning. Hy is dan nie deel van hulle lewe nie.

As mens daar onder in die vallei beland, dan moet jy aan die Here vashou en sonder ophou aan jouself bevestig dat jy 'n kind van die Here is, dat Hy jou hemelse Vader is en as jy eers eenmaal jou hand in die van die Here gelê het, sal Hy jou nooit los nie. Jy moet Hom glo en ten volle vertrou.
Dit is egter tragies dat dit ons is wat Sy hand los, en dan is ons kwaad vir Hom en beskuldig ons die Here dat hy ons verlaat het. Dan is ons absoluut onregverdig teenoor Hom.

God is nie 'n mens wat onbetroubaar is nie, Hy is die selfde, gister, vandag en môre. Hy het ons lief en dit sal nooit verander nie. Rom 8:38 - 39 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe o0f engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.

Maar onthou een ding, God haat sonde. As ons sondig, dan bou ons 'n skeidsmuur tussen ons en God se liefde.