Tuesday, June 30, 2009

GEBED IS BELANGRIK

As jy wil weet hoe gewild 'n kerk of gemeente is - gaan na die oggenddiens
As jy wil weet hoe gewild die leraar is - gaan na die aanddiens
As jy wil weet hoe gewild God is - gaan na die weeklikse biduur.

"Die tyd wat ons aan gebed bestee is nie gemorste tyd nie. Dit is tyd wat teen die hoogste rentekoers belê word en wat die hoogste dividend sal oplewer." (R.A. Torrey)

'n Biddelose gemeente is 'n kragtelose gemeente, want "sonder God kan ons nie, maar sonder ons wil God nie."(Augustinus)

"As ons werk, is dit net mensewerk, maar as ons bid, werk God. en as God werk, wie kan dit keer? (Hans von Staden)

As God dan soveel krag en beloftes aan gebed gekoppel het, as Hy ons soveel keer nooi en beveel om te bid, as Hy telkemale in die verlede gebed op die wonderlikste manier verhoor het, is dit dan verbasend dat die satan alles in die stryd werp om te keer dat ons bid?

Dr. Andrew Murray het eenkeer gesê:
" Ons kan tyd maak vir gebed. Ons doen dit dan vir ons vriende."

Dank aan: Manie Delport

Monday, June 29, 2009

VERGEWE ONS ,ONS SONDE

Daagliks gaan daar baie gebede regoor die hele wêreld op. Wat die inhoud van gebede in ander wêrelddele en selfs in ander tale binne Suid Afrika is, is nie aan my bekend nie!

Iets wat my opval in openbare gebede, hetsy by bidure, tafelgebede, openingsgebede of waar ookal, veral waar dit in Afrikaans gedoen word. Is dat Iewers in die gebed, maar gewoonlik naby aan die slot word die volgende woorde gebid: “en vergewe ons, ons sonde?”

Ek luister gewoonlik verstom na die woorde en ‘n aantal vrae kom onwillekeurig by my op. Wie is die ons? Is dit die Bidder en sy familie? Is dit die mense teenwoordig in die vertrek waar die gebed gebid word? Is dit almal op die aarde? Word hierdie versoek bedoel, of gebruik die Bidder die woorde om aan die gebed “body” te gee? Is dit nie maar net deel van ‘n rympie wat die Bidder opsê ne nie eers agterkom dat hy/sy dit wel vra nie?

Nou wonder ‘n mens, dra so ‘n versoek gewig by God? As so ‘n “ons” versoek tot God gerig word in ‘n openbare gebed, kan almal op die aarde dan aanneem dat God alle sondes wat hulle gedoen het tot op die oomblik dat die persoon gebid het, vergewe is? “Ons” is mos nie beperkend nie, dit is ‘n “oop” versoek! Selfs al kwalifiseer die Bidder die “ons” met “ons wat in die vertrek teenwoordig is” of “ons wat om hierdie tafel sit”, is die vraag steeds, vergewe God nou almal se sonde op daardie oomblik wat die versoek gerig word?

As ek vanoggend ‘n verkeerde gesindheid openbaar het en die Heilige Gees oortuig my daarvan dat dit verkeerd was, dan vra ek mos dadelik dat God my sal vergewe en my weer sal vul met sy Heilige Gees. Ek is dan mos “sondeloos” want ek is vergewe vir die sonde van verkeerde gesindheid! As ek nou in die geselskap is en as deel van die “ons” beskou word, van watter sonde vergewe God my?

Is dit dalk ‘n geval dat die Bidder deur die Heilige Gees oortuig word dat daar sonde in sy/haar lewe is en dat dit nou in die openbaar bely moet word? Dalk is dit nou ‘n geval dat die bidder te skaam is om die verkeerde daad by die naam te noem, daarom die versamelnaam “sonde” Dalk ook te skaam om “ek” te sê daarom “ons”

Wanneer mens aanvanklik ‘n oorgawe aan die Here doen, dan bely mens in jou sondaarsgebed al jou sondes, omdat jy nie elkeen van die sondes wat jy gedoen het by die naam kan onthou nie, maar daarna bely jy ‘n sonde by die naam soos wat die Heilige Gees jou van oortuig bv. vloek, lieg, steel, gesindheid, kwaadpraat ens.

Wanneer mens by die volgende stap kom, dan bely jy die sonde wat in jou woon. Dit is daardie geneigdheid om die verkeerde te doen wat jy oorgeêrf het vanaf die sondeval in die Paradys. Daardie erf-smed waarmee jy gebore word, soos wat die Bybel sê in sonde word ons ontvang en gebore!

Word sondevergifnis nie dalk goedkoop gemaak wanneer Bidders vra “vergewe ons,ons sonde” sonder dat dit werklik bedoel word en sommer net so in die verbygaan van die Here gevra word nie?

Ons moet altyd onthou dat ‘n geweldige prys betaal is sodat ons vergifnis van sonde kan kry, dus is sondevergifnis nie ‘n goedkoop kommoditeit nie!!

Friday, June 26, 2009

VOETSPORE EN VINGERAFDRUKKE

In ons daaglikse handel en wandel, laat ons voetspore en vingerafdrukke so ver as wat ons gaan. Elke mens se voetspore en vingerafdrukke is uniek en het geen ooreenkoms met enige iemand anders nie.

As jy langs die strand stap dan lê daardie voetrspore duidelik daar in die sand totdat die eerste brander daaroor spoel, dan is daardie spore vir ewig weg. Dieselfde met ons vingerafdrukke, dit sit net daar waar ons gevat het totdat die eerste stoflap daaroor vryf, dan bly daarvan ook niks oor nie.

Soos wat ons voetspore in die strand trap, laat ons ook voetspore en vingerafdrukke in mense se lewens agter soos ons elke dag met hulle interaksie voer. Waar ons seker die diepste spore trap is in die vatbare gemoedere van kinders. Daardie voetspore en vingerafdrukke wat ons in hulle agterlaat, verdwyn nie na die eerste brander of stoflap nie. Dit is blywende indrukke of afdrukke wat sal bepaal hoe hulle eendag as grootmense sal optree... Hoe hulle eendag teenoor hulle vrouens of mans en kinders sal optree en hulle behandel.

Daar is ongelukkig so dat daar ouers is wat met verwyte in hulle hart rondloop, oor hoe hulle kinders ontwikkel en uitgedraai het. Die ouers sien in hulle kinders se optrede ‘n voorbeeld van hoe hulle self binne die huisgesin optree het en dit is nie altyd ‘n mooi prentjie. Baie ouers wens dat daardie spore deur hulle in hulle kinders se lewens getrap deur ‘n brander weggewas of deur ‘n stoflap afgevee kan word.

Daar was natuurlik ook ouers wat biddend en met versigtigheid voetspore en vingerafdrukke in hulle kinders se lewens agtergelaat het. Daardie ouers sit terug en verlustig hulle in die korrekte en verantwoordelike optrede van hulle kinders. Daardie kinders is ‘n voorbeeld in die gemeenskap en word gerespekteer vir wat hulle is.

Hoe lyk die voetspore en vingerafdrukke wat jy besig is om in jou gemeenskap te laat. Of dit nou jou kinders, familie, vriende of bure is. Trap en vat jy met verantwoordelik sodat die mense met wie jy skouerskuur, jou respekteer vir jou opinie en na jou opsien vir leiding?

Is dit wat jy nalaat navolgenswerd, sal jy eendag trots wees op daardie nalatenskap van jou?

Thursday, June 25, 2009

PSALM 117

Die Boodskap
Jan van der Watt
Stephan Joubert

Kom, prys die Here, al julle volke!
Loof Hom, al julle nasies!
Hoekom? Want Hy is baie lief vir julle;
Ja, die Here se liefde vir julle sal nooit ophou nie.
Kom, prys die Here!

Hoe kan ons nie so 'n God liefhê en aanbid nie? Hoekom is sommige mense so halstarrig dat hulle nie 'n oorgawe aan hierdie wonderlike Hemelse Vader wil maak nie? Hy sê in Sy woord dat ons moet kom net soos ons is. Ons hoef nie eers te gaan 'n mooi pakklere en das aantrek of deodorant aanspuit nie. Hoekom? Omdat, Hy elkeen van ons deur en deur ken, elke hoekie en draaitjie van ons menswees, elke skuilhoekie van ons siel. Omdat Hy God is.
Ja, kom ons gaan voluit om Hom te loof en te prys, want Hy is baie lief vir ons.


Wednesday, June 24, 2009

DIE KOELTEBOOM RUS

Groete en Vrede!!!

Dit was windstil en wolkloos daardie spesifieke koelkoue oggend. Ek was vroegdag al wakker en het buite op die sementbankie loop sit en wag dat die helderste hemellig onse Skepper se bestaan met warmte en snoesigheid verklaar. Die verlatenheid en vergetenheid van die Agter-Kalahari eggo oorverdowend stil en ek verdwaal maklik in die wonderlike gevoel van volmaakte rus in Sy teenwoordigheid.

My oë gly oor die plat, vaalbruin wêreld en skielik besef ek dat die seisoen gedraai het. Wintertyd is wakker en hy is besig om die somerslaap uit sy oë te vee. Binnekort gaan hy vir sommige rustyd en hersteltyd met sy bekende bibberende doodskoue asem oor die Kalahari-vlak aankondig en vir ander … ‘n finale rus.

Dan staan my sien stil by die vaal, liggroen koelteboom waaronder die Genadewa sy staning het. Die laaste jaar was maar dik woestynsand swaar want die lewensaanslae was almal daar, en dit terwyl hy lowergroen lewe en skuiling aan soveel ander moes bied. Geduldig, gedienstig en gedweë toring hy bo ander uit met net die helfte van sy somerskleed aan. Dorstig word gesmeek na rustyd, na hersteltyd, na sterkword-tyd want hy hoop om nog lewe, skuiling en vertroosting aan vele ander te bied.

‘n Rukkie later en die lang, donker, vroegoggend skadu van die koelteboom krimp soos wat die ylerige herfsson sy daaglikse roete loop. ‘n Skielike rukwindjie pluk speels aan sy takke en losserige blaartjies. Verdwaas sit ek en staar na ‘n klompie vaalgroen blaartjies wat half leweloos grond toe dans.

En terwyl yskoue hoendervleis oral op my lyf uitslaan begin ek stadigaan verstaan. Dat elkeen van ons, nes die koelteboom, ook maar mag wonder hoeveel seisoene nog voordat ons sal kan hoor en dit nooit verloor;

Getroue dienskneg … het Hy geseg

Somers het gekom en winters het gegaan

Bowenal alles het jou geloof soos ‘n koelteboom bly staan

Nou kan jy in My kom rus

My arms sal jou veilig sus.


Wel vanuit die Agter-Kalahari tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ...................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene

DIVINE LIFE SENDING.

(Landlyn 054-551 1000)

Tuesday, June 23, 2009

WIE IS HY WERKLIK

Ons is besig om rustig ons lewens-bootjie te roei op die lewens-oseaan. Daar is by ons nie 'n bekommernis nie want alles is onder beheer. Sonder dat ons dit agterkom gee die bootjie so af en toe so 'n effense bok-sprong, die intensiteit daarvan neem stadig en ongemerk toe en as ons die ding mooi agterkom is ons te midde in 'n storm, met swiepende winde en die mis het so toegetrek dat ons nie die ander bootjies wat oomblikke gelede nog saam met ons geroei het kan sien nie. Ons weet nie eers of hulle ook in hierdie lewens-storm beland het nie en of hulle dalk skotvry daarvan afgekom het nie. Ons is heeltemal afgesonder van die buite wêreld af. Ons begin net aan ons eie welsyn dink en hoe ons uit hierdie storm gaan loskom. Ons kan nie by die ouens wat netnou nog saam met ons geroei het vra vir hulp nie, want ons weet nie waar hulle is nie. Ons is ook skaam om te roep want wat gaan gaan hulle van ons dink as hulle ons dalk kan hoor.

Ons het nie willens en wetens in hierdie storm ingevaar nie, dit het so ongesiens om ons toegesak. Ons begin rondkyk in die bootjie, op soek na iets of iemand wat ons uit hierdie verknorsing kan red. Dan sien ons Hom, Hy lê rustig agter in die boodjie op 'n kussing en slaap.(Mark 4:38a) Ons het mos self totale beheer oor hierdie bootjie geneem, en ons het ons Stuurman so half ge-ignoreer, want ons het gedink dat alles so glad verloop, dat ons nou nie regtig van ons 'n oorlas by Hom wil maak nie. Ons het self die spane opgeneem en besluit dat ons die bootjie sonder enige hulp aan die anderkant sal kry. Hoe verder ons roei hoe groter word die golwe, en dit slaan tot binne in ons bootjie. Die bootjie word al swaarder van die water en is al hoe moeiliker hanteerbaar.
Wat moet ons doen? Ons weet nie herwaarts of derwaarts nie! Ons is half skaam om Hom te gaan wakkermaak en vir hulp te vra.....

Wat het die Dissipels onder soortgelyke omstandighede gedoen toe hulle bootjie wou sink? Die Boodskap: Mark 4:38b-41 Die dissipels skud Jesus toe wakker en sê: "Gee U nie om dat ons besig is om te sink nie?" Jesus staan toe op en praat streng met die wind en die golwe.....Dadelik het die wind gaan lê en alles was heeltemal kalm. Toe draai Hy na sy dissipels toe: "Vir wat was julle so bang? Vertrou julle my dan nie? Hulle was heeltemal verslae en het klein gevoel in Sy teenwoordigheid. "Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see doen wat Hy sê," het hulle onder mekaar gewonder

Sorg dat Jesus altyd die Stuurman van jou bootjie is. As jy na Hom luister sal jy nie in so 'n penarie beland nie.

Monday, June 22, 2009

VERHOUDINGE IS ALLES

Soms wonder 'n mens, hoekom die dood so 'n groot impak op 'n samelewing het. Het dit nie iets (of liewer alles) te doen met die feit dat God ons as verhoudingswesens geskape het nie? Tog skeep ons baie keer hierdie faset van menswees die meeste af! Wanneer ons mense se behoeftes beter verstaan, kan jy hulle beinvloed en 'n positiewe impak op hulle lewens maak. Volgens Dr John C. Maxwell is die volgende 3 sake belangrik as jy mense wil verstaan:

1. EVERYBODY WANTS TO BE SOMEBODY
Net soos wat jy 'n behoefte het aan erkenning en 'n betekenisvolle lewe, net so het elkeen rondom jou dit ook nodig. Almal (ook God se kinders) het 'n behoefte om waardig geag te word.

2. NOBODY CARES HOW MUCH YOU KNOW UNTILL THEY KNOW HOW MUCH YOU CARE
Hoeveel jy weet, beindruk nie eintlik iemand nie. Die oomblik wat mense besef jy gee regtig vir hulle om, sal hulle gesindheid teenoor jou verander.

3. Wat gebeur met 'n warm kooltjie wat uit die vuur gehaal word? Dit koel af. Die kerk vermag mos ook baie meer, as ons dinge saam doen!
Psalm 8 sê baie duidelik dat die Here ons met 'eer en aansien" gekroon het!

Kom ek daag jou uit om mense (veral kinders en jeug) se eer en aansien "terug te gee" deur hierdie drie behoeftes uit te leef teenoor hulle wat dit so nodig het....sodat God se eer meer sigbaar kan word!

Met dank aan Danie Jacobs