Monday, September 27, 2010

VERLATE NALATIGHEID

Dit is grafstil in die huis en instinktief weet ek dat die helderste hemellig met sy rooi oog binnekort sy se kop oor die Kalahari-vlak sal lig. Nie meer te lank nie, dan breek die dag en ‘n vol avontuur saam met Hom wag om geleef te word. Saggies, sodat die Mooiste Mooi nog ‘n rukkie die snoesige lekkerte van ‘n herfsoggend kan smaak, staan ek op om buite op die agterstoep te gaan sit. Die vroeë oggendstilte hang lusteloos oor die vlak nes ‘n voertuig se stofstert op ‘n windlose en verlate grondpad.

“Waarheen vandag Vader, waarheen neem U avontuur ons vandag?” vra ek stilweg en kyk rustig om my rond. Ver in die ooste sukkel die son om sy se kop op te tel. Sagte pastelkleure kleur onse verlate en alleenweeswêreld versigtig in en kondig bevestigend daardeur Vader se skeppingsalmag aan. Dan onthou ek skielik weer Vader se woorde tydens ons oorstaan gisteraand by hulle tweevertrek huisie êrens op die Kalahari-vlak terwyl daar gesels word oor onse eie unieke sukkelgoed van die lewe “… vul die aarde, onderwerp dit en heers ...” Skeppingswoorde, bekende woorde, maar helaas ... herkou woorde.

Kort neffens daardie selfde dag se middagmaal kry die Genadewa sy staning in die koelte van ‘n groterige, groen Suidwesdoring terwyl ‘n noorde windjie luierig ronddwarrel. Verlate lê die vlak voor ons uitgestrek met net windspore op die rooi sand en sommer so weet ek dat ons vandag niemand hier tussen die duine gaan raakloop nie. So steek my se oë by die toenmalige spogplaas se uiters verwaarloosde leegstaanopstal vas waar dik waaisand teen die vernielde kombuisdeur asook die gebreekte ruite en afgedopte mure in stilte ‘n hartseer skildery van vernietiging skets. Sommige van die alleenstaan buitegebou se krom gebuigde sinkplate en ‘n geroeste windpomp versterk hierdie beeld van totale vervallenheid en desolasie.

‘n Klompie wilde bosduiwe op die huis se verf-af dak kyk met angstige verwagting rond terwyl ek en die Mooiste Mooi hand-aan-hand op die werf rondstap. Die verlatenheid gryp my se hart en kort voor lank verdwaal ek in my se eie binnekant wêreld. Ek kan myself net indink hoe ‘n kaleidoskoop van drome op hierdie spog beleggingsplaas gedroom was.

Drome en tye toe die opstal oorgeloop het van menselewe en die sorteerkrale gebars het van vet slaggoed wat skaaplorrie moes ry. Daarmee saam heuphoogte graspluime wat op die wieke van die waterwind ry en swanger reënwolke vol seëning beloftes. En om alles te kroon weergalm en weerklink ‘n onskuldige kindergelag oor die Kalahari-vlak asook ‘n voormalige plaaseienaar se opregte en bedoelde dankbaarheidsgebed na meer as genoeg sagte reën in my se binneste ore.

‘n Skielike stuitige draaiwind gooi ons vol rooi duinsand en so ook die realiteit van wanorde. Aangedaan verwonder ek my oor die verval en ervaar ‘n diepe smeking en ‘n pleit vir stilte van die onmiddellike omgewing. Stilte, totale doodse stilte, sodat die vergeet van mensegoed se growwe nalatigheid makliker kan wees. Wrede mensegoed wat alles in hulle se eie krag wil doen. Steeds eggo gisteraand se Godswoord dawerend in my se binneste-binne “… onderwerp en heers ... onderwerp en heers ... onderwerp en heers” en toe “... want daarsonder kom verval en verwaarloos.”

‘n Rukkie later en die vervalle en verwaarloosde opstal raak al kleiner en kleiner in die Genadewa se truspieëltjie en ek besef dat my eie verlatenheid, desolasie, gebrokenheid en eensaamheid se oorsprong in my se eie wrede nalatigheid te vinde is. Terwyl die breë bande gemaklik hulle weg deur die rooisand huis toe vind wonder ek oor my se eie seer omrede ek soms nalatig was om sonder Hom te onderwerp en heers.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ......................

Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn 054-551 1000)

Friday, May 14, 2010

VOELS VAN VERGIFNES

Kort voordat die oggendster sy se oog hierdie Goeie Vrydag geknip het, het ons geveerde vriende nes elke dag hul teenwoordigheid in die Apiesdoring aangekondig met ‘n gesels en ‘n geraas. Altyd ongeduldig, altyd haastig, altyd besig. Harder en harder tjirp hulle sodat van die laatslapers ook uiteindelik by hulle kom aansluit. En so tussen die getjirp, gesels en geraas, word daar heen en weer, op en af, oor en weer gespring want stilsit en lui wees is nie eie aan hulle se aard nie. Terwyl die son sy sê kop so luilekker optel, bekyk en beloer ek hierdie geveerde ongeduld vanaf die agterstoep.



Met ‘n blikbeker oorlopens toe vol met voëltjie saad, stap ek nader aan hul ongeduldigheid. Hul menigte spoortjies van gister, eergister en selfs die hele verlede week se geëet lê steeds onversteurd op die sanderige stukkie grond onder die Apiesdoring. Hierdie is hul voerplek, hul oorvloedsplek waar hulle elke oggend tot barstens toe vol kan eet. My naderstaan met die kossigheid jaag ‘n klompie op wat reg onder die Apiesdoring te vergeefs in afwagting in gister se oorblyfsels rondgekrap het. Vireers loop sit hul leë krop tussen die ander.



Ek was skaars ‘n paar treë weg van die Apiesdoring af toe ‘n digte wolk van versamelvoëls sonder vrees neerdaal op die lekker bederf wat ek uitgegooi het. Elkeen opgevang in sy eie dolle gejaag om soveel moontlik te verslind en sodoende die innerlike hongerte van die eie ek te probeer bevredig. Skielik land ‘n paar tortelduiwe vanuit die niet langs die bederfplek onder die boom. Verskrik spring ‘n paar opsy terwyl sommige ander hierdie ongenooide indringers hoogs verwaand en selfs geïrriteerd aankyk. ‘n Oomblik later is alles vergete en gaan hulle vraatsig voort om die bederf te verslind. Elkeen se aandag bly onverstoord gefokus om sy eie krop vol te stop en heel vergete is die wêreld se bestaan.



Die Mooiste Mooi bring ‘n vroegoggend drink dingetjie en haar se onverwagse teenwoordigheid bring skrik onder die geveerde vriende. Blitssnel dawerend vlieg almal haastig die Apiesdoring in. Hier vanuit die veiligheid van ‘n lowergroen blarekleed, bekyk hulle die erf wantrouig. Die mees ongeduldiges, met uitgestrekte vlerkies en koppies wat draai, gee hul misnoeë duidelik te kenne. Skaars het sy haar se sit langs my gekry en die geveerdes sak weer soos uitgehongerde vrate op die bederfkos neer.



Kort voor lank loop hul gemoedere oor. Eers stry twee, daarna drie en toe sewe en kort voor lank kon niemand onder die Apiesdoring meer iets te ete kry nie. Die stof dwarrel en draai behoorlik soos hulle mekaar takel want niemand gun iemand iets nie en dit terwyl daar meer as genoeg is om van te eet. ‘n Groot bosduif wat nadervlieg se harde vlerk geklap jaag hulle weer die Apiesdoring in. Net soos vroeër, bekyk hulle die wêreld wantrouig en sak weer soos een man neer. Lank vergete is netnou se oorlog en baklei en die oorvloedige gevreet begin weer van voor af aan.



‘n Uur of wat later en die Mooiste Mooi is êrens besig in die huis. In verwondering sit ek alleen op die agterstoep en kyk na die ons geveerde vriende se verlate voer-en bederfplek. Menigte spoortjies agtergelaat op die sanderige oorvloedsplek vertel hul eie vergifnisverhaal en toe ...................



Sommer so, sonder om te vra,


Help klein versamelvoëls ‘n spieëlbeeld uitdra.



Saggies plaas Hy woorde diep in die hart,


Opgedra aan ons slagoffers van spyt en smart.



Help tog Here, help ons begin,
Bring U waarheid, U liefde, ons moet besin.



Die eie ek het deurmekaar geraak,
Hierdie skewigheid smeek vir ‘n reguit maak.



Oordonderend is die duin van pyn,


Verlos ons van hoogmoed, hebsug en skyn.



Help tog Here, help ons vergewe,


Want vergifnis is die basis van oorvloedslewe.





Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ......................



Êrens tussen duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Wednesday, May 12, 2010

DANKBAARHEIDSMELODIE

Weggesteek agter ‘n klompie helderrooi sandduine lê die klein plekkie en broei in die laatsomer se agtermiddag sonnetjie. Los wolke wat laag oor die westelike verste sien lê, hang rustig en wag om hulle unieke bydrae in die skepping van nog ‘n asemrowende hemelruim skildery te maak. Vanuit ‘n oorvol gelaaide Genadewa wat so halflyf in die bietjie koelte van ‘n peperboom geparkeer staan, bekyk ek en die Mooiste Mooi ‘n vaalbont werfhoender wat al te pronkerig met haar geelwit donsagtige kroos so skrop-skrop Sy voorsienigheid opsoek.

Met haar tingerige skouertjies vooroor getrek en maer armpies wat woes heen-en-weer swaai, kom sy met kort treetjies doelgerig al nader en nader aan ons. Verward spat die werfhoender en kuikens onder haar se voete uit en soek elders skuiling. Onverwags steek sy vas, gooi haar se twee handjies waarvan die vingertjies jare gelede al van oumenssiekte inmekaar getrek het in die lug, trek haar se geplooide gesig op ‘n kreukel en beloer ons met haar se vaal katarakoë. ‘n Vaalpienk tandlose glimlag verhelder die dorre gesiggie en dan waai sy ons nader. Eers word ek met die groetslag geïgnoreer terwyl die klein, maer ou vroutjie haarself liefderik onder die Mooiste Mooi se blad inwurm al asof sy haar nooit weer wil los nie. “My se gebed is gehoor, die Djere het my se gebed gehoor en Hy het voorsien want onse Pastoorgoed het tog weer hier by ons kom oorstaan,” kook dit oor vanuit haar se binneste-binne. Styf met haar een armpie om die Mooiste Mooi gevou, stap die twee baie stadig na haar se opslaanhuisie terwyl sy belangstellend uitvra oor onse welstand.

‘n Rukkie later het die woord dat ons daar is gou-gou deur die hele gemeenskappie versprei. Daarmee saam word vertel dat vanmiddag ‘n uitdeeldag, ‘n weggeedag, ‘n bederfdag is want ‘n vernietwinkel het hier kom oorstaan. ‘n Vernietwinkel vol klere, blikkieskos, meel en ander eetgoed selfs ook sporttoerusting, skryfbehoeftes en speelgoed. ‘n Vernietwinkel waar betaling gedoen word met ‘n opregte dankiebrief vanuit die skatkamer van jou se hart. ‘n Vernietwinkel oorlopens toe vol van genade vir diegene wat daarvan wil hê.

Een vir een staan hulle nader; nader aan die Genadewa en nader aan Vader se genade voorsienigheid. Gretig sit die meeste handjie by om die Genadewa se vrag af te laai en gou-gou is alles op die grond uitgepak. Dan begin die uitsoek in alle erns om kort daarna items trots eenkant weg te bêre. Al harder en harder word daar gelag, gehuil en gekuier. Kledingstukke word een vir een gemeet, gepas, uitgeruil en selfs vir mekaar gemodelleer. Die jong klomp daarenteen het net oë vir die sokkerballe en kort voor lank is daar ‘n spontane wedstryd aan die gang. Selfs van die ouer manne speel so-hande-op-die-knieë saam.

Stil-stil staan ek en die Mooiste Mooi eenkant toe om dié vergete en eensame groepie Kalahari bewoners se ekstatiese vrolikheid en dankbaarheid te geniet. ‘n Groepie mense wie se eens dowwe oë nou sterhelder blink en nuwe plooie vou van al hulle gelag, gekoggel en geskerts. ‘n Groepie mense wat selfs met krummels tevrede is. Met my se arm om die Mooiste Mooi se skouers luister en kyk ons na hierdie groepie mense se dankbaarheidsgesang met melodie. Rustig waggel die oumatjie nader en kom druk haar se maer lyfie so styf tussen ons in. “Pastoorgoed,” sê sy nadat sy haar se maer armpies styf om ons geslaan het, “die Djere is vir ons al te goed. Kyk net al die mooi goedjies wat vandag hier uitgedele is”.

Terwyl ons die laaste klompie minute van ‘n betowerende oranje en rooi sonsondergang met sagte pienk wolke geniet, eggo Sy vroegoggend wakkerwordwoorde onophoudelik in my se ore “My hartsmusiek kan gereeld tussen die sandduine van die lewe gehoor word, want ‘n dankbaarheidsmelodie word slegs gekomponeer uit jou se daaglikse doendinge.”

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou .........................

Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn 054-551 1000)

Sunday, May 9, 2010

STILWEES GEFLUISTER

Ek en die Mooiste Mooi kry onse sit op die rand van die volkshuisie se sementstoepie terwyl die warm rooi Kalaharisand ons voete sommer so dwarsdeur ons skoensole brand. Sedert die ontmoetingswoorde met die stilhou, het ‘n aanvoelbare stilte ons soos die opskopstof van die Genadewa omsingel. So met die saamstap na sy woonplekkie toe besef ek skielik dat Willem, as ‘n belese Kalaharimens, ons voorwaar sou dop gehou het met ons rondloop so ‘n bietjie vroeër daar onder by die verlate en vernielde plaasopstal.

So in sy gemaklike stap deur die los rooi sand, beloer Willem ons wantrouig bo-oor sy se swart dikraambril. Sy amperse swart of selfs donkerbruin oë is agter vuil gevatte brilglase smekend en naarstigtelik opsoek na leidrade wat as herkenning kan dien. Hy moet weet wie ons is want hier het hoeka se tyd laas iemand kom oorstaan op hierdie vergete plaas en dit nogal ongenooid. Ek is onnodig moedswillig en hardkoppig met die ignorering van die stille pleitkrete in sy se oë en gevolglik kook ‘n diep sug onbeskaamd oor uit Willem se amper tandlose mond.

Hy kry sy se sit op die stoepie net toe die oggendtee sonnetjie sy se kop skielik agter die enigste wit pluiswolkie in die lug uitsteek en alles kasty waarop hy genadeloos sy strale kan skyn. Sag en versigtig begin ek hom uitvra oor sy toentertydse lewenspad. Eers stotter en dan proes sy se vertel soos ‘n yskoue Listerenjin maar die voorreg om met iemand te gesels maak dat hy lateraan genotvol begin beduie van die klomp paaie waarop sy se spoor al getrap is. Mooi paaie, oorloop paaie, knuppeldik paaie. Paaie besaai met innerlike geluk, goddelike vrede en hemelse vreugde wat begin het die dag toe hy God se Kêrelkind ontmoet het. Paaie geteer met ‘n vroeëre tyd se luister as die Veilige Gees se sagte stem fluister.

“Wees stil en weet dat jy in stilte ook ander help om dit wat verkeerd loop te vergeet,” fluister die Veilige Gees saggies in my se hart toe Willem se oë so skielik soos ‘n geelslang se pik verander. Die vreugde en genot in sy se oë maak plek vir verslaentheid, terneergedruktheid, depressie, hartseer en selfs boedel oorgee. My oog vang selfs die Mooiste Mooi en sien hoe twee identiese traanvormige sweetdruppeltjies in die hitte van ‘n windlose somersdag oor haar se wange reisies jaag. Standbeeldstil sit sy en wag en dan weet ek dat Vader vandag iets spesiaals gaan doen want ek glo in Hom selfs as Hy wil hê ons moet stil wees.

Geduldig sit ons en wag vir Willem om sy se lewensverhaal verder te vertel. Rustig haal hy diep asem, sug diep en vee blink sweetdruppels tussen die krake van sy se songeskroeide vel met ‘n ou vuil geskifde sakdoek af. Beskrywend en kleurvol vertel Willem van die huidige versengende droogte in sy se hart omrede “Ek mos afgedraai het op my se eie pad toe die Djere nie wou saam nie. So gaan ek by myselwers maar vingertjie alleen aan”. Dan beduie Willem hoe swaarkry, hongerpyne, lyflyding en ‘n byna doodgaan-sukkel diep breë erosieslote oor sy se lewenspad gespoel het. “Nee wat,” het hy gesê, “Ek kan voel my se oopgraftyd is aan die kom.”

Skielik bly hy stil so in die middel van ‘n sin en bekyk my en die Mooiste Mooi elkeen weer aandagtig. “Die Djere het julle gestuur om by my te kom oorstaan,” kom dit versigtig oor sy se lippe. “Hy het my wraggies waar nie vergeet nie het my se voete sinkplate sonder Hom geloop.” Die knik van my se kop bevestig die woordlose vraag uit sy se binneste-binne en dan ervaar en sien ek hoe Vader in ‘n goddelike stilte ‘n nuwe begin en ‘n nuwe lewe aan hierdie eensame en alleenmens gee. Skoonmaak traantjies vol vergifnis, vergewe en vergeet wel in sy se amperse donkerbruin swart oë op en was hom in stilte van binne skoon.

‘n Rukkie later en ons staan weer by die Genadewa om te groet. Ek skud sy sonverskroeide geëelte hand terwyl vroeër se goddelike aanvoelbare stilte steeds soos ‘n kniekombers om ons hang. Klein stofwolkies omarm Willem met die wegry terwyl sy gesig spog met ‘n nuut geskilderde glimlag gewortel in sy se nuwe binneste-binne. Net voor die draai met die dik sand aan sy buitekant, kyk ek vir oulaas in die agtertoekyk spieëltjie van die Genadewa en sien Willem seëvierend met arms omhoog en hande wat wuif by die werfhek staan. En terwyl hy verswelg word in sy nuutgevonde vrede en vreugde, bekragtig Vader weereens vlinderslag Sy se oorwinningswaarheid.

Onse oorvloedslewe is verseker deur stilwees en te luister na die Veilige Gees se sagte gefluister.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ………………………

Êrens tussen sandduine woon mense wat vir jou omgee omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

Thursday, February 11, 2010

VIR WATTER SPAN S P E E L JY

Refuse good advice and watch your plans fail; take good councel and watch them succeed (The Message - Spr 15:22)

Wanneer ek rugby kyk( of enige sport for that matter), is dit soms vir my meer interssant om na die ondersteuners van die span te kyk, die sg. "fans", as na die span self. As ek luister na al die raad, advies, idees, spelplanne en kommentaar wat hulle uitbundig enpassievol uitroep, wonder ek hoekom hulle nie eerder op die veld is nie!

Jy sien, dis die verskil - hulle is nie op die veld nie - en dis baie makliker om vir 'n span te skree en 'n ondersteuner te wees, as om self op die veld te wees en te speel. Op die paviljoen het elkeen sy eie idees, taktiek, en spelplan. Op die veld moet hulle as 'n span saamwerk - en die wedstryd speel. Dis anders. Dis hoekom net 'n paar op die veld is en die res op die paviljoen en voor die televisie.

Spanwerk is die sleutel waar net die beste deel is van die span. In God se koninkryk kry ons ook mense wat wat vir Sy span SKREE an dan is daar die wat vir Sy span SPEEL. Die verskil is egter dat God ELKEEN van SY kinders die opdrag gegee het om vir Sy span te speel. Elkeen moet deel wees van Sy span. Elkeen het 'n gawe , visie en bediening van Hom ontvang, om te gaan doen. Jy is deel van Sy span. Jy is van kardinale belang vir Sy Koninkryk. Daarom moet ons as Sy kerk deel word en saamwerk in Sy span.
S - Saam
P - Presteer
A - Almal
N - Noemenswaardig

Bear Bryant, 'n Amerikaanse voetbalafrigter, se raad om die spangees gesond te hou is:
  1. If anything goes wrong, I did it
  2. If anything goes semi-good, then we did it.
  3. If anything goes real good, then You did it

Dit is dalk nou die tyd om van die paviljoen af te klim (op te hou om te support) en deel te word van Sy span. Sy Bediening en Sy missie vir 'n honger wêreld.

Met dank aan Dawie van Schoor

Monday, February 8, 2010

DIE BOEMELAAR VAN DIE OOP SEE

Die Pelicano is die mees verstote skip ter wêreld en sedert 1986 is sy die Boemelaar van die oop see. Niemand wil haar hê nie! Sri Lanka wil nie, Bermuda wil nie, die Dominikaanse Republiek, het haar weggewys en so ook Nederland, die Antille en Honduras.

Die probleem is nie die skip nie - alhoewel sy geroes en met mossels bedek is, is sy seewaardig. Dis nie die eienaarskap nie - die lisensie is betaal en op datum. Dis ook nie die bemanning nie - alhoewel hulle verwerp voel, is hulle bekwaam.

Wat is dan die probleem?

Die Pelicano is vol gemors! Vyftien ton stinkende vullis. Lemoenskille, bierblikke, vrot kos, koerante. Die vullis van Philadelphia se lang somer van '86 toe die munisipalewerkers gestaak het. Die eienaars van die Pelicano het gedink hulle kan maklik geldmaak om die vullis te vervoer. Hulle het dit verbrand en die as in die romp gelaai. Niemand wou dit egter toelaat nie. Aanvanklik was die vullis te veel en later was dit nog boonop toksies ook.

Die lot van die Pelicano is bewys - skepe vol vullis het min vriende. Dis ook 'n gelykenis - harte vol vullis vaar nie juis beter nie.

Die lewe het 'n manier om sy vullis op ons af te laai - vragte woede, verwyte, liefdeloosheid, bitterheid, angs, bedrog, ongeduld......en alles hoop op in jou hart. Dit beinvloed ons, dit besoedel ons verhoudings, ons gesindheid, ons toegewydheid. Dis soos Kain wat woede in sy hart gehad het voordat hy bloed aan sy hande gehad het.

Kyk hierna:

Vandag se gedagtes is more se dade. Vandag se jaloesie is more se woede. Vandag se gierigheid is more se verduistering. Vandag se skuldgevoelens is more se vrees.....

Sommige mense dink ons is slagoffers van hierdie vullis, dat ons nie 'n keuse het nie. Kyk wat sê Paulus in 2 Kor 10:5 "Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak" Ons is soldate om ons gedagtes te beskerm, nie die slagoffers daarvan nie. Ons is op wag om, sodra die "Pelicanos" van die lewe wil anker gooi, hulle te verbied:

Hierdie hart behoort aan God - selfsug kry jou ry, woede gaan soek 'n ander broeiplek! Jy is die hawemeester van jou eie skip (hart) - bewaak dit bo alle dinge!

Verwerk uit "Deel God se Liefde" van Max Lucadu

Wednesday, January 27, 2010

HUWELIK MET GOD


Haai, ek wil jou vandag ‘n ding vra: Is jou verhouding met God soos twee mense wat maar net saambly?

Dit is gerieflik, jy kry uit die ander een so veel as moontlik. Jy het geen verantwoordelikheid teenoor jou maat nie.Dinge word saam gedoen net tot op ‘n punt en dan is dit nie meer lekker nie, dan is dit tyd om jou eie gang te gaan....!

Jy word vanoggend kwaad vir jou maat en omdat jy geen verantwoordelikheid teenoor hom/haar het nie, besluit jy, ek gaan nie vanaand huistoe nie.

Ek gaan liewer by een van my ander vriende oorbly vir ‘n dag of twee totdat ek minder kwaad is . As ek dan besluit om met iemand anderster, in die bed te spring, dan is dit regso want die verantwoordelikheid teenoor die eintlike maat ontbreek. “Ons is mos nie getroud nie...!”

Ek kan eintlik maak soos wat dit my plesier verskaf, want ek is nie gebonde aan die ander persoon nie. Maar as ek wil teruggaan, gaan hy daar wees en my met ope arms ontvang. Hopelik! Dink net hoe groot sal die ontnugtering wees as jy wil teruggaan en daar is nie meer plek vir jou nie. Dit is dan amper soos die vyf maagde wie se olie vir die lampies opgeraak het terwyl hulle vir die bruidegom gewag het. Toe hulle terugkom nadat hulle gaan olie koop het, was die deur gesluit en kon hulle nie ingaan nie.

Is dit dalk hoe jou verhouding met die Vader is?

Is jou verhouding met God dalk soos twee mense wat besluit het om te trou., Om ewige trou aan mekaar te belowe. Tot die dood ons skei.

Ja, daar kom party dae, veral aan die begin van die huwelik, dat die verhouding maar stormagtig is. Jy wil jou eie stempel daarop afdruk dit gaan ‘n bietjie aan totdat daar kompromie bereik word. Gewoonlik is die persoon wat die sterkste is, die een wat dikteer. Jy word kwaad vir jou maat, maar jy weet jy het ‘n verantwoordelikheid teenoor hom/haar want julle is getroud....! Jy weet dit sal nie help om vir ‘n onbepaalde tyd vir jou maat kwaad te bly nie.

Jy sal maar net moet by jou maat uitkom, die saak uitpraat en die belangrikste, jou maat om verskoning vra. Jy kan jou nie afskei van jou maat nie, julle het ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar. Julle kyk nie wat elkeen uit die verhouding kan kry nie, - wat is vir jou voordelig nie. Julle is besig om ‘n baie lang termyn verhouding met mekaar op te bou, dit is wat albei van julle wil hê. Julle beplan saam aan dinge, jy spring nie maar sommer net weg en doen dinge sonder om jou maat te ken in jou beplanning nie. Jy doen dinge ook nie sommer op die ingewing van die oomblik nie, jy praat en bespreek dit mos met jou maat en wanneer hy/sy toestemming gee, eers dan gaan jy voort met jou planne. In ‘n huwelik is jou maat die belangrikste, en jy sal alles vir hom/haar doen. Julle beplan saam, geniet mekaar, dit behoort ‘n fees te wees om tyd met mekaar te spandeer.

Jy draai tog seker nie jou rug op jou maat en ignorer hom/haar vir dae of weke of dalk selfs maande nie. Dan het jou huwelik misluk en kan julle maar net sowel elkeen sy eie pad gaan.

As jy lief is vir jou maat en regtig erns daarmee maak, dan wil jy altyd naby hom/haar wees. Jy wil kommunikeer, jy wil vertel, jy wil raad vra, jy wil moontlikhede bespreek, jy wil beplan, nie in isolasie nie, maar met jou maat. As jy iets doen moet jy weet dat dit met jou maat se seënwense is. Julle moet saamstem daaroor dit is ‘n lewe van gee en neem nie net neem nie, want dit gaan nie net oor jou nie, maar dit gaan eintlik oor jou maat.

As jou verhouding met God ernstig is. As jy hom wil ken in alles, dan is jy op die regte pad. Die Woord sê: Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelyk maak..!

Jy moet nie net ‘n verhouding met God aanknoop tot jou eie voordeel nie. As jy met Hom in verhouding gaan, moet jy jou kant bring, ten volle bring. Daardie huweliksband met God moet daagliks stywer word. Jy moet al hoe meer tyd met Hom wil spandeer, Hom al hoe meer vertrou, Sy stem al hoe duideliker hoor, sodat jy kan weet wat Hy van jou in die verhouding verwag.Jy moet jou belofte van trou wat jy teenoor Hom afgelê het ten volle nakom.

As jy eers eenkeer die ware liefdevolle verhouding met God beleef het, sal jy nooit as te nimmer jou rug op Hom kan draai nie. Jy sal vind dat jy nie genoeg van Hom in jou lewe kan kry nie. Jy sal al hoe meer tyd met Hom wil spandeer en Hom alles wil vertel omdat jy hom volkome vertrou.

Prys die Here, dit is lekker om God te dien. As ek met verwondering na U handewerk staar dan weet ek dat ons ‘n GROOT GOD dien. Dat alles nie maar net deur ewolusie tot stand gekom het nie, maar dat die kleinste klein blommetjie en die hoogste bergspits deur U gemaak is. Ek eer U daarvoor en wil met U in ‘n liefdesvehouding staan vir die res van my aardse lewe. Ek eer U en het U lief.