Monday, October 25, 2010

LEWENSPAD NA NERENS

Daardie een spesifieke lente oggend was seker die naaste aan 'n perfekte Kalaharidag wat daar kan wees. Die lug is blouer as blou, die geelwit sonnetjie bak teen ‘n aanvaarbare temperatuur en die koelerige windjie uit die suide stoot net genoeg om jou te herinner aan die Skepper van Hemelgoed en Stofaarde se alomteenwoordigheid. Op die winkel se stoepie draal ‘n paar vrouens rond want dis amper weer tyd vir die vroue om bymekaar te kom. Daar waar hul geknakte selfbeelde by wyse van bemoedigende woorde uit Vader se hart sonder enige druk regop gehelp word en dit terwyl die mooiste goeters uit ander se weggooidinge gemaak word.

Ek hou haar wat voorwaar heel te vroeg haar se tienerwees verloor het deur die die kantoorvenster dop. Sy dwaal doelloos en soekend rond so al asof sy verdwaal is. Haar onversorgde kop hang skuins-skeef en eens trotse jonkwees-skouers verloor ‘n stille stryd teen die swaartekrag. Met verslete skoene laat sy sleepspore na as stille bewys van ‘n ongenaakbare wêreld wat met ‘n wrede spoor haar se binnevoering verbrysel het. ‘n Wrede spoor deurtrek van laakbare gebruike, onbedoelde woorde vol leuens en leë beloftes wat so kenmerkend eie is. Haar se aanstap na my werf se kant toe, basuin oor die Kalahari-vlak dat haar kosbare lewensvreugdes deur hierdie brutale spoor vermorsel is. Nou lê waardevolle lewensdrome so ver, so onbereikbaar ver en dit terwyl sy nog ‘n jaar of drie moet wag vir mondigwording.

Die groepie vroue wat om die groot tafelblad sit, kyk verbaas op toe ek haar wys waar hulle weekliks ontmoet. Die meeste van hulle snak so half na hulle asems want niemand het ooit gedink dat sy hierheen sou wou kom nie. Die Mooiste Mooi kyk met kwaai oë na hulle en nooi haar dan vriendelik om sommer daar langs haar te kom sit. “Hopelik Vader, hopelik vandag sal alles draai, hopelik sal die lewe vandag weer vir haar begin sin maak, hopelik sal sy vandag besluit om ‘n pad vol hoop saam met Jesus te stap,” vra ek so in my se binneste-binne en stap dadelik uit. Rustig speel die musiek in die agtergrond en die Mooiste Mooi vertel ongestoord verder van die Skepper se allesvergewende liefde en genade.

Net so voor die middaguur se uitval, dwing die nuuskierigheid my terug na die groepie toe. Haar se verslaentheid en vreugdelose lewensuitkyk het die hele oggend voor my binneste oog gedraai en ek kon haar nie uit my gedagtes kry nie. Vol verwagting stap ek nader en hoor hoe daar gekoggel en dan hartlik uit die maag vir mekaar gelag word. Versigtig staan ek nader aan die venster en loer skelmpies na binne. Doodstil, met haar donker oë stip gefokus, konsentreer sy om ‘n knoop aan die einde van die stringetjie kraletjies wat sy geryg het, te maak. Dan kruip ‘n breë glimlag oor haar donkerbruin gesig toe die Mooiste Mooi oor haar se eie onhandigheid kla. “Dankie, Vader vir ‘n geleentheid wat sy het om tussen ander gebrokenes gesond te word. Ek hoop van harte dat sy vandag goed sal kies. Hoop dat lewensvreugdes vandag ‘n werklikheid vir haar sal wees. Hoop dat sy vandag op ‘n pad van hoop sal besluit,” bid ek in stilte.

Sowat ‘n uur of wat later en die meeste van die vrouens het reeds weer ingeval, maar die jongvroutjie se stoel langs die Mooiste Mooi s’n is leeg toe ons daar aankom. Miskien is sy maar net so ‘n bietjie laat of dalk het haar jongste, wat nog is die doeke is, haar aandag nodig hoop ek terwyl ek besig raak met kantoorwerk. ‘n Rukkie later hoor ek ‘n geskel en ‘n gebaklei buite by die winkel. Ek kyk weer deur die kantoorvenster en is net betyds om te sien hoe sy so ‘n tree of wat nog rondslinger en toe plat in die vaalbruin stof neerslaan. En ‘n ferm koel suidewindjie waai haar leë rooiprop wynbottel saam met vergete lewensdrome wyd oor die vlak heen.

Die die prys van hoop was vir voorwaar net te swaar vir haar. Nou strompel sy maar vandag steeds weerloos voort op haar eie vernietigende lewenspad na nêrens met kosbare lewensdrome wat nog steeds ... onbereikbaar ver is.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ........................

Êrens tussen duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

Landlyn 054 - 551 1000

Monday, October 11, 2010

SANDGLAS VAN DIE GENADEWA

Geen grensdraad kan die opgewondenheid in onse harte inhou nie, want ek en die Mooiste Mooi gaan weer voorwêreld toe. Vroegoggend draai die Genadewa sy neus in Gauteng se rigting en in my hart is ek diep dankbaar want die hele dag lê oop en wag en ons kan rustig ry. Saggies wieg die ou grote die Mooiste Mooi se ooglede al laer en met elke kilometer wat onder sy breë bande verbyskuif raak my se hart voller want helaas, kosbare voorwêreld mensegoed gaan ook die voorreg hê om die Genadewa te sien.

Sowat 280km van die huis af gebeur die onverwagte en die ondenkbare. ‘n Hengse harde slag weerklink in ons ore en wit rook borrel en kook uit die enjin van die Genadewa. Die Mooiste Mooi skrik gillend en dan is alles om ons stil, ... doodstil. Slegs die suisklanke van die breë swart bande wat al stadiger en stadiger draai is hoorbaar in ons ore. Verbaas kyk ons na mekaar en op elkeen se gesig staan ‘n menigte vrae geskryf. So kry hy sy staan langs die teerpad en ons klim uit. Versigtig word die enjinkap oopgemaak want steeds borrel rook daaronder uit. Die Mooiste Mooi maan my om tog versigtig te wees en wil angstig weet wat aangaan.

Dit kan nie wees nie, skreeu my hele wese ten hemele, die voertuig is dan nou kort gelede oorgedoen. Stilswyend draai ek om en stap met gekromde skouers van die Genadewa af weg – sommer net êrens heen. Die Mooiste Mooi wil nog troos met ‘n drukkie en sagte woorde maar my se ore is doof. Los my net uit, ek wil alleen wees, heel alleen. Daardie hengse slag het nie net ‘n gat in die Genadewa se blok geslaan nie, maar dit het ook my binnevoering flenters geskeur.

‘n Rukkie later sit ek verwese en gebroke met my rug teen die linker voorwiel van die Genadewa terwyl die vroeë lentesonnetjie my gesig warm brand. Skerp stokkies van ‘n graspol en ‘n paar ongemaklike klippe maak my se sit maar ongemaklik maar dit maak nie saak nie. Vieserig skop ek hulle uit en so raak dit rustig om my. Vlak, baie vlak lê my trane en die sluk in my keel raak al dikker en moeiliker, want diep in my binneste-binne hou ek by myselwers begrafnis want die Genadewa, soos ek hom ken, is dood – morsdood en ek moet groet. Sy sandglas het vireers leeg geloop.

So diep ek die Genadewa uit die gistergoed van my Kalaharilewe en besef weereens dat hy op sy eie unieke manier kosbare eienskappe van Vader se genade verteenwoordig – sterk, dapper, onverskrokke, eenvoudig en waarlik sonder enige tierlantyntjies. Ek onthou weer die sielsvreugde op die sonverskroeide bruin gesigte van die vergete en alleenmense wat êrens in vergetelheid woon as die Genadewa sy staning langs hulle kry. In my gedagtes flits sommiges se dorstige oë verby wat dan skielik vol dankbaarheidswater blink as hulle, vanuit ‘n oorvol vernietwinkel agter op sy lang bak, kossigheid en klere kan koop met net ‘n opregte dankie-briefie. En ek hoor ook weer hoe die Genadewa ‘n tydjie gelede die teenwoordigheid van vernietgenade oor die Kalahari-vlak met ‘n diep gebrul aangekondig het toe sy uitlaatpyp stukkend was.

Die onverwagse woorde “Ek het My gesig vir ‘n oomblik van die Genadewa weggedraai” steek soos ‘n skerp pendoring diep in my hart terwyl trane vrylik nat spore op my kort grys baard los. Dan weet ek dat die Genadewa, soos ek hom al die jare hier in die vergeetkant van die land geken het, nie gou weer oor die sandpaaie van die Kalahari sal wieg nie. Die Jeremia in my wou nog my lot bekla toe Hy met ‘n liefdevolle dringendheid die volgende van my vra.

“Kom ons neem 'n rukkie van jou tyd

En oordink saam-saam ‘n ewigheidsfeit

Ongeag jou pyn en seer bly dit steeds My wens

Dat jy ook soms moet opoffer vir jou medemens

Jou hart mag gebroke wees selfs onmeetlik swaar

Alles en almal is teen jou, jy voel jy’s klaar voorwaar

Wees in alles gehoorsaam Ek’s jou Koning, Skepper en Heer

Ek sal jou met oorvloedsgenade altyddeur eer

Gaan hoor by mense, maak tog gou,

wat sal gebeur as Ek My genade weerhou?"

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ......................

Êrens tussen duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

Landlyn (054) 551 1000

Monday, October 4, 2010

GLO JY

“Pastoorgoed vra of ek in die Djere glo,” sê sy terwyl warm koffiestoom uit die nerfaf en ingeduikte blikbekers lui boontoe beur.

“Ek weet nie so mooi nie maar sê my, dink Pastoorgoed ek glo?" terwyl sy so 'n veraf Kalahari uitdrukking in die oog kry.

"Hier in die Agter-Kalahari is mos nie eintlik werk vir Ma-goed nie en so by so is onse geldjies maar aan die skraps kant. Noudat ons Pa-goed voorlaaste jaar daar in die eenkantstaan begraafplaas begrawe het en ouboet die lekkerte van die rooipropwyn gesmaak het, kom geldjies maar nie te gereeld onse kant toe nie.

Net so in die begin laaste maand hoor ek Ma-goed een oggend hardop bid dat Kêrelkind van God tog die hongerte van onse mage moet wegvat. Seker oorlat onse kossigheid al die laaste week heel op is. Daar was nie eers broodmeel vir ‘n klein broodjie nie.

Ma-goed het daardie een oggend lank gebid. Soms het sy gepraat en dan weer was sy stil, doodstil soos wanneer sy haar se ore vir my gee as ek haar ‘n mooi storie vertel. ‘n Rukkie later hoor ek haar amen sê en dan staan sy moeilik van haar se moeilike knieë op. Skielik sê sy moet ons loop hout maak en ek stribbel en stry want my se hart is swaar. Daarmee saam brand die son warm en onse kosrak is leeg – heel leeg. Hoekom dan nou al die moeite? Ma-goed bly daarop aandring en gooi haar se botteltjie vol brakwater. Nukkerig loop ek saam al op haar se spoor met oë wat bly grond toe kyk.

Ma-goed het ver gaan draai, daar waar die diksandduine langs die verste sien lê, want die naby houtjies is amper almal opgetel. Êrens langs die pad bekruip die hongerte en dorstigheid my en my se kragte loop leeg. Die terugkom was nie lekker nie, want my se voete sleep en my se hart lê swaarder as ‘n groot slagskaap.

Pastoorgoed sal nie glo nie, toe ons by die huis kom en Ma-goed die deur oopstoot steek sy skielik vas asof daar ‘n geelslang voor haar lê en ek loop teen haar vas. Voor haar se voete op die grond lê ‘n klein bruin koevertjie met iets buite op geskryf. Stadig buk sy vooroor, tel die vreemdheid op en maak dit met skilpadspoed en dom vingers versigtig oop. Vraend kyk ek na haar en skielik raak haar se oë groot. ‘n Honderd rand, Pastoorgoed, ‘n honderd rand noot lê in haar hand en toe hoor ek haar saggies sê ‘U het voorsien want U het mos so gesê’.

Nou weet ek nie so mooi nie, maar sê my, dink Pastoorgoed ek glo?”

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou .....................

Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn 054-551 1000)

Monday, September 27, 2010

VERLATE NALATIGHEID

Dit is grafstil in die huis en instinktief weet ek dat die helderste hemellig met sy rooi oog binnekort sy se kop oor die Kalahari-vlak sal lig. Nie meer te lank nie, dan breek die dag en ‘n vol avontuur saam met Hom wag om geleef te word. Saggies, sodat die Mooiste Mooi nog ‘n rukkie die snoesige lekkerte van ‘n herfsoggend kan smaak, staan ek op om buite op die agterstoep te gaan sit. Die vroeë oggendstilte hang lusteloos oor die vlak nes ‘n voertuig se stofstert op ‘n windlose en verlate grondpad.

“Waarheen vandag Vader, waarheen neem U avontuur ons vandag?” vra ek stilweg en kyk rustig om my rond. Ver in die ooste sukkel die son om sy se kop op te tel. Sagte pastelkleure kleur onse verlate en alleenweeswêreld versigtig in en kondig bevestigend daardeur Vader se skeppingsalmag aan. Dan onthou ek skielik weer Vader se woorde tydens ons oorstaan gisteraand by hulle tweevertrek huisie êrens op die Kalahari-vlak terwyl daar gesels word oor onse eie unieke sukkelgoed van die lewe “… vul die aarde, onderwerp dit en heers ...” Skeppingswoorde, bekende woorde, maar helaas ... herkou woorde.

Kort neffens daardie selfde dag se middagmaal kry die Genadewa sy staning in die koelte van ‘n groterige, groen Suidwesdoring terwyl ‘n noorde windjie luierig ronddwarrel. Verlate lê die vlak voor ons uitgestrek met net windspore op die rooi sand en sommer so weet ek dat ons vandag niemand hier tussen die duine gaan raakloop nie. So steek my se oë by die toenmalige spogplaas se uiters verwaarloosde leegstaanopstal vas waar dik waaisand teen die vernielde kombuisdeur asook die gebreekte ruite en afgedopte mure in stilte ‘n hartseer skildery van vernietiging skets. Sommige van die alleenstaan buitegebou se krom gebuigde sinkplate en ‘n geroeste windpomp versterk hierdie beeld van totale vervallenheid en desolasie.

‘n Klompie wilde bosduiwe op die huis se verf-af dak kyk met angstige verwagting rond terwyl ek en die Mooiste Mooi hand-aan-hand op die werf rondstap. Die verlatenheid gryp my se hart en kort voor lank verdwaal ek in my se eie binnekant wêreld. Ek kan myself net indink hoe ‘n kaleidoskoop van drome op hierdie spog beleggingsplaas gedroom was.

Drome en tye toe die opstal oorgeloop het van menselewe en die sorteerkrale gebars het van vet slaggoed wat skaaplorrie moes ry. Daarmee saam heuphoogte graspluime wat op die wieke van die waterwind ry en swanger reënwolke vol seëning beloftes. En om alles te kroon weergalm en weerklink ‘n onskuldige kindergelag oor die Kalahari-vlak asook ‘n voormalige plaaseienaar se opregte en bedoelde dankbaarheidsgebed na meer as genoeg sagte reën in my se binneste ore.

‘n Skielike stuitige draaiwind gooi ons vol rooi duinsand en so ook die realiteit van wanorde. Aangedaan verwonder ek my oor die verval en ervaar ‘n diepe smeking en ‘n pleit vir stilte van die onmiddellike omgewing. Stilte, totale doodse stilte, sodat die vergeet van mensegoed se growwe nalatigheid makliker kan wees. Wrede mensegoed wat alles in hulle se eie krag wil doen. Steeds eggo gisteraand se Godswoord dawerend in my se binneste-binne “… onderwerp en heers ... onderwerp en heers ... onderwerp en heers” en toe “... want daarsonder kom verval en verwaarloos.”

‘n Rukkie later en die vervalle en verwaarloosde opstal raak al kleiner en kleiner in die Genadewa se truspieëltjie en ek besef dat my eie verlatenheid, desolasie, gebrokenheid en eensaamheid se oorsprong in my se eie wrede nalatigheid te vinde is. Terwyl die breë bande gemaklik hulle weg deur die rooisand huis toe vind wonder ek oor my se eie seer omrede ek soms nalatig was om sonder Hom te onderwerp en heers.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ......................

Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn 054-551 1000)

Friday, May 14, 2010

VOELS VAN VERGIFNES

Kort voordat die oggendster sy se oog hierdie Goeie Vrydag geknip het, het ons geveerde vriende nes elke dag hul teenwoordigheid in die Apiesdoring aangekondig met ‘n gesels en ‘n geraas. Altyd ongeduldig, altyd haastig, altyd besig. Harder en harder tjirp hulle sodat van die laatslapers ook uiteindelik by hulle kom aansluit. En so tussen die getjirp, gesels en geraas, word daar heen en weer, op en af, oor en weer gespring want stilsit en lui wees is nie eie aan hulle se aard nie. Terwyl die son sy sê kop so luilekker optel, bekyk en beloer ek hierdie geveerde ongeduld vanaf die agterstoep.



Met ‘n blikbeker oorlopens toe vol met voëltjie saad, stap ek nader aan hul ongeduldigheid. Hul menigte spoortjies van gister, eergister en selfs die hele verlede week se geëet lê steeds onversteurd op die sanderige stukkie grond onder die Apiesdoring. Hierdie is hul voerplek, hul oorvloedsplek waar hulle elke oggend tot barstens toe vol kan eet. My naderstaan met die kossigheid jaag ‘n klompie op wat reg onder die Apiesdoring te vergeefs in afwagting in gister se oorblyfsels rondgekrap het. Vireers loop sit hul leë krop tussen die ander.



Ek was skaars ‘n paar treë weg van die Apiesdoring af toe ‘n digte wolk van versamelvoëls sonder vrees neerdaal op die lekker bederf wat ek uitgegooi het. Elkeen opgevang in sy eie dolle gejaag om soveel moontlik te verslind en sodoende die innerlike hongerte van die eie ek te probeer bevredig. Skielik land ‘n paar tortelduiwe vanuit die niet langs die bederfplek onder die boom. Verskrik spring ‘n paar opsy terwyl sommige ander hierdie ongenooide indringers hoogs verwaand en selfs geïrriteerd aankyk. ‘n Oomblik later is alles vergete en gaan hulle vraatsig voort om die bederf te verslind. Elkeen se aandag bly onverstoord gefokus om sy eie krop vol te stop en heel vergete is die wêreld se bestaan.



Die Mooiste Mooi bring ‘n vroegoggend drink dingetjie en haar se onverwagse teenwoordigheid bring skrik onder die geveerde vriende. Blitssnel dawerend vlieg almal haastig die Apiesdoring in. Hier vanuit die veiligheid van ‘n lowergroen blarekleed, bekyk hulle die erf wantrouig. Die mees ongeduldiges, met uitgestrekte vlerkies en koppies wat draai, gee hul misnoeë duidelik te kenne. Skaars het sy haar se sit langs my gekry en die geveerdes sak weer soos uitgehongerde vrate op die bederfkos neer.



Kort voor lank loop hul gemoedere oor. Eers stry twee, daarna drie en toe sewe en kort voor lank kon niemand onder die Apiesdoring meer iets te ete kry nie. Die stof dwarrel en draai behoorlik soos hulle mekaar takel want niemand gun iemand iets nie en dit terwyl daar meer as genoeg is om van te eet. ‘n Groot bosduif wat nadervlieg se harde vlerk geklap jaag hulle weer die Apiesdoring in. Net soos vroeër, bekyk hulle die wêreld wantrouig en sak weer soos een man neer. Lank vergete is netnou se oorlog en baklei en die oorvloedige gevreet begin weer van voor af aan.



‘n Uur of wat later en die Mooiste Mooi is êrens besig in die huis. In verwondering sit ek alleen op die agterstoep en kyk na die ons geveerde vriende se verlate voer-en bederfplek. Menigte spoortjies agtergelaat op die sanderige oorvloedsplek vertel hul eie vergifnisverhaal en toe ...................



Sommer so, sonder om te vra,


Help klein versamelvoëls ‘n spieëlbeeld uitdra.



Saggies plaas Hy woorde diep in die hart,


Opgedra aan ons slagoffers van spyt en smart.



Help tog Here, help ons begin,
Bring U waarheid, U liefde, ons moet besin.



Die eie ek het deurmekaar geraak,
Hierdie skewigheid smeek vir ‘n reguit maak.



Oordonderend is die duin van pyn,


Verlos ons van hoogmoed, hebsug en skyn.



Help tog Here, help ons vergewe,


Want vergifnis is die basis van oorvloedslewe.





Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ......................



Êrens tussen duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Wednesday, May 12, 2010

DANKBAARHEIDSMELODIE

Weggesteek agter ‘n klompie helderrooi sandduine lê die klein plekkie en broei in die laatsomer se agtermiddag sonnetjie. Los wolke wat laag oor die westelike verste sien lê, hang rustig en wag om hulle unieke bydrae in die skepping van nog ‘n asemrowende hemelruim skildery te maak. Vanuit ‘n oorvol gelaaide Genadewa wat so halflyf in die bietjie koelte van ‘n peperboom geparkeer staan, bekyk ek en die Mooiste Mooi ‘n vaalbont werfhoender wat al te pronkerig met haar geelwit donsagtige kroos so skrop-skrop Sy voorsienigheid opsoek.

Met haar tingerige skouertjies vooroor getrek en maer armpies wat woes heen-en-weer swaai, kom sy met kort treetjies doelgerig al nader en nader aan ons. Verward spat die werfhoender en kuikens onder haar se voete uit en soek elders skuiling. Onverwags steek sy vas, gooi haar se twee handjies waarvan die vingertjies jare gelede al van oumenssiekte inmekaar getrek het in die lug, trek haar se geplooide gesig op ‘n kreukel en beloer ons met haar se vaal katarakoë. ‘n Vaalpienk tandlose glimlag verhelder die dorre gesiggie en dan waai sy ons nader. Eers word ek met die groetslag geïgnoreer terwyl die klein, maer ou vroutjie haarself liefderik onder die Mooiste Mooi se blad inwurm al asof sy haar nooit weer wil los nie. “My se gebed is gehoor, die Djere het my se gebed gehoor en Hy het voorsien want onse Pastoorgoed het tog weer hier by ons kom oorstaan,” kook dit oor vanuit haar se binneste-binne. Styf met haar een armpie om die Mooiste Mooi gevou, stap die twee baie stadig na haar se opslaanhuisie terwyl sy belangstellend uitvra oor onse welstand.

‘n Rukkie later het die woord dat ons daar is gou-gou deur die hele gemeenskappie versprei. Daarmee saam word vertel dat vanmiddag ‘n uitdeeldag, ‘n weggeedag, ‘n bederfdag is want ‘n vernietwinkel het hier kom oorstaan. ‘n Vernietwinkel vol klere, blikkieskos, meel en ander eetgoed selfs ook sporttoerusting, skryfbehoeftes en speelgoed. ‘n Vernietwinkel waar betaling gedoen word met ‘n opregte dankiebrief vanuit die skatkamer van jou se hart. ‘n Vernietwinkel oorlopens toe vol van genade vir diegene wat daarvan wil hê.

Een vir een staan hulle nader; nader aan die Genadewa en nader aan Vader se genade voorsienigheid. Gretig sit die meeste handjie by om die Genadewa se vrag af te laai en gou-gou is alles op die grond uitgepak. Dan begin die uitsoek in alle erns om kort daarna items trots eenkant weg te bêre. Al harder en harder word daar gelag, gehuil en gekuier. Kledingstukke word een vir een gemeet, gepas, uitgeruil en selfs vir mekaar gemodelleer. Die jong klomp daarenteen het net oë vir die sokkerballe en kort voor lank is daar ‘n spontane wedstryd aan die gang. Selfs van die ouer manne speel so-hande-op-die-knieë saam.

Stil-stil staan ek en die Mooiste Mooi eenkant toe om dié vergete en eensame groepie Kalahari bewoners se ekstatiese vrolikheid en dankbaarheid te geniet. ‘n Groepie mense wie se eens dowwe oë nou sterhelder blink en nuwe plooie vou van al hulle gelag, gekoggel en geskerts. ‘n Groepie mense wat selfs met krummels tevrede is. Met my se arm om die Mooiste Mooi se skouers luister en kyk ons na hierdie groepie mense se dankbaarheidsgesang met melodie. Rustig waggel die oumatjie nader en kom druk haar se maer lyfie so styf tussen ons in. “Pastoorgoed,” sê sy nadat sy haar se maer armpies styf om ons geslaan het, “die Djere is vir ons al te goed. Kyk net al die mooi goedjies wat vandag hier uitgedele is”.

Terwyl ons die laaste klompie minute van ‘n betowerende oranje en rooi sonsondergang met sagte pienk wolke geniet, eggo Sy vroegoggend wakkerwordwoorde onophoudelik in my se ore “My hartsmusiek kan gereeld tussen die sandduine van die lewe gehoor word, want ‘n dankbaarheidsmelodie word slegs gekomponeer uit jou se daaglikse doendinge.”

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou .........................

Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn 054-551 1000)

Sunday, May 9, 2010

STILWEES GEFLUISTER

Ek en die Mooiste Mooi kry onse sit op die rand van die volkshuisie se sementstoepie terwyl die warm rooi Kalaharisand ons voete sommer so dwarsdeur ons skoensole brand. Sedert die ontmoetingswoorde met die stilhou, het ‘n aanvoelbare stilte ons soos die opskopstof van die Genadewa omsingel. So met die saamstap na sy woonplekkie toe besef ek skielik dat Willem, as ‘n belese Kalaharimens, ons voorwaar sou dop gehou het met ons rondloop so ‘n bietjie vroeër daar onder by die verlate en vernielde plaasopstal.

So in sy gemaklike stap deur die los rooi sand, beloer Willem ons wantrouig bo-oor sy se swart dikraambril. Sy amperse swart of selfs donkerbruin oë is agter vuil gevatte brilglase smekend en naarstigtelik opsoek na leidrade wat as herkenning kan dien. Hy moet weet wie ons is want hier het hoeka se tyd laas iemand kom oorstaan op hierdie vergete plaas en dit nogal ongenooid. Ek is onnodig moedswillig en hardkoppig met die ignorering van die stille pleitkrete in sy se oë en gevolglik kook ‘n diep sug onbeskaamd oor uit Willem se amper tandlose mond.

Hy kry sy se sit op die stoepie net toe die oggendtee sonnetjie sy se kop skielik agter die enigste wit pluiswolkie in die lug uitsteek en alles kasty waarop hy genadeloos sy strale kan skyn. Sag en versigtig begin ek hom uitvra oor sy toentertydse lewenspad. Eers stotter en dan proes sy se vertel soos ‘n yskoue Listerenjin maar die voorreg om met iemand te gesels maak dat hy lateraan genotvol begin beduie van die klomp paaie waarop sy se spoor al getrap is. Mooi paaie, oorloop paaie, knuppeldik paaie. Paaie besaai met innerlike geluk, goddelike vrede en hemelse vreugde wat begin het die dag toe hy God se Kêrelkind ontmoet het. Paaie geteer met ‘n vroeëre tyd se luister as die Veilige Gees se sagte stem fluister.

“Wees stil en weet dat jy in stilte ook ander help om dit wat verkeerd loop te vergeet,” fluister die Veilige Gees saggies in my se hart toe Willem se oë so skielik soos ‘n geelslang se pik verander. Die vreugde en genot in sy se oë maak plek vir verslaentheid, terneergedruktheid, depressie, hartseer en selfs boedel oorgee. My oog vang selfs die Mooiste Mooi en sien hoe twee identiese traanvormige sweetdruppeltjies in die hitte van ‘n windlose somersdag oor haar se wange reisies jaag. Standbeeldstil sit sy en wag en dan weet ek dat Vader vandag iets spesiaals gaan doen want ek glo in Hom selfs as Hy wil hê ons moet stil wees.

Geduldig sit ons en wag vir Willem om sy se lewensverhaal verder te vertel. Rustig haal hy diep asem, sug diep en vee blink sweetdruppels tussen die krake van sy se songeskroeide vel met ‘n ou vuil geskifde sakdoek af. Beskrywend en kleurvol vertel Willem van die huidige versengende droogte in sy se hart omrede “Ek mos afgedraai het op my se eie pad toe die Djere nie wou saam nie. So gaan ek by myselwers maar vingertjie alleen aan”. Dan beduie Willem hoe swaarkry, hongerpyne, lyflyding en ‘n byna doodgaan-sukkel diep breë erosieslote oor sy se lewenspad gespoel het. “Nee wat,” het hy gesê, “Ek kan voel my se oopgraftyd is aan die kom.”

Skielik bly hy stil so in die middel van ‘n sin en bekyk my en die Mooiste Mooi elkeen weer aandagtig. “Die Djere het julle gestuur om by my te kom oorstaan,” kom dit versigtig oor sy se lippe. “Hy het my wraggies waar nie vergeet nie het my se voete sinkplate sonder Hom geloop.” Die knik van my se kop bevestig die woordlose vraag uit sy se binneste-binne en dan ervaar en sien ek hoe Vader in ‘n goddelike stilte ‘n nuwe begin en ‘n nuwe lewe aan hierdie eensame en alleenmens gee. Skoonmaak traantjies vol vergifnis, vergewe en vergeet wel in sy se amperse donkerbruin swart oë op en was hom in stilte van binne skoon.

‘n Rukkie later en ons staan weer by die Genadewa om te groet. Ek skud sy sonverskroeide geëelte hand terwyl vroeër se goddelike aanvoelbare stilte steeds soos ‘n kniekombers om ons hang. Klein stofwolkies omarm Willem met die wegry terwyl sy gesig spog met ‘n nuut geskilderde glimlag gewortel in sy se nuwe binneste-binne. Net voor die draai met die dik sand aan sy buitekant, kyk ek vir oulaas in die agtertoekyk spieëltjie van die Genadewa en sien Willem seëvierend met arms omhoog en hande wat wuif by die werfhek staan. En terwyl hy verswelg word in sy nuutgevonde vrede en vreugde, bekragtig Vader weereens vlinderslag Sy se oorwinningswaarheid.

Onse oorvloedslewe is verseker deur stilwees en te luister na die Veilige Gees se sagte gefluister.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ………………………

Êrens tussen sandduine woon mense wat vir jou omgee omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's