Monday, April 18, 2011

Hartsafdruk sonder woorde


Die duine bewe-bewe onder die warm sonstrale toe
Jakobus met sy vuil, stukkende, blou oorpak ons tegemoet loop nadat ons so ‘n
ent van sy blyplek af stilgehou het. Elke tree wat hy gee is korter as
die vorige en sy hande is diep in die veiligheid van sy leë sakke weggesteek.
Hy staanloop koponderstebo en ek kan die verwarring in sy binneste-binne
aanvoel. Hy skud sy kop onbewustelik in ongeloof toe ek met die groetslag
daarop aandring om sy hand te skud en laat sy se oë dadelik grondlangs
loop. Die Mooiste Mooi word so half en half geïgnoreer en word slegs met
‘n stywenek kopknik gegroet. Skielik kyk hy verskrik om en sy se oë soek
vir Maria, sy al-te-maer-net-vel-en-been vrou wat verbouereerd met hulle
jongste aan die hand by hulle woonplek ronddraai.

Ons loop maar so staan-staan en praat-praat nader
na waar hierdie egpaar met hul drie kindertjies bly. Hulle eenvertrek
huisie is piepklein – skaars plek vir hulle enigste enkelbed sponsmatras, ‘n
wankelrige hangkas en die lendelam tafeltjie sonder stoele. ‘n Klompie groot
klippe hou dekade-oue, geroeste sinkplate as dak oor hulle koppe in plek.
Net buite die huisie se deur, hang ‘n wit smeulrook dik in die lug wat uit die
geroeste sinkplaat kookskerm draal. Dis hier waar Maria dié laatmiddag
water kook sonder iets wat daarin kan gaar word.


Maria hou kop en besef dat sitplek nou prioriteit
is. Vinnig soek haar se oë oor die vlak en sien dan ‘n verslete buiteband
raak. Sy skreeroep haar oudste van so ses jaar om hierdie stukkie weelde
nader te sleep sodat Vroulief daarop kan sit. Dan word hy geskel omdat hy
nie gou genoeg stene nadersleep sodat ek
daarmee ‘n stoel vir my kan prakseer nie. Hulle jongste, senuweeagtig en
skrikkerig omdat daar vreemde oorstaanmense is, soek verward melk, vertroosting
en ‘n skuilplek teen sy ma se bors.

Die son skuifel-skuifel van drie-doringbos tot
drie-doringbos om dan kleurvol gemaklik te loop lê by die westelike kim.
Daar raak hy vergete en sy laaste strale veg verbete om sigbaar te bly teen die
naderende donkerte. Jakobus se wêreld staan stil en niks maak meer vir
hom sin nie. Hy verstaan nie my aandring netnou om hom met die hand te
groet nie. Geen Boer het hom al in sy drie dekade lewensjare so met die
hand gegroet nie. Daarmee saam het dit nog nooit gebeur dat iemand met ‘n
ryding by sy se slaapplek kom stilhou het nie. Elke ryding hou mos maar
verby opstal se kant toe om daar te loop stop. Die meeste kere word daar
in die weelde van ‘n verkoelde sitkamer tee, koffie of iets koels gedrink
terwyl alledaagse belangrike sake bespreek en opgeklaar word.


My en die Mooiste Mooi se vrae en hulle antwoorde
raak stadigaan op en waarheen dan? ‘n Sagte suidewindjie stoot ‘n heilige
swanger stilte vol barensnood oor die rooi-bruin vlak en ek maak my se oë styf
toe. Diep in my se binneste-binne smeek ek om hulp “Here help!”
Skielik dink ek aan die kleine Saggeus en sy se plan om boom te klim. Ek hoor
ook die blydskap en vreugde in die kort mannetjie se stem want die Kêrelkind
van God gaan by hom kom oorstaan. En dan fluister Hy saggies,
“Jy
is hier – nes Jesus - om ‘n hartsafdruk by soekende mense te los:

‘n Hartsafdruk vol liefde.
‘n Hartsafdruk vol blydskap.
‘n Hartsafdruk vol vrede.
‘n Hartsafdruk vol lankmoedigheid.
‘n Hartsafdruk vol vriendelikheid
‘n Hartsafdruk vol goedheid
‘n Hartsafdruk vol getrouheid.
‘n Hartsafdruk vol sagmoedigheid.
‘n Hartsafdruk vol selfbeheersing.”

‘n Hartsafdruk sonder dat een woord gepreek is.

Wel uit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker
slaap en onthou …………………………

Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy
kosbaar en spesiaal is.
Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn
054-551 1000)


Monday, April 11, 2011

ALLE IS MOONTLIK

Die vroegoggend winterwindjie het
hoendervleis-vrywend deur ons gewaai waar ons onder ‘n alleenstaan peperboom
bymekaar gekom het.  Vir ‘n heel eerste keer se kerkmaak daar by hulle was
die opkoms veel meer as wat ek en die Mooiste Mooi kon verwag het.
Hopelik het hulle gekom om meer van Hom te leer maar ek vermoed dat die meeste
het ander motiewe gehad.  Die Kalaharikoerant het mos maar ‘n manier om
ook goeie nuus oor te dra.
Die meeste sit naby mekaar terwyl hy met sy
skreeu-groen hemp heel alleen homself geselskap hou. Kort-kort krap sy se
keel en dan probeer hy met ‘n dieperige gegrom die ongerief uit sy se keel kry
terwyl hy sy hand bak oor sy se dowe linkeroor hou om beter te kan hoor.
Op versoek van die Mooiste Mooi het iemand ‘n lied
ingesit en heel bedeesd en bedaard het die groepie woestynbewoners begin
sing. Die hande word saggies, statig en gereserveerd geklap.
Langsaam begin hulle die ritme en tempo verhoog en so begin almal se voete
ritmies in die rooibruin Kalaharistof op en af tik. Vinniger en vinniger
jaag hulle die tempo aan totdat nie een van hulle kon stilsit nie.
Al skuifelend begin hy op die maat van die musiek
sonder instrumentale begeleiding te dans.  Eers draai hy en dan swaai hy
en dan begin die res van die kerklopers inval. Hulle vorm ‘n dansende ry
met ‘n iedere een wat die voordanser met die heldergroen hemp volg.
Niemand besef dat daar nou geen probleem met sy se dowe oor is nie.  Met
eentonige reëlmaat word daar in die rooibruin stof van die Kalahari
geskuifeldans, soms vinniger en dan weer stadiger. Om en om hou hulle aan
terwyl die stof hoër en hoër styg.  Geeneen stamp of raak aan mekaar
nie.  Elkeen is op ‘n unieke manier besig om die Skepper van Stofaarde op
die maat van die koortjie te loof en Hom te eer.  Met sy se oë half toe en
hande omhoog is hierdie voordanser se binne-oog – nes ‘n Dawid van ouds  –
net gefokus op Hom wat so kosbaar in sy se hart brand.  Hy wat Koning,
Heer, Redder en Geneesheer is.  
Die uitbundige lofdans is vir eers verby en die stof kry kans om in
die winterwindjie oor die vlak te verdwyn. Die stowwerige sweetdruppels
wat oor die meeste se gesigte afstroom vertel ‘n eiesoortige verhaal om voor
Hom te kon dans. Die voordanser het weer so aan die eenkant onder die
boom gaan sit en steeds kort-kort sy se keel probeer skoonmaak. Meelewend
is hy voorwaar want elke kort-kort steek hy sy se hand in die lug en probeer ‘n
woord uitkry maar sy se stem bly weg, heel weg. Uit radeloosheid klap hy
maar sy se hande want dis al hoe hy die opgewondenheid in sy se binneste-binne
kan uitdruk. Sy karaktervolle gesig is ‘n studie van verwagting terwyl hy
onbewus is dat diep in sy se binneste-binne iets kosbaars aan die gebeur is. 
Die woorde “Die oomblik wat jy ‘Hoop’ kies, is
alles moontlik” tref diep en trane jaag resies teen sy bruin wange af.
Met elke druppel wat tussen sy se skoene in die stof val, raak sy las ligter en
ligter en sy se gesig begin straal. Dan skielik raak die ding met sy se
keel en dowe linkeroor net te veel vir hom want hy sukkel al vanaf die draai
van die eeu daarmee. Hoop begin smeul in sy se binneste-binne en kort
voor lank begin klein vlammetjies aan die kante van sy hart te lek.
Vasberade staan hy op en stap met hoopvolle verwagting die Groot Geneesheer se
operasietafel daar in die ope vlak tegemoet.  
Asof hy uit ‘n diepe slaap wakker geword het, bekyk
hy almal half verbaas aan en begin terugstap na sy se sitplek doer eenkant
onder die boom. So in die loop vryf hy sy se oor en maak sy se keel
skoon. Iemand aan sy linkerkant verduidelik saggies aan ‘n nuweling van
sy se stryd teen die stom en dowigheid terwyl almal se oë in stilte op hom gerig
is. Skielik steek hy vas en begin met ‘n sagte stem te sing.
Oopmond verbaas sit ons en staar. Vinniger en vinniger, harder en harder
weerklink die hemelklanke oor die vlak. Dankbaar steek hy sy se hande
omhoog en begin weer ritmies en skuifelend te dans. Gou-gou is almal uit
die stoele en dans en sing saam. Hy met sy skreeugroen hemp voor en die
res al skuifelend agterna.
Heelwat later en die meeste begin in klein groepies
huise toe loop.  Snikkend fluister hy in my se oor terwyl ons by die
Genadewa groet, “Voorwaar Pastoor, die oomblik wat jy ‘Hoop’ kies is alles
moontlik …, alles is moontlik.”
Wel uit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker
slaap en onthou …………………………
Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar
en spesiaal is.
Die Kalahari Cronjé's
Landlyn(054-551 1000)








Sunday, April 10, 2011

WOESTYNWYSHEDE

Kort voor skemertyd hier in die vergeetkant van die land raak dit stil, baie stil. Stil om jou en stil in jou. So stil dat jy soms soekraak op die gisterpaaie van jou eie verlede. Dit is in stilwees dat Vader se Geeswind saggies deur jou waai op soek na ‘n staning in jou se binneste-binne. En wanneer Hy jou menswees in stilte met Sy se liefde omvou, skryf Hy wyse woorde van insig en verstaan op die tafels van jou se binneste-binne.

Wyse woestynwoorde soos ...

Nes die sagte suidewind 'n koelige lafenis oor 'n dorre en uitgestrekte woestyn instoot, bedien My se Geeswind hemelse verligting vir die gekneusde en verskroeide dele van jou binneste-binne as jy bereid is om die vensters daarvan vir My oop te maak.

Met jou se gesukkel om bo-op ‘n verkyk sandduin te kom, vergeet jy soms om brose klein grashalmpies raak te sien en so trap jy maklik ander se lewens raak. Wees tog maar versigtig en oplettend as jy weer ‘n duin uitklim.

Vanaf ‘n hoogste sandduin lyk jou toekoms soos ‘n splinternuwe skilderdoek op ‘n esel wat wag dat jy in gehoorsaamheid aan My die eerste kwashale daaroor moet verf.

‘n Erge stofstorm wat verwoed en intimiderend woed, het nes jy ook 'n kosbare skoonheid wat nie altyd deur ander mensegoed raakgesien en waardeer word nie.

Doen wat jy kan met wat jy het. Moenie toelaat dat daardie moedbreekgoeters waarmee jy so sukkel, 'n dwarsduin word wat jou verhinder om dinge te doen nie.

Die rooi oog van die warmste hemellig loer versigtig oor die nat Kalahari-vlak om met asem-ophou deel te wees van die dankbaarheid van onse wêreld. So brand hy dankbaarheid in die onthou-gedeelte van onse harte in.

Êrens in die donkerte van ‘n eensame Kalaharinag, leun ‘n witgeel regopstaan sekelmaan dapper vooroor asof hy wil beklemtoon dat jy nie moet afdraai op die duinepad van die lewe nie. Hou eerder aan met die geloofsweg saam met Hom.

‘n Stil volmaanaand is net nog ‘n doek deur Hom verskaf waarop jy met jou verbeelding kan skilder en skets tot jy besef dat drome en ideale die skilderye is wat jou binneste-binne oor jouself skryf.

Die koeligheid van die vroeë oggendlug hier aan die woestynkant van die land laat jou siel uit sy skuilplek kom, nes die Kêrelkind van God se Liefde.

Die gesukkel en gesweet om 'n hoë en eenkant sandduin uit te klim, bly 'n aanvaarbare prys om te betaal vir die voorreg om ver vorentoe te kan kyk en Hom in die dag van môre te sien.

'n Binneste-binne wat deurweek is met vrede, vrolikheid en vreugde is die resultaat van Vader se Geeswind wat jou se arms hoog en regop waai.

Wanneer jy moeg geklim is aan die dwarsduine van die lewe, sien jou binneste oog amper niks en dan is daar min wat jou se hart laat pronk soos ‘n springbok.

Terwyl Sy se Geeswind jou in stilte saggies toevou weet ek dat Sy se genadekombers styf om jou gedraai sal wees terwyl die skaduwee van die Kêrelkind van God die loop van jou se voete koel sal hou. In stilte vind ons dit waarna ons soek en kry ons waarvoor ons vra.
Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ......................
Êrens tussen duine woon mense wat jou waardeer omrede julle kosbaar en spesiaal is.
Die Kalahari Cronjé's
(Landlyn 054 - 551 1000)

Tuesday, December 21, 2010

... met vele danksegging

‘n Ooste windjie gly geruisloos sag oor my se rug terwyl die Kalaharison sy diep rooi spiere ontwakend bult na ‘n donker nag se dankbare rustige slaap. Bewegingloos sit ek op die sementbankie buite die huis en staar oor die verlate vlak wat wyd uitgestrek in die vroeë skemerte lê. Die skoonheid wyd en hoog geskilder vanaf die verste sien help dat ek onwillekeurig my se hartsdeur oopmaak en weer gistermiddag se gekuier in die koelte van ‘n eenkant staan Suidwesdoring onthou.

Weggesteek en veilig beskut teen die verskroeiende aanslag van die warmste hemellig het ons gistermiddag ons sit in ‘n klein kringetjie gemaak. Die Mooiste Mooi het sitplek op ‘n omgekeerde verfblik gekry terwyl Sara en Wilmien elk ‘n kleiner verfblik langs haar staangemaak het. Kef, met die erosieplooie op sy gesig, het ‘n ou geroeste skopgraaf omgekeer en sit tussen my en ou Zol. Dié sit plat op die grond en speel met ‘n gebrande vuurhoutjie tussen sy bruin gevlekte tande terwyl sy ander arm styf om sy se bene gevou is.

Op my versoek maak ou Zol hierdie saak met gebed oop. Eerbiedig haal hy en Kef hulle vuilbruin hoedjies af en glimlag skamerig vir die Mooiste Mooi want hulle weet dat hulle hare nou weer elkeen in sy eie rigting staan. Wilmien maak haar se oë toe, vleg die vingers inmekaar en laat dan haar se ken tot op die bors sak terwyl Sara met sielshonger oë ver verby die verste sien staar. Kinderlik opreg bid ou Zol uit sy hart, eers vir ons, ons kinders en uiteindelik vir die bymekaarkom onder die groot Suidwesdoring. Sonder seremonie en ophaal van woorde, sluit hy af met die tradisionele Kalahari gebedswoorde “... en met vele danksegging. Amen.”

Warm sweet loop teen ons gesigte af tesame met Paulus van ouds se oproep en uitdaging om alles in gebed en danksegging aan Vader bekend te maak. Aandagtig word daar geluister want netnou se los en vas gekuier het plek gemaak vir die saam kou en sluk aan goddelike sielsbrood. ‘n Rukkie later en ‘n Goddelike stilte hang roerloos in die lug terwyl die koppe skuins-skeef hang. Elkeen onder die groot ou Suidwesdoring is besig om op sy eie manier die skades wat deur ‘n hartsdroogte van ondankbaarheid aangerig is, te ondersoek. Skades wat tog so maklik voorkom kon word.

Spontaan begin die Mooiste Mooi sommer so uit die bloute saggies dankie sê. Dankbaarheid borrel en stroom soos ‘n oorlooptenk uit haar se binnekant uit. ‘n Sagte liefdesblos kry lêplek in die vensters van haar se binneste-binne en weerspieël Vader se sagte aanraking in haar hart. Haar opregtheid is aansteeklik en skielik wel ‘n begeerte ook in my op om my eie dankies aan Hom voor te hou. Daarna volg die res, eerste Sara en toe Wilmien terwyl ou Zol en Kef geduldig hulle kans afwag. Vinniger en vinniger spoed die dankies soos ‘n draai-swaai buite beheer oor hulle se lippe en in my se binneste-binne juig dit want aaklige hartsdroogtes word met dankbaarheid gebreek.

Net so skielik en spontaan raak dit weer stil om ons. Saggies word ons weer deur Sy se stilte omring en die Veilige Gees se teenwoordigheidskombers skep ‘n dankbaarheidservaring. Ek wou nog vir Kef vra om hierdie saak toe te maak toe Hy saggies sê ...

Laat My daagliks meer en meer na ‘n opregte soetstem danksegging luister, want dis al hoe die mens kosbare en ware liefdeswoorde vir My kan fluister”.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ...............

Êrens tussen duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn 054 - 551 1000)

Naskrif

Mag 2010 se Kerstyd en 2011 se koms ‘n besondere tydperk van liefde en danksegging in u lewe wees. En wanneer die kersboom met al die liggies weggepak word tot volgende jaar, weet dat Jesus nie saam gebêre wil word nie want waar Sy se liefde is, is daar altyd kosbare wonderwerke.

Monday, October 25, 2010

LEWENSPAD NA NERENS

Daardie een spesifieke lente oggend was seker die naaste aan 'n perfekte Kalaharidag wat daar kan wees. Die lug is blouer as blou, die geelwit sonnetjie bak teen ‘n aanvaarbare temperatuur en die koelerige windjie uit die suide stoot net genoeg om jou te herinner aan die Skepper van Hemelgoed en Stofaarde se alomteenwoordigheid. Op die winkel se stoepie draal ‘n paar vrouens rond want dis amper weer tyd vir die vroue om bymekaar te kom. Daar waar hul geknakte selfbeelde by wyse van bemoedigende woorde uit Vader se hart sonder enige druk regop gehelp word en dit terwyl die mooiste goeters uit ander se weggooidinge gemaak word.

Ek hou haar wat voorwaar heel te vroeg haar se tienerwees verloor het deur die die kantoorvenster dop. Sy dwaal doelloos en soekend rond so al asof sy verdwaal is. Haar onversorgde kop hang skuins-skeef en eens trotse jonkwees-skouers verloor ‘n stille stryd teen die swaartekrag. Met verslete skoene laat sy sleepspore na as stille bewys van ‘n ongenaakbare wêreld wat met ‘n wrede spoor haar se binnevoering verbrysel het. ‘n Wrede spoor deurtrek van laakbare gebruike, onbedoelde woorde vol leuens en leë beloftes wat so kenmerkend eie is. Haar se aanstap na my werf se kant toe, basuin oor die Kalahari-vlak dat haar kosbare lewensvreugdes deur hierdie brutale spoor vermorsel is. Nou lê waardevolle lewensdrome so ver, so onbereikbaar ver en dit terwyl sy nog ‘n jaar of drie moet wag vir mondigwording.

Die groepie vroue wat om die groot tafelblad sit, kyk verbaas op toe ek haar wys waar hulle weekliks ontmoet. Die meeste van hulle snak so half na hulle asems want niemand het ooit gedink dat sy hierheen sou wou kom nie. Die Mooiste Mooi kyk met kwaai oë na hulle en nooi haar dan vriendelik om sommer daar langs haar te kom sit. “Hopelik Vader, hopelik vandag sal alles draai, hopelik sal die lewe vandag weer vir haar begin sin maak, hopelik sal sy vandag besluit om ‘n pad vol hoop saam met Jesus te stap,” vra ek so in my se binneste-binne en stap dadelik uit. Rustig speel die musiek in die agtergrond en die Mooiste Mooi vertel ongestoord verder van die Skepper se allesvergewende liefde en genade.

Net so voor die middaguur se uitval, dwing die nuuskierigheid my terug na die groepie toe. Haar se verslaentheid en vreugdelose lewensuitkyk het die hele oggend voor my binneste oog gedraai en ek kon haar nie uit my gedagtes kry nie. Vol verwagting stap ek nader en hoor hoe daar gekoggel en dan hartlik uit die maag vir mekaar gelag word. Versigtig staan ek nader aan die venster en loer skelmpies na binne. Doodstil, met haar donker oë stip gefokus, konsentreer sy om ‘n knoop aan die einde van die stringetjie kraletjies wat sy geryg het, te maak. Dan kruip ‘n breë glimlag oor haar donkerbruin gesig toe die Mooiste Mooi oor haar se eie onhandigheid kla. “Dankie, Vader vir ‘n geleentheid wat sy het om tussen ander gebrokenes gesond te word. Ek hoop van harte dat sy vandag goed sal kies. Hoop dat lewensvreugdes vandag ‘n werklikheid vir haar sal wees. Hoop dat sy vandag op ‘n pad van hoop sal besluit,” bid ek in stilte.

Sowat ‘n uur of wat later en die meeste van die vrouens het reeds weer ingeval, maar die jongvroutjie se stoel langs die Mooiste Mooi s’n is leeg toe ons daar aankom. Miskien is sy maar net so ‘n bietjie laat of dalk het haar jongste, wat nog is die doeke is, haar aandag nodig hoop ek terwyl ek besig raak met kantoorwerk. ‘n Rukkie later hoor ek ‘n geskel en ‘n gebaklei buite by die winkel. Ek kyk weer deur die kantoorvenster en is net betyds om te sien hoe sy so ‘n tree of wat nog rondslinger en toe plat in die vaalbruin stof neerslaan. En ‘n ferm koel suidewindjie waai haar leë rooiprop wynbottel saam met vergete lewensdrome wyd oor die vlak heen.

Die die prys van hoop was vir voorwaar net te swaar vir haar. Nou strompel sy maar vandag steeds weerloos voort op haar eie vernietigende lewenspad na nêrens met kosbare lewensdrome wat nog steeds ... onbereikbaar ver is.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ........................

Êrens tussen duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

Landlyn 054 - 551 1000

Monday, October 11, 2010

SANDGLAS VAN DIE GENADEWA

Geen grensdraad kan die opgewondenheid in onse harte inhou nie, want ek en die Mooiste Mooi gaan weer voorwêreld toe. Vroegoggend draai die Genadewa sy neus in Gauteng se rigting en in my hart is ek diep dankbaar want die hele dag lê oop en wag en ons kan rustig ry. Saggies wieg die ou grote die Mooiste Mooi se ooglede al laer en met elke kilometer wat onder sy breë bande verbyskuif raak my se hart voller want helaas, kosbare voorwêreld mensegoed gaan ook die voorreg hê om die Genadewa te sien.

Sowat 280km van die huis af gebeur die onverwagte en die ondenkbare. ‘n Hengse harde slag weerklink in ons ore en wit rook borrel en kook uit die enjin van die Genadewa. Die Mooiste Mooi skrik gillend en dan is alles om ons stil, ... doodstil. Slegs die suisklanke van die breë swart bande wat al stadiger en stadiger draai is hoorbaar in ons ore. Verbaas kyk ons na mekaar en op elkeen se gesig staan ‘n menigte vrae geskryf. So kry hy sy staan langs die teerpad en ons klim uit. Versigtig word die enjinkap oopgemaak want steeds borrel rook daaronder uit. Die Mooiste Mooi maan my om tog versigtig te wees en wil angstig weet wat aangaan.

Dit kan nie wees nie, skreeu my hele wese ten hemele, die voertuig is dan nou kort gelede oorgedoen. Stilswyend draai ek om en stap met gekromde skouers van die Genadewa af weg – sommer net êrens heen. Die Mooiste Mooi wil nog troos met ‘n drukkie en sagte woorde maar my se ore is doof. Los my net uit, ek wil alleen wees, heel alleen. Daardie hengse slag het nie net ‘n gat in die Genadewa se blok geslaan nie, maar dit het ook my binnevoering flenters geskeur.

‘n Rukkie later sit ek verwese en gebroke met my rug teen die linker voorwiel van die Genadewa terwyl die vroeë lentesonnetjie my gesig warm brand. Skerp stokkies van ‘n graspol en ‘n paar ongemaklike klippe maak my se sit maar ongemaklik maar dit maak nie saak nie. Vieserig skop ek hulle uit en so raak dit rustig om my. Vlak, baie vlak lê my trane en die sluk in my keel raak al dikker en moeiliker, want diep in my binneste-binne hou ek by myselwers begrafnis want die Genadewa, soos ek hom ken, is dood – morsdood en ek moet groet. Sy sandglas het vireers leeg geloop.

So diep ek die Genadewa uit die gistergoed van my Kalaharilewe en besef weereens dat hy op sy eie unieke manier kosbare eienskappe van Vader se genade verteenwoordig – sterk, dapper, onverskrokke, eenvoudig en waarlik sonder enige tierlantyntjies. Ek onthou weer die sielsvreugde op die sonverskroeide bruin gesigte van die vergete en alleenmense wat êrens in vergetelheid woon as die Genadewa sy staning langs hulle kry. In my gedagtes flits sommiges se dorstige oë verby wat dan skielik vol dankbaarheidswater blink as hulle, vanuit ‘n oorvol vernietwinkel agter op sy lang bak, kossigheid en klere kan koop met net ‘n opregte dankie-briefie. En ek hoor ook weer hoe die Genadewa ‘n tydjie gelede die teenwoordigheid van vernietgenade oor die Kalahari-vlak met ‘n diep gebrul aangekondig het toe sy uitlaatpyp stukkend was.

Die onverwagse woorde “Ek het My gesig vir ‘n oomblik van die Genadewa weggedraai” steek soos ‘n skerp pendoring diep in my hart terwyl trane vrylik nat spore op my kort grys baard los. Dan weet ek dat die Genadewa, soos ek hom al die jare hier in die vergeetkant van die land geken het, nie gou weer oor die sandpaaie van die Kalahari sal wieg nie. Die Jeremia in my wou nog my lot bekla toe Hy met ‘n liefdevolle dringendheid die volgende van my vra.

“Kom ons neem 'n rukkie van jou tyd

En oordink saam-saam ‘n ewigheidsfeit

Ongeag jou pyn en seer bly dit steeds My wens

Dat jy ook soms moet opoffer vir jou medemens

Jou hart mag gebroke wees selfs onmeetlik swaar

Alles en almal is teen jou, jy voel jy’s klaar voorwaar

Wees in alles gehoorsaam Ek’s jou Koning, Skepper en Heer

Ek sal jou met oorvloedsgenade altyddeur eer

Gaan hoor by mense, maak tog gou,

wat sal gebeur as Ek My genade weerhou?"

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ......................

Êrens tussen duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

Landlyn (054) 551 1000

Monday, October 4, 2010

GLO JY

“Pastoorgoed vra of ek in die Djere glo,” sê sy terwyl warm koffiestoom uit die nerfaf en ingeduikte blikbekers lui boontoe beur.

“Ek weet nie so mooi nie maar sê my, dink Pastoorgoed ek glo?" terwyl sy so 'n veraf Kalahari uitdrukking in die oog kry.

"Hier in die Agter-Kalahari is mos nie eintlik werk vir Ma-goed nie en so by so is onse geldjies maar aan die skraps kant. Noudat ons Pa-goed voorlaaste jaar daar in die eenkantstaan begraafplaas begrawe het en ouboet die lekkerte van die rooipropwyn gesmaak het, kom geldjies maar nie te gereeld onse kant toe nie.

Net so in die begin laaste maand hoor ek Ma-goed een oggend hardop bid dat Kêrelkind van God tog die hongerte van onse mage moet wegvat. Seker oorlat onse kossigheid al die laaste week heel op is. Daar was nie eers broodmeel vir ‘n klein broodjie nie.

Ma-goed het daardie een oggend lank gebid. Soms het sy gepraat en dan weer was sy stil, doodstil soos wanneer sy haar se ore vir my gee as ek haar ‘n mooi storie vertel. ‘n Rukkie later hoor ek haar amen sê en dan staan sy moeilik van haar se moeilike knieë op. Skielik sê sy moet ons loop hout maak en ek stribbel en stry want my se hart is swaar. Daarmee saam brand die son warm en onse kosrak is leeg – heel leeg. Hoekom dan nou al die moeite? Ma-goed bly daarop aandring en gooi haar se botteltjie vol brakwater. Nukkerig loop ek saam al op haar se spoor met oë wat bly grond toe kyk.

Ma-goed het ver gaan draai, daar waar die diksandduine langs die verste sien lê, want die naby houtjies is amper almal opgetel. Êrens langs die pad bekruip die hongerte en dorstigheid my en my se kragte loop leeg. Die terugkom was nie lekker nie, want my se voete sleep en my se hart lê swaarder as ‘n groot slagskaap.

Pastoorgoed sal nie glo nie, toe ons by die huis kom en Ma-goed die deur oopstoot steek sy skielik vas asof daar ‘n geelslang voor haar lê en ek loop teen haar vas. Voor haar se voete op die grond lê ‘n klein bruin koevertjie met iets buite op geskryf. Stadig buk sy vooroor, tel die vreemdheid op en maak dit met skilpadspoed en dom vingers versigtig oop. Vraend kyk ek na haar en skielik raak haar se oë groot. ‘n Honderd rand, Pastoorgoed, ‘n honderd rand noot lê in haar hand en toe hoor ek haar saggies sê ‘U het voorsien want U het mos so gesê’.

Nou weet ek nie so mooi nie, maar sê my, dink Pastoorgoed ek glo?”

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou .....................

Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn 054-551 1000)