Monday, September 27, 2010

VERLATE NALATIGHEID

Dit is grafstil in die huis en instinktief weet ek dat die helderste hemellig met sy rooi oog binnekort sy se kop oor die Kalahari-vlak sal lig. Nie meer te lank nie, dan breek die dag en ‘n vol avontuur saam met Hom wag om geleef te word. Saggies, sodat die Mooiste Mooi nog ‘n rukkie die snoesige lekkerte van ‘n herfsoggend kan smaak, staan ek op om buite op die agterstoep te gaan sit. Die vroeë oggendstilte hang lusteloos oor die vlak nes ‘n voertuig se stofstert op ‘n windlose en verlate grondpad.

“Waarheen vandag Vader, waarheen neem U avontuur ons vandag?” vra ek stilweg en kyk rustig om my rond. Ver in die ooste sukkel die son om sy se kop op te tel. Sagte pastelkleure kleur onse verlate en alleenweeswêreld versigtig in en kondig bevestigend daardeur Vader se skeppingsalmag aan. Dan onthou ek skielik weer Vader se woorde tydens ons oorstaan gisteraand by hulle tweevertrek huisie êrens op die Kalahari-vlak terwyl daar gesels word oor onse eie unieke sukkelgoed van die lewe “… vul die aarde, onderwerp dit en heers ...” Skeppingswoorde, bekende woorde, maar helaas ... herkou woorde.

Kort neffens daardie selfde dag se middagmaal kry die Genadewa sy staning in die koelte van ‘n groterige, groen Suidwesdoring terwyl ‘n noorde windjie luierig ronddwarrel. Verlate lê die vlak voor ons uitgestrek met net windspore op die rooi sand en sommer so weet ek dat ons vandag niemand hier tussen die duine gaan raakloop nie. So steek my se oë by die toenmalige spogplaas se uiters verwaarloosde leegstaanopstal vas waar dik waaisand teen die vernielde kombuisdeur asook die gebreekte ruite en afgedopte mure in stilte ‘n hartseer skildery van vernietiging skets. Sommige van die alleenstaan buitegebou se krom gebuigde sinkplate en ‘n geroeste windpomp versterk hierdie beeld van totale vervallenheid en desolasie.

‘n Klompie wilde bosduiwe op die huis se verf-af dak kyk met angstige verwagting rond terwyl ek en die Mooiste Mooi hand-aan-hand op die werf rondstap. Die verlatenheid gryp my se hart en kort voor lank verdwaal ek in my se eie binnekant wêreld. Ek kan myself net indink hoe ‘n kaleidoskoop van drome op hierdie spog beleggingsplaas gedroom was.

Drome en tye toe die opstal oorgeloop het van menselewe en die sorteerkrale gebars het van vet slaggoed wat skaaplorrie moes ry. Daarmee saam heuphoogte graspluime wat op die wieke van die waterwind ry en swanger reënwolke vol seëning beloftes. En om alles te kroon weergalm en weerklink ‘n onskuldige kindergelag oor die Kalahari-vlak asook ‘n voormalige plaaseienaar se opregte en bedoelde dankbaarheidsgebed na meer as genoeg sagte reën in my se binneste ore.

‘n Skielike stuitige draaiwind gooi ons vol rooi duinsand en so ook die realiteit van wanorde. Aangedaan verwonder ek my oor die verval en ervaar ‘n diepe smeking en ‘n pleit vir stilte van die onmiddellike omgewing. Stilte, totale doodse stilte, sodat die vergeet van mensegoed se growwe nalatigheid makliker kan wees. Wrede mensegoed wat alles in hulle se eie krag wil doen. Steeds eggo gisteraand se Godswoord dawerend in my se binneste-binne “… onderwerp en heers ... onderwerp en heers ... onderwerp en heers” en toe “... want daarsonder kom verval en verwaarloos.”

‘n Rukkie later en die vervalle en verwaarloosde opstal raak al kleiner en kleiner in die Genadewa se truspieëltjie en ek besef dat my eie verlatenheid, desolasie, gebrokenheid en eensaamheid se oorsprong in my se eie wrede nalatigheid te vinde is. Terwyl die breë bande gemaklik hulle weg deur die rooisand huis toe vind wonder ek oor my se eie seer omrede ek soms nalatig was om sonder Hom te onderwerp en heers.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ......................

Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn 054-551 1000)