Monday, April 18, 2011

Hartsafdruk sonder woorde


Die duine bewe-bewe onder die warm sonstrale toe
Jakobus met sy vuil, stukkende, blou oorpak ons tegemoet loop nadat ons so ‘n
ent van sy blyplek af stilgehou het. Elke tree wat hy gee is korter as
die vorige en sy hande is diep in die veiligheid van sy leë sakke weggesteek.
Hy staanloop koponderstebo en ek kan die verwarring in sy binneste-binne
aanvoel. Hy skud sy kop onbewustelik in ongeloof toe ek met die groetslag
daarop aandring om sy hand te skud en laat sy se oë dadelik grondlangs
loop. Die Mooiste Mooi word so half en half geïgnoreer en word slegs met
‘n stywenek kopknik gegroet. Skielik kyk hy verskrik om en sy se oë soek
vir Maria, sy al-te-maer-net-vel-en-been vrou wat verbouereerd met hulle
jongste aan die hand by hulle woonplek ronddraai.

Ons loop maar so staan-staan en praat-praat nader
na waar hierdie egpaar met hul drie kindertjies bly. Hulle eenvertrek
huisie is piepklein – skaars plek vir hulle enigste enkelbed sponsmatras, ‘n
wankelrige hangkas en die lendelam tafeltjie sonder stoele. ‘n Klompie groot
klippe hou dekade-oue, geroeste sinkplate as dak oor hulle koppe in plek.
Net buite die huisie se deur, hang ‘n wit smeulrook dik in die lug wat uit die
geroeste sinkplaat kookskerm draal. Dis hier waar Maria dié laatmiddag
water kook sonder iets wat daarin kan gaar word.


Maria hou kop en besef dat sitplek nou prioriteit
is. Vinnig soek haar se oë oor die vlak en sien dan ‘n verslete buiteband
raak. Sy skreeroep haar oudste van so ses jaar om hierdie stukkie weelde
nader te sleep sodat Vroulief daarop kan sit. Dan word hy geskel omdat hy
nie gou genoeg stene nadersleep sodat ek
daarmee ‘n stoel vir my kan prakseer nie. Hulle jongste, senuweeagtig en
skrikkerig omdat daar vreemde oorstaanmense is, soek verward melk, vertroosting
en ‘n skuilplek teen sy ma se bors.

Die son skuifel-skuifel van drie-doringbos tot
drie-doringbos om dan kleurvol gemaklik te loop lê by die westelike kim.
Daar raak hy vergete en sy laaste strale veg verbete om sigbaar te bly teen die
naderende donkerte. Jakobus se wêreld staan stil en niks maak meer vir
hom sin nie. Hy verstaan nie my aandring netnou om hom met die hand te
groet nie. Geen Boer het hom al in sy drie dekade lewensjare so met die
hand gegroet nie. Daarmee saam het dit nog nooit gebeur dat iemand met ‘n
ryding by sy se slaapplek kom stilhou het nie. Elke ryding hou mos maar
verby opstal se kant toe om daar te loop stop. Die meeste kere word daar
in die weelde van ‘n verkoelde sitkamer tee, koffie of iets koels gedrink
terwyl alledaagse belangrike sake bespreek en opgeklaar word.


My en die Mooiste Mooi se vrae en hulle antwoorde
raak stadigaan op en waarheen dan? ‘n Sagte suidewindjie stoot ‘n heilige
swanger stilte vol barensnood oor die rooi-bruin vlak en ek maak my se oë styf
toe. Diep in my se binneste-binne smeek ek om hulp “Here help!”
Skielik dink ek aan die kleine Saggeus en sy se plan om boom te klim. Ek hoor
ook die blydskap en vreugde in die kort mannetjie se stem want die Kêrelkind
van God gaan by hom kom oorstaan. En dan fluister Hy saggies,
“Jy
is hier – nes Jesus - om ‘n hartsafdruk by soekende mense te los:

‘n Hartsafdruk vol liefde.
‘n Hartsafdruk vol blydskap.
‘n Hartsafdruk vol vrede.
‘n Hartsafdruk vol lankmoedigheid.
‘n Hartsafdruk vol vriendelikheid
‘n Hartsafdruk vol goedheid
‘n Hartsafdruk vol getrouheid.
‘n Hartsafdruk vol sagmoedigheid.
‘n Hartsafdruk vol selfbeheersing.”

‘n Hartsafdruk sonder dat een woord gepreek is.

Wel uit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker
slaap en onthou …………………………

Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy
kosbaar en spesiaal is.
Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn
054-551 1000)


Monday, April 11, 2011

ALLE IS MOONTLIK

Die vroegoggend winterwindjie het
hoendervleis-vrywend deur ons gewaai waar ons onder ‘n alleenstaan peperboom
bymekaar gekom het.  Vir ‘n heel eerste keer se kerkmaak daar by hulle was
die opkoms veel meer as wat ek en die Mooiste Mooi kon verwag het.
Hopelik het hulle gekom om meer van Hom te leer maar ek vermoed dat die meeste
het ander motiewe gehad.  Die Kalaharikoerant het mos maar ‘n manier om
ook goeie nuus oor te dra.
Die meeste sit naby mekaar terwyl hy met sy
skreeu-groen hemp heel alleen homself geselskap hou. Kort-kort krap sy se
keel en dan probeer hy met ‘n dieperige gegrom die ongerief uit sy se keel kry
terwyl hy sy hand bak oor sy se dowe linkeroor hou om beter te kan hoor.
Op versoek van die Mooiste Mooi het iemand ‘n lied
ingesit en heel bedeesd en bedaard het die groepie woestynbewoners begin
sing. Die hande word saggies, statig en gereserveerd geklap.
Langsaam begin hulle die ritme en tempo verhoog en so begin almal se voete
ritmies in die rooibruin Kalaharistof op en af tik. Vinniger en vinniger
jaag hulle die tempo aan totdat nie een van hulle kon stilsit nie.
Al skuifelend begin hy op die maat van die musiek
sonder instrumentale begeleiding te dans.  Eers draai hy en dan swaai hy
en dan begin die res van die kerklopers inval. Hulle vorm ‘n dansende ry
met ‘n iedere een wat die voordanser met die heldergroen hemp volg.
Niemand besef dat daar nou geen probleem met sy se dowe oor is nie.  Met
eentonige reëlmaat word daar in die rooibruin stof van die Kalahari
geskuifeldans, soms vinniger en dan weer stadiger. Om en om hou hulle aan
terwyl die stof hoër en hoër styg.  Geeneen stamp of raak aan mekaar
nie.  Elkeen is op ‘n unieke manier besig om die Skepper van Stofaarde op
die maat van die koortjie te loof en Hom te eer.  Met sy se oë half toe en
hande omhoog is hierdie voordanser se binne-oog – nes ‘n Dawid van ouds  –
net gefokus op Hom wat so kosbaar in sy se hart brand.  Hy wat Koning,
Heer, Redder en Geneesheer is.  
Die uitbundige lofdans is vir eers verby en die stof kry kans om in
die winterwindjie oor die vlak te verdwyn. Die stowwerige sweetdruppels
wat oor die meeste se gesigte afstroom vertel ‘n eiesoortige verhaal om voor
Hom te kon dans. Die voordanser het weer so aan die eenkant onder die
boom gaan sit en steeds kort-kort sy se keel probeer skoonmaak. Meelewend
is hy voorwaar want elke kort-kort steek hy sy se hand in die lug en probeer ‘n
woord uitkry maar sy se stem bly weg, heel weg. Uit radeloosheid klap hy
maar sy se hande want dis al hoe hy die opgewondenheid in sy se binneste-binne
kan uitdruk. Sy karaktervolle gesig is ‘n studie van verwagting terwyl hy
onbewus is dat diep in sy se binneste-binne iets kosbaars aan die gebeur is. 
Die woorde “Die oomblik wat jy ‘Hoop’ kies, is
alles moontlik” tref diep en trane jaag resies teen sy bruin wange af.
Met elke druppel wat tussen sy se skoene in die stof val, raak sy las ligter en
ligter en sy se gesig begin straal. Dan skielik raak die ding met sy se
keel en dowe linkeroor net te veel vir hom want hy sukkel al vanaf die draai
van die eeu daarmee. Hoop begin smeul in sy se binneste-binne en kort
voor lank begin klein vlammetjies aan die kante van sy hart te lek.
Vasberade staan hy op en stap met hoopvolle verwagting die Groot Geneesheer se
operasietafel daar in die ope vlak tegemoet.  
Asof hy uit ‘n diepe slaap wakker geword het, bekyk
hy almal half verbaas aan en begin terugstap na sy se sitplek doer eenkant
onder die boom. So in die loop vryf hy sy se oor en maak sy se keel
skoon. Iemand aan sy linkerkant verduidelik saggies aan ‘n nuweling van
sy se stryd teen die stom en dowigheid terwyl almal se oë in stilte op hom gerig
is. Skielik steek hy vas en begin met ‘n sagte stem te sing.
Oopmond verbaas sit ons en staar. Vinniger en vinniger, harder en harder
weerklink die hemelklanke oor die vlak. Dankbaar steek hy sy se hande
omhoog en begin weer ritmies en skuifelend te dans. Gou-gou is almal uit
die stoele en dans en sing saam. Hy met sy skreeugroen hemp voor en die
res al skuifelend agterna.
Heelwat later en die meeste begin in klein groepies
huise toe loop.  Snikkend fluister hy in my se oor terwyl ons by die
Genadewa groet, “Voorwaar Pastoor, die oomblik wat jy ‘Hoop’ kies is alles
moontlik …, alles is moontlik.”
Wel uit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker
slaap en onthou …………………………
Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar
en spesiaal is.
Die Kalahari Cronjé's
Landlyn(054-551 1000)








Sunday, April 10, 2011

WOESTYNWYSHEDE

Kort voor skemertyd hier in die vergeetkant van die land raak dit stil, baie stil. Stil om jou en stil in jou. So stil dat jy soms soekraak op die gisterpaaie van jou eie verlede. Dit is in stilwees dat Vader se Geeswind saggies deur jou waai op soek na ‘n staning in jou se binneste-binne. En wanneer Hy jou menswees in stilte met Sy se liefde omvou, skryf Hy wyse woorde van insig en verstaan op die tafels van jou se binneste-binne.

Wyse woestynwoorde soos ...

Nes die sagte suidewind 'n koelige lafenis oor 'n dorre en uitgestrekte woestyn instoot, bedien My se Geeswind hemelse verligting vir die gekneusde en verskroeide dele van jou binneste-binne as jy bereid is om die vensters daarvan vir My oop te maak.

Met jou se gesukkel om bo-op ‘n verkyk sandduin te kom, vergeet jy soms om brose klein grashalmpies raak te sien en so trap jy maklik ander se lewens raak. Wees tog maar versigtig en oplettend as jy weer ‘n duin uitklim.

Vanaf ‘n hoogste sandduin lyk jou toekoms soos ‘n splinternuwe skilderdoek op ‘n esel wat wag dat jy in gehoorsaamheid aan My die eerste kwashale daaroor moet verf.

‘n Erge stofstorm wat verwoed en intimiderend woed, het nes jy ook 'n kosbare skoonheid wat nie altyd deur ander mensegoed raakgesien en waardeer word nie.

Doen wat jy kan met wat jy het. Moenie toelaat dat daardie moedbreekgoeters waarmee jy so sukkel, 'n dwarsduin word wat jou verhinder om dinge te doen nie.

Die rooi oog van die warmste hemellig loer versigtig oor die nat Kalahari-vlak om met asem-ophou deel te wees van die dankbaarheid van onse wêreld. So brand hy dankbaarheid in die onthou-gedeelte van onse harte in.

Êrens in die donkerte van ‘n eensame Kalaharinag, leun ‘n witgeel regopstaan sekelmaan dapper vooroor asof hy wil beklemtoon dat jy nie moet afdraai op die duinepad van die lewe nie. Hou eerder aan met die geloofsweg saam met Hom.

‘n Stil volmaanaand is net nog ‘n doek deur Hom verskaf waarop jy met jou verbeelding kan skilder en skets tot jy besef dat drome en ideale die skilderye is wat jou binneste-binne oor jouself skryf.

Die koeligheid van die vroeë oggendlug hier aan die woestynkant van die land laat jou siel uit sy skuilplek kom, nes die Kêrelkind van God se Liefde.

Die gesukkel en gesweet om 'n hoë en eenkant sandduin uit te klim, bly 'n aanvaarbare prys om te betaal vir die voorreg om ver vorentoe te kan kyk en Hom in die dag van môre te sien.

'n Binneste-binne wat deurweek is met vrede, vrolikheid en vreugde is die resultaat van Vader se Geeswind wat jou se arms hoog en regop waai.

Wanneer jy moeg geklim is aan die dwarsduine van die lewe, sien jou binneste oog amper niks en dan is daar min wat jou se hart laat pronk soos ‘n springbok.

Terwyl Sy se Geeswind jou in stilte saggies toevou weet ek dat Sy se genadekombers styf om jou gedraai sal wees terwyl die skaduwee van die Kêrelkind van God die loop van jou se voete koel sal hou. In stilte vind ons dit waarna ons soek en kry ons waarvoor ons vra.
Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ......................
Êrens tussen duine woon mense wat jou waardeer omrede julle kosbaar en spesiaal is.
Die Kalahari Cronjé's
(Landlyn 054 - 551 1000)