Wednesday, July 29, 2009

KUISHEIDSGORDEL

Ons sê ons is kinders van die Here en dat ons dankbaarheidswerk vir hom doen! Is hierdie titel van kind van God net op ons van toepassing Sondae by die kerk of Woensdae by die selgroep of biduur, of by die kerkraadvergadering een maal per maand? Hoekom wil dit dan al lyk asof ons net geleentheids kinders van die Here is? Net wanneer ons voor ander "Christene" is, dan speel ons die rol van 'n Christen, dan praat ons soos 'n Christen, kwoteer Bybel tekse bemoedig die broer of suster, - maar wat doen ons wanneer ons nie naby ander Christene is nie? Daar waar ons alleen staan in die samelewing! Onthou ons dan steeds ons is Christene? Praat ons dan die taal van 'n Christen. Weerhou ons, ons dan steeds van gekruiede taal, van kwaad word vir die persoon wat nie die gegewe opdrag uitgevoer het nie?

Daar kom uit, ons as kinders van die Here, se mond woorde wat gladnie by ons pas nie. Hierdie woorde word in die geselskap van ander Christene nie hardop uitgespreek nie, maar word so agter die hand of so skuins uit die mondhoek gesê terwyl die persoon na die luisteraar oorleun! Hierdie franse woorde wat ons gebruik maak sulke groot bruin vlekke op ons, miskien andersins wit "klere" Soms wanneer ons iets wat ons gehoor het oorvertel, dan doen ons dit met al die kleure en geure soos wat ons dit gehoor het en dink ons dan ons het vrypas om die franse woorde ook te gebruik. Daardie woorde maak dieselfde bruin vlekke op ons mondering as die agter die hand woorde.
Dan is daar ook nog daardie suggestiewe woorde wat ons gebruik, waar ons die ander persoon dan los dat hy sy eie afleiding maak, van wat ons bedoel. Ook dit tas jou reinheid of gewaande reinheid aan want jy veroorsaak dalk dat daardie persoon se gedagtes op 'n verkeerde pad beland.

Ons raad aan nuwe Christene is altyd, hou jou oog op die Here, moenie na mense kyk nie hulle sal jou net teleurstel.

Of ons dit nou wil weet of nie, ons word dopgehou en ons word geweeg en baie keer..... te lig bevind. Ons is leiers. Ons mag nie toelaat dat mense dink ons is nie op standaard met die Here nie. Ons moet 'n rein en kuise lewe lei. Ons moet 'n voorbeeld stel aan andere, hulle moet ons ten volle kan vertrou en weet dat ons die regte dinge sal doen. Dat ons die belange van die kerk van Jesus voorop sal stel en nie ons eie belang nie.

As ons, ons daarop instel deur die genade om rein voor die Hemelse Vader te leef en ons wil nie hê dat daar sulke bruin kolle op ons monderings kom nie, moet ons toelaat dat die Here vir ons ‘n kuisheidsgordel oor ons monde aansit sodat ons rein kan bly.
1Tim4:12
Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.
Die Bybel Nuwe Vertaling, (Suid–Afrika: Bybelgenootskap Van Suid–Afrika) 1983.

Wednesday, July 15, 2009

TYD

Tyd is iets wat teen ongelooflike snelheid verbygaan. Met elke tik van die horlosie is 'n sekonde verby, 60 sekondes in 'n minuut, 60 minute in 'n uur, 24 uur in 'n dag, 168 uur in 'n week, 728 uur in 'n maand. Helaas 8736 uur in 'n jaar en 611520 uur in 'n leeftyd van 70 jaar.

Hoeveel van hierdie tyd gaan verby sonder dat ons die Here dien? Gelukkig is die loon dieselfde, of jy die Here op 16 jarige of 68 jarige ouderdom vind. Die belangrikste is dat jy die Here vind en vir en in Hom begin lewe.

Tyd is ook afgebaken om dinge te doen soos wat ons in Prediker lees"

Pred 3:1 Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd:
Pred3:2 ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant en ‘n tyd om uit te roei wat geplant is,
Pred 3:3 ‘n tyd om dood te maak en ‘n tyd om gesond te maak, ‘n tyd om af te breek en ‘n tyd om op te bou,
Pred 3:4 ‘n tyd om te ween en ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te weeklaag en ‘n tyd om van vreugde rond te spring,
Pred 3:5 ‘n tyd om klippe weg te gooi en ‘n tyd om klippe bymekaar te maak, ‘n tyd om te omhels en ‘n tyd om ver te wees van omhelsing,
Pred 3:6 ‘n tyd om te soek en ‘n tyd om verlore te laat gaan, ‘n tyd om te bewaar en ‘n tyd om weg te gooi,
Pred 3:7 ‘n tyd om te skeur en ‘n tyd om aanmekaar te werk, ‘n tyd om te swyg en ‘n tyd om te spreek,
Pred 3:8 ‘n tyd om lief te hê en ‘n tyd om te haat, ‘n tyd vir oorlog en ‘n tyd vir vrede.

In dieselfde idioom as die Prediker, is daar 'n tyd om te kom en ook weer 'n tyd om te gaan.

In die afgelope klompie maande het ek probeer om elke dag 'n inskrywing op hierdie blog te maak. Ek het sekerlik onderwerpe en punte aangeraak wat party van die lesers ongelukkig gemaak het. Ek het egter probeer om deurentyd met deernis te skryf wanneer ek die tamaletjie onderwerpe aangeraak het. Ook was my doel altyd om die evangelie van Jesus Christus te verkondig en mense te probeer por om nader aan God te kom en 'n oorgawe aan Hom te maak en weg te draai van die kwaad.
Ek dink aan: - Robert, hy het my erg aangeval oor die Selfmoord inskrywing en my tot beskuldig van skrifverdraaiing. -Dan is daar die dametjie wat wat na sy die inskrywing oor aborsie gelees het, die besluit geneem het om nie meer te gaan vir die aborsie nie, maar haar afspraak gekanselleer het. Sy het deurgedruk daarmee en het besluit om die babatjie liewer te laat aanneem. - Ina en haar 3 maatjies van Powerville wat spesiaal toestemming moes kry om die blog te lees. Ina het op 'n stadium haar werk verloor. Ek vertrou dat sy gou geholpe sal raak. - Sam, Sam met sy interessante manier van spel. Jammer ek kon jou nooit ontmoed nie, dalk sal ons nog eendag....! - Mariki, vir al jou insette, -Muriel vir jou gereelde kommentaar, -Skoonsus Nimsi wat my eintlik geinspireer het om die blog te skryf. Dankie aan al die ander wat ook gereeld 'n bietjie terugvoering gelos het ek het dit waardeer.

Aan almal wat die blog gereeld gelees het, baie dankie dat julle tyd gemaak het. As ek so na die statistieke kyk, is die lesers van hierdie blog wyd versprei deur Suid Afrika, Namibië, VSA, Brittanje, Europa, België, Holland, Duitsland, Frankryk, Poland, Oostenryk, Emmirate, Uganda en Turkye.
Baie dankie aan elkeen wat 'n bydrae gemaak het wat ek hier kon gebruik, sover as wat ek kon het ek altyd erkenning gegee aan die persoon wie se bydrae ek gebruik het.

Weereens baie dankie aan elkeen wat gelees en gekommentaar het, ek het dit waardeer.

Hierdie is nie vaarwel nie, net totsiens totdat ons weer ontmoed. miskien weer op die blog maar dalk in die hemel.

Jesus liefde aan elkeen

Oom Petrus


Tuesday, July 14, 2009

SPORE VAN EENVOUD

Groete en Vrede!!!

Met ‘n oorloop hart staan ek een laatoggend op die voorstoep van die huis en geniet die vogtigheid in die lug na die welkome reënbui. Vars lê die raasligte en harde eggo slae wat oor die uitgestrekte vlaktes reisies gehardloop het in ons oë en ore. Die soet hemelwater wat in ronde, vet druppels geval het, tower die plat Kalahari vlak nou om in ‘n see vol menigte waterplasse. So dink ek terug aan my jongdae en veral hoe ek met reëntyd ook maar onder dak moes bly. Ek onthou en ervaar weer die saligheid van kommervry kindwees en die lekkerte van kaalvoet in die modderplasse speel. Salig voorwaar.

Dan sien ek Ou Let met haar bekende waggel-waggel stap van veraf in die pad aankom. Sy, wat oornag van niemand in iemand verander het na haar man, Jan, se ontydige dood voorlaaste jaar. Ou Let wat die lewe op haar eie Kalahari manier aanpak - sonder haas en sonder spoed. Rustig staan ek en wag dat sy nader waggel en groet dan vriendelik. Haar oë probeer deur die brillense fokus maar ek staan kort agter sig. Opgewonde herken sy my stem en haar gesig blom vriendelik met my naderstaan aan die klein hekkie. Ons gesprek is lig, vol kwinkslae en ‘n gekoggel.

Dan vang my oog haar waggelspoor wat plek-plek wegraak tussen die plasse water. Spore wat reguit en doelgerig loop ongeag hindernisse in die pad, spore getrap met geëelte kaalvoete. Spore van eenvoud en afhanklikheid. Afhanklikheid aan Hom. En saggies skryf Hy met Sy vinger op die deur van my hart se skatkamer “Salig is die wat spore van eenvoud vir My trap, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

‘n Week later en ek staan weer so teen die middag se koffietyd op die voorstoep van die huis en sien Ou Let se kaalvoetspore in die songebakte modder buite die klein hekkie. Spore van eenvoud, spore van kind afhanklik wees. Diep in my weet ek dat, solank ek leef, ek ook spore van eenvoud wil los oral waar ek gaan. In die verre weste knip die son sy oog en plaas daarmee ‘n aksent van Vader se warm hartklop daarop met ‘n goudgeel sonsak want ek en jy bly afhanklik aan Jesus, ongeag wat.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ...................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene

DIVINE LIFE SENDING.

(Landlyn 054-551 1000)

Monday, July 13, 2009

NIE UIT VERDIENSTE NIE MAAR UIT GENADE

Tantes Sannie en Sarie werk week na week dae aaneen om geld vir die kerkboufonds in te samel. Dit bak, en naaldwerk word gedoen, en dan word dit weekliks op die koekverkoping by die kerk ten toongestel om verkoop te word. Die gemeentelede en andere ondersteun hierdie poging van die twee ou dames deur hulle gebak en ander goedjies daar aan te koop. Ander dames van die gemeente maak van tyd tot tyd ook bydraes om verkoop te word. Op die manier word die boufonds week na week aangevul. Die Dominee en die kerkraad is baie beindruk met die manier waarop die boufonds groei. Die tantes is gereeld voor in die kerk op Sondae waar hulle die inkomste uit die verkopings amptelik aan die Tesourier oorhandig en hulle van harte bedank word vir hulle harde werk. Sommige Sondae word daar selfs 'n groot bos blomme aan elkeen van hulle oorhandig om die gemeente se amptelike dank teenoor die twee dames uit te spreek.

Die vraag wat nou ontstaan is: Gaan al die harde werk wat die dames oor 'n aantal jare verrig het, vir hulle enigsins help om in die hemel te kom? Hulle antwoord: "Natuurlik sal dit ons help, ons het dan al die jare so hard vir die Meester gewerk en soveel geld ingesamel!"

Kan mens deur groot bedrae geld vir die kerk te gee, of jou af te sloof vir die gemeente enigsins 'n bydrae te maak tot jou weg na saligheid? Stellig nie, want anders het God Sy Seun verniet opgeoffer om die weg te baan vir versoening met die Vader! Kan ek dan met my groot bydrae en harde werk enigsins vergifnis kry vir my sonde? Stellig nie, want die prys daarvoor is reeds vereffen deur Jesus se bloed wat op die kruis vir ons uitgestort is.

Ons kan niks van die goedheid van die Here verdien nie, want alles wat ons van Hom ontvang is net genade. As ons onder die waan verkeer dat ons op grond van ons diens in ons gemeente, deur die voorsitter van die of daardie kommittee te wees, op die kerkraad te dien, diaken of ouderling te wees of selfs die Leraar van die gemeente te wees, die saligheid sel beërwe, dan maak ons die fout van ons lewens.
Johannes 3:1- 8 (Die Boodskap)
Een nag het Nikodemus Jesus kom opsoek. Hy was 'n belangrike leier in die Joodse gemeenskap, en lid van die party van die Fariseërs. Hy knoop toe met Jesus 'n gesprek aan: "Meneer, ons is oortuig daarvan dat God U gebruik om ander mense te leer. Weet U waarom sê ek so? As God nie iemand bystaan nie, sal hy eenvoudig nie die dinge kan doen wat U regkry nie."

Jesus antwoord hom toe: "Weet jy, Ek wil nou vir jou iets belangrkis sê. As iemand nie nog 'n keer gebore word nie, sal hy of sy sowaar nie deel word van die ryk waarvan God koning is nie.

"Hoe is dit moontlik om as jy al groot en oud is nog 'n keer gebore te word?" vra Nikodemus Hom. "'n Mens kan mos nie vir 'n tweede maal in jou ma terugklim om weer 'n keer gebore te word nie!"

"Luister baie mooi wat Ek vir jou sê," kom dit van Jesus. "Die pad na die ryk waar God koning is, is toe vir elkeen wat nie gebore word uit lewende water en die Heilige Gees nie. Immers, 'n Kind wat uit 'n mens gebore word is maar net 'n mens. Wie egter uit die Gees gebore word, begin geestelik lewe.

Friday, July 10, 2009

ROL JY ROND VAN BEKOMMERNIS?

Laat hierdie huidige ekonomiese toestande in die wêreld jou ook soms in die nag wakker lê, omdat die dinge jou toekoms onseker maak. Jy is verward en ongemaklik as jy die toestande evalueer. As jy 'n besigheids persoon is, dan wonder jy wat jou opposisie in die besigheids wêreld gaan doen om om te oorleef en miskien om jou te troef. Jy besef jy moet voorberei en jou self verdedig in die heersende toestande. Maar hoe kan jy op elke moontlike situasie bedag wees sodat jou persoonlike lewe of besigheid tot 'n rustige en veilige lewe kan stem?

As jy 'n kind van God is, dan is daar hoop vir jou! God se kinders kyk op na Hom toe en hulle put uit Sy krag om deur die moeilike tye te kom. As jou geloof in Christus onwankelbaar vas staan, sal Hy jou staande hou dat jy nie sal knak onder die aanslae wat na jou toe aangestorm kom nie.
In(Die Boodskap) Psalm 3:5-6 staan daar: "Ek roep so hard as wat ek kan tot die Here'
Hy help my as ek bid. In die aand kan ek gaan slaap sonder om te lê en rondrol van bekommernis. In die more word ek rustig wakker, want ek weet die Here sal vir my krag gee om my probleme op te los"

Jy sal nie nagte wakker lê as die Here jou Leidsman en Vennoot is nie. Hy nooi jou om die pad saam met Hom aan te durf. Jy moet Hom vertrou en jy sal sien hoe Sy liefde en genade die deurmekaar wat in jou lewe of besigheid is laat bedaar. Ons het daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan in ons lewe nodig, daarsonder is tot niks instaat nie.

Thursday, July 9, 2009

PSALM 34 - Die Here beskerm die gelowige

Hierdie wonderlike Psalm het my weer opnuut getref toe ek dit gisteroggend gedurende my stiltetyd gelees het. Toe ek dit herlees in Die Boodskap van Jan van der Watt en Stephan Joubert, het ek gevoel ek wil hierdie weergawe met julle deel.
Alles hierin is voorwaardelik: Jy moet die Here liefhê en jy moet Hom ten volle dien, nie met 'n halwe hart nie.

Ek wil die Here heeltyd prys;
ek sal Hom dag en nag met lofliedere loof.
Ek sal liedere oor die Here sing om Hom te eer.
Kom julle, kom maak die Here se Naam saam met my groot.
Kom laat ons Hom vereer.

In gebed het ek die Here gevra om my te help, Hy het dit gedoen.
Hy het my gered van al die dinge wat my lewe bedreig. Mense wat swak is en hulp nodig het, sien dit raak. Hulle gesig straal van blydskap. Wanneer hulle die Here se hand styf vashou, sal Hy hulle nooit teleurstel nie.
Kyk maar na my. Ek was swak en hulpeloos.
Toe het ek gebid en die Here het my gehelp.
Hy het my uit al my krisisse gehelp.

Op baie maniere beskerm die Here elkeen wat Hom dien. Hy verlos hulle wat Hom aanbid.
Julle moet self kom kyk hoe goed doe Here is.
Jy is baie gelukkig as jy van die Here afhanklik is om jou op te pas.
Julle almal wat aan die Here behoort kom dien Hom.
Onthou, die Here voorsien in elke behoefte van die mense wat Hom dien. Jy sal niks nodig hê nie.
Selfs sterk roofdiere soos leeus met hulle groot krag vang partykeer niks nie. Dan ly hulle honger.
Maar as jy van die Here afhanklik is, sal jy niks nodig hê nie.
Die Here sal vir jou sorg.

Kom laat ek julle iets leer!
Ek gaan julle wys hoe om die Here te dien.
Is daar iemand onder julle wat lief is vir die lewe? Wie wil graag die goeie dinge van die lewe geniet en gelukkig wees?
Jy, pas dan op om nooit verkeerde dinge te sê nie! Moenie oneerlik wees en ander mense met leuens verkul nie.
Vermy slegte dinge.
Doen net goeie dinge aan ander.
Lewe in vrede met mense

Die Here sorg vir almal wat doen wat Hy sê.
Hy help hulle wat om hulp vra.
Maar die Here ignoreer mense wat kwaaddoen.
Hy gaan hulle laat verdwyn.
Niemand sal ooit weer aan hulle dink nie.
Die Here help die wat Hom liefhet.
As hulle Hom vra, red Hy hulle uit al hulle probleme. Die Here is naby mense wat hartseer is;
Hy gee mense wat moedeloos is weer nuwe moed.
Al tref duisende rampe mense wat die Here liefhet, Hy sal hulle nooit alleen los nie.
Uit elke krisis sal Hy hulle red.
Hy beskerm Sy kinders tot in die fynste besonderhede.
Daar sal nie 'n been in jou liggaam breek sonder dat Hy daarvan weet nie.
Maar mense wat weier om die Here te dien, sal deur hulle slegte dade aan hulle einde kom;
hulle wat die Here se kinders sleg behandel, sal in eie munt daarvoor terugbetaal word.
Die Here red almal wat Hom dien.
As jy op die Here vertrou om jou op te pas, sal Hy jou nooit teleurstel nie.

Wednesday, July 8, 2009

WAT DRYF OF MOTIVEER JOU

Wat laat jou elke oggend opstaan? Wat dryf jou om elke dag deur te gaan? Wat motiveer jou om alledaagse dinge te doen en daagliks jou ure tot barstens toe te vul? Dit kan tog nie geld wees nie want by die 7de van die maand is die geld op, wat dryf jou dan vir die res van die maand?
As mens kyk na die armstes van die armes wat geen kans het om geld te verdien nie wat met ingesonkte oe en ribbes wat baie ver uitstaan daagliks 'n sleurbestaan voer, wat motiveer hulle? Is dit hoop? Hoop dat daar vandag iets sal wees om te eet? Wat motiveer daardie persoon wat op die straathoek staan en bedel, wat sy plakkaat omhoog hou om te wys hy het nie 'n werk nie en geen inkomste nie. Is dit hoop dat iemand vandag vir hom iets sal gee sodat hy kan eet en sy gesin kan voed, al is dit net vir een maaltyd? Wat van daardie straatkind wat langs jou motor kom staan? Jy kan sien daar het baie lanklaas water by hom verbygekom, daardie gesiggie en handjies is asvaal. Wat laat hom elke dag opstaan waar hy tussen plastiek en karton op die harde grond die nag gelê en koud kry het? Is dit hoop wat hy in hom koester dat iemand hom dalk vandag 'n kombers sal gee sodat hy nie vannag koudkry nie.

Is dit verkeerd om te wonder, wat het God gemotiveer om sy Seun Jesus Christus na die aarde te stuur om te sterwe vir ons sondes? Is dit dalk die hoop dat die mensdom in totaliteit sal afsien van die sonde en hom onvoorwaardelik bekeer tot God? As ons om ons kyk is dit helaas nie moontlik dat die mensdom as 'n geheel 'n 180 grade omdraai sal maak om versoen te raak met die Vader nie. Ek is seker God is dankbaar vir elkeen wat bereid is om daardie verandering in sy lewe te maak. Om homself te verloën die prys te betaal en Jesus aan te neem as Verlosser en Saligmaker.

Wat motiveer elke ware kind van God om daagliks die Bybel te lees en stiltetyd te hou, om Woensdagaande die weeklikse biduur of selgroep byeenkomste by te woon, Sondae die oggend en aanddienste by te woon, asook nog ander gemeentlike aktiwiteite wat op 'n weeklikse basis aangebied word te ondersteun? Wat motiveer ons om reg te lewe en nie te wil sonde doen nie?
Is dit dalk die hoop om Jesus eendag op die wolke te sien kom om Sy kinders te kom haal? Om die goue straat in die Nuwe Jerusalem te bewandel? Om eendag van aangesig tot aangesig te ken? Om die krone vir jou arbeid in diens van die Meester te ontvang?

Wat motiveer jou as individu regtig om die Here aan te hou dien?

Tuesday, July 7, 2009

LEWENDMAKEND GEES VAN GOD

Lewendmakend Gees van God,
Daal weer op my.
Lewendmakend Gees van God,
Daal weer op my.
Breek my, smelt my, vorm my, vul my.
Lewendmakend Gees van God,
Daal weer op my.

Wanneer ons hierdie woorde sê, en dit is dalk nie gereeld nie, miskien het ons dit nog nooit gesê nie, dalk is hierdie die eerste keer. Dan wonder ek of ons dit regtig bedoel? Bedoel ons regtig dat die Here ons maar kan breek en smelt en vorm. Sodat Hy ons kan maak om vir Hom bruikbaar te wees. Is ons bereid om regtig die prys te betaal? Die pad van geen omdraai te loop. Alles aan Hom te gee sonder enige voorbehoud sodat ons gevul kan word met die Heilige Gees van God.

Monday, July 6, 2009

KLIPPE GOOI

Dit is so maklik om andere te beskuldig van verkeerde dinge en daarop te hamer. "Ja, ek het jou mos gesê jy moet dit nie doen nie. Kyk wat het jy nou weer aangevang, ek weet nie hoe ons uit hierdie gemors gaan kom nie.......!"

Johannes 8 :3 - 11
Hulle sê vir Jesus: Jy is mos die hele tyd besig om mense te vertel wat hulle moet doen. Nou ja, ons het hierdie vrou op heterdaad betrap toe sy by 'n man geslaap het wat nie haar eie is nie! Moses se wet vertel ons presies wat ons met so 'n vrou moet maak: sy moet dood! Met klippe moet ons die laaste asem uit haar uitgooi. Maar sê jy nou bietjie vir ons wat dink jy moet ons met hierdie vrou maak? Die Joodse geleerdes wou egter nie regtig hoor wat Jesus dink nie. Hulle het Hom dit maar net gevra om Hom in die moeilikheid te probeer bring. Hulle het gehoop dat Hy Sy mond verby sou praat en iets sê waaroor hulle Hom voor die hof kon sleep.

Maar Jesus was te uitgeslape vir hulle, Net daar waar Hy gesit het, het Hy vooroor gebuig en met sy vinger iets op die grond geskryf. Die Joodse geleerdes het egter aangehou neul. Uiteindelik kyk Jesus op en sê vir hulle: "Nou goed. gaan dan maar aan. Julle weet skynbaar wat om te doen. Maar daar is een voorwaarde: die een van julle wat nog nooit aan God ongehoorsaam was nie, moet die leiding neem. Hy moet eerste 'n klip optel en haar daarmee gooi." Weer het Jesus vooroor gebuig en iets op die grond geskryf.

Daar staan die Joodse geleerdes toe met die mond vol tande. Hulle het nie geweet wat om te doen of te sê nie. Een vir een het hulle toe maar weer tussen die mense in verdwyn. Die belangrikstes het eerste gemaak dat hulle wegkom. Hulle het die vrou net daar by Jesus gelos.

Jesus kyk toe weer op en sê vir haar: "En nou? Waar is al daardie mense? Kon niemand so ver kom om 'n klip op jou te gooi nie?" "Nie eers een nie, Here," kom die antwoord.

Jesus sê toe: "Ek gaan dit ook nie doen nie. Gaan gerus, maar ook vir jou is daar 'n voorwaarde: gaan stel nou vir daardie mense 'n voorbeeld hoe om gehoorsaam aan God te leef?

Die Boodskap
Jan van der Watt
Stephan Joubert

Friday, July 3, 2009

GOIINGSAK VOL WATER

Ek het hierdie verhaaltjie nou onlangs as 'n Power Point aanbieding deur die e-pos ontvang en kan aan niemand die krediet daarvoor gee nie. Geniet dit

Hoekom die Bybel lees as ek niks verstaan of, as ek verstaan, nie onthou wat ek gelees het nie?

Storie van 'n Oupa wat iewers in die berge gebly het met sy kleinseun. Die knaap het baie hoë agting vir sy oupa, en soos dit maar gaan, het hy probeer naboots wat Oupa doen.
Oupa se gewoonte was om elke oggend, dou voor dag op te staan, die ou koolstoof aan die brand te kry, en dan vat hy sy ou gehawende Bybel en gaan sit in die lekker warm kombuis by die tafel en lees uit die Bybel. Die kleinseun het Oupa dopgehou en ook sy Bybel gaan haal, en net soos Oupa, soggens by die kombuistafel gaan sit en lees.
Maar iets het die knapie baie gepla: "Oupa, ek weet nou nie so mooi nie," sê hy een oggend, "ek probeer ook die Bybel lees soos Oupa, maar ek verstaan nie wat ek lees nie. As ek die slag verstaan, dan waai dit by my ore uit en netnou het ek alweer alles vergeet wat ek gelees het. Oupa, is dit ooit die moeite werd om nog uit die Bybel te lees? Ek meen- wat is nou die nut daarvan as ek tog alles vergeet?"

Oupa het diep gedink, en toe sien hy 'n leë steenkoolsak, al pikswart gevlek van die roet langs die stoof lê. "Boetie, gaan haal vir Oupa 'n sak vol water in die stroompie hier onder," vra hy die seun.
Gretig om Oupa te plesier, spring die knaap daar weg met sy goiingsak en laat vat af stroompoie toe. Dis harde werk om die sak vol te kry, maar hy byt vas. Met die sak oor sy skouer hardloop hy terug huistoe, na Oupa wat sukkel om nie uit te bars van die lag nie. Natuurlik was die sak dolleeg gelek teen die tyd dat hy by Oupa aankom. "Ai man," sug Oupa. "Jy sal maar weer moet gaan probeer jong," en daarmee suiker die knaap weer af stroompie met sy sak. Hierdie slag hardloop die outjie terug met sy sak water so vinnig as wat sy beentjies hom kan dra, maar steeds is dit verniet want natuurlik is die sak weer leeg by sy aankoms. "Nee Oupa," blaas hy uitasem. "Dis onmoontlik - hierdie sak lek!" en daarmee gooi hy die sak eenkant en gaan gryp 'n emmer. "Nee Boetie", keer Oupa hom. "Ek wil nie 'n emmer water hê nie ek wil 'n SAK water hê! Toe jong, jy kan dit mos doen! Jy probeer net nie hard genoeg nie." Oupa gaan staan in die kombuisdeur wn hou die seuntjie dop waar hy die onmoontlike taak probeer uitvoer. Die seun het lankal besef dat hy besig is met 'n gejaag na wind, maar hy probeer so hard om vir Oupa te plesier, dat hy maar gedweë weereens die sak in die stroompie volmaak en met sy lekkende vrag so vinnig as wat hy maar kan, die bultjie ophardloop na Oupa toe.
"Nee Oupa, dit werk nie," Huil-sê die outjie moedeloos. "Kyk hoe hard probeer ek, maar niks gebeur tog nie!"

"Dink jy regtig dat daar niks gebeur het?" vra Oupa. "Kyk dan 'n slaggie na die sak. Wat sien jy anders aan die sak as toe jy begin het?"

Met 'n vraag in sy oë bekyk hy die sak - wat kan Oupa tog bedoel? Die steenkoolsak is natuurlik sopnat van al die gewaterdraery. Skielik besef hy dat die sak ook skoon is- al die steenkoolstof is uitgewas! "Oupa, die sak is skoongewas! Maar ek verstaan nog nie Oupa?"
"Boetie," sê Oupa. "Dis wat gebeur wanneer jy die Bybel lees. Miskien verstaan jy nie alles wat jy lees nie en dalk vergeet jy amper alles wat jy so hard probeer onthou. Maar terwyl jy lees gebeur daar iets met jou - jou binnekant word verander- jy word as't ware skoongewas van binne af terwyl jy die Bybel lees"




Thursday, July 2, 2009

SLAAF OF VRYMAN

Miljoene mense bewandel hierdie aarde in 'n staat van absolute gevangeneskap. Hulle is vasgevang in allerhande welluste wat hulle lewens regeer. Allerhande ding word aan hulle voorgehou as die utopia net om dan in hulle aanvaarding daarvan al hoe dieper in die gemors ingetrek te word. So word die mens deur die satan verslaaf om sy wil te doen en sy wense uit te voer. 'n Slaaf word vasgevang in dit wat hy doen, hy kan nie sy kop optel nie en moet net altyd met sy neus in die gemors rondloop.

Dit is eintlik tragies om dit te sien. Dit lyk asof die mense dit geniet om, so kop onderstebo met die neus in die drek, hulle lewens te slyt. Dit lyk asof hulle dit geniet om daardie dampe in te adem en maar net aan te gaan. Hulle lewe in die waan dat hulle oppad is na 'n beter toekoms, dat alles een of ander tyd een honderd persent sal regkom. Intussen sak hulle stadig dieper in daardie gemors in. Dit is net jammer dat die wat al hulle wil verloor het om uit die gemors te kom, andere wat miskien nog 'n kans het, saam met hulle af te trek.

As die slawe op die aarde net geleentheid maak om hulle koppe op te tel en 'n slag weg te kyk vanaf dit waarmee hulle besig is, sal hulle sien dat daar werklik 'n ander beter lewe is. Nie iets wat miskien eendag sal kom nie maar 'n beter lewe wat nou alreeds beskikbaar is. Hulle moet net lankgenoeg opkyk sodat die skille van hulle oë kan afval, dan sal die Lig wat die Here Jesus in die wêreld ingebring het vir hulle deurbreek.

Dan sal hulle agterkom dat God nie slawe maak van mense nie, maar Hy maak hulle vry van sonde en hy gee hulle die reg om Sy kinders genoem te word. Hy gee aan hulle 'n nuwe hoop op die ewige lewe en die wederkoms van Sy Seun Jesus Christus.

Is jy 'n Slaaf of 'n Vryman...?

Wednesday, July 1, 2009

GERAAMTES

Elkeen van ons loop met 'n klomp geraamtes in ons hangkas rond. Ongelukkig is dit nou ook so, dat sonder dat ons dit agterkom teel die geraamtes nog aan ook. Ons loop met die vaste voorneme dat ons nog met hulle gaan deel of sal deel. In ons koppe bestaan daar net die ma en pa geraamte wat ons wil uitmoor, maar ons kom nie agter dat die kleintjies reeds aan die werk is en al amper net so onwelriekend is as wat die ma en pa is nie. Wanneer ons by die punt kom wat ons sê dat ons met hulle gedeel het en ons kan nou aangaan met ons lewe of ons kan nuwe verhouding aangaan dan sit daardie ander baselisk daar en pootjie ons in die nuwe verhouding. Om met bagasie te deel is amper soos om vure dood te slaan. As jy die een onder beheer het, is daar alreeds weer 'n ander klein vuurtjie wat aan die brand is en waarop jy moet konsentreer.

Wat is die antwoord, wanneer jy met die goed deel moet jy dit so gou as moontlik en so diep as moontlik met wortel en tak uitruk en uit jou lewe kry. Ons kan dit nie self doen nie want ons gaan altyd party stukke agterlaat wat weer gaan groei. Ons het 'n Hand nodig wat diep en raakvat en behoorlik skoonmaak, en dan met liefdevolle vingers genesing bring waar die wonde agter gelaat is. Alleen Jesus kan dit vir ons doen.
As ons sukkel met die geraamtes in ons lewe, kan ons dit nie wegwens nie, ons kan dit nie net ignoreeer nie, ons moet ons self oop en bloot voor God stel sodat dit deur Sy vergifnis uitgewis kan word. Eers dan kan ons aangaan met ons lewens en met ons verhoudings, maar as daar 'n stukkie al is dit net 'n baie klein stukkie agterbly gaan dit weer groei en jou iewers in die toekoms inhaal.
Dit is belangrik dat jy God volkome vertrou wanneer jy na hom toe gaan, jy kan niks terughou nie al is dit hoe pynlik. Deur in gebed na Hom te gaan met diepe berou in jou hart moet jy Hom toelaat om daardie geraamtes totaal uit jou gedagtes te verban en jou volkome te reinig.
Slegs deur die Jesus se bloed kan ons volkome oorwinning oor daardie geraamtes kry, sodat ons daardie nuwe lewe of bestaande verhouding nuwe lewe kan gee en daardie vlammetjie koester totdat die gevaar dat dit sal kwyn en verdwyn, nie meer bestaan nie.