Wednesday, January 25, 2012

Sout op jou se lippe

Groete en Vrede!!!


Genadeloos en ongenaakbaar brand die son kort nadat hy sy se rooi oog oor die agterste duin gestoot het.  Die somer is hier en die warmste hemellig kondig dit luidkeels en oordadig aan sodat selfs die wind gaan wegkruip het.  Heel vergete is die snoesigheid van ‘n trui-dra winter en die hande vryf van ‘n hoendervel verfrissende lente oggend.  Ver verby die uniekheid van ons eenvoudige buitestort met grasbedekte kante en geroeste brandblik vir die huisrommel, dans lugspieëls op die kim sodat almal behoorlik kennis kan neem van die hitte.

Eers gooi ek die rommelsak in die brandblik, steek dit aan die brand en soek dan die koeligheid van die  kantoor op. Die Mooiste Mooi  maak reg vir nog ‘n dag saam met ‘n paar van Noenieput se vrouens. Ek kon die verwagting en opgewondenheid van opstaantyd af aan in haar se hartsvensters sien want vandag kan sy weer tyd saam met die vrouens spandeer. ‘n Dag waar gekuier, gekoggel, gelag, gesing, gehuil, gebid en ook bemoedig word. Al hierdie dinge terwyl hulle se hande kunstig die mooiste geskenke uit nuttelose weggooi dinge vorm.

Een vir een kom die vrouens nader en groet vriendelik so kuier-kuier deur die kantoorvenster en loop dan verder aan.  Hulle stemme verdoof en dan raak dit stil op die werf, baie stil en ek weet dat die Mooiste Mooi nou hulle volle aandag het.  Daar word nou so al met die gekuier saam gewerk.

Kort na ‘n ontploffing in die brandblik gil een van die vrouens so hard as wat sy kan, “Dit brand, kom gou, die stort brand!”  ‘n Verdwaalde kooltjie het met die ontploffing tussen die gras van die stort beland.  Die Mooiste Mooi hardloop verward die kantoor binne en roep histeries om hulp.  Ek los alles en saam-saam storm ons om die hoek van die huis en steek dan vinnig vas.  Geelrooi honger vlamme wurm hulle tussen die droë gras in en poog so om hulle verterende gulsigheid te stil.  Hoër en hoër trek die witgrys rook die lug in en kondig hierdie vretende vuur se vernietigende teenwoordigheid aan.

“Doen iets, doen tog net iets” skree die Mooiste Mooi steeds histeries, maar onse hande hang slap, want die vuur is doodeenvoudig net te warm en net te erg.  Selfs van die wasgoed op die waslyn raak so warm dat dit spontaan begin brand.  ‘n Magteloosheid omvou ons en met oë wyd gesper staar ons verdwaas om ons heen.  Die konsternasie om die buitestort het die hele dorp in rep en roer en almal staan nuuskierig nader. Die meeste hang soos wasgoed oor die erfdraad terwyl die braafstes onder hulle dit nader waag.  Almal wonder so by hulself of die brand ook verder sal versprei.

‘n Paar minute later en alles is verby.  Al wat nou oor is, is ‘n hoop smeulende gras ‘n paar erg verbrande teerpale en natuurlik soveel kosbare sentimentele herinneringe.  Ek kan die trane oor my se wange voel loop.  Ons buitestort en ‘n klompie klere is verniel, verbrand en vernietig.  Ek voel so swak, so klein teen die mag van ‘n vernietigende brand.  Veral as die verwoestende brande van die lewe soms onbeheersd in elkeen van onsse binnekante woed.

Skielik proe ek die sout op my se lippe wat my opnuut laat besef:
 
My se binneste-binne is soms houtskool verbrand
Verwoes, verniel, geen kans aan hierdie kant

Ek is seer Here, my binnekant stukkend!
Wrede brande woed in my, wurgend snikkend

In sak en as moet ek voor Hom staan
Sy liefde het vir my hoop gebaan

Here, wat gemaak met die skade in my se hart
My kind spoel jou hart uit met trane vol smart

Ek kan steeds die trane oor my se wange voel
In lewensbrande bly ek gespaar vir ‘n doel

My geliefde kind, laat jou trane vrylik loop
Dis My manier om seer van jou te stroop

Ek weet van almal selfs die kleinste traan
Almal opgevang in ‘n kruik wat langs My staan

Iedere een gestort want dit is goed
Trane is die sagte reën vir jou gemoed.


Proe jy ook soms die sout op jou se lippe?

Wel, vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ..................


Êrens tussen duine woon mense wat vir jou omgee omrede jy kosbaar en spesiaal is.
 

Die Kalahari Cronjé’s
(Landlyn 054-551 1000
)

Sunday, January 15, 2012

‘n Spinnekoplike ervaring

Groete en Vrede.


Daar word gesê dat daar geen amp meer gesogt is as dié van man in die huwelik nie. Dis geensins sonder rede nie want dit bly ‘n voorreg asook ‘n goddelike opdrag om sekere verantwoordelikhede in en om die huis na te kom. Dis nou daardie tipe dinge wat geen dominee, pastoor of leierouderling tydens huweliksbegeleiding vir jou vertel nie. Dink net, jy as man kry soveel geleenthede om unieke en spesiale dinge vir haar te doen net omrede jy die hoof van die huis is. Dinge wat help dat sy meer na jou hunker om jou lief te hê. En tog, daar is manne wat hierdie verantwoordelikhede gruwelooslik agterweë laat en selfs ander betaal om dit namens hulle te doen.

Ek is ook een van daardie bevoorregte manne wat geseënd is met ‘n voortreflike en kosbare vrou. My Mooiste Mooi, ‘n liefdevolle lewensmaat en sielsgenoot wat langs my staan so deur die vet en maer van die lewe. Hoewel ons huwelik ‘n onbeskryflike ervaring is, wil ek nie daaroor uitwei nie. Hierdie storie gaan oor ‘n ervaring een laterige, warm somersaand. En wat 'n ervaring was dit nie!

Na die dag se harde werksaamhede het ek nogal uitgesien na ‘n goeie nagrus. Die Mooiste Mooi het al vroeg die aand die saligheid van droomland gaan opsoek en ek het ‘n rukkie later haar spore gevolg.  Met my arms liefderik om haar gevou het ek net so weggeraak toe sy my met die elmboog in die ribbes pomp en half bangerig vra of ek ook die gekrap langs die bedkassie hoor. Slaperig trek ek haar nader maar sy beur weg en staan dan op en los my alleen op ons dubbelbed. Sy gaan staan so amper in die middel van die kamer nadat sy die kamerlig aangesit het. Ondersoekend kyk sy rond en haar se lyftaal verander oombliklik toe sy hom sien. ‘n Spinnekop – een van daai groottes wat amper soos ‘n skerpioen lyk en hy hardloop vinnig reg op haar af.

Ek het by ingeligtes gehoor, en selfs in rolprente gesien, dat die Comanche-Indiane se oorlogskreet bloedstollend en vreesaanjaend is.  Maar dis 'n vulletjie teen dit wat op daardie oomblik uit die Mooiste Mooi se keel kom. Die arme spinnekop – en enige ander stukkie lewe in ons slaapkamer – moes sekerlik gedink het dat ‘n ultrasoniese klankwapen uit 'n ander wêreld getoets word. Die klank wat uit haar se mond kom dring spreekwoordelik in tussen alle murg en been en die spinnekop het dit voorwaar ook so ervaar. Vir ‘n minuut of wat is hy so onbeweeglik soos Lot se vrou daar in die Jordaanstreek, maar spring dan verward om en storm na die bekende donker skuilte onder ons dubbelbed.

Die Mooiste Mooi met haar sagte satynnagrokkie aan makeer die pas op haar se tone met haar se kaal knieë hoog opgetel terwyl die hande wyd uitgestrek is na voor. Haar se mond is koeëlrond getrek om te verseker dat haar gil wyd en deeglik deur ons ongenooide slaapkamergas en ook enige ander lewe in ‘n kilometer radius gehoor kan word. Dan, met net een tree en ‘n sierlike grasieuse boog spring sy tot bo-op die bed sonder om my raak te trap. Steeds weergalm haar noodroep wyd oor die sandduine van die Kalahari.

Ongelukkig vir die spinnekop kom die geraas nou van bo en dan ruk die bed ook nog boonop soos die Mooiste Mooi nog steeds die pas daarop makeer. Hy kies koers deur se kant toe want sy paniekknoppie is raak gedruk. Skielik verander sy hardloopstyl dramaties na iets soos ‘n kruising tussen ywerige polisiehond en ‘n stywebeen vetstert hamel. Met sy twee voorpote roei hy in die lug terwyl sy agterste pote met elke tree kort neffens die voorste pote neergesit word. Dit, terwyl sy lyf heen en weer waggel om ekstra spoed op te tel. By die deur gooi hy so ‘n Kaapse draai en hardloop weer die kamer in. Êrens tussen die spieëlkas en die klerekas slaan die spinnekop oor na ‘n normale hardloopstyl wat grens aan dié van ‘n windhond in volle vaart want sy agterpote kom elke keer hier langs sy ore verby soos hy hom inspan om spoed op te tel. Hier wil hy wegkom en gou.

Bangerig en bewerig staan ek van die bed af op en bewapen myself met ‘n flits en my nommer 11 plakkie. As ek nie vanaand hierdie harige gedierte die hiernamaals inhelp nie, gaan my manlikheid erg beskadig wees en sal die Mooiste Mooi my ook nie gou vergewe nie. Daarmee saam is die onthou van netnou se salige vrede van die pad droomland toe nog vars in my geheue. Versigtig lig ek onder die kas in maar die spinnekop is weg – heel weg. Na baie oorreding, paai en smeek om my Mooiste Mooi te kalmeer was alles weer normaal, alhoewel haar se oog die hele tyd die ongenooide gas gesoek het.

Die lig was net af en ek het haar beskermend nader getrek om vas te hou. Die lekkerte het net kom nesskop toe sy met mening die bedliggie aansit en regop spring op die bed. Weer word die pas makeer met haar se kaal knieë hoog opgetel terwyl sy vir haarself tyd hou met die kort afgemete gilletjies. Onverskrokke het die harige gedierte teen die bed soos ‘n bekwame rotsklimmer begin opklim. Die Mooiste Mooi se bewegings skrik hom af en hy kies weer die hasepad en gaan kruip weg in die hoek van die kamer.

“Maak hom dood” is al verstaanbare woorde wat uit die Mooiste Mooi se ronde mond kom. Die res was ‘n onverstaanbare aanhoudende gegil op ‘n toonhoogte wat varieër tussen hoog en baie hoog. Ek het nie besef sy het soveel asem in haar se longe om so lank aanmekaar te gil nie. Lomp en half deur die slaap val ek uit die bed terwyl manlike instinkte oorneem. Nes ‘n oerman van ouds soek ek rond vir ‘n knuppel of ander slaanding om hierdie nagverstoorder die lewe uit te help.

‘n Rukkie later en alles is verby. Die spinnekop is eers vermorsel met my swart nommer 11 plakkie en daarna verdrink in die spoeltoilet om seker te maak hy is weg. Vir ‘n derde keer word die lig afgesit en vir ‘n derde keer skuif en skuif ons rond om ons lê te kry. En net voor die lekkerte kom inlê begin ons gelyk soos twee skoolkinders giggel oor die nagtelike spinnekoplike ervaring.

En ek weet … Vader giggel saam want dis ‘n saam gegiggel soos dié wat ‘n huwelik kosbaar maak.

Wel, vanuit die Agter-Kalahati tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ................

Êrens tussen duine woon mense wat vir jou omgee omrede jy kosbaar en spesiaal is.
 

Die Kalahari Cronjé’s
(Landlyn 054-551 1000
)

Sunday, January 8, 2012

Vriendskapsvlam van hoop

Groete en Vrede!!!


Die geur van die laatmiddag se sterk moerkoffie vul ons vriende se oorloop kombuis en verwelkom ons sintuie in ‘n wêreld van oorvloedige smaak en bederf. Ons was al van tevore ‘n paar keer hier en het elke keer lekker oorgestaan. Dis juis in hierdie einste voorslagplaas se kombuis waar ek en die Mooiste Mooi voor verlede maand ons rondom vol geëet het en dit, nog voor die soetigheid voorgesit is.

Kort na die groet en ons uitvra na ons vriende en hulle hartsmense se wel en weë, kan my Mooiste Mooi die opgewondenheid in haar se binneste-binne nie meer inhou nie. Met haar se groen oë wat skitter vertel sy breedvoerig en sonder stop, soos ‘n onkeerbare standstorm uit die woeste weste, van die groot lekkerte om kool, spinasie, wortels, tamaties, aartappels, uie, patats, beet, blomkool, appels, piesangs, perskes en ‘n verskeidenheid ander vrugte en groente aan die vergete mense van die Agter-Kalahari te kon uitdeel. Nes ‘n goeie Graad 1 onderwyseres word alles deeglik gedoen en geen detail is oorgeslaan nie.

Eers vertel sy van die kosbare voorwêreld mensegoed wie se gewersharte daardie dag so wyd oop gelê het soos die Rooisee met die volk se deur-loop. Daarna beskryf sy in die fynste besonderhede hoe elke kartondoos aan die binnekant eers met polistireen uitgelê en daarna met vars produkte gevul is. Want hierdie vars groente en vrugte moet na meer as 870 km se vervoer in die warmste somer nog kraakvars in die Agter-Kalahari afgelaai word. Ai, die meet, die sny en die insit, so saam met die gesels en gekoggel, het almal se harte sommer so ‘n bietjie vroliker saam met die werksaamhede laat klop. Opgewonde, tussendeur die werksaamhede, wonder ek wat die Kalaharimense se reaksie sal wees op hierdie ongekende genadegeskenk uit Vader se hand.

Die Mooiste Mooi se tee word koud maar dit bring haar geensins van stryk nie. Onverpoosd borduur sy voort terwyl haar se hande al vinniger en yweriger saampraat. Dit waai en swaai saam met elke woord en beklemtoon die opgewondenheid in haar se binneste-binne. Ai, waarvan die hart van vol is, stroom mos by die mond uit, word daar altyd gesê.

Dan vertel sy dat die boodskap van vars groente en vrugte soos ‘n weghol veldbrand deur die gemeenskap gespoed het. Netnou kan daar by die vernietwinkel na hartelus met ‘n briefie vol dankiewoorde gekoop word. ‘n Groepie wat van vroeg af buite die hek gewag het, kom koeskop nader om op my versoek te help uitpak. Grootoog staan hulle en kyk na die vrag groente en ander snuisterye op die agterstoep wat donkertyd die vorige aand afgelaai is. Nou moet dit net in pakkies gemaak word en dan ... dan begin die hartsvreugde se gejubel.

Die hoogtepunt oomblik breek aan. Die vernietwinkel is oop. Met pynlike presiesheid beskryf die Mooiste Mooi die verwondering op die mense se gesigte want so ‘n groot verskeidenheid van kossigheid ken hulle nie. Daarna deurdring blydskap en dankbaarheid hulle menswees en dit spoel oor hulle se lippe. Ai, die lekkerte van ‘n opregte glimlag (veral uit ‘n tandlose mond) kan mos nie geweeg of gemeet word nie. Daar word dankie gesê en gekuier en gekoggel en geskerts met mekaar. Voorwaar ‘n oorverdowende kakofonie van klank.

Die stilte in rondom die kombuistafel in die oorloop kombuis is hoorbaar toe die Mooiste Mooi weer asemskep.  Sy wou nog vertel en beduie van ‘n vergete Kalahari mens se opregte woorde “Die Djere se voorsieningheid het my se lewe nou gemaak,” toe ons plaasvrou vriendin haar skielik onderbreek. “En julle het vir my niks gebring nie! Waar is myne? Het jy al daardie goete vir die hotnotte gegee en niks vir my nie? Nee wat, julle maak nie mooi nie, dis mense soos julle wat maak dat hulle so suip. Julle dra mos kos en klere aan en nou hoef hulle nie meer daaroor te worry nie. Julle maak dat hulle so suip want julle sit geld in hulle se hande.”

Skok slaan spierwit op my en die Mooiste Mooi se gesigte uit. Stomstil en oopmond sit ons daar terwyl onse oë met verbasing na mekaar staar. Hierdie uitbarsting van ons vriendin het niemand verwag nie. Stadig maar seker kom ek tot verhaal en wou iets sê maar Hy het my ferm tot stilte gemaan. In stilwees en hoop word Hy meer en ek minder.
 
‘n Dag of wat later sit ek en die Mooiste Mooi êrens op ‘n groot rooi sandduin en beleef die stille skoonheid van ‘n diep rooi en helder oranje sonsondergang. Die wolke lyk soos vlamme wat in die hemelruim en op die verste sien brand. Nog ‘n dag is verby en ek wou net darem eenkeer oor daardie dag se kwetsende ervaring protesteer toe Sy Geeswind saggies fluister, “Ware vriendskap is om saam met iemand te hoop in die soeke na ‘n egte waardering terwyl daar saam gesmag word na opregte liefde. Al beteken dit soms dat jy deur ander se wrede woorde in die sand vertrap word.”

En nou ... brand êrens in my se binnekant brand weer ‘n vriendskapsvlam van hoop ... want om goed te doen bly steeds beter as om reg te wees.

Wel, vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ..................

Êrens tussen duine woon mense wat vir jou omgee omrede jy kosbaar en spesiaal is.
 

Die Kalahari Cronjé’s
(Landlyn 054-551 1000
)


Naskrif

Mag 2011 se Kerstyd en 2012 se koms ‘n besondere tydperk van liefde en danksegging in jou lewe wees.  En wanneer die kersboom met al die liggies weggepak word tot volgende jaar, weet dat Jesus nie saam gebêre wil word nie want waar Sy se liefde is, is daar altyd kosbare wonderwerke.

Tuesday, July 5, 2011

Gatdamme van lewe

Geeneen van ons is waarlik lus vir die laatmiddag, vroegaand rit huis toe nie. Die dag in die dorp was lank en warm en die droë, drukkende hitte laat klein druppeltjies sweet oral oor jou se moeë lyf uitslaan. Daarmee saam trek die gemoed so ‘n bietjie swaarder as normaalweg want onse jongste is weer koshuis toe. Die rustyd tussen twee skooljare was vir almal net te kort. Nog net ‘n stop hier en ‘n vinnige oorstaan daar en dan is dit ons en die langpad Noenieput toe.



Groot, swaar, wit wolke vol belofte bekruip ons versigtig vanuit die westelike kim terwyl kniehoog Boesmangras stylvol en statig is die skemerwindjie dans. Ons verlustig ons in die skoonheid en vrolikheid en raak vasgevang in die Skepper se kunssinnigheid. Nou-nou is die skemerte verby en dan behoort die Kalaharivolmaan met stylvolle kundigheid hierdie waterdraers te omsoom. “Onthou tog, Ek is die Lewegewende water en daarsonder kom alles tot stilstand,” fluister Hy saggies in my se hart. “Dankie Jesus,” fluister ek terug en meteens voel die huis nie meer so ver nie.  



Met sowat 85 kilometer om te gaan, gebeur alles skielik in stadige spoed. Die koedoekoei reageer instinktief van skrik toe sy van agter ‘n groterige groen soutbos op die stofpad uitloop toe ons amper teenaan haar is. Lenige spiere in haar se voorbene reik ver na voor terwyl die agterbene saamtrek weg van die gevaar af. Haar se donker oë is verskrik en sy rek haar nek om vinniger verby ou Lasarus (ons 17 jaar oue Mazda dubbelkajuit) te kom. Die Mooiste Mooi wou nog waarsku maar sy is heel te laat. Vrees straal uit die Koedoe se  se swart oë. Instinktief weet sy dat die dood heel moontlik by haar, maar ook by ons, wil kom lê. Dof eggo en weerklink die slag diep in my en die Mooiste Mooi se binnestes in. Ek sien hoe die koedoe ‘n slag of wat in die rondte tol om net daarna soos ‘n ou voersak in ‘n vaalbruin stofwolk inmekaar te sak. 



Verstar sit ek en wag vir die pyn, die seer, die verminking en selfs die dood. Dan kyk ek vinnig na links en sien hoe die Mooiste Mooi (hand voor die mond en gesig onnatuurlik wit van die skok) verskrik voor haar uitstaar. Ek sluit ou Lasarus af en klim met deegbene versigtig uit. Die koedoe lê plat op haar se linkersy, skop-skop nog so ‘n bietjie en sukkel dan met ‘n stywe nek en drie bene orent. Haar se regterheup is diep gekneus van die impak en sy voel heel onlekker. Beskuldigend bekyk sy ons met oë vol minagting, tel haar se kop trots omhoog en strompel so op drie bene van ons af weg. “Ons kon dood gewees het,” sê ek en die Mooiste Mooi so gelyk vir mekaar terwyl ons plaaslike koerant se opskrif van ‘n koedoedood voor my se oë flits.



‘n Paar minute later en dankbaarheid het kom nesskop in onse harte. Ondersoekend bekyk ek die skade aan ou Lasarus en sien dan hoe die plas water onder sy se neus al groter en groter word. Êrens het die verkoeler met die trefslag sleg seergekry en nou lek hy, vinniger as wat aanvaarbaar is, maar hy lek. Versigtig maak ek die verkoelerprop los en loer in. ‘n Kleine sweempie van nattigheid getuig van water wat vroeër hier was. Hoopvol maak ek ons drinkwater bottel oop en gooi die laaste bietjie daarvan in die verkoeler in. Dit verdwyn bloot in ‘n bodemlose put om kort daarna ook deel van die nattigheid op die stofpad te word. Beide van ons en Lasarus het water nodig, genoeg water, lewegewende water want ons weet daarsonder sal ons nie by die huis kan kom nie. “Onthou tog, Ek is die Lewegewende water en daarsonder kom alles tot stilstand,” het Hy mos netnou gesê.



‘n Hele paar uur later en die volmaan steek sy helder kop oor die oostelike kim uit en verlig die Kalahari-vlak. Steeds staan ons gestrand daar waar ons die koedoe getref het. Hulpsoek is onwys aangesien die naaste plaasopstal etlike kilometers te ver is, té ver om met dapper en stapper aan te durf. Wag en nogmaals wag is al wat ons maar kan doen want hopelik sal daar hulp van êrens af  kom. Skielik word die stilte van die laatnag versteur deur die gebrom van ‘n voertuig ver buite sig. Al harder en harder klink die potensiële reddingsklank in onse ore en dan sien ons meteens sien die ligte aankom. Onse harte juig want hulp is hier, Vader het onse smekinge gehoor en redding gestuur.



“Naand Pastoorgoed,” groet Dawid Padmaker uit die donkerte. “Watter moeilikheid het hier by jou kom huismaak vanaand?” Ek vertel hom breedvoerig van die ontmoeting met die koedoe en die dood wat ons vierkantig in die oog gestaar het. Saam-saam bekyk ons die skade aan Lasarus se bakwerk, die nattigheid onder sy se neus en die droë verkoeler. “Maar Pastoor,” beduie hy heel gemaklik, “dis mos nie so ‘n groot kopseer nie. Kom ons voer hom met water uit my waterkan en dan ry Pastoor van gatdam tot gatdam en verdrink die droogheid hierbinne met vars koel water. Ek sal aan Pastoorgoed se stofkant bly om te help as die moeilikheid Pastoor nie wil los nie.”



Gulsig slurp die verkoeler die water op om kort daarna oorlopens toe vol te blink in die volmaan se lig. Versigtig draai ek Lasarus se sleutel en begin dan te ry met my se een oog op die instrumentpaneel en die ander op soek na gatdamme, suipkrippe en ander waterbronne teen die pad. En so begin ons terugreis vol hoop en vol verwagting met die gerusstellende wete dat hulp kort agter ons sal wees. Van gatdam tot gatdam, van suipkrip tot suipkrip, van waterbron tot waterbron al stoppende met Dawid Padmaker as Vader se gestuurde aan onse stofkant.



Dit was al vroegoggend toe ek en die Mooiste Mooi onder die blink sterre van die donkerte in die buitestort staan nadat Dawid se groetstof gaan lê het. Die avontuur, wedervaringe en skok van vroegaand se gebeure is nog vars en borrelend in onse geheue. Terwyl die koel water van die buitestort nuwe lewe aan onse doodmoeg liggame skenk soos wat dit oor onse moeë lywe stroom, dink ek terug aan Jesus se kosbare waterwoorde en Dawid Padmaker se onbaatsugtige optrede as Vader se gestuurde kort daarna.



Saggies trek ek die Mooiste Mooi nader en hou haar beskermend styf teen my vas en ek weet ... Ek weet dat elkeen die skade van wrede en aaklige lewensbotsings bloot net met Vader se Water moet oorspoel. Genadewater vrylik beskikbaar uit gatdamme, suipkrippe en ‘n verskeidenheid van bronne langs elkeen se lewenspad.  Reddingswater wat Jesus as liefdesdaad ongevraagd vol hou terwyl die Veilige Gees as Vader se Padmaker jou rondom sal omvou.



Wel uit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou …………………………



Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.



Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn 054-551 1000)

Monday, June 6, 2011

HERKOUSELS

Groete en Vrede!!!

Alleentyd in jou
eie eenkant-wees wêreld is die teelaarde van stilwees saam met Hom as Skepper
van hemelgoed en stofaarde. Kosbare stilwees, in jou en om jou, want in daardie
kosbare stilwees vind ons dit wat ons soek en kry ons dit wat ons vra. En
wanneer Hy jou menswees in stilte met Sy liefde betrek, deponeer Hy soms
herkou-woorde in die bêreplekke van jou se binneste-binne.

Herkousels soos
...
Ware liefde soos
Syne is nes sagte intrekreën wat dae lank wyd oor ‘n dorre woestyn val.

Die
woestynlewe hier aan die vergeetkant van die land leer jou gereeld dat geloof
jou daaglikse brood is en nie net soetigheid vir spesiale geleenthede nie.

Ware geestelike
legendes het nooit hulle kinderlike harte êrens tussen die dwarsduine van die
lewe verloor nie.
Wees dankbaar
teenoor hulle wat onse binneste-binne volmaak: hulle is padmakers wat jou se
hart se grondpaaie gelykstoot.

Êrens
tussen die gekuier en gekerk op 'n veraf plaas besef ek so tussen die gesels
deur dat die meeste wat ons van liefde af weet ons by die huis geleer word.

In die oorlewing
van jou eie eensame en alleen woestynwêreld moet jy eers waarlik kan hoop en
droom voordat jy doen, asook opreg glo alvorens jy planne maak.

Stilwees maak die
binneste-binne vol en die kop skoon.

‘n Avontuur saam
met Hom is nie net die ontmoeting van onbekendes nie, maar ook om ou bekendes
met nuwe oë raak te kyk.

Terwyl die winter
se koue rek en strek, is die hoop van my se hart dat dit wat in blomtyd in jou
se binneste-binne geskryf is, die toets van tyd sal deurstaan.

In die winter
windstiltes van jou lewe eggo Sy se kosbare sagte fluistering hoorbaar duidelik
dat as ander hulle rugkant vir jou wys, jy maar kan omkyk om Hom reg agter jou
te sien staan.

Die saamsit langs
‘n alleenvuurtjie, êrens tussen niks en nêrens, oortuig telkens weer dat ware
vriendskap, nes yskoue kondensmelk, aan die lewe ‘n diepe soetigheid bied.

Die stilsit en staar
na ‘n Kalaharivlak vol verlatenheid verduidelik gereeld dat jou vermoë om te
groei beperk word waar jy en net jy alleen jou verste sien se grense trek.

Wel uit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker
slaap en onthou …………………………


Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy
kosbaar en spesiaal is.


Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn 054-551 1000)


Sunday, May 8, 2011

Die Lewensresep

Iemand klop saggies en versigtig aan die agterdeur
van die kombuis. Verbaas kyk ek en die Mooiste Mooi vir mekaar want dit is heel
ongehoord dat iemand so laat op ‘n Saterdagmiddag sal aanklop. Verwese staan
die Bruin vroutjie daar met oë, wat nes haar se skouers, grondlangs kyk.
“Middag jong” groet ek vriendelik. Ek wil-wil haar koggel maar hou my in want
haar se oë bly verslae grondlangs kyk. “Is Mevrou dan hier Pastoor?” vra sy so
half binnensmonds en skielik besef ek dat stilbly nou die regte ding is. ‘n
Swaar saak het loop nesskop in haar se binneste-binne en druk haar se skouers
en hart vas teen die grond.
“Mevrou, daar is niks om te eet by die huis nie.
Nie broodmeel nie, nie oorskiet kossies nie, niks nie Mevrou, niks nie. Ek het
nou maar die vrymoedigheid gevat en kom vra want die ander sal my tog net
verjaag. Is hier nie dalk ietsie kleins vir my en my Felicity se binnegoed
nie?” hoor ek haar koeskop sê.
Die woorde slaan die Mooiste Mooi diep in die hart
en sy laat haar se kop in stilte sak en draai terug die kombuis in. Groot
traandruppels vorm diep in haar se sagte groen oë terwyl sy saggies begin snik.
Ek trek haar nader onder my se blad in en saam-saam staan ons daar terwyl
smeektrane breë spore op onse gesigte los. Verslae tot in onse gebeente staan
ons styf teen mekaar want ‘n aaklige realiteit martel ons genadeloos daar waar
dit saak maak. Die realiteit van slegs twee blikkies Bully Beef op ons spensrak
en verder niks, absoluut niks. Die werklikheid van ‘n naweek met net ‘n blikkie
vleis per dag om te eet en verder dan niks. Daar is ys in die vrieskas en in
die yskas staan bottels en bottels koue water maar op die kosrak pryk slegs
twee rooi blikkies Bully Beef eensaam en verlate. Ons enigste kos totdat ons
weer die komende Maandag hopelik kan kry of aankoop. 
As gestuurdes wil ons so graag hierdie sukkelaar
help maar ons het nie eens genoeg vir onsself nie. “Here hoe kan ons hierdie
vergete vrou en haar kind dan help as ons nie eens genoeg het vir onsself nie”
pleit ek saggies. “Dis mos nie regverdig nie Here, U is dan ‘n God van oorvloed
en U het gesê dat ons kosskottels nooit leeg sal wees nie,” wil-wil ek Hom
begin afdreig.
Met die Mooiste Mooi steeds onder my se blad steek
ek hoopvol my hand uit na die yskas. Versigtig word die deur oopgemaak en ek
hoop om meer as net bottels koue water te sien. Ek hoop op ‘n wonderwerk van ‘n
vrieskas oorlopens toe vol van wit gevriesde vleispakkies en ‘n yskas wat kreun
in oorvloed. Teleurstelling oorspoel my soos ‘n vloedgolf want steeds is die
yskas leeg. Tog bly hoop bestaan want Hy het mos eenmaal duidelik gesê dat ons
kosskottel en waterbekers nooit leeg sal wees nie.
En so onthou die Mooiste Mooi weer stukkies van Sy
Lewensresep.
meer gee en minder
vra,
Ken ‘n boom aan sy vrugte en nie sy blare, want dis
My se binnekant snare.”
Woordeloos kyk ons vir mekaar dan draai die Mooiste
Mooi haarself onder my se blad uit. Sy gaan staan voor die amperse leë kosrak
en vat ‘n blikkie vleis in elke hand vas. “Here U het mos gesê” sê sy terwyl sy
doelgerig kombuisdeur toe stap om vir die eensame ons laaste stukkie kossigheid
te gaan gee.
Vroeg Sondagoggend en daar is ‘n weer klop aan die
kombuisdeur. Dié keer egter ‘n klop vol selfversekerdheid,  ‘n klop wat dadelik aandag eis. Verbaas maak
ek die deur oop en kyk die groot Kalahariboer verbaas in die oog. Ek wou nog
groet toe hy verskoning vra vir sy haastigheid terwyl hy die oorvol slagskottel
met skaapvleis in my se hande druk, omdraai en wegstap. Stil, verstom staan ek
daar terwyl hy kop omhoog, al fluitende, om die hoek van die huis wegraak.
Dan onthou ek weer Sy Lewensresep gefluister
gistermiddag voor ons leë kosrak.
“Meer dank en minder kla, meer gee en minder vra
Meer doen en minder praat, meer liefde en minder
kwaad
Meer vreugde en minder vrees, meer musiek wat
spanning genees
Meer blomme in die lewensuur as om helderkleurige
ruikers na die graf te stuur
Ken ‘n boom aan sy vrugte en nie sy blare want dis
My se binnekant snare.”
Wel uit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker
slaap en onthou …………………………
Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy
kosbaar en spesiaal is.
Die Kalahari Cronjé's
(Landlyn
054-551 1000)

Monday, April 18, 2011

Hartsafdruk sonder woorde


Die duine bewe-bewe onder die warm sonstrale toe
Jakobus met sy vuil, stukkende, blou oorpak ons tegemoet loop nadat ons so ‘n
ent van sy blyplek af stilgehou het. Elke tree wat hy gee is korter as
die vorige en sy hande is diep in die veiligheid van sy leë sakke weggesteek.
Hy staanloop koponderstebo en ek kan die verwarring in sy binneste-binne
aanvoel. Hy skud sy kop onbewustelik in ongeloof toe ek met die groetslag
daarop aandring om sy hand te skud en laat sy se oë dadelik grondlangs
loop. Die Mooiste Mooi word so half en half geïgnoreer en word slegs met
‘n stywenek kopknik gegroet. Skielik kyk hy verskrik om en sy se oë soek
vir Maria, sy al-te-maer-net-vel-en-been vrou wat verbouereerd met hulle
jongste aan die hand by hulle woonplek ronddraai.

Ons loop maar so staan-staan en praat-praat nader
na waar hierdie egpaar met hul drie kindertjies bly. Hulle eenvertrek
huisie is piepklein – skaars plek vir hulle enigste enkelbed sponsmatras, ‘n
wankelrige hangkas en die lendelam tafeltjie sonder stoele. ‘n Klompie groot
klippe hou dekade-oue, geroeste sinkplate as dak oor hulle koppe in plek.
Net buite die huisie se deur, hang ‘n wit smeulrook dik in die lug wat uit die
geroeste sinkplaat kookskerm draal. Dis hier waar Maria dié laatmiddag
water kook sonder iets wat daarin kan gaar word.


Maria hou kop en besef dat sitplek nou prioriteit
is. Vinnig soek haar se oë oor die vlak en sien dan ‘n verslete buiteband
raak. Sy skreeroep haar oudste van so ses jaar om hierdie stukkie weelde
nader te sleep sodat Vroulief daarop kan sit. Dan word hy geskel omdat hy
nie gou genoeg stene nadersleep sodat ek
daarmee ‘n stoel vir my kan prakseer nie. Hulle jongste, senuweeagtig en
skrikkerig omdat daar vreemde oorstaanmense is, soek verward melk, vertroosting
en ‘n skuilplek teen sy ma se bors.

Die son skuifel-skuifel van drie-doringbos tot
drie-doringbos om dan kleurvol gemaklik te loop lê by die westelike kim.
Daar raak hy vergete en sy laaste strale veg verbete om sigbaar te bly teen die
naderende donkerte. Jakobus se wêreld staan stil en niks maak meer vir
hom sin nie. Hy verstaan nie my aandring netnou om hom met die hand te
groet nie. Geen Boer het hom al in sy drie dekade lewensjare so met die
hand gegroet nie. Daarmee saam het dit nog nooit gebeur dat iemand met ‘n
ryding by sy se slaapplek kom stilhou het nie. Elke ryding hou mos maar
verby opstal se kant toe om daar te loop stop. Die meeste kere word daar
in die weelde van ‘n verkoelde sitkamer tee, koffie of iets koels gedrink
terwyl alledaagse belangrike sake bespreek en opgeklaar word.


My en die Mooiste Mooi se vrae en hulle antwoorde
raak stadigaan op en waarheen dan? ‘n Sagte suidewindjie stoot ‘n heilige
swanger stilte vol barensnood oor die rooi-bruin vlak en ek maak my se oë styf
toe. Diep in my se binneste-binne smeek ek om hulp “Here help!”
Skielik dink ek aan die kleine Saggeus en sy se plan om boom te klim. Ek hoor
ook die blydskap en vreugde in die kort mannetjie se stem want die Kêrelkind
van God gaan by hom kom oorstaan. En dan fluister Hy saggies,
“Jy
is hier – nes Jesus - om ‘n hartsafdruk by soekende mense te los:

‘n Hartsafdruk vol liefde.
‘n Hartsafdruk vol blydskap.
‘n Hartsafdruk vol vrede.
‘n Hartsafdruk vol lankmoedigheid.
‘n Hartsafdruk vol vriendelikheid
‘n Hartsafdruk vol goedheid
‘n Hartsafdruk vol getrouheid.
‘n Hartsafdruk vol sagmoedigheid.
‘n Hartsafdruk vol selfbeheersing.”

‘n Hartsafdruk sonder dat een woord gepreek is.

Wel uit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker
slaap en onthou …………………………

Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy
kosbaar en spesiaal is.
Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn
054-551 1000)