Monday, April 18, 2011

Hartsafdruk sonder woorde


Die duine bewe-bewe onder die warm sonstrale toe
Jakobus met sy vuil, stukkende, blou oorpak ons tegemoet loop nadat ons so ‘n
ent van sy blyplek af stilgehou het. Elke tree wat hy gee is korter as
die vorige en sy hande is diep in die veiligheid van sy leë sakke weggesteek.
Hy staanloop koponderstebo en ek kan die verwarring in sy binneste-binne
aanvoel. Hy skud sy kop onbewustelik in ongeloof toe ek met die groetslag
daarop aandring om sy hand te skud en laat sy se oë dadelik grondlangs
loop. Die Mooiste Mooi word so half en half geïgnoreer en word slegs met
‘n stywenek kopknik gegroet. Skielik kyk hy verskrik om en sy se oë soek
vir Maria, sy al-te-maer-net-vel-en-been vrou wat verbouereerd met hulle
jongste aan die hand by hulle woonplek ronddraai.

Ons loop maar so staan-staan en praat-praat nader
na waar hierdie egpaar met hul drie kindertjies bly. Hulle eenvertrek
huisie is piepklein – skaars plek vir hulle enigste enkelbed sponsmatras, ‘n
wankelrige hangkas en die lendelam tafeltjie sonder stoele. ‘n Klompie groot
klippe hou dekade-oue, geroeste sinkplate as dak oor hulle koppe in plek.
Net buite die huisie se deur, hang ‘n wit smeulrook dik in die lug wat uit die
geroeste sinkplaat kookskerm draal. Dis hier waar Maria dié laatmiddag
water kook sonder iets wat daarin kan gaar word.


Maria hou kop en besef dat sitplek nou prioriteit
is. Vinnig soek haar se oë oor die vlak en sien dan ‘n verslete buiteband
raak. Sy skreeroep haar oudste van so ses jaar om hierdie stukkie weelde
nader te sleep sodat Vroulief daarop kan sit. Dan word hy geskel omdat hy
nie gou genoeg stene nadersleep sodat ek
daarmee ‘n stoel vir my kan prakseer nie. Hulle jongste, senuweeagtig en
skrikkerig omdat daar vreemde oorstaanmense is, soek verward melk, vertroosting
en ‘n skuilplek teen sy ma se bors.

Die son skuifel-skuifel van drie-doringbos tot
drie-doringbos om dan kleurvol gemaklik te loop lê by die westelike kim.
Daar raak hy vergete en sy laaste strale veg verbete om sigbaar te bly teen die
naderende donkerte. Jakobus se wêreld staan stil en niks maak meer vir
hom sin nie. Hy verstaan nie my aandring netnou om hom met die hand te
groet nie. Geen Boer het hom al in sy drie dekade lewensjare so met die
hand gegroet nie. Daarmee saam het dit nog nooit gebeur dat iemand met ‘n
ryding by sy se slaapplek kom stilhou het nie. Elke ryding hou mos maar
verby opstal se kant toe om daar te loop stop. Die meeste kere word daar
in die weelde van ‘n verkoelde sitkamer tee, koffie of iets koels gedrink
terwyl alledaagse belangrike sake bespreek en opgeklaar word.


My en die Mooiste Mooi se vrae en hulle antwoorde
raak stadigaan op en waarheen dan? ‘n Sagte suidewindjie stoot ‘n heilige
swanger stilte vol barensnood oor die rooi-bruin vlak en ek maak my se oë styf
toe. Diep in my se binneste-binne smeek ek om hulp “Here help!”
Skielik dink ek aan die kleine Saggeus en sy se plan om boom te klim. Ek hoor
ook die blydskap en vreugde in die kort mannetjie se stem want die Kêrelkind
van God gaan by hom kom oorstaan. En dan fluister Hy saggies,
“Jy
is hier – nes Jesus - om ‘n hartsafdruk by soekende mense te los:

‘n Hartsafdruk vol liefde.
‘n Hartsafdruk vol blydskap.
‘n Hartsafdruk vol vrede.
‘n Hartsafdruk vol lankmoedigheid.
‘n Hartsafdruk vol vriendelikheid
‘n Hartsafdruk vol goedheid
‘n Hartsafdruk vol getrouheid.
‘n Hartsafdruk vol sagmoedigheid.
‘n Hartsafdruk vol selfbeheersing.”

‘n Hartsafdruk sonder dat een woord gepreek is.

Wel uit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker
slaap en onthou …………………………

Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy
kosbaar en spesiaal is.
Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn
054-551 1000)


No comments: