Thursday, April 30, 2009

DANKIE

Dankie, vir hierdie goeie more, dankie vir hierdie nuwe dag........sing Lance James.

Hoeveel vra ons van ons Hemelse Vader op 'n dag en hoeveelkeer se ons dankie.
As ons vir 'n oomblik stil word en met die gedagte deur ons seëninge werk, is daar 'n oneindige lys van dankies wat ons aan die Vader moet gee. Maar doen ons dit....? Nee ons dink as ons selfvoorsienend is dan hoef ons nie daarvoor dankie te se nie:

Dankie Heer vir gesondheid sodat ek kan werk!
Dankie Heer dat ek 'n werk het om te kan geld verdien, sodat ek vir my gesin kan voorsien in 'n dak oor ons koppe, 'n warm bed om in te slaap, kos om elke dag op die tafel te sit, 'n motor of motors om mee te ry, klere om aan te trek, skoene aan my voete.
Dankie Heer dat ek voete het om mee te loop, oë om mee te sien en na u handewerk te kyk, 'n neus om om mee te ruik aan al die wonderlike geure wat uit 'n prag blomtuin uit kom. Dankie vir ore om mee te hoor en elke geluidjie wat daar is, die veraf gerammel van 'n donderweer die stemmetjie van 'n klein babatjie mee te kan hoor. Dankie dat ek 'n mond het om mee te kan praat en met ander mense te kommunikeer.
Dankie vir die suurstof wat ons elke dag inasem. U het geweet toe U die mens geskape het en die asem in hom ingeblaas het, dat ons suurstof sal nodig hê om te lewe. Suurstof raak nooit op nie Here, in U alwetendheid het U dit so gemaak dat bome en plante daardie broodnodige suurstof vervaardig. Help ons asb om daardie bron nie te verniel en te vernietig nie.
Danie Vader vir die maat wat U vir my gegee het, sonder hom/haar sou my lewe maar bra vaal gewees het. Dankie Here vir die kinders wat u vir my geleen het, en dankie Vader vir die voorreg om hulle groot te maak soos U dit wil hê. Ek weet nie of dit altyd suksesvol is of was nie maar sonder U genade sou dit 'n groot fiasko gewees het. Dankie vir U genade.

Bo alles Here dankie vir U. Dat U die lewende God is dat U alles gemaak het dat U ons verstand gegee het om al die wonderlikste uitvindings mee te kan doen. Dankie Jesus dat u die prys betaal het, dat U gesterf het sodat ek kan Lewe. Dankie dat U die weg en die waarheid en die lewe is en dat U die enigste Weg na die Vader is.
Dankie Vader dat ons in nederigheid voor U kan neerbuig, om U te aanbid en aan U al die EER en AANBIDDING van ons harte te kan gee.
Dankie vir alles my Pappa-Vader ek het U lief.
Amen

Wednesday, April 29, 2009

WOORDE

Baie jare gelede het 'n Engelse liedjie "Words" die lig gesien en iewers in die liedjie is die volgende woorde:

Talk in everlasting words, and dedicate them all to me,
And I will give you all my life, I'm here if you should call to me
You think that I don't even mean a single word I say
It's only words and words are all I have to take your heart away

Woorde is die goed wat uit jou mond kom wanneer jy praat. Terwyl jy praat spat woorde in alle rigtings, party na links, ander na regs, ander weer na onder en party weer na bo. Part woorde word sag uitgespreek en ander word weer hard uitgespreek en dan is daar natuurlik ook die wat uitgeskreeu word. In sommige gevalle is daardie woorde fluweelsag en in ander gevalle is hulle weer kliphard. Die oomblik wat 'n woord jou mond verlaat, tref dit iewers iemand se oor. Partykeer tref dit net een paar ore maar ander kere tref dit weer meer pare ore, partykeer tref dit die regte ore en ander kere weer die verkeerde ore. Hoe dit ookal sy, woorde kan 'n blywende uitwerking op mense hê. In sommige gevalle kan woorde 'n goeie uitwerking op iemand hê en in ander gevalle weer 'n slegte uitwerking!

Ons moet versigtig wees wat ons sê, en natuurlik, hoe, ons dit sê. Die invloed van woorde, as dit geglo word, kan vêrrykend, maar dit kan ook verrykend wees. Partykeer skerts jy net en almal weet om jou nie ernstig op te neem nie want dit is net 'n gekskeerdery en jou woorde word nie geglo nie.

Dit is nog al die eeue so, met woorde kan jy iemand oplig en amper van die persoon royalty maak, maar jy kan hom ook afstamp dit hy in die diepste van elende beland.

Dawid bid in Psalm 141:3 Here, stel 'n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.

Kom ons maak dit ook ons gebed!
As ons nie iets goeds of opbouends van iemand kan sê nie kom ons bly liewers stil..!

Tuesday, April 28, 2009

TWEE STEMME

Het jy ookal een van daardie dae gehad. Jy weet mos! Jy staan die oggend op met so 'n effense mof gevoel tussen die oë. Dit is seker maar die begin van 'n sinus aanval troos jy jouself. Jy voel 'n bietjie nukkerig. Daardie voorkop is so op 'n plooi getrek en die oggend koffie is ook nie so lekker nie, so 'n hond in die mond smaak...! Ag ek sal wel beter voel as ek eers deur die bad of die stort gespring het........ Die water druk het geval en daar kom net so 'n ou dun straaltjie water uit die kraan, dit help nou ook nie juis veel om my nukkerigheid te laat oorgaan nie.

Die dag sleur verder so stadig aan, maar die nukkerigheid wil jou nou ook nie heeltemal los nie. Gelukkig is dit 'n redelikke stil dag by die werk, op stadiums wil die baklei waarmee jy opgestaan het met alle geweld uitkom, maar jy byt dit terug, gryns net daardie aangeplakte glimlag na jou kollega toe. Jy probeer jou so ver as moontlik afsonder van die res van die werkers sodat die versoeking jou nie moet ry nie. Kort-kort kyk jy op die horlosie en wens die dag om.

Gou na werk net by 'n besigheidsplek aangaan om iets op te tel wat jy bestel het. Dit is net daar waar die paw-paw die waaier tref. Die dametjie agter die toonbank het net soos jy die oggend met 'n mof gevoel opgestaan, en sy probeer ook al die hele dag al om nie bakleierig te wees nie. Skielik kom julle bymekaar uit met katastrofale gevolge.......! Sy wil jou vertel dat daar drie items vir jou bestel is terwyl jy voor jou siel weet dat jy net twee items bestel het. Die artikel wat jy bestel het is nou veel duurder as die prys was aanvanklik genoem is. Op die ou einde is julle aanmekaar en vlieg woorde en beskuldigings oor en weer. Van jou kant af voel jy dat jy nie weer die onderneming sal ondersteun nie, en jy sê dit vir haar...!. Aan die anderkant voel sy dat dit beter is as jy nie weer van die onderneming gebruik moet maak nie, en sy sê dit vir jou.....!

Na dese lê daardie frons soos ploegvore oor jou voorkop en jy is so ontsteld dat jy in jou spoeg kan stik. By die huisgekom is jy en jou lewensmaat uit die staanspoor haaks, jy so opgeblase soos 'n brulpadda en jou maat is besig om te karring aan jou. Wat is verkeerd? Sulke vrae in jou toestand, sleep jou humeur net nog verder deur die modder en kort voor lank gebeur dit waarteen jy al die hele dag veg. Jy ontplof!! Jy sê dinge wat jy nie bedoel nie, jy begin skreeuerig raak asof jy maat doof is, maar dit is nie waaroor dit gaan nie dit is daardie opgekropte frustrasie wat jy al die hele dag in jou ronddra wat jou laat voortstoom sonder brieke. Totdat jy uitgewoed is en dan gaan sit jy daar eenkant met jou dikbek. Nee, dit is ook nie oordat jy dikbek is nie, dit is omdat jy skaam is vir jou uitbarsting...! Jy voel diep binne jou dat jy met hierdie uitbarsting jouself verneder het, jy is skaam, jy weet nie eintlik hoe om dit wat jy gedoen het reg te maak nie.

Jy kyk na jou maat en sien daardie verleë uitdrukking op die gesig. Jou maat voel afgejak, verstoot, die vrae was uit belangstelling gevra, jou maat het nie die uitbarsting uitgelok nie. Dit was jou reaksie want jy wou eintlik alleen gelaat gewees het, jy wou daar eenkant gesit en sulk het. Nou sit jy daar eenkant, net jammer dat jy eers met jou maat moes veg. In jou gedagtes is jy besig om die hele geveg van a tot z oor te veg. Jy voel al skamer...., en jy weet as jy 'n greintjie menslikheid in jou het moet jy jou maat om verskoning gaan vra, want die hele geveg tussen julle twee was ongevraagd. Jy moet gaan regmaak waar jy verbrou het.

Jy kan ook voel daar is iets anders ook fout met jou. Daardie rustigheid en vrede waaraan jy so gewoond is, is ook nie daar nie en daar is 'n stemmetjie wat vir jou sê dat jy die Gees van God wat in jou woon, bedroef het met jou optrede en jy moet Hom om vergifnis vra, want wat jy gedoen het was sonde.
Dan is daar nog 'n stemmetjie wat in jou oor fluister, "ag man dit was nou ook nie so erg nie, hoekom moet jy nou eintlik om verskoning vra? Hoekom moet jy nou eintlik om vergifnis vra, gaan net aan met jou lewe. Jou maat sal in 'n dag of twee oor dit wees en vir die res.........!"

Na watter een van die stemme luister jy? Is jy bereid om die vrede van die Here permanent uit jou lewe te ban? As jy eers eenkeer hardekwas was en nie regmaak wanneer die stem van die Heilige Gees jou herinner dat jy verkeerd opgetree het en dat jy vergifnis moet vra nie, is dit 'n volgende keer makliker om daardie Stemmetjie weer te ignoreer. So verloor jy daardie pand!

Maak reg met jou maat en maak reg met die Here en die vrede wat alle verstand te bowe gaan sal jou deel wees! Onthou ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die magte en die owehede en die bose geeste in die lug.
Liewe Heer help my om stadig te reageer met my tong. Ek kan daarmee soveel skade aan my maat en medemens en ook aan myself aanrig. Bewaar my asseblief daarvan dat dae soos hierdie nie die alledaagse word nie, maar as dit gebeur Here, ek in diepe berou na U sal gaan om weer herstel te word, Amen

Monday, April 27, 2009

EEN OP 'N SLAG.....OF 200,000 OP 'N SLAG?

Het dit al met jou gebeur dat jy 'n projek aanpak en dan kry jy die gevoel dat dit baie langer gaan neem as wat jy gedink het, of jy voel dat jy nooit die eide gaan bereik nie? Jy gaan die huis regpak tydens die vakansie en na 3 dae is jy nog steeds besig met dieselfde vertrek, Dan wil jy sommer handdoek ingooi. Jy besluit om 'n nuwe oefenprogram te begin om die oortollige gewig 'n bietjie minder te maak en sommer terwille van algemene goeie gesondheid..... en na 'n week of wat is jy weer terug waar jy begin het.
Ons raak baie keer so vinnig oorweldig deur die grootsheid van 'n projek en die eindpunt wat nooit in sig kom nie, dan vergeet ons heeltemal van die reis waarmee ons besig is. Jy begin voel asof jy nooit die einde gaan haal nie, maar na 'n rukkie sien jy tog die vordering raak.

Mighty men konferensie, 200,000 mans. Wow!!!
Hierdie manne gaan die land omkeer!!!
Die hele land is aan die praat....

Miskien is jy jaloers op al die manne wat daar was en 'n goeie geestelike inspuiting gekry het, maar onthou elkeen van hierdie manne het presies dieselfde aantal ure in 'n dag teenoor jou wat nie daar was nie. Hoe maak ek 'n verskil vir Jesus? Om net daar waar jy elke dag leef, deur jou lewe die JESUS verskil te maak.

Die land gaan nie verander deur 'n politieke party nie. Die land gaan verander deur "een op 'n slag", Een kind van die Here wat 'n begeerte het dat ander ook kan deel in die avontuur van Christenwees. As daardie 200,000 manne na die naweek terugkom, kan hulle 'n verskil maak, maar doen jy ook net elke dag jou deeltjie vir die Meester.
Geniet die reis en los die eindpunt vir die Heilige Gees!!!

Met erkenning aan: Danie Jacobs

Friday, April 24, 2009

KRAGBRON

Die wêreld waarin ons leef, beweeg so vinnig dat ons amper nie kan byhou nie. Die hedendaagse lewe eis so baie van ons en daardie eise word by die dag sterker. Luister maar na die mense om jou, almal kla hulle is moeg en sat. Sommige mense bedank hulle veeleisende werke en pak op in die stad en trek na iewers op die platteland om hulle dae in rustigheid te slyt. Hulle kon doodeenvoudig net nie die druk langer hanteer nie.

Sou dit die antwoord wees om alles op te pak? Vir party mense is dit seker die antwoord, maar wat van die kinders van die Here? Hulle is net so onderhewig aan die druk en vind dit net so moeilik om dit te hanteer. Hulle wêreld val ook maar soms uit mekaar en dan verloor hulle perspektief.

Tydens Jesus se wandeling hier op aarde, het Hy ook maar tye beleef dat die samedromming van die skare om Hom, so erg was dat hy 'n wegbreek kans nodig gehad het. Jesus het hom dan afgesonder en eenkant gaan stil word voor Sy Vader. Daar het Hy weer krag geput sodat Hy kon aangaan om Sy taak hier op aarde te volvoer. Dink maar hoe Hy Hom gaan afsonder het die nag in die tuin van Getsemane, die nag toe Hy in hegtenis geneem is. Daar het Hy krag gekry vir dit wat voor Hom gelê het.

Is dit nie wat ons ook moet doen nie? Gaan stil word voor ons hemelse Vader, ons gaan inprop by die Kragbron van die lewe nie? Hy sal ons die krag gee om aan te gaan, ons moet Hom net vertrou, al ons vertroue op Hom plaas en ons lewe sonder terughouding aan Hom oor te gee.
Ons moet teogewyd wees en daagliks Sy aangesig opsoek, daagliks inprop by die Kragbron sodat ons batterye gelaai kan word, daarsonder sal ons in ons lewens op 'n ramp afstuur. Kom ons wend opnuut 'n poging aan om daagliks ons stiltetye by die Here te onderhou. As ons, ons dag met stiltetyd begin, dan kan daardie dag nie 'n flop wees nie!

Thursday, April 23, 2009

GEE DIE EERSTE TREE

Baie mens hoor God se stem wat hulle roep om hulle saak met Hom reg te maak. Hulle weet dat hulle dit moet doen en die begeerte om dit te doen is baie maal brandend, maar hulle is huiwerig om die oorgawe aan die Here te maak. As hulle dan die koste van so 'n oorgawe bereken dan voel hulle die prys is te hoog om te betaal. Hulle besef dat die hulle nie beide sonde en die Here in hulle lewens kan huisves nie. Wanner die Here jou uitnooi om die saak met Hom reg te maak, dan bedoel hy dat jy jou alles op die altaar moet sit vir Hom. Jy moet jou sonde bely en laat staan. Dit help nie om belydenis van sonde te doen en dan net weer aangaan om dit wat jy bely het te doen nie. Dit is iets waarmee jy klaarkry in jou lewe.

Baie mense dink dit is 'n vernedering en verleentheid om die knie te buig en hulle sonde emosioneel voor die Here te bely. Hulle wil nie met so iets vereenselwig word nie. Ons is mos grootgemaak met die idee dat sulke dinge by die sektes hoort. Ons gesindheid omtrent hierdie saak verhoed dat ons die wonderlike ervaring van sondebelydenis en sondevergifnes smaak. Dit is seker die mees verlossende ervaring wat 'n mens kan ondervind. Jy voel lig, jy voel gemotiveerd en jy het daardie wonderlike begeerte in jou om die Here te loof en te prys en te dien met alles wat in jou is.
Het jy dit al voorheen probeer? Dit het nie vir jou uitgewerk nie en nou is jy skaam omdat jy Hom voorheen teleurgestel het.
Wanneer die Here jou uitnooi om sy juk op te neem, dan is daar geen veroordeling in Hom jeens jou nie, trouens Hy staan met ope arms om jou terug te verwelkom. Die Woord sê: Nader tot God en Hy sal tot jou nader. Ons moet net die eerste tree gee.......!

Wednesday, April 22, 2009

BO OF ONDERSTEBO

Elke kind van die Here wat die begeerte het om 'n nader verhouding met sy Hemelse Vader te hê moet maar weet dat daardie paadjie ook nie elke dag met rose besaai sal wees nie. Ja daar sal sekerlik tye wees wat jy op die toppe van die berge sal wees, maar wees verseker dat dit ook gaan gebeur dat jy onder in die valleie gaan beland. Gedurende daardie tye dat jy bo is, ondervind jy geestelike groei, en dit voel vir jou of die Here baie naby jou is. Jy twyfel geen oomblik nie en jou geloof in God is groter as ooit en die vrede en vreugde wat alle verstand te bowe gaan is jou deel.

Dit is in hierdie tyd dat die vyand rondloop soos 'n brullende leeu en net na 'n geleentheid soek om jou onderstebo in die dieptes van die valleie te laat beland. Pasop ook daarvoor dat jy nie ongehoorsaam raak aan God omdat jy daar bo is nie, of dat jou liefde vir Hom afkoel nie, want dan sal jou vallei ervaring jou eie toedoen wees.
Ek luister nou in die afgelope week na 'n inbel program op die radio waar daar gepraat word oor wat sal jy doen as jy in so 'n situasie beland waar jy voel dat nie eers God jou sal kan help nie. Dit is interessant dat mense kwaad is vir God en Hom beskuldig as dinge in hulle lewens verkeerd loop, maar as dinge reg loop dan wil hulle in werklikheid niks met Hom te doene hê nie en vat hulle die krediet vir als. Dan lewe hulle hul lewe sonder enig gedagte om God te ken in hulle beplanning. Hy is dan nie deel van hulle lewe nie.

As mens daar onder in die vallei beland, dan moet jy aan die Here vashou en sonder ophou aan jouself bevestig dat jy 'n kind van die Here is, dat Hy jou hemelse Vader is en as jy eers eenmaal jou hand in die van die Here gelê het, sal Hy jou nooit los nie. Jy moet Hom glo en ten volle vertrou.
Dit is egter tragies dat dit ons is wat Sy hand los, en dan is ons kwaad vir Hom en beskuldig ons die Here dat hy ons verlaat het. Dan is ons absoluut onregverdig teenoor Hom.

God is nie 'n mens wat onbetroubaar is nie, Hy is die selfde, gister, vandag en môre. Hy het ons lief en dit sal nooit verander nie. Rom 8:38 - 39 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe o0f engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.

Maar onthou een ding, God haat sonde. As ons sondig, dan bou ons 'n skeidsmuur tussen ons en God se liefde.

Tuesday, April 21, 2009

VERKIESING 2009

Ons is 24 uur weg van die 2009 verkiesing. Wie jy is of wat jy is die uitslag van hierdie verkiesing gaan jou raak daarom is dit jou plig om jou stem uit te bring.
As jy nie gaan stem nie, is jy vir ewig die swye opgelê, want dan mag jy nooit die regering wat aan bewind kom kritiseer nie. Dit is nou jou geleentheid "speakup or forever hold your peace"

Wat is 'n verkiesing?
Die verklarende Afrikaanse woordeboek beskryf dit as:
  • Handeling
  • Gebeure van te kies
  • Wens, verlange, Keuse
  • Benoeming tot verteenwoordiger op die een of ander liggaam
  • Eleksie
  • Soos jy verkies
  • Uit vrye keuse
  • Sonder enige dwang
  • Soos jy self wil, begeer

Hoekom moet daar verkiesing gehou word? Sodat daar op 'n demokratiese wyse 'n klein groepie mense daar gestel word om 'n sekere taak te verrig. Om die land te regeer.

Behoort 'n Christen te stem? Baie defenetief. Alhoewel ons nie van hierdie wêreld is nie, omdat ons burgerskap in die hemel is, woon ons nog steeds in die wêreld. Toe Jesus opdrag gegee het aan sy dissipels om te gaan....., was dit ook om van hierdie wêreld 'n beter plek te maak. Deur te stem, maak ons 'n bydrae om van hierdie onder maanse, 'n beter plek te maak.

Waarna moet ons kyk as ons besluit vir watter party ons gaan stem? Al die partye se beginsels is in 'n mindere of meerdere mate geskoei op die dinge wat 'n Christen na sal kyk. Op die ou einde is dit egter 'n saak tussen jou en die Here wanneer jy agter daardie skermpie gaan staan om jou kruisie te trek. Ons moet bid oor hierdie saak en vra dat die Here ons sal lei om die regte keuse te maak. Politiek is nie 'n skoon spel nie, voor die verkiesing belowe al die partye jou alles, maar na die verkiesing.....!! Aborsie en genadedood is absoluut taboo terwyl die doodstraf 'n hoogs debateerbare onderwerp is wanneer dit kom by moord en verkragting. Die Christen moet ook bietjie sy verstand gebruik om so te stem dat een party nie sover die oorhand kry dat hy kan maak wat hy wil nie. Tans is dit die geval.

Nou ontstaan die vraag by ons. Wat as die regerende party nie die een is waarvoor ek gestem het nie en ek kan myself nie met hulle standpunte vereenselwig nie? Watter regeerders ookal aan bewind kom, is indirek deur God daargestel en ons moet onderdanig aan hulle wees.. Rom13:1-2 Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie en die owerhede wat daar is, si daar deur die beskikking van God. Wie hom teen gesag verset,kom dus in opstand teen die ordening van God en wie in opstand kom sal sy verdiende straf kry.

Wat kan ons as kinders van God doen om by te dra tot 'n meer effektiewe regering? Trek daardie passiewe pantoffels uit. Probleme sal nie verdwyn as ons soos 'n volstruis kop in die sand steek nie. Trek daardie aktiewe tekkies aan. Kla wanneer dinge verkeerd loop, stuur 'n faks, 'n brief of 'n e-pos. Moenie 'n deelgenoot van korrupsie en omkopery wees nie, ja soms sal die versoeking aan jou deur klop. Vra jou self dan die vraag af: Wat sou Jesus nou in die geval gedoen het? Ons kan nie alles maar net gelate aanvaar en passief toelaat dat verkeerde ding gebeur sonder om ons self daaroor uit te spreek nie.

Laastens ons moet bid. 2Kron 7:13-14 As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder My volk stuur, en My volk oor wie My naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe an hulle land laat herstel.

Here, hierdie komende verkiesing is iets wat ons almal gaan raak. Help ons elkeen om sy kruisie op die regte plek te trek, gee vir ons leiding daartoe asseblief Here. Dankie dat ons kan weet dat dit nie regtig saakmaak watter party gaan wen nie, U bly steeds in beheer. Help ons om nie moedeloos te word as ons na alles rondom ons kyk nie. Moedeloosheid is die duiwel se grootste wapen om kinders van die Here te oorwin.

Gaan stem, moenie wegbly nie vat 'n piekniek mandjie met tee en koffie saam en maak dit 'n ontspanne lekker dag. Leer ken sommer die mense wat in die toue saam met jou staan. Gesels met hulle maak vriende met hulle. Dit laat die tyd verbygaan en voor jy weet is jy besig om te stem.

Monday, April 20, 2009

BEHOU DIE GOEIE

Baie keer hoor jy die gesegde "Ek ondersoek alle dinge en behou die goeie" Nou waar kom dit vandaan? Dit kom die meeste van die tyd as antwoord wanneer iemand gekonfronteer word met doen en late en 'n lewenswyse wat nou nie heeltemal so op standaard is nie. Wat so 'n persoon eintlikvir jou sê is dat hy nou so roekeloos lewe en daardeur al die ondervinding opdoen sodat hy eendag instaat sal wees om die goeie van die slegte te onderskei en dan die goeie sal aanhang. As die persoon dit vir jou sê dan lewe jy in die hoop dat daardie eendag dalk binnekort sal wees en dat dit sal verhoed dat so 'n persoon oor die afgrond val en homself vernietig.

Hierdie aanhaling staan natuurlik in die Bybel en wel in 1 Thes 5:21. Dit beteken egter totaal iets anders as waarvoor dit gebruik word. As dit in konteks gelees word dan kom mens agter dat dit eintlik 'n vermaning is dat ons versigtig moet wees want nie elkeen wat in die Naam van die Here met ons praat, is noodwendig Sy boodskapper nie. Stel vas of dit wat mense in die Naam van die Here vir julle sê, regtig van Hom af kom. Bêre al daardie boodskappe wat wel van God af kom in julle harte, en gaan doen dit! Bly weg van die sonde af. As iets vir julle net na sonde lyk, laat staan dit dadelik. Julle moet niks met enige sonde te doen hê nie. (Die Boodskap)

So maklik word dit wat in die Woord van God staan gebruik om te motiveer waarom sekere verkeerde goed gedoen word. Daar word baie keer met God se Woord gemors en ons wat weet, laat dit gelate toe. Baie mense weet nie wat in die Bybel staan nie en dit pla hulle dus nie. Maar wat van jou en my wat weet. Is dit nie ons plig om op te staan en so 'n persoon te vermaan om nie aanhalings uit die Bybel te gebruik vir eie selfsugtige redes nie. Baie keer is so 'n persoon onkundig en weet nie eers dat dit 'n Bybelse aanhaling is nie, dan is dit immers ons plig om die persoon reg te help!

Friday, April 17, 2009

ONBETROKKENHEID

Daar buite in die wêreld loop daar baie mense rond wat teleurgesteld is in die mensdom omdat mense soos ek en jy hulle in die steek gelaat het. Ons lewe ongelukkig in 'n moderne wêreld waarin ons geen tyd vir mekaar het nie, ons is te besig met ons eie dinge en elendes. Wie van ons ken vandag nog ons bure van die vier aangrensende huise? Ek moet bely dat ek geen idee het wie my bure is nie, en ons bly al amper 'n jaar in ons huis.

Is dit wat van ons verwag word, om deur die lewe te gaan sonder om met ons medemens kontak te maak. Hoe weet ons hoe gaan dit met ons bure as ons hulle nie eers ken nie? Ly die huisgesin aan die anderkant van die muur nie dalk broodgebrek, terwyl ons dag vir dag aansit vir 'n groot maaltyd nie? Ons ken hulle nie, hoe sal ons weet? Bid ons ooit vir ons bure wanneer ons stiltetyd hou? Of is ons so selfsugtig dat ons net vir ons eie behoeftes bid, en net vir die wat naby ons is?

Weet jy daar loop baie mense rond wat seergekry het, seer, omdat ek en jy hulle gevaal het hulle het vertroue in hulle medemens verloor, hulle het vertroue in God verloor en hulle het vertroue in hulle self verloor. Hulle ploeter maar deur hulle alledaagse bestaan, sonder enige hoop op 'n beter toekoms. Hulle staan in die oggend op, gaan werk toe en probeer die dag so gou as moontlik omkry net sodat hulle kan huistoe gaan om daar te onvlug van mense. Hulle het ontvlugting, die bottel of die dagga zol of verdowingsmiddels van een of ander aard, en dit is die spil waarom hulle hele lewe draai. Hulle het geen gevoel vir hulle familie, hulle huisgesin nie. Die vroutjie en die ou kindertjies ly daaronder, hulle word die strate ingejaag en uit mekaar gevloek, geslaan dat hulle eintlik skaam is om hulle in die openbaar te laat sien. Sy het altyd 'n verskoning van een of ander aard hoekom sy 'n bloukol onder die oog het, of 'n kneusplek in die gesig.

Is dit reg om nie betrokke te raak nie? Hoe kan jy as jy die mense nie ken nie?

Weet jy in die Bybelse tyd het Christene so naby mekaar gelewe, dat hulle alles van mekaar geweet het. Hand 2:46 ..........en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet. Hulle het regtig mekaar se laste gedra, as iemand nie kos gehad het nie het hulle geweet en gehelp.
Hoe vêr skiet ons nie te kort as ons na hulle kyk nie. Wat 'n navolgenswaardige voorbeeld stel hulle nie aan ons nie.

Here, Ek moet my kop in skaamte laat sak. Help my asseblief om te verander sodat ek my medemens en sy behoeftes kan raaksien en dat alles nie net om my eie selfsugtige ek sal draai nie. Amen

Thursday, April 16, 2009

DIE PAD VOORENTOE

Daar het dit toe gister gebeur. Iets wat jy al baie lank uitstel. Jy het jou sondes met erns bely en die Here gevra om jou te vergewe en jy het 'n kind van die Here geword.
Hoe nou van hier af?

Kry vir jou 'n boek waarin jy kan skryf. Skryf daagliks neer wat met jou gebeur op geestelike gebied. Hou 'n joernaal of dagboek en skryf alles daarin neer. hoe en wat jy ervaar.
Jou eerste inskrywing behoort iets soos die volgende te wees: 15 April 2009 "Ek het vandag al my sondes bely en 'n kind van die Here geword"

As jy 'n Bybel het, stel ek voor dat jy daagliks tyd inruim en 'n stukkie lees. Begin by Johannes en lees met aandag, probeer verstaan wat jy lees. Voordat jy begin lees, bid eers en vra die Here om vir jou oop te maak wat jy lees sodat jy dit kan verstaan. Skryf in jou Joernaal wat jy verstaan, en as die Here vir jou 'n belofte gee, skryf dit neer. As jy vir die Here iets vra, skryf dit neer, sodat wanneer Hy jou gebed verhoor, jy kan terugkyk en sien wanneer het jy gevra.

As jy aan 'n kerk behoort, sorg dat jy van nou af gereeld dienste, bidure en ander onderlinge byeenkomste bywoon, sodat jy kan groei in kennis en in jou verhouding met die Here. As jy nie aan 'n kerk behoort nie, stel ek voor dat jy 'n kerk naby jou soek om by in te skakel. Moet nie uitstel nie, begin dadelik. Dit gaan dalk 'n tydjie neem om by die regte groep mense in te skakel, maar moet nie ophou soek nie. Jy sal weet wanneer dit die regte groep is. Jy het al soveel tyd verlore laat gaan dat jy nie kan bekostig om verder tyd te mors nie.
Jislaaik, sal jy dalk sê, wat se goed moet ek nou als doen, waar gaan ek die tyd kry? Wees rustig oor hierdie saak en ruim 'n tydjie in. Beste is om vroeg oggend te begin by die woord van die Here en gebed. Voordat jy nog met jou daaglikse take begin. Jy sal voel hoe verkwik en gemotiveerd jy is wanneer jy die dag so begin. Gedurende die dag, miskien in jou etenstyd, kan jy 'n tydjie afknyp om jou Joernaal inskrywings te doen.
Nog iets wat jy moet doen is om vir ander te vertel dat jy nou 'n kind van God geword het, en dat daar sekere dinge in jou lewe is wat gaan verander. Die kans dat jy bespot gaan word of onder die skindertonge gaan deurloop is baie goed. Wat ook waar gaan wees is dat jy dopgehou gaan word om te sien hoe lank hierdie "nuwe" jy gaan hou. Onthou een ding. Jesus het dit nie maklik gehad toe hy die prys namens jou betaal het nie. Dit was moeilik vir Hom, Hy was bespot, so sal dit dalk met jou ook gaan. Ek is seker daar waar jy werk of skoolgaan is daar mense wat reeds ook hierdie stap geneem het. Maak maats met hulle sodat julle mekaar kan ondersteun en mekaar se laste kan help dra. Jy het nou jou ou lewe lewe vaarwel toegeroep, dit is maar moeilik om te breek met ou gewoontes, en dit neem tyd. Bid gedurig dat die Here jou sal help om staande te bly, Hy is getrou en regverdig en Hy sal jou help.
Toe ek die stap geneem het baie jare gelede, was een van my grootste probleme, dat ek gevloek het soos 'n matroos en dat ek nie 'n sinnetjie kon praat sonder om die naam van die Here in een of ander vorm eidelik te gebruik nie. Toe ek die besluit neem het ek geweet dat ek nog baie gaan sukkel daarmee, maar die Here het my gehelp. Ek moes baie bid daaroor en om vergifnis vra male sonder tal. As ek 'n verkeerde woord gebruik het, het ek nie gewag tot vanaand of more nie, nee ek het my dadelik vir 'n oomblik afgesonder en die Here gevra om my te vergewe, sodoende het ek nie opgehoopte sondes gehad wat ek moes bely nie. Nee inteendeel dit is maklik wanneer die Heilige Gees jou herinner dat jy iets gesê of gedoen het wat verkeerd is om dit dadelik te bely en reg te maak. Dit is soos om hande te was, jy kan dit los en vanaand sukkel jy jou morsdood om hulle skoon te kry of jy kan wanneer hulle effens vuil word, gaan was. Dan voel jy sommer dadelik skoon en dan is jy swommer baie versigtiger om hulle nie weer te laat vuil word nie.

Ja alles gebeur nie sommer op een slag nie. Daar lê 'n lang pad vir jou voor. Hou jou oë op Jesus, moenie na omstandighede om jou kyk nie. Glo soos 'n kindjie. Moenie alles probeer analiseer nie.

Welkom in die familie van Jesus, ek bid vir jou.

Wednesday, April 15, 2009

HOE MAAK JY VREDE MET GOD

Ons hoor dat ons moet vrede maak met GOD en ons sondes bely, maar ons weet ook nie regtig hoe om dit te doen nie en ons weet ook nie regtig hoekom ons dit moet doen nie.
Daar is 'n behoefte en 'n leegheid in my hart en ek het al vir 'n lang tyd elke aand as ek Psalm 23 gelees het, ook gebid en gevra dat die Here my sondes moet vergewe, maar daar kom geen sigbare verandering in my lewe. Ander mense wat ek gehoor het wat "by die Here uitgekom het" kon ek sien dat daar verandering in hulle lewe gekom het. Hulle lewe nou anders as voorheen en dit maak my jaloers....

Omdat ons wanneer ons gebore word op 'n pad weg van God af is, moet ons 'n omdraai maak om na God toe te gaan en Hy nooi ons:
Jesaja 1:18 Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.

Hy waarsku ons:
1 Joh 1:6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.

Hy gee vir ons goeie raad met 'n belofte:
1 Joh 1:7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar en die bloed van Jesus Christus, Sy Seun reinig ons van alle sonde.

Hy waarsku ons weereens:
1 Joh 1:8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

Weereens is die belofte daar:
1 Joh 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Dan die finale belofte:
Joh 1:12 Maar almal wat hom aangeneem het, aan hulle het HY mag gegee om kinders van GOD te word, aan hulle wat in SY naam glo.

Nou hoe doen ek alles?

Ek gaan op my knieë en bid die volgende gebed:

Jesus, ek erken dat ek 'n sondaar is en dat ek totaal verlore is sonder U. Dankie dat U namens my kom sterf het en so vir my oortredinge betaal het. Ek bely nou al my oortredinge voor U (noem hulle op in jou gebed rook, drink, steel, kwaadpraat, skinder, vloek, bedrog, owerspel, mishandeling ens. luister wat sê die Here vir jou wat jy moet bely Hierdie is maar voorbeelde en as jy nou iets mis en die Here herinner jou later aan iets dan bid jy net weer en noem dit voor die Here) en vra U om my te vergewe van al die ongeregtighede wat ek van my vroegste jare af gedoen het, en my te reinig met U bloed.
Ek draai nou my rug op die verkeerde weg wat ek bewandel het en vra U om my swak hand in U sterk hand te neem en my te lei op die smal weg.
Jesus, ek nooi U nou om in my hart te kom woon, die Meester van my ganse lewe te word.
Ek aanvaar U nou ten volle en onvoorwaardelik as my persoonlike Verlosser en Saligmaker.
Vader, dankie dat ek van hierdie oomblik af sonder enige twyfel kan weet dat ek U kind is!
Dankie in Jesus se naam, Amen

Tuesday, April 14, 2009

KAN KERKE ONS IN DIE HEMEL KRY?

Regoor ons land staan daar duisende kerke, wat in baie gevalle eintlik die middelpunt van die dorpe is. Hierdie geboue staan die meeste van die tyd leeg, want hulle word maar eenkeer of uiters tweekeer per week gebruik en dan maar ongeveer ‘n uur op ‘n slag.

Praat jy met mense oor hulle geloof, is hulle baie gou om vir jou te se: “ek het my kerk.” Kyk maar hoe ‘n klein handjievol mense is daar op ‘n Sondag in die kerk. Vergelyk dit met die inwonertal van die dorp of stad, dit is maar ‘n minimale hoeveelheid mense wat in die kerk kom. Hoekom is dit so? Vraag is of die kerk enigsins iet met geloof te doen het? Ja die gebou is die plek waar mense saamkom om te aanbid, maar het nie veel met geloof te doen nie.Ek het nie geloof nodig om op ‘n Sondag kerktoe te gaan, ‘n paar liedere te sing en van die preekstoel af te hoor dat ek ‘n goeie Christen is nie. Daar word nooit skokkende uitlating van die preekstoel af gemaak nie. Daar word nooit gesê, dat jy jou moet bekeer van jou verkeerde weë en die dinge wat jy verkeerd doen te laat staan nie. Daar word nooit vir jou gesê dat as jy dit nie doen nie sal jy in die hel gaan brand totdat jy ‘n kaiing is nie. Nee ons ore word gestreel van die preekstoel af en ons hou daarvan. Sou die Dominee dit waag om iets te sê wat die gemeente laat wakkerskrik, is die herrie los, want dan raak hy dinge kwyt waarvan die kerkraad nie hou nie en dan bestaan die moontlikheid dat hy dalk uitgeskop kan word. Wie wil nou eintlik hoor dat hy oppad hel toe is. Niemand nie. Ons wil almal hoor dat ons verskriklike goeie mense is en dat ons nooit in die hel sal beland nie omdat Christus vir ons gesterf het.

Ja Haleluja, Christus het vir ons gesterf! Ja Haleluja, Hy het die prys betaal! Ons kom nou uit ‘n tyd waarin ons Sy sterwe en opstanding herdenk het. Alle eer aan Hom dat Hy bereid was om die prys te betaal. Dink aan die smart en pyn wat Hy moes deurstaan.Dink daaraan toe daardie kats hom oopgeruk het totdat jy naderhand sy organe deur die ribbes kon sien werk het. Dink aan die bloed wat uit sy liggaam gevloei het todat daar net water uitgekom het. Dink hoe sy vlees geskeur het toe daardie kruis opgetel is en dit so geruk en gestamp het. Dink jy dat ons skotvry daarvan gaan afkom sonder dat dit ons iets kos? Kan ons maar net aangaan om die lewe te lei wat ons lei? Verkeerde dinge doen, en maar net dink dat Hy aan die kruis vir ons betaal het?

Nee, dit sal nooit werk nie! Ons kan nie van Hom verwag om Sy alles te gee en ons kom skotvry daarvan af nie. Net soos Hy, moet ons onself ook gee…, ook oorgee aan ‘n lewende verhouding met Hom. Ons moet by die punt in ons lewe kom waar ons halt uitroep. Stop om roekeloos te lewe! Stop om te lewe asof daar geen ewige lewe is nie! Slegs wanneer ons by die punt kom dat ons, ons lewe verander en ophou om die dinge te doen wat deur die wereld so aanloklik gemaak word. Daardie verslawings in jou lewe prysgee. Ophou om die dinge te doen waarmee jy graag wil ophou, maar dit lok jou gedurig terug. Wanneer ons, ons oë op Jesus rig en wegdraai van die die verloklikhede dan, en eers dan, sal ons kan begin omdaardie lewende vehouding met God te bou Daar is nie so ‘n ding soos die beste van twee wêrelde in die geloofslewe nie, een van die twee sal jy afskeep. Luk 16:13 Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien.

Daar is geen aardse kerk of denominasie wat jou paadjie hemeltoe kan plavei nie. Slegs ‘n lewende vehouding met God en ‘n sondelose lewe sal jou toegang tot die hemel verseker.

Monday, April 13, 2009

IS JY 'N MISLUKKING

Die persoon op die wêreld wat nog nooit in iets misluk het nie, moet nog gebore word!

Indien ‘n persoon in een of meer dinge misluk het, maak dit dan nou noodwendig van so ‘n persoon ‘n mislukking? Nee, beslis nie. Tog is daar van ons wat keer op keer in iets misluk en begin dan negatief oor ons self dink met die gevolglike siening en gevoel ”Ek is ‘n mislukking, want ek kry niks in die lewe reg nie.”

Kyk maar na die suksesvolle mense rondom ons, as hulle wil eerlik wees dan sal hulle vir jou elkeen ‘n elle lange lys van hulle persoonlike mislukkings kan uitpak en tog het dit hulle nie gestop om suksesvol te word nie. Wat sou hulle geheim wees? Hulle het nie nadat hulle ‘n mislukking van iets gemaak het, gaan sit en toegelaat dat die mislukking hulle so oorheers dat hulle niks verder wou doen nie. Hulle het die mislukking agter hulle gesit en ‘n nuwe projek aangepak, wat of suksesvol of ‘n mislukking was. Hulle het al die tyd in hulself bly glo en nooit aan hulle self gedink as mislukkings nie.

Ons medemens plak egter baie maklik ‘n label aan ons en daarvoor moet ons versigtig wees dat ons nie ons ore uitleen en mense glo as hulle dalk sê dat ons ‘n mislukking is nie. Al wat hulle doen is hulle versteek hulle eie mislukkings deur ons mislukkings aan die groot klok op te hang.

Ons is almal dieselfde gemaak deur dieslfde Maker. God het nie mislukkings gemaak nie, hy het elkeen van ons gemaak met al die potensiaal in die wêreld. Potensiaal wat Hy wil hê ons moet ten volle ontwikkel en benut, deur Sy genade en hulp. Dit is so, ons kan nie almal die President van die land of die bestuurder van een of ande multi miljard maatskappy wees nie, maar ons kan elkeen in eie reg ‘n reuse sukses wees. Ons moet net versigtig wees dat ons nie toelaat dat andere of dalk nog onsself, vir ons ‘n plafon gee wat baie laer is as wat ons kan bereik nie. Ons moet met ‘n oopkop die ruimtes wat deur God se genade daargestel is raaksien en daarin woel en werskaf, dan is daar geen rede hoekom ons nie sukses kan behaal nie. Gebruik die verstand wat God jou gegee het, moenie dit laat verroes nie.

Maak nie saak hoeveel foute ek gemaak het nie, ek moet sorg dat dit nie my menswaardigheid aantas nie. Kweek ‘n positiewe gesindheid teenoor jouself aan, maak nie saak wat in die verlede gebeur het nie. Lig daardie kop en kyk op, moenie ineengedoke met ‘n hangkop rondloop nie, jy is nie ‘n mislukking nie, jy sal ook nooit ‘n mislukking wees nie. God het jou gemaak en Hy het jou goed gemaak. Hy het jou nie ‘n mislukking gemaak nie.

Jy is ‘n wenner……! Plaas jou vertroue op die Here en Hy sal jou help.

Sunday, April 12, 2009

CHRISTUS HET OPGESTAAN

Daar staan Hy op uit die graf,
Triomfeer oor al die vyandsmag;
Hy verrys oorwinnaar oor die dood en hel,
En Hy leef as Koning van die groot heelal.
Hy leef, Ja Hy leef!
Halleluja! Christus leef!

Friday, April 10, 2009

DIE OU RUWE KRUIS

Op 'n heuwel daar ver staan 'n ou ruwe kruis,
'n Teken van skande en pyn;
Ek bemin die ou kruis, waar Gods dierbare Seun,
Vir 'n wêreld van sonde moes ly

Refrein:
Ek bemin daardie ou ruwe kruis,
Tot ek voor Hom my skatte vertoon,
Ja ek klem aan die ou ruwe kruis,
En verruil dit eendag vir 'n kroon.

O, die ou ruwe kruis, deur die wêreld versmaad,
Laat 'n wonderbaar trek vir my na;
Want die dierbare Lam het die hemel verlaat,
En Hy dra dit tot op Golgota.

In die ou ruwe kruis, so vol heilige bloed,
Is 'n heerlik vooruitsig vir my;
Want aan daardie ou kruis, smaak my Heiland die dood,
Om my van myself te bevry.

Aan die ou ruwe kruis, bly ek altyd getrou,
Sy skande bring blydskap vir my;
Tot Hy my eendag roep, na die huis wat Hy bou,
Om vir ewig by Hom te kan bly.

Vandag herdenk ons daardie dag wat Jesus aan die kruishout vasgespyker is en Hy die prys betaal het! Het jy al gedink wat se wroeging hy die voorafgaande dae gehad het. "Hoekom het Hy dit gedoen?" vra jy. Omdat Hy ons lief het, toe, en nog steeds vandag en so sal dit ook more wees. God het Sy seun geoffer vir jou en vir my sodat die enigste weg deur Jesus geskep is waardeur ons versoening met God kan kry!

Hoor hoe knars daardie spyker deur Sy pols, eers die een dan die ander. Dan deur die voete. Nou word daardie kruis regop getel en in die gat ingesit. Dink hoe seer moes dit nie vir Jesus gewees het nie, dit stamp en ruk en skud. Die vleis wat skeur wanneer Sy volle gewig aan daardie spykers deur Sy polse en voete hang...! Oopgespalk soos 'n misdadiger. Vir my en vir jou....! Omdat Hy ons liefhet en wil voorkom dat ons in die ewige verderf beland.

Hoe kan ons dit ignoreer.....? Hy roep vir jou en vir my......, Hy staan voor die deur en hy klop (Open 3:20) Hy het reeds die prys betaal. Hy het die tjek uitgeskryf met Sy bloed, ons moet die tjek net neem en bank. Prys Sy wonderlike naam.

Thursday, April 9, 2009

DIE GELOWIGES IS EEN MET DIE VADER EN DIE SEUN 2

Ek vra nie dat U hulle van die sondige mense af weghou nie. Net so min as Ek my wil ophou met die dinge van die sondige mense, sal hulle dit wil doen. Hulle is nie soos die sondige mense nie! Wat Ek wel vra , is dat U hulle uit die grypende kloue van die duiwel en al sy boosheid sal hou. Laat hulle besef dat hulle spesiaal net aan U behoort omdat in niks anders as die waarheid belangstel nie. Hulle weet wat die waarheid is, want hulle ken U boodskap. Daarom stuur Ek hulle na die sondige mense in die wêreld toe met daardie boodskap. Ek stuur hulle met dieselfde opdrag en doel as wat U My gestuur het. Ek wy My nou geheel en al aan U toe sodat hulle daarby kan baat. Hulle sal dan ook geheel en al aan U toegewy wees omdat hulle, hulle bes probeer vir dit wat waar en eg is."


"Ek bid nie net vir hierdie volgelinge van My nie. Ek stuur stuur hulle mos om met mense oor My te gaan praat. Van daardie mense sal my volgelinge se boodskap aanvaar en hulle aan My kant kom skaar. Vir hulle bid Ek ook! Vader, gee dat hulle in lojaliteit teenoor mekaar soos een man sal saamstaan. Vader, U weet hoe heg en intiem Ons verhouding met Mekaar is. Ons belange, denke en dade is totaal een. Gee asseblief dat hulle verhouding onder mekaar en veral met Ons net so heg en intiem sal wees. As die mense in hierdie wêreld sien hoe die gelowiges saamstaan en saamwerk, sal hulle oë daarvoor begin oopgaan dat U My na hulle toe gestuur het. Ek sal vir hierdie volgelinge van My dieselfde status gee as wat U vir My gegee het. Dit sal hulle in 'n span saamsnoer net soos ons in 'n span saamwerk. My verhouding met hulle sal My op 'n baie hegte manier deel maak van die eenheid wat onder hulle bestaan. Ek sal so lojaal teenoor hulee wees as wat U teenoor My is. Dit alles beteken dat hulle foutloos , ja volmaak in hierdie eenheid saamgesnoer sal wees. Gevolglik sal die mense besef dat U My gestuur het. Hulle sal sien dat U My volgelinge net so liefhet as wat U My liefhet."


"Vader, Ek wil so graag My volgelinge hier by My hê. Hulle moet wees waar Ek is. U het mos gesê dat Ek na hulle moet kyk. Laat hulle tog sien watter wonderlike en belangrike status U vir My gegee het. U het dit gedoen omdat U My liefgehad het nog voordat die aarde gemaak is. Vader, U doen wat reg en regverdig is. Die ongelowige mense weet nie wie U is nie en steur hulle ook nie aan U nie. Dit is so anders as Ek wat U goed ken. My volgelinge weet dat U my na hulle toe gestuur het. Ek het hulle mooi vertel wie en hoe U presies is, en Ek is nog nie klaar nie, Ek sal nog verder met hulle daaroor praat. Dan sal hulle iets van U liefde begryp. Hulle sal verstaan hoe lief U My het en wat dit beteken. Dit sal alles deel word van hulle lewe soos Ek deel van hulle lewe is



Die Boodskap
Jan van der Watt
Stephan Joubert

Wednesday, April 8, 2009

DIE GELOWIGES IS EEN MET DIE VADER EN DIE SEUN 1

So het Jesus met Sy dissipels gepraat. Daarna het Hy Sy oë toegemaak en gebid: "Vader, dis tyd! Laat die wêreld nou sien hoe belangrik U Seun regtig is. Op die manier sal hulle ook agterkom hoe belangrik U is. U het mos vir My volle beheer gegee oor elke mens. Maar U het ook sekere mense spesiaal op My pad gebring. Vir hulle het ek die lewe gegee wat vir ewig duur. So moet mens hierdie ewige lewe verstaan. Dit behels dat jy lid word van die familie van die enigste ware God Jesus Christus, wat God gestuur het om mens te wees, is ook deel van hierdie familie. In die familie van God, leer mens God en Jesus baie goed ken, met alles wat dit vir jou beteken. Mense kan sien hoe groot en belangrik U is, Vader, deur te kyk waqt Ek doen. Ek het alles presies gedoen soos U gevra het! Nou is Ek klaar daarmee. Vader, laat My asseblief weer in belangrikheid staan waar Ek hoort, by U. Daardie belangrike plek by U was mos Myne nog voor die aarde daar was."

"Ek het vir mense duidelik kom uitspel wie U is. Ek praat van die mense wat eintlik nog van altyd af U S'n was. U het hulle nou vir My gegee om na te kyk. Hulle was baie ernstig oor wat U vir hulle wil sê. Hulle besef ook baie goed dat U en Ek in 'n span saamwerk en Ek weet wat U alles vir My gegee het. Toe Ek met hulle praat, het het hulle dadelik geweet dat dit U boodskap is wat hulle hoor. Daarom het hulle dit aangegryp. Daar was toe geen twyfel meer by hulle oor dat Ek van U af kom nie. Hulle weet dat U My na hulle toe gestuur het."

"Ek bid vir hulle! Ek bid vir elkeen wat U vir My gegee het om na te kyk. Hulle behoort immers aan U! Oor hulle wil ek nou met U praat en nie oor al die ander mense in die wêreld nie. Ons is mos soos een groot familie! Hulle lê My net so na aan die hart as vir U en U gee net soveel vir hulle om as Ek. Hulle sal vir mense vertel hoe belangrik Ek is. Ek gaan mos nou nie langer fisiek hier op aarde bly nie. Ek is oppad terug na U toe, maar hulle gaan fisiek hier op aarde agterbly! Vader, daar is niemand soos U nie. Daarom vra Ek U, kyk asseblief na hierdie mense wat Ek tot nou toe versorg het. U het die gesag om hulle te beskerm. Die gevolg sal wees dat hulle soos een man sal saamwerk. Toe Ek by hulle was, het Ek mooi gekyk na die mense wat U My gegee het om na te kyk. Ek het hulle soos goud opgepas. Nie een van hulle het die spoor byster geraak nie. (Ek praat natuurlik nie van Judas wat hand om die lyf met Satan loop nie, Dat hy sou afdwaal, het die skrif lankal gesê) Ek is nou oppad terug na U toe. Daarom gesels Ek met My volgelinge oor al hierdie dinge terwyl ek nog by hulle is. Dan kan hulle saam met My bly wees oor alles wat gebeur. Ek het vir hulle alles vertel wat U wou gehad het hulle moet weet. Die ongelowige mense hou natuurlik niks van hulle nie. Gelowiges is mos nie soos ongelowiges nie. Hulle is anders as die sondige mense van hierdie wêreld, net soos Ek anders is.
...............................vervolg

Tuesday, April 7, 2009

OM DIE KRUIS OP TE NEEM

Markus 8:34-38
En toe Hy die skare saam met Sy dissipels na Hom geroep het, sê Hy vir hulle: Wie agter My aan wil kom, moet homself verl0ën en sy kruis opneem en My volg.

Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red

Want wat sal dit 'n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?

Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?

Want elkeen wat hom vir My en My woord skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van Sy Vader met die heilige engele.

Monday, April 6, 2009

DIE LOON VAN VERRAAD

Matt 26:14-16
Toe gaan een van die twaalf, met die naam van Judas Iskariot na die owerpriesters en sê: Wat wil u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer? En hulle het vir hom dertig silwerstukke afgeweeg.
En van toe af het hy 'n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.

Nadat hy ongeveer drie jaar dag vir dag saam met Jesus was, saam met Hom was toe Hy die skares kos gegee het met broodjies en vissies wat 'n jong seun by hom gehad het, water in wyn verander het, blindes laat sien het, kreupeles laat loop het, siekes gesond gemaak het, dowes laat hoor het en dooies uit die dood opgewek het! Judas het dag vir dag onder die geklank van Jesus se woord saam met Hom beweeg, nogtans het hy besluit dat dit nie die moeite wêrd sal wees om tot die einde getrou aan Jesus te wees nie. Hy het so laag gedaal dat hy aangebied het om Jesus te verraai teen betaling.

Judas het gedurende Jesus se verskyning voor die Joodse Raad al die tyd die skare gevolg en het elke oomblik geweet wat met Jesus aangaan. Die owerpriesters en die ouderlinge het saamgesweer teen Jesus om Hom dood te maak. Hulle het Jesus geboei en hom weggelei sodat Hy aan die goewerneur Pontius Pilatus oorgelewer kon word.

Toe Judas, Jesus se verraaier, sien dat Jesus veroordeel was, het hy berou gekry en die geld teruggebring na die owerpriesters en die ouderlinge en gesê: Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai. Maar hulle sê:Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien! En Judas het die geld in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang Matt 27:2-5.

Berou, word gesê, is 'n goeie ding, dit kom net altyd te laat....., soos in die geval van Judas...., sy verraad het hom sy lewe gekos.

Kom ons wag nie totdat dit te laat is nie! As die Gees van die Here met jou praat, bely en laat staan jou sondes en begin daardie pad met God te loop. Al sê wie, ook wat. Daar is nie 'n ander manier nie. Jesus is die enigste weg na God toe.

Friday, April 3, 2009

WOLKEWYSHEID

Groete en Vrede!!!

Dit is stil, grafstil op die groot wit sandduin waar ek en die Mooiste Mooi ‘n warm laat agtermiddag sit. Vroegdag se vars skerpioen spore lê steeds ongesteurd op die wit sand terwyl die warm reuk van droë duinsand, die lug vul. Alles in die Agter-Kalahari is rustig en beweeg in stadige spoed so asof daar geen rede vir haastigheid en gejaagdheid bestaan nie. Alles lyk skoon en heel vergete is laas week se erge stofstorm wat die wêreld in ‘n bruin stofjas kom toewikkel het.

So sit ons daar in stilte met harte tot oorlopens toe vol gevul met groot dankbaarheid teenoor die Vormer van Hemelgoed en Stofaarde vir Sy sandkorrel seëninge. En terwyl die tasbare stilte so oorvloedig oor ons bruin gekleurde wêreld weergalm, kan ek nie anders as om aan kosbare mensegoed te dink nie.

So dink en sien ek in my binneste oog, ‘n uitgeputte generasie wat stoei met ‘n oorvol lewe. ‘n Kosbare generasie moeg gesloeg, gesweet en gesukkel met probleme terwyl hul konstant strewe om altyd alles reg te doen deur aanvaarbaar, lojaal, toegewyd, betrokke, suksesvol, begaafd en finansieel sterk te moet wees. Tog is ek en jy is deel van daardie generasie!

Skielik is dit wat deur my denke spoed net te veel, te groot en te swaar vir my. Ek lê agteroor en wikkel myself so ‘n stukkie in die louwarm los sand in net om later die snoesigheid van die hitte teen my kop, nek en rug te voel. Ek wil-wil my oë toemaak, maar iets dring daarop aan om hul oop te hou. Dan fokus my oë op derduisende los, wit gepluisde watte wolkies wat wind gedrewe geruisloos deur die hemelruim gly en ‘n stukkie waarheid vorm deel van my binneste binne.

Elke wolkie is nes ek en jy, uniek en baie spesiaal in mekaar geweef. Gesamentlik asook afsonderlik vorm ons die basis waardeur Hy Sy lewegewende water beskikbaar stel. Wees jy net jy en laat toe dat die Veilige Gees jou geruisloos deur die Skepping laat gly. Dis vry, gratis, verniet en sonder prys ..............

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ……………………….

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene
DIVINE LIFE SENDING.
(Landlyn 054-551 1000)

Thursday, April 2, 2009

KWALITEIT LEWE

Baie mense het die drang na geld en goed wat hulle lewens oorheers, daarom bestee hulle al hul tyd daaraan om bymekaar te maak. Hulle is gedurig besig om met ander mense te kompeteer om te kyk of hulle nie meer, vinniger kan bymekaar maak nie. Jy ken daardie spreekwoord van "keep up with the Jones's". Ongelukkig gaan dit nie oor "keep up" nie maar ek wil beter doen as my buurman, my broer, my swaer, my kollega ens.

Hierdie gejaag na besittings is op die einde van die dag nie bevorderlik vir goeie gesondheid nie en kort voor lank is maagsere, senuwee ineenstortings, depressie en selfs aggressie aan die orde van die dag.

In hierdie proses is dit onafwendbaar dat die opgaarder al hoe verder en verder van God verwyder sal raak. In die meeste gevalle dink mense wat baie geld en besittings het dat hulle God nie nodig het nie, dat hulle sonder God kan klaarkom. Die Bybel sê dat dit makliker vir 'n kameel is om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n rykman om in die hemel te kom. Onthou ook wat Jesus vir die ryk jongman gesê het toe die Hom gevra het wat hy moet doen. Jesus het vir hom gesê dat hy al sy besittings moet gaan verkoop en onder die armes uitdeel en dan terugkom en Jesus volg. Het die jongman dit gedoen? Nee. Hy was te verknog aan sy rykdomme en besittings.

Bring al die rykdomme en besittings geluk? Stellig nie. Geluk word net ons deel wanneer ons in 'n lewende en betekenisvolle vehouding met Christus staan. Dan is ons ongebonde aan aardse goedere wat vir ons 'n probleem kan wees. Op 'n ander plek in die Bybel staan daar dat ons eers die koningkryk van God moet soek, en natuurlik vind, dan sal al hierdie ander dinge bygevoeg word.

Daar is nie 'n plaasvervanger vir Jesus nie. Daardie onvervuldheid wat jou laat rondskarrel en bymekaar maak sal jou nie rus en vrede gee nie. Slegs Jesus kan jou daardie vrede gee wat alle verstand te bowe gaan.

Slegs God se liefde kan jou 'n kwaliteit lewe gee deur Sy seun Jesus Christus en dit is vir ons nog verniet ook omdat Christus reeds daardie prys betaal het. Vir Hom was dit 'n ontsettende duur prys, maar vir ons is dit verniet.

Dankie Jesus dat ons in U rus, vrede en 'n kwaliteit lewe kan hê

Wednesday, April 1, 2009

LUISTER

Ons is so gewoond daaraan om te reageer op mense se woorde, Ons verstaan wanneer mense met ons praat, afhangend of ons die taal magtig is waarin hulle ons aanspreek.

Dink net vir ‘n oomblik daaraan. Jy is stok siel alleen in die middle van die woestyn, dit is nag en jy slaap rustig. Skielik skrik jy wakker met die geklank van jou naam in jou ore. Wat gaan jy doen, omdraai en verder slaap en vir jouself sê dat dit maar net ‘n droom was wat jou wakker gemaak het? Sal jy so ‘n situasie ‘n tweede gedagte gee en die moontlikheid oorweeg dat dit God is wat jou geroep het?

Die meeste van ons sal dit nooit eers oorweeg dat dit dalk God kon wees nie. Moenie sleg voel nie. In 1 Sam 3:4 het God na die slapende Samuel geroep wat in die stilte van die temple gelê en slaap het. Samuel het dadelik opgestaan en na Eli toe gegaan want hy het gedink dat Eli hom geroep het. Eli het vir Samuel teruggestuur om verder te gaan slaap omdat dit nie hy was wat hom geroep het nie.

Vir ‘n tweede keer het God na Samuel geroep en weer het Samuel na Eli toe gegaan en Eli het hom maar weer terug gestuur om te gaan slaap omdat hy nie vir Samuel geroep het nie.

Nou hoekom het Samuel dan nie God se stem herken nie? 1 Sam 3:7 Maar Samuel het die Here nog nie geken nie; ook was die woord van die Here nog nie aan hom geopenbaar nie.

Eers die derde keer wat God na Samuel geroep het en hy weer na Eli toe is, het Eli gekliek dat dit God is wat na Samuel geroep het. Eli het toe vir Samuel gesê hy moet maar weer gaan lê en as hy weer hoor hy word geroep moet hy antwoord: Spreek Here, want u kneg hoor.

Die vierde keer wat God na Samuel geroep het, het Samuel eers geluister en besef dat dit God is wat met hom praat.

In die dag waarin ons lewe, praat God nie meer so direk in ‘n hoorbare stem met ons nie, maar daar is ander maniere wat Hy ons roep en met ons wil praat.

Hoe sensitief is jy vir God se stem? Weet jy direk wanneer God jou roep of met jou wil praat? Kan jy God se stem hoor? Is jy naby genoeg aan Hom om te hoor wat Hy vir jou wil sê?

Samuel het die eerste drie keer nie God se stem herken nie, omdat hy God nie geken het nie.(1 Sam 3:7)

Ken jy die Here?