Monday, April 20, 2009

BEHOU DIE GOEIE

Baie keer hoor jy die gesegde "Ek ondersoek alle dinge en behou die goeie" Nou waar kom dit vandaan? Dit kom die meeste van die tyd as antwoord wanneer iemand gekonfronteer word met doen en late en 'n lewenswyse wat nou nie heeltemal so op standaard is nie. Wat so 'n persoon eintlikvir jou sê is dat hy nou so roekeloos lewe en daardeur al die ondervinding opdoen sodat hy eendag instaat sal wees om die goeie van die slegte te onderskei en dan die goeie sal aanhang. As die persoon dit vir jou sê dan lewe jy in die hoop dat daardie eendag dalk binnekort sal wees en dat dit sal verhoed dat so 'n persoon oor die afgrond val en homself vernietig.

Hierdie aanhaling staan natuurlik in die Bybel en wel in 1 Thes 5:21. Dit beteken egter totaal iets anders as waarvoor dit gebruik word. As dit in konteks gelees word dan kom mens agter dat dit eintlik 'n vermaning is dat ons versigtig moet wees want nie elkeen wat in die Naam van die Here met ons praat, is noodwendig Sy boodskapper nie. Stel vas of dit wat mense in die Naam van die Here vir julle sê, regtig van Hom af kom. Bêre al daardie boodskappe wat wel van God af kom in julle harte, en gaan doen dit! Bly weg van die sonde af. As iets vir julle net na sonde lyk, laat staan dit dadelik. Julle moet niks met enige sonde te doen hê nie. (Die Boodskap)

So maklik word dit wat in die Woord van God staan gebruik om te motiveer waarom sekere verkeerde goed gedoen word. Daar word baie keer met God se Woord gemors en ons wat weet, laat dit gelate toe. Baie mense weet nie wat in die Bybel staan nie en dit pla hulle dus nie. Maar wat van jou en my wat weet. Is dit nie ons plig om op te staan en so 'n persoon te vermaan om nie aanhalings uit die Bybel te gebruik vir eie selfsugtige redes nie. Baie keer is so 'n persoon onkundig en weet nie eers dat dit 'n Bybelse aanhaling is nie, dan is dit immers ons plig om die persoon reg te help!

1 comment:

Wollie said...

Dit is so dat mense die wooer "ondersoek" vertolk as "neem deel in alles" en behou die goeie. Dit is natuurlik nie die regte benadering nie.