Wednesday, April 22, 2009

BO OF ONDERSTEBO

Elke kind van die Here wat die begeerte het om 'n nader verhouding met sy Hemelse Vader te hê moet maar weet dat daardie paadjie ook nie elke dag met rose besaai sal wees nie. Ja daar sal sekerlik tye wees wat jy op die toppe van die berge sal wees, maar wees verseker dat dit ook gaan gebeur dat jy onder in die valleie gaan beland. Gedurende daardie tye dat jy bo is, ondervind jy geestelike groei, en dit voel vir jou of die Here baie naby jou is. Jy twyfel geen oomblik nie en jou geloof in God is groter as ooit en die vrede en vreugde wat alle verstand te bowe gaan is jou deel.

Dit is in hierdie tyd dat die vyand rondloop soos 'n brullende leeu en net na 'n geleentheid soek om jou onderstebo in die dieptes van die valleie te laat beland. Pasop ook daarvoor dat jy nie ongehoorsaam raak aan God omdat jy daar bo is nie, of dat jou liefde vir Hom afkoel nie, want dan sal jou vallei ervaring jou eie toedoen wees.
Ek luister nou in die afgelope week na 'n inbel program op die radio waar daar gepraat word oor wat sal jy doen as jy in so 'n situasie beland waar jy voel dat nie eers God jou sal kan help nie. Dit is interessant dat mense kwaad is vir God en Hom beskuldig as dinge in hulle lewens verkeerd loop, maar as dinge reg loop dan wil hulle in werklikheid niks met Hom te doene hê nie en vat hulle die krediet vir als. Dan lewe hulle hul lewe sonder enig gedagte om God te ken in hulle beplanning. Hy is dan nie deel van hulle lewe nie.

As mens daar onder in die vallei beland, dan moet jy aan die Here vashou en sonder ophou aan jouself bevestig dat jy 'n kind van die Here is, dat Hy jou hemelse Vader is en as jy eers eenmaal jou hand in die van die Here gelê het, sal Hy jou nooit los nie. Jy moet Hom glo en ten volle vertrou.
Dit is egter tragies dat dit ons is wat Sy hand los, en dan is ons kwaad vir Hom en beskuldig ons die Here dat hy ons verlaat het. Dan is ons absoluut onregverdig teenoor Hom.

God is nie 'n mens wat onbetroubaar is nie, Hy is die selfde, gister, vandag en môre. Hy het ons lief en dit sal nooit verander nie. Rom 8:38 - 39 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe o0f engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.

Maar onthou een ding, God haat sonde. As ons sondig, dan bou ons 'n skeidsmuur tussen ons en God se liefde.

No comments: