Friday, April 10, 2009

DIE OU RUWE KRUIS

Op 'n heuwel daar ver staan 'n ou ruwe kruis,
'n Teken van skande en pyn;
Ek bemin die ou kruis, waar Gods dierbare Seun,
Vir 'n wêreld van sonde moes ly

Refrein:
Ek bemin daardie ou ruwe kruis,
Tot ek voor Hom my skatte vertoon,
Ja ek klem aan die ou ruwe kruis,
En verruil dit eendag vir 'n kroon.

O, die ou ruwe kruis, deur die wêreld versmaad,
Laat 'n wonderbaar trek vir my na;
Want die dierbare Lam het die hemel verlaat,
En Hy dra dit tot op Golgota.

In die ou ruwe kruis, so vol heilige bloed,
Is 'n heerlik vooruitsig vir my;
Want aan daardie ou kruis, smaak my Heiland die dood,
Om my van myself te bevry.

Aan die ou ruwe kruis, bly ek altyd getrou,
Sy skande bring blydskap vir my;
Tot Hy my eendag roep, na die huis wat Hy bou,
Om vir ewig by Hom te kan bly.

Vandag herdenk ons daardie dag wat Jesus aan die kruishout vasgespyker is en Hy die prys betaal het! Het jy al gedink wat se wroeging hy die voorafgaande dae gehad het. "Hoekom het Hy dit gedoen?" vra jy. Omdat Hy ons lief het, toe, en nog steeds vandag en so sal dit ook more wees. God het Sy seun geoffer vir jou en vir my sodat die enigste weg deur Jesus geskep is waardeur ons versoening met God kan kry!

Hoor hoe knars daardie spyker deur Sy pols, eers die een dan die ander. Dan deur die voete. Nou word daardie kruis regop getel en in die gat ingesit. Dink hoe seer moes dit nie vir Jesus gewees het nie, dit stamp en ruk en skud. Die vleis wat skeur wanneer Sy volle gewig aan daardie spykers deur Sy polse en voete hang...! Oopgespalk soos 'n misdadiger. Vir my en vir jou....! Omdat Hy ons liefhet en wil voorkom dat ons in die ewige verderf beland.

Hoe kan ons dit ignoreer.....? Hy roep vir jou en vir my......, Hy staan voor die deur en hy klop (Open 3:20) Hy het reeds die prys betaal. Hy het die tjek uitgeskryf met Sy bloed, ons moet die tjek net neem en bank. Prys Sy wonderlike naam.

1 comment:

Muriel said...

Ek het geweet ek gaan 'n mooi inskrywing hier kry!

Baie geseënde Paasfees Oom Petrus