Tuesday, July 5, 2011

Gatdamme van lewe

Geeneen van ons is waarlik lus vir die laatmiddag, vroegaand rit huis toe nie. Die dag in die dorp was lank en warm en die droë, drukkende hitte laat klein druppeltjies sweet oral oor jou se moeë lyf uitslaan. Daarmee saam trek die gemoed so ‘n bietjie swaarder as normaalweg want onse jongste is weer koshuis toe. Die rustyd tussen twee skooljare was vir almal net te kort. Nog net ‘n stop hier en ‘n vinnige oorstaan daar en dan is dit ons en die langpad Noenieput toe.



Groot, swaar, wit wolke vol belofte bekruip ons versigtig vanuit die westelike kim terwyl kniehoog Boesmangras stylvol en statig is die skemerwindjie dans. Ons verlustig ons in die skoonheid en vrolikheid en raak vasgevang in die Skepper se kunssinnigheid. Nou-nou is die skemerte verby en dan behoort die Kalaharivolmaan met stylvolle kundigheid hierdie waterdraers te omsoom. “Onthou tog, Ek is die Lewegewende water en daarsonder kom alles tot stilstand,” fluister Hy saggies in my se hart. “Dankie Jesus,” fluister ek terug en meteens voel die huis nie meer so ver nie.  



Met sowat 85 kilometer om te gaan, gebeur alles skielik in stadige spoed. Die koedoekoei reageer instinktief van skrik toe sy van agter ‘n groterige groen soutbos op die stofpad uitloop toe ons amper teenaan haar is. Lenige spiere in haar se voorbene reik ver na voor terwyl die agterbene saamtrek weg van die gevaar af. Haar se donker oë is verskrik en sy rek haar nek om vinniger verby ou Lasarus (ons 17 jaar oue Mazda dubbelkajuit) te kom. Die Mooiste Mooi wou nog waarsku maar sy is heel te laat. Vrees straal uit die Koedoe se  se swart oë. Instinktief weet sy dat die dood heel moontlik by haar, maar ook by ons, wil kom lê. Dof eggo en weerklink die slag diep in my en die Mooiste Mooi se binnestes in. Ek sien hoe die koedoe ‘n slag of wat in die rondte tol om net daarna soos ‘n ou voersak in ‘n vaalbruin stofwolk inmekaar te sak. 



Verstar sit ek en wag vir die pyn, die seer, die verminking en selfs die dood. Dan kyk ek vinnig na links en sien hoe die Mooiste Mooi (hand voor die mond en gesig onnatuurlik wit van die skok) verskrik voor haar uitstaar. Ek sluit ou Lasarus af en klim met deegbene versigtig uit. Die koedoe lê plat op haar se linkersy, skop-skop nog so ‘n bietjie en sukkel dan met ‘n stywe nek en drie bene orent. Haar se regterheup is diep gekneus van die impak en sy voel heel onlekker. Beskuldigend bekyk sy ons met oë vol minagting, tel haar se kop trots omhoog en strompel so op drie bene van ons af weg. “Ons kon dood gewees het,” sê ek en die Mooiste Mooi so gelyk vir mekaar terwyl ons plaaslike koerant se opskrif van ‘n koedoedood voor my se oë flits.



‘n Paar minute later en dankbaarheid het kom nesskop in onse harte. Ondersoekend bekyk ek die skade aan ou Lasarus en sien dan hoe die plas water onder sy se neus al groter en groter word. Êrens het die verkoeler met die trefslag sleg seergekry en nou lek hy, vinniger as wat aanvaarbaar is, maar hy lek. Versigtig maak ek die verkoelerprop los en loer in. ‘n Kleine sweempie van nattigheid getuig van water wat vroeër hier was. Hoopvol maak ek ons drinkwater bottel oop en gooi die laaste bietjie daarvan in die verkoeler in. Dit verdwyn bloot in ‘n bodemlose put om kort daarna ook deel van die nattigheid op die stofpad te word. Beide van ons en Lasarus het water nodig, genoeg water, lewegewende water want ons weet daarsonder sal ons nie by die huis kan kom nie. “Onthou tog, Ek is die Lewegewende water en daarsonder kom alles tot stilstand,” het Hy mos netnou gesê.



‘n Hele paar uur later en die volmaan steek sy helder kop oor die oostelike kim uit en verlig die Kalahari-vlak. Steeds staan ons gestrand daar waar ons die koedoe getref het. Hulpsoek is onwys aangesien die naaste plaasopstal etlike kilometers te ver is, té ver om met dapper en stapper aan te durf. Wag en nogmaals wag is al wat ons maar kan doen want hopelik sal daar hulp van êrens af  kom. Skielik word die stilte van die laatnag versteur deur die gebrom van ‘n voertuig ver buite sig. Al harder en harder klink die potensiële reddingsklank in onse ore en dan sien ons meteens sien die ligte aankom. Onse harte juig want hulp is hier, Vader het onse smekinge gehoor en redding gestuur.



“Naand Pastoorgoed,” groet Dawid Padmaker uit die donkerte. “Watter moeilikheid het hier by jou kom huismaak vanaand?” Ek vertel hom breedvoerig van die ontmoeting met die koedoe en die dood wat ons vierkantig in die oog gestaar het. Saam-saam bekyk ons die skade aan Lasarus se bakwerk, die nattigheid onder sy se neus en die droë verkoeler. “Maar Pastoor,” beduie hy heel gemaklik, “dis mos nie so ‘n groot kopseer nie. Kom ons voer hom met water uit my waterkan en dan ry Pastoor van gatdam tot gatdam en verdrink die droogheid hierbinne met vars koel water. Ek sal aan Pastoorgoed se stofkant bly om te help as die moeilikheid Pastoor nie wil los nie.”



Gulsig slurp die verkoeler die water op om kort daarna oorlopens toe vol te blink in die volmaan se lig. Versigtig draai ek Lasarus se sleutel en begin dan te ry met my se een oog op die instrumentpaneel en die ander op soek na gatdamme, suipkrippe en ander waterbronne teen die pad. En so begin ons terugreis vol hoop en vol verwagting met die gerusstellende wete dat hulp kort agter ons sal wees. Van gatdam tot gatdam, van suipkrip tot suipkrip, van waterbron tot waterbron al stoppende met Dawid Padmaker as Vader se gestuurde aan onse stofkant.



Dit was al vroegoggend toe ek en die Mooiste Mooi onder die blink sterre van die donkerte in die buitestort staan nadat Dawid se groetstof gaan lê het. Die avontuur, wedervaringe en skok van vroegaand se gebeure is nog vars en borrelend in onse geheue. Terwyl die koel water van die buitestort nuwe lewe aan onse doodmoeg liggame skenk soos wat dit oor onse moeë lywe stroom, dink ek terug aan Jesus se kosbare waterwoorde en Dawid Padmaker se onbaatsugtige optrede as Vader se gestuurde kort daarna.



Saggies trek ek die Mooiste Mooi nader en hou haar beskermend styf teen my vas en ek weet ... Ek weet dat elkeen die skade van wrede en aaklige lewensbotsings bloot net met Vader se Water moet oorspoel. Genadewater vrylik beskikbaar uit gatdamme, suipkrippe en ‘n verskeidenheid van bronne langs elkeen se lewenspad.  Reddingswater wat Jesus as liefdesdaad ongevraagd vol hou terwyl die Veilige Gees as Vader se Padmaker jou rondom sal omvou.



Wel uit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou …………………………



Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.



Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn 054-551 1000)