Monday, June 6, 2011

HERKOUSELS

Groete en Vrede!!!

Alleentyd in jou
eie eenkant-wees wêreld is die teelaarde van stilwees saam met Hom as Skepper
van hemelgoed en stofaarde. Kosbare stilwees, in jou en om jou, want in daardie
kosbare stilwees vind ons dit wat ons soek en kry ons dit wat ons vra. En
wanneer Hy jou menswees in stilte met Sy liefde betrek, deponeer Hy soms
herkou-woorde in die bêreplekke van jou se binneste-binne.

Herkousels soos
...
Ware liefde soos
Syne is nes sagte intrekreën wat dae lank wyd oor ‘n dorre woestyn val.

Die
woestynlewe hier aan die vergeetkant van die land leer jou gereeld dat geloof
jou daaglikse brood is en nie net soetigheid vir spesiale geleenthede nie.

Ware geestelike
legendes het nooit hulle kinderlike harte êrens tussen die dwarsduine van die
lewe verloor nie.
Wees dankbaar
teenoor hulle wat onse binneste-binne volmaak: hulle is padmakers wat jou se
hart se grondpaaie gelykstoot.

Êrens
tussen die gekuier en gekerk op 'n veraf plaas besef ek so tussen die gesels
deur dat die meeste wat ons van liefde af weet ons by die huis geleer word.

In die oorlewing
van jou eie eensame en alleen woestynwêreld moet jy eers waarlik kan hoop en
droom voordat jy doen, asook opreg glo alvorens jy planne maak.

Stilwees maak die
binneste-binne vol en die kop skoon.

‘n Avontuur saam
met Hom is nie net die ontmoeting van onbekendes nie, maar ook om ou bekendes
met nuwe oë raak te kyk.

Terwyl die winter
se koue rek en strek, is die hoop van my se hart dat dit wat in blomtyd in jou
se binneste-binne geskryf is, die toets van tyd sal deurstaan.

In die winter
windstiltes van jou lewe eggo Sy se kosbare sagte fluistering hoorbaar duidelik
dat as ander hulle rugkant vir jou wys, jy maar kan omkyk om Hom reg agter jou
te sien staan.

Die saamsit langs
‘n alleenvuurtjie, êrens tussen niks en nêrens, oortuig telkens weer dat ware
vriendskap, nes yskoue kondensmelk, aan die lewe ‘n diepe soetigheid bied.

Die stilsit en staar
na ‘n Kalaharivlak vol verlatenheid verduidelik gereeld dat jou vermoë om te
groei beperk word waar jy en net jy alleen jou verste sien se grense trek.

Wel uit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker
slaap en onthou …………………………


Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy
kosbaar en spesiaal is.


Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn 054-551 1000)