Thursday, October 29, 2009

DIE LEWENDE BYBEL

Hierdie per e-pos van Christa Els ontvang en voel ek wil dit met julle deel

Sy naam is Billy. Hy het woeste hare, dra 'n T-hemp met gate in, jeans en geen skoene. Dit was letterlik sy hele klerekas vir die hele vier jaar op kollege. Hy is briljant en baie slim. Hy het 'n gelowige geword terwyl hy op kollege was.
Oorkant die straat van die kollege kampus was 'n baie netjiese en baie konserwatiewe kerk. Hulle wil 'n bediening begin vir die kollege studente maar weet nie regtig hoe om dit te begin en deur te voer nie.

Een dag besluit Billy om die diens in die kerk by te woon. Hy stap kaalvoet in die kerk met sy gewone T-hemp, jeans en Wilde hare.
Die diens het reeds begin en Billy het in die paadjie afgestap opsoek na sitplek in die kerk. Die kerk was vol gepak en daar was nie 'n enkele sitplek beskikbaar nie. Van die gemeentelede lyk al redelik ongemaklik oor die student maar niemand sê 'n woord nie.
Billy kom al nader en nader en nader aan die preekstoel en toe hy besef dat daar geen sitplek beskikbaar is nie maak hy homself tuis op die mat voor die preekstoel. Teen die tyd is die gemeentelede alreeds baie opgetrek oor die situasie en die atmosfeer is al so dik jy kan dit amper met 'n mes sny.
Op die stadium besef die prediker dat een van die ouderlinge ,van heel agter in die kerk, op pad is na Billy. Die ouderling is reeds in sy tagtigs, het silwer-grys hare en 'n drie stuk pak aan. 'n Godvresende man, baie elegant, statig en hoflik. Hy stap met 'n kierie en terwyl hy sy weg baan na die jongman sê elkeen vir hulself dat hulle nie die ouderling kan kwalik neem vir dit wat hy van plan is om te doen nie.
Hoe kan jy verwag van 'n man van sy jare en agtergrond om 'n jong student wat op die mat sit te verstaan? Dit neem die ouderling 'n lang ruk om uiteindelik die jongman te bereik.
Die kerk is doodstil behalwe die geklik van die ouderling se kierie op die vloer.. Alle oë is vasgenael op hom en die gemeentelede haal skaars asem. Die prediker kan nie eens aangaan met die preek totdat die ouderling gedoen het wat hy moes doen nie.
Toe die ouderling by die jongman kom laat Val hy sy kierie op die mat langs die jongman. Met groot moeite sak hy af en gaan sit langs Billy om te aanbid sodat die jongman nie alleen sal wees nie. Die hele gemeente voel hoe die emosies in hul opwel. Toe die prediker uiteindelik beheer oor sy eie emosies het, sê hy:

"Wat ek vandag gaan preek, sal julle nooit onthou nie. Wat julle so pas gesien het, sal julle nooit vergeet nie."

"Wees versigtig hoe jy leef. Jy mag dalk die enigste Bybel wees wat sommige mense ooit sal lees."

Monday, October 26, 2009

GETUIENIS

Iemand het gesê ons moenie getuig omdat ons moet nie, maar omdat ons iets het om oor te getuig. Die Here moes vir jou iets nuuts gedoen het waaroor jy kan getuig om so jou medemens mee te bemoedig. Dit is belangrik dat ons vertel van die goedheid van die Here, sodat ons eie geloof en die van andere versterk kan word.
Ongelukkig is dit dan ook so dat daar baie kinders van die Here is wat dit bitter moeilik vind om te getuig. Miskien om dat hulle nie voor mense kan praat nie, maar ook omdat hulle na andere se getuienisse luister en dan voel hulle dat dit wat die Here vir hulle gedoen het is so nietig en klein dat hulle maar liewers stilbly in die teenwoordigheid van mense wat sulke wonderlikke getuienisse kan gee. Dan is daar natuurlik ook diegene wat nie kan getuig nie omdat hulle baie emosioneel raak en begin snik en huil wanneer hulle oor die grootheid en goedheid van die Here moet vertel. Hulle bly dan liewers stil omdat hulle ongemaklik voel wanneer hulle emosioneel raak.
As jy voel, dat dit wat jy wil vertel wat die Here vir jou gedoen het is nietig in vergelyking met wat die volgende person vertel, moenie terughou nie, want daar is dalk iemand anders wat net soos jy voel, wat na jou luister en dan versterk jy sy geloof. Die Here doen groot en klein dingetjies in mense se lewens en op die ou einde moet Hy al die eer daarvoor kry. Wat in jou oe dalk ‘n groot ding is, is weer in iemand anders se oe ‘n klein dingetjie en wat in jou oe dalk na ‘n klein dingetjie lyk is weer in iemand anders se oe ‘n groot ding.
As ons wil getuig is dit nie nodig om ellelange gedeeltes uit die Woord aan te haal nie, al wat dit vra is om in eenvoudige taal net te vertel wat Die Here vir jou gedoen het en hoe jy daaroor voel.
Om te getuig versterk jou geloof en ook die geloof van diegene wat na jou luister. Getuienis begin van die oomblik af dat die Here jou siel uit genade red tot die dag dat jy jou kop neerle. Dit is ons plig om te vertel van die goedheid van die Here en ons moet aan Hom al die eer gee vir wat Hy elke dag vir ons doen. As ons elke dag ons lewens in oenskou neem dan sal ons ‘n legio dinge sien waaroor ons kan getuig en die Here die eer voor gee.
Ons moet net nie ophou of daarvan wegskram om te getuig nie. Ons mag nie stilbly nie, want die Woord se die klippe sal uitroep. Luk 19:40 En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep. Ons moet ons eie en andere se geloof bou deur te vertel van die goedheid van ons Vader. Joh 4:39 En baie van die Samaritane uit daardie stad het in Hom geglo oor die woord van die vrou wat getuig het: Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.



Gebed.
Here help my asb dat ek elke geleentheid wat ek kry, van u goedheid sal getuig en sodoende my eie geloof te verstewig. Andere wat luister kan dalk hulle lewens vir u gee omdat hulle gehoor het van die goedheid van God. Amen

Thursday, October 22, 2009

VERTROU OP DIE HERE

Ons sit gereeld met handevol moeilikheid, of dit nou deur ons eie toedoen is of deur onvoorsiene omstandighede, dit tref ons almal maar so sporadies.
As dit gebeur, wat doen ons dan?
Ons is bang...!
Ons weet nie wat gaan gebeur nie en ons weet in die meeste gevalle ook nie wat om te doen nie.Ons sit die situasie maar net en aankyk. Ons gedagtes werk oortyd. Ons beplan dat dit bars, maar niks wil uitwerk sodat ons uit die moeilikheid kan kom nie.

Matt14:24 En die skuit was al in die middel van die see, geteister deur die golwe; want die wind was teen hulle.

Onthou, dat Jesus die dissipels eintlik gedwing het om in die skuit te klim en na die oorkant te vaar nadat Hy die ongeveer 20,000 mense kos gegee het.
Nou dobber hulle daar op die see rond, hulle roei dat dit bars maar hulle maak geen vordering nie. Dit is pikdonker en hulle kan nie 'n tree voor hulle sien nie. Hulle is al moeg gestoei met die roeispane en die nag vorder met rasse skrede. Dit is al in die vierde nagwaak, dan is dit op die donkerste tyd van die nag. Skielik sien hulle 'n "spook" en hulle het geskreeu van die vrees.
Al die tyd was dit nie 'n spook nie, maar Jesus wat op die water na hulle toe aangestap kom. Dit was die allerlaaste plek waar hulle vir Jesus verwag het, geen wonder hulle het ontsteld en bang geraak nie.Toe Jesus met hulle praat en vir hulle sê om nie bang te wees nie, het die arme Petrus soos gewoonlik weer sy voet daarin gesit. Matt14:28 ...Here as dit U is, beveel my om op die water na U te kom.

Petrus wou nie glo dat Jesus tot hulle redding gekom het nie. Net so wil ons ook nie glo dat Jesus tot ons redding kan kom as ons moeilikheid het nie. Nee ons wil alles self doen, ons sal self hieruit kom, ons is gewoond daaraan om maar te spook en te spartel, teen die wind in te roei en die golwe te trotseer. Ons vra nie die Here se hulp nie. Hoekom nie..? Omdat ons Hom nie regtig vertrou nie...! Die meeste van die tyd is die Here al besig om die probleem op te los, dan wil ons dit nie erken nie, soos Petrus wil ons dan bewyse hê dat dit wel die Here is wat tot ons redding kom.

Gewoonlik wanneer die nag op sy donkerste is kom daar 'n ligstraaltjie. Daardie lig is die Here. Kom ons glo hom wanneer Hy Homself aankondig, want as Hy in ons bootjie klim verander die omstandighede totaal. Matt14:32 Daarop klim hulle(Jesus en Petrus)in die skuit en die wind het gaan lê.

Monday, October 19, 2009

DIE ONSE VADER

Ek kan nie praat van:
Onse .................................as ek net vir myself lewe nie.
Vader ................................as ek nie Sy kind geword het nie.

Ek kan nie bid:
wat in die hemel is ..................as ek aardsgebonde is nie.
laat U naam geheilig word.......as ek Sy naam ydelik gebruik nie.
laat U koninkryk kom ..............as ek nie by sending betrokke is nie
laat U wil geskied ...................as ek altyd my eie sin soek nie.
vir my daaglikse brood ............as ek wat ek het, verkwis nie.
vergewe ons ons skulde ............as ek nie berou het nie.

Ek kan nie onderneem:

soos ons, ons skuldenaars vergewe .....as ek met 'n wrok rondloop nie
lei ons nie in die versoeking nie ........as ek met sonde speel nie.

Ek kan nie praat van:

aan U behoort die koninkryk ...........as ek Jesus nie dien nie.

Ek kan nie byvoeg:
en die krag ...........................as daar vrees in my hart is nie.
en die heerlikheid ....................as ek my eie lewe regeer nie.
tot in ewigheid .......................as ek nie Sy koms verwag nie.

Ek kan nie eindig:
amen ..................................as ek nie kinderlik glo nie

Deurgegee deur Danie Jacobs

Monday, October 12, 2009

RYKHALSENDE VERLANGE

Jesus was besig om 'n groot skare mense te bedien. Hy het hulle siekes gesondgemaak omdat hy hulle innig jammer gekry het. Sy dissipels het hom deurentyd vergesel en van Hom geleer. Jesus het hulle onder Sy vlerk geneem om hulle te leer om met die mense te deel. Toe dit al aand geword het, het Sy dissipels na Hom gekom en gevra dat hy die skare moet laat gaan omdat hulle honger was. Jesus wou nie en het die skare van ongeveer twintig duisend mense gevoed uit die vyf brode en die twee visse wat die dissipels by hulle gehad het. Almall het geëet daarvan en daar het nog twaalf mandjies vol brokstukke oorgebly.
In Matt.14:22 dwing Jesus sy dissipels om dadelik in die skuit te klim en vooruit te vaar na die oorkant, terwyl Hy die skare wegstuur. Nadat Jesus die skare weggestuur het het Hy op die berg geklim om in die eensaamheid te gaan bid.

Hier stel Jesus aan ons 'n voorbeeld om te midde van 'n baie druk program jou van almal af te sonder en in eensaamheid te gaan bid. In vers 23 En toe dit aand geword het,was Hy daar alleen.Tydens so 'n afsondering sessie, kon Jesus met Sy Hemelse Vader kontak maak en met Hom gesels en hoor wat die Vader wil hê dat Hy moet doen. Dit is ook ons plig om Jesus se voorbeeld te volg..! Hoe anders sal ons met ons Hemelse Vader kontak maak en by Hom hoor wat Hy wil hê ons moet doen? Tye van stilte waarin ons werklik tot stilstand kom is so nodig. As ons,ons nie daadwerklik losmaak van die daaglikse bedrywighede en vir 'n tydlank wegbreek nie sal ons nooit op daardie punt kom wanneer ons die Vader se stem duidelik kan hoor nie.

Hoe lyk jou stiltetyd...?
Is dit miskien net een of twee versies in die Bybel lees, 'n half minuut se gebedjie en dan voel jy getroos dat jy stil geword het voor die Here. Of is stiltetyd iets wat net so af en toe gebeur of dalk gladnie. Ken jy die Here persoonlik en intiem..? of weet jy maar net van Hom en het hom nog nooit persoonlik ontmoed nie.
As jy nie voor die lewende God buig en Jesus aanneem as jou persoonlikke Verlosser en Saligmaker nie, sal jy nie nou of in die toekoms kan sê dat jy Hom ken nie. Ja jy weet dalk net van Hom, van Hom gehoor jare gelede in die Sondagskool of by jou moeder of tydens katkisasie. Jy is dalk in die kerk getroud omdat dit tradisie is, kinders gedoop, beloftes afgelê. Elke keer wat jy in die kerk gekom het, het jy van hom gehoor! Lidmaat van 'n kerk geword! Kerklidmaatskap is geen vrypas na die hemel nie. Al die mense wat so gereeld op 'n Sondag kerktoe gaan is nie noodwendig kinders van God nie. As jy nie daardie intieme ontmoeting met die Here gehad het nie en as jou gees nie gewederbaar is nie is jy nie 'n kind van God nie.

Ek wil jou tog vra. Soek die Here met jou hele hart, bely en laat staan jou sondes. Die laat staan gedeelte is belangrik.
Jy kan tog nie aangaan met 'n sonde doen as jy bely het en die Here jou vergewe het nie!

Weet jy, die Woord sê, selfs die natuur sien met rykhalsende verlange daarna uit dat dit geopenbaar sal word wie die kinders van God is....!

Gaan jy in die groep wees as dit openbaar gemaak gaan word...?

Thursday, October 8, 2009

Nog net een keer

Dit was ‘n koue, laat wintersmiddag toe die Genadewa sy staan loop kry het langs hul huisie wat so neffens die bokant van die lang, wit sandduin staan. ‘n Huis wat oor die jare heen bewyse en merke van hierdie wêreld se soms genadelose winde, skurende sandstorms, yskoue wintersnagte en bakkende somersonstrale dra. Genadelose seermaaktekens voorwaar.

Almal om en in die huisie is besig, selfs die oorstaanmense ook, want vandag is slagdag en dit is inderdaad ‘n feesdag. Dit giggel, koggel, lag en skerts want vandag is daar drie skape geslag en een daarvan is hulle s’n. Ek en die Mooiste Mooi wil ook help maar is net in die pad. Nou staan ons maar en kyk hoe die vetderm behendig omgedop word terwyl ander die kop en pootjies spierwit skoon skraap. Almal help en hulle weet dat vanaand die aand is waar die vleisigheid soet en sag gaan wees en dan wag die lekkerte van ‘n Kalahari skaapafval vir môre.

Kort neffens skemerte daal rustigheid soos ‘n genademantel om die huisie neer. Die kombuisstoele word met ‘n klam lappie afgestof en rondom die klein vuurtjie gerangskik. Die groter kinders gaan soek klippe om op te sit terwyl die kleintjies hulself styf teen die vuurtjie op die grond inwurm. Dan raak dit stil, baie stil.

“Ma sê sy gaan nie meer kerk loop nie. Sy sê sy is klaar met God en sy gebod,” kook dit uit die jong vrou se binneste-binne en dan vertel sy vinnig verder. “Nee wat, onse hoofkerkloper vertel dan vir haar sy’s ‘n skelm en ‘n skollie en hy het mos ’n vasstaan woord. So loop sy se woord mos nou die hele Kalahari-vlak vol.”

Plotseling verander die hele atmosfeer en so al asof hy vir hierdie genadelose woorde gewag het, sny die suidelike windjie op sy skerp kant om die hoek en diep in ons in. ‘n Ysige stilte daal om die vuurtjie neer en vir ‘n oomblik voel dit asof die wintersaandwindjie sy oeroue stryd teen die hitte gaan wen.

Skielik knetter die vuurtjie en daarna kraak hy asof hy iets wil sê en skiet klein vonkies skouerhoogte die donker koue in. Tien paar oë draai in my se rigting en kyk soos dorstige skape my aan terwyl haar se oë grond toe kyk. Die genadelose seermaaktekens van ‘n binnekant vol pynspore getrap en ‘n geskeurde binnevoering lê vlak in haar pynoë en woordeloos wil sy haar hart vir die laaste keer sluit. Bewoë sit ek en staar na die geelrooi vuurtjie met sy helder kooltjies en uit die kant van my se traanoë sien ek hoe my Mooiste Mooi ook die nat van haar binnevensters versigtig afvee.

“Wees versigtig soos slange en so opreg soos duiwe” het ek juis daardie oggend gelees en ek oordink hierdie woorde baie versigtig. Stilte is wysheid op sy se manier en hierdie wysheid is nou so nodig soos ‘n sagte lentereën na ‘n winterdroogte. “Voor jy hom glo, vat eers weer Vader se woorde van Bo,” hoor ek myself lateraan sê toe die Mooiste Mooi opstaan om haar ‘n drukkie te gaan gee.

‘n Ruk later en hemelstraat se silwer sterre en ‘n halwe volmaan verlig die Kalahari-vlak toe ons hulle groet daar by die huisie met sy seermaak tekens. Haar seer lê nog bitter baie vlak in onse binneste-binne toe die halsstarrige plaashek ons huiswaarts onderbreek. ‘n Moedbreek plaashek met eie unieke seermaaktekens waarmee my Mooiste Mooi so mee sukkel.

Ek klim ook uit en stap saggies nader en sy skrik effens toe ek my arms onverwags styf om haar vou. Sy leun met haar kop teen my bors en so staan ons in stilte daar terwyl die dreuning van die Genadewa gerusstellend sag in ons ore weerklink.

Dan weet ek dat voor jy praat … … … luister weer,
voor jy kritiseer … … … wag weer,
voor jy skryf … … ... dink weer, en
voor jy finaal opgee … ... ... probeer nog net een keer.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ...................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene
DIVINE LIFE BEDIENING.
(Landlyn 054-551 1000)

Monday, October 5, 2009

DIE VERDROOGDE VYEBOOM

Markus 11:13 en toe Hy op 'n afstand 'n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets daaraan te vind; en toe Hy daarby kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie.

Ons as Christene lewe almal 'n goeie lewe. Ons versuim nie die onderlinge byeenkomste nie, ons maak ons bydraes waar nodig, ons sponsor so nou en dan 'n kind in die gemeente met een of ander aktiwiteit, as ons moet koek bak, dan doen ons dit en so kan hierdie lys langer en langer gemaak word.

AS Jesus op 'n afstand na ons lewens kyk, dan sien Hy die pragtige groen blare net soos by die vyeboom, en Sy verwagting wanneer Hy nader stap en tussen die takke inkyk, is om vrugte daar te sien hang. Sal Hy daardie vrugte sien in my en jou lewe? As daar nie vrugte is nie, sou ons kan skuil daaragter dat dit nie tyd vir vrugte dra is nie, soos in die geval van die vyeboom?

Jesus was honger toe Hy die vyeboom dig in die blare sien staan het. Jesus moes ook geweet het dat dit nie op daardie stadium tyd vir die vyeboom was om vrugte te dra nie, maar tog het Hy nader gestap, met die verwagting dat daar vrugte sou wees. Toe Jesus geen vrugte daar kry nie het Hy die boom vervloek; (vers 14)En Jesus spreek en sê vir hom: Laat niemand ooit in der ewigheid van jou 'n vrug eet nie!

Wat sal met ons gebeur die dag as Jesus agterkom dat ons nie vrug dra nie? Hy het die vyeboom nie gespaar nie, alhoewel Hy geweet het dat dit nie vyetyd was nie.(vers20) En toe hulle vroeg in die more verbygaan, sien hulle die vyeboom verdroog van sy wortels af.

Kind van God, ons moet die vrugte dra wat by ons bekering pas! Ons kan nie bekostig om maar net met ons ou lewe aan te gaan nie. Ons moet ophou om te dink dat ons met die een voet in die wêreld kan bly staan.Die tyd word kort! Die tyd kom vinnig nader dat Jesus elkeen van ons gaan beoordeel om te kyk of ons die vrug dra.
Ons kan nooit sê dat dit nie ons tyd is om vrugte te dra nie.
Dit is ons verantwoordelikheid om vrug te dra. God verwag dit van ons. Hy het nie verniet Sy Seun opgeoffer nie

Thursday, October 1, 2009

AAN WATTER STAL BEHOORT JY?

In Joh. 10:16 sê Jesus: Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.

Sommige mense dink as hulle in die Bybel lees en die verhale daarin, dat dit slegs van toepassing is op die Jode, omdat alles in Israel afspeel. Daarom dink hulle ook dat Jesus se geboorte, lewe, kruisdood en opstanding slegs van toepassing is op die Jodedom en dat ons wat nie-Jode is, geen deel daaraan het of kan hê nie. Dan voel hulle dat Jesus vir die Jode se sondes gesterf het en nie vir ons nie, en daarom kan 'n nie-Jood, nie sondevergifnis kry nie.

Hoe tragies is dit egter dat, die Jode glo nie dat Jesus alreeds in die vlees gekom het nie, hulle koester nog die verwagting dat Hy sal kom. Hulle probeer nog al die wette onderhou en vertrou dat dit hulle sal regverdig. Hulle het nognie die heerlike genade van God verstaan en ondervind nie. Hulle besef nie dat wette en werke nie aan hulle saligheid sal gee nie. Daar is net een weg na die ewige lewe in Christus en dit is die weg deur Christus Jesus. Joh.10:(7) Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape. (9) Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.

Jesus het na die aarde toe gekom vir alle mense. Jou nasionaliteit, jou taal, jou land van herkoms, jou agtergrond, jou finansiële status en vermoëns, die werk wat jy doen, of jy in die tronk is of was, of jy 'n man of 'n vrou is, of jy op 'n hoë berg is of onder in 'n vallei, niks kan jou skei van die liefde van God nie. Niks kan jou daarvan weerhou om Jesus as jou Verlosser en Saligmaker aan te neem nie. Joh.10:16 waarmee ek hierdie inskrywing begin het is baie duidelik "Ek het nog ander skape (volke) wat nie aan hierdie stal (Jode) behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde,(Jode en ander volke) een herder."

My vriend/vriendin, al wat jy moet doen is net die eerste tree gee om die heerlikheid van God se verlossingsplan te ondervind. Die keuse is in jou hande en niemand anders kan daardie keuse vir jou maak nie. NET JY!!