Thursday, October 22, 2009

VERTROU OP DIE HERE

Ons sit gereeld met handevol moeilikheid, of dit nou deur ons eie toedoen is of deur onvoorsiene omstandighede, dit tref ons almal maar so sporadies.
As dit gebeur, wat doen ons dan?
Ons is bang...!
Ons weet nie wat gaan gebeur nie en ons weet in die meeste gevalle ook nie wat om te doen nie.Ons sit die situasie maar net en aankyk. Ons gedagtes werk oortyd. Ons beplan dat dit bars, maar niks wil uitwerk sodat ons uit die moeilikheid kan kom nie.

Matt14:24 En die skuit was al in die middel van die see, geteister deur die golwe; want die wind was teen hulle.

Onthou, dat Jesus die dissipels eintlik gedwing het om in die skuit te klim en na die oorkant te vaar nadat Hy die ongeveer 20,000 mense kos gegee het.
Nou dobber hulle daar op die see rond, hulle roei dat dit bars maar hulle maak geen vordering nie. Dit is pikdonker en hulle kan nie 'n tree voor hulle sien nie. Hulle is al moeg gestoei met die roeispane en die nag vorder met rasse skrede. Dit is al in die vierde nagwaak, dan is dit op die donkerste tyd van die nag. Skielik sien hulle 'n "spook" en hulle het geskreeu van die vrees.
Al die tyd was dit nie 'n spook nie, maar Jesus wat op die water na hulle toe aangestap kom. Dit was die allerlaaste plek waar hulle vir Jesus verwag het, geen wonder hulle het ontsteld en bang geraak nie.Toe Jesus met hulle praat en vir hulle sê om nie bang te wees nie, het die arme Petrus soos gewoonlik weer sy voet daarin gesit. Matt14:28 ...Here as dit U is, beveel my om op die water na U te kom.

Petrus wou nie glo dat Jesus tot hulle redding gekom het nie. Net so wil ons ook nie glo dat Jesus tot ons redding kan kom as ons moeilikheid het nie. Nee ons wil alles self doen, ons sal self hieruit kom, ons is gewoond daaraan om maar te spook en te spartel, teen die wind in te roei en die golwe te trotseer. Ons vra nie die Here se hulp nie. Hoekom nie..? Omdat ons Hom nie regtig vertrou nie...! Die meeste van die tyd is die Here al besig om die probleem op te los, dan wil ons dit nie erken nie, soos Petrus wil ons dan bewyse hê dat dit wel die Here is wat tot ons redding kom.

Gewoonlik wanneer die nag op sy donkerste is kom daar 'n ligstraaltjie. Daardie lig is die Here. Kom ons glo hom wanneer Hy Homself aankondig, want as Hy in ons bootjie klim verander die omstandighede totaal. Matt14:32 Daarop klim hulle(Jesus en Petrus)in die skuit en die wind het gaan lê.

1 comment:

Alet said...

Dankie dat Oom ons hieraan herinner, ek vind myself al hoe meer bid: "Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp!" Markus 9:24
Lekker naweek vir julle daar in SA