Monday, October 26, 2009

GETUIENIS

Iemand het gesê ons moenie getuig omdat ons moet nie, maar omdat ons iets het om oor te getuig. Die Here moes vir jou iets nuuts gedoen het waaroor jy kan getuig om so jou medemens mee te bemoedig. Dit is belangrik dat ons vertel van die goedheid van die Here, sodat ons eie geloof en die van andere versterk kan word.
Ongelukkig is dit dan ook so dat daar baie kinders van die Here is wat dit bitter moeilik vind om te getuig. Miskien om dat hulle nie voor mense kan praat nie, maar ook omdat hulle na andere se getuienisse luister en dan voel hulle dat dit wat die Here vir hulle gedoen het is so nietig en klein dat hulle maar liewers stilbly in die teenwoordigheid van mense wat sulke wonderlikke getuienisse kan gee. Dan is daar natuurlik ook diegene wat nie kan getuig nie omdat hulle baie emosioneel raak en begin snik en huil wanneer hulle oor die grootheid en goedheid van die Here moet vertel. Hulle bly dan liewers stil omdat hulle ongemaklik voel wanneer hulle emosioneel raak.
As jy voel, dat dit wat jy wil vertel wat die Here vir jou gedoen het is nietig in vergelyking met wat die volgende person vertel, moenie terughou nie, want daar is dalk iemand anders wat net soos jy voel, wat na jou luister en dan versterk jy sy geloof. Die Here doen groot en klein dingetjies in mense se lewens en op die ou einde moet Hy al die eer daarvoor kry. Wat in jou oe dalk ‘n groot ding is, is weer in iemand anders se oe ‘n klein dingetjie en wat in jou oe dalk na ‘n klein dingetjie lyk is weer in iemand anders se oe ‘n groot ding.
As ons wil getuig is dit nie nodig om ellelange gedeeltes uit die Woord aan te haal nie, al wat dit vra is om in eenvoudige taal net te vertel wat Die Here vir jou gedoen het en hoe jy daaroor voel.
Om te getuig versterk jou geloof en ook die geloof van diegene wat na jou luister. Getuienis begin van die oomblik af dat die Here jou siel uit genade red tot die dag dat jy jou kop neerle. Dit is ons plig om te vertel van die goedheid van die Here en ons moet aan Hom al die eer gee vir wat Hy elke dag vir ons doen. As ons elke dag ons lewens in oenskou neem dan sal ons ‘n legio dinge sien waaroor ons kan getuig en die Here die eer voor gee.
Ons moet net nie ophou of daarvan wegskram om te getuig nie. Ons mag nie stilbly nie, want die Woord se die klippe sal uitroep. Luk 19:40 En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep. Ons moet ons eie en andere se geloof bou deur te vertel van die goedheid van ons Vader. Joh 4:39 En baie van die Samaritane uit daardie stad het in Hom geglo oor die woord van die vrou wat getuig het: Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.



Gebed.
Here help my asb dat ek elke geleentheid wat ek kry, van u goedheid sal getuig en sodoende my eie geloof te verstewig. Andere wat luister kan dalk hulle lewens vir u gee omdat hulle gehoor het van die goedheid van God. Amen

No comments: