Monday, October 5, 2009

DIE VERDROOGDE VYEBOOM

Markus 11:13 en toe Hy op 'n afstand 'n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets daaraan te vind; en toe Hy daarby kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie.

Ons as Christene lewe almal 'n goeie lewe. Ons versuim nie die onderlinge byeenkomste nie, ons maak ons bydraes waar nodig, ons sponsor so nou en dan 'n kind in die gemeente met een of ander aktiwiteit, as ons moet koek bak, dan doen ons dit en so kan hierdie lys langer en langer gemaak word.

AS Jesus op 'n afstand na ons lewens kyk, dan sien Hy die pragtige groen blare net soos by die vyeboom, en Sy verwagting wanneer Hy nader stap en tussen die takke inkyk, is om vrugte daar te sien hang. Sal Hy daardie vrugte sien in my en jou lewe? As daar nie vrugte is nie, sou ons kan skuil daaragter dat dit nie tyd vir vrugte dra is nie, soos in die geval van die vyeboom?

Jesus was honger toe Hy die vyeboom dig in die blare sien staan het. Jesus moes ook geweet het dat dit nie op daardie stadium tyd vir die vyeboom was om vrugte te dra nie, maar tog het Hy nader gestap, met die verwagting dat daar vrugte sou wees. Toe Jesus geen vrugte daar kry nie het Hy die boom vervloek; (vers 14)En Jesus spreek en sê vir hom: Laat niemand ooit in der ewigheid van jou 'n vrug eet nie!

Wat sal met ons gebeur die dag as Jesus agterkom dat ons nie vrug dra nie? Hy het die vyeboom nie gespaar nie, alhoewel Hy geweet het dat dit nie vyetyd was nie.(vers20) En toe hulle vroeg in die more verbygaan, sien hulle die vyeboom verdroog van sy wortels af.

Kind van God, ons moet die vrugte dra wat by ons bekering pas! Ons kan nie bekostig om maar net met ons ou lewe aan te gaan nie. Ons moet ophou om te dink dat ons met die een voet in die wêreld kan bly staan.Die tyd word kort! Die tyd kom vinnig nader dat Jesus elkeen van ons gaan beoordeel om te kyk of ons die vrug dra.
Ons kan nooit sê dat dit nie ons tyd is om vrugte te dra nie.
Dit is ons verantwoordelikheid om vrug te dra. God verwag dit van ons. Hy het nie verniet Sy Seun opgeoffer nie