Thursday, October 8, 2009

Nog net een keer

Dit was ‘n koue, laat wintersmiddag toe die Genadewa sy staan loop kry het langs hul huisie wat so neffens die bokant van die lang, wit sandduin staan. ‘n Huis wat oor die jare heen bewyse en merke van hierdie wêreld se soms genadelose winde, skurende sandstorms, yskoue wintersnagte en bakkende somersonstrale dra. Genadelose seermaaktekens voorwaar.

Almal om en in die huisie is besig, selfs die oorstaanmense ook, want vandag is slagdag en dit is inderdaad ‘n feesdag. Dit giggel, koggel, lag en skerts want vandag is daar drie skape geslag en een daarvan is hulle s’n. Ek en die Mooiste Mooi wil ook help maar is net in die pad. Nou staan ons maar en kyk hoe die vetderm behendig omgedop word terwyl ander die kop en pootjies spierwit skoon skraap. Almal help en hulle weet dat vanaand die aand is waar die vleisigheid soet en sag gaan wees en dan wag die lekkerte van ‘n Kalahari skaapafval vir môre.

Kort neffens skemerte daal rustigheid soos ‘n genademantel om die huisie neer. Die kombuisstoele word met ‘n klam lappie afgestof en rondom die klein vuurtjie gerangskik. Die groter kinders gaan soek klippe om op te sit terwyl die kleintjies hulself styf teen die vuurtjie op die grond inwurm. Dan raak dit stil, baie stil.

“Ma sê sy gaan nie meer kerk loop nie. Sy sê sy is klaar met God en sy gebod,” kook dit uit die jong vrou se binneste-binne en dan vertel sy vinnig verder. “Nee wat, onse hoofkerkloper vertel dan vir haar sy’s ‘n skelm en ‘n skollie en hy het mos ’n vasstaan woord. So loop sy se woord mos nou die hele Kalahari-vlak vol.”

Plotseling verander die hele atmosfeer en so al asof hy vir hierdie genadelose woorde gewag het, sny die suidelike windjie op sy skerp kant om die hoek en diep in ons in. ‘n Ysige stilte daal om die vuurtjie neer en vir ‘n oomblik voel dit asof die wintersaandwindjie sy oeroue stryd teen die hitte gaan wen.

Skielik knetter die vuurtjie en daarna kraak hy asof hy iets wil sê en skiet klein vonkies skouerhoogte die donker koue in. Tien paar oë draai in my se rigting en kyk soos dorstige skape my aan terwyl haar se oë grond toe kyk. Die genadelose seermaaktekens van ‘n binnekant vol pynspore getrap en ‘n geskeurde binnevoering lê vlak in haar pynoë en woordeloos wil sy haar hart vir die laaste keer sluit. Bewoë sit ek en staar na die geelrooi vuurtjie met sy helder kooltjies en uit die kant van my se traanoë sien ek hoe my Mooiste Mooi ook die nat van haar binnevensters versigtig afvee.

“Wees versigtig soos slange en so opreg soos duiwe” het ek juis daardie oggend gelees en ek oordink hierdie woorde baie versigtig. Stilte is wysheid op sy se manier en hierdie wysheid is nou so nodig soos ‘n sagte lentereën na ‘n winterdroogte. “Voor jy hom glo, vat eers weer Vader se woorde van Bo,” hoor ek myself lateraan sê toe die Mooiste Mooi opstaan om haar ‘n drukkie te gaan gee.

‘n Ruk later en hemelstraat se silwer sterre en ‘n halwe volmaan verlig die Kalahari-vlak toe ons hulle groet daar by die huisie met sy seermaak tekens. Haar seer lê nog bitter baie vlak in onse binneste-binne toe die halsstarrige plaashek ons huiswaarts onderbreek. ‘n Moedbreek plaashek met eie unieke seermaaktekens waarmee my Mooiste Mooi so mee sukkel.

Ek klim ook uit en stap saggies nader en sy skrik effens toe ek my arms onverwags styf om haar vou. Sy leun met haar kop teen my bors en so staan ons in stilte daar terwyl die dreuning van die Genadewa gerusstellend sag in ons ore weerklink.

Dan weet ek dat voor jy praat … … … luister weer,
voor jy kritiseer … … … wag weer,
voor jy skryf … … ... dink weer, en
voor jy finaal opgee … ... ... probeer nog net een keer.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ...................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene
DIVINE LIFE BEDIENING.
(Landlyn 054-551 1000)

1 comment:

Nimsi se Blog said...

Ek sukkel die afgelope tyd om hier by jou te kommentaar Oom Petrus. Hierdie is n kosbare lewensles wat min van ons al geleer het.
Lekker naweek.