Tuesday, June 30, 2009

GEBED IS BELANGRIK

As jy wil weet hoe gewild 'n kerk of gemeente is - gaan na die oggenddiens
As jy wil weet hoe gewild die leraar is - gaan na die aanddiens
As jy wil weet hoe gewild God is - gaan na die weeklikse biduur.

"Die tyd wat ons aan gebed bestee is nie gemorste tyd nie. Dit is tyd wat teen die hoogste rentekoers belê word en wat die hoogste dividend sal oplewer." (R.A. Torrey)

'n Biddelose gemeente is 'n kragtelose gemeente, want "sonder God kan ons nie, maar sonder ons wil God nie."(Augustinus)

"As ons werk, is dit net mensewerk, maar as ons bid, werk God. en as God werk, wie kan dit keer? (Hans von Staden)

As God dan soveel krag en beloftes aan gebed gekoppel het, as Hy ons soveel keer nooi en beveel om te bid, as Hy telkemale in die verlede gebed op die wonderlikste manier verhoor het, is dit dan verbasend dat die satan alles in die stryd werp om te keer dat ons bid?

Dr. Andrew Murray het eenkeer gesê:
" Ons kan tyd maak vir gebed. Ons doen dit dan vir ons vriende."

Dank aan: Manie Delport

Monday, June 29, 2009

VERGEWE ONS ,ONS SONDE

Daagliks gaan daar baie gebede regoor die hele wêreld op. Wat die inhoud van gebede in ander wêrelddele en selfs in ander tale binne Suid Afrika is, is nie aan my bekend nie!

Iets wat my opval in openbare gebede, hetsy by bidure, tafelgebede, openingsgebede of waar ookal, veral waar dit in Afrikaans gedoen word. Is dat Iewers in die gebed, maar gewoonlik naby aan die slot word die volgende woorde gebid: “en vergewe ons, ons sonde?”

Ek luister gewoonlik verstom na die woorde en ‘n aantal vrae kom onwillekeurig by my op. Wie is die ons? Is dit die Bidder en sy familie? Is dit die mense teenwoordig in die vertrek waar die gebed gebid word? Is dit almal op die aarde? Word hierdie versoek bedoel, of gebruik die Bidder die woorde om aan die gebed “body” te gee? Is dit nie maar net deel van ‘n rympie wat die Bidder opsê ne nie eers agterkom dat hy/sy dit wel vra nie?

Nou wonder ‘n mens, dra so ‘n versoek gewig by God? As so ‘n “ons” versoek tot God gerig word in ‘n openbare gebed, kan almal op die aarde dan aanneem dat God alle sondes wat hulle gedoen het tot op die oomblik dat die persoon gebid het, vergewe is? “Ons” is mos nie beperkend nie, dit is ‘n “oop” versoek! Selfs al kwalifiseer die Bidder die “ons” met “ons wat in die vertrek teenwoordig is” of “ons wat om hierdie tafel sit”, is die vraag steeds, vergewe God nou almal se sonde op daardie oomblik wat die versoek gerig word?

As ek vanoggend ‘n verkeerde gesindheid openbaar het en die Heilige Gees oortuig my daarvan dat dit verkeerd was, dan vra ek mos dadelik dat God my sal vergewe en my weer sal vul met sy Heilige Gees. Ek is dan mos “sondeloos” want ek is vergewe vir die sonde van verkeerde gesindheid! As ek nou in die geselskap is en as deel van die “ons” beskou word, van watter sonde vergewe God my?

Is dit dalk ‘n geval dat die Bidder deur die Heilige Gees oortuig word dat daar sonde in sy/haar lewe is en dat dit nou in die openbaar bely moet word? Dalk is dit nou ‘n geval dat die bidder te skaam is om die verkeerde daad by die naam te noem, daarom die versamelnaam “sonde” Dalk ook te skaam om “ek” te sê daarom “ons”

Wanneer mens aanvanklik ‘n oorgawe aan die Here doen, dan bely mens in jou sondaarsgebed al jou sondes, omdat jy nie elkeen van die sondes wat jy gedoen het by die naam kan onthou nie, maar daarna bely jy ‘n sonde by die naam soos wat die Heilige Gees jou van oortuig bv. vloek, lieg, steel, gesindheid, kwaadpraat ens.

Wanneer mens by die volgende stap kom, dan bely jy die sonde wat in jou woon. Dit is daardie geneigdheid om die verkeerde te doen wat jy oorgeêrf het vanaf die sondeval in die Paradys. Daardie erf-smed waarmee jy gebore word, soos wat die Bybel sê in sonde word ons ontvang en gebore!

Word sondevergifnis nie dalk goedkoop gemaak wanneer Bidders vra “vergewe ons,ons sonde” sonder dat dit werklik bedoel word en sommer net so in die verbygaan van die Here gevra word nie?

Ons moet altyd onthou dat ‘n geweldige prys betaal is sodat ons vergifnis van sonde kan kry, dus is sondevergifnis nie ‘n goedkoop kommoditeit nie!!

Friday, June 26, 2009

VOETSPORE EN VINGERAFDRUKKE

In ons daaglikse handel en wandel, laat ons voetspore en vingerafdrukke so ver as wat ons gaan. Elke mens se voetspore en vingerafdrukke is uniek en het geen ooreenkoms met enige iemand anders nie.

As jy langs die strand stap dan lê daardie voetrspore duidelik daar in die sand totdat die eerste brander daaroor spoel, dan is daardie spore vir ewig weg. Dieselfde met ons vingerafdrukke, dit sit net daar waar ons gevat het totdat die eerste stoflap daaroor vryf, dan bly daarvan ook niks oor nie.

Soos wat ons voetspore in die strand trap, laat ons ook voetspore en vingerafdrukke in mense se lewens agter soos ons elke dag met hulle interaksie voer. Waar ons seker die diepste spore trap is in die vatbare gemoedere van kinders. Daardie voetspore en vingerafdrukke wat ons in hulle agterlaat, verdwyn nie na die eerste brander of stoflap nie. Dit is blywende indrukke of afdrukke wat sal bepaal hoe hulle eendag as grootmense sal optree... Hoe hulle eendag teenoor hulle vrouens of mans en kinders sal optree en hulle behandel.

Daar is ongelukkig so dat daar ouers is wat met verwyte in hulle hart rondloop, oor hoe hulle kinders ontwikkel en uitgedraai het. Die ouers sien in hulle kinders se optrede ‘n voorbeeld van hoe hulle self binne die huisgesin optree het en dit is nie altyd ‘n mooi prentjie. Baie ouers wens dat daardie spore deur hulle in hulle kinders se lewens getrap deur ‘n brander weggewas of deur ‘n stoflap afgevee kan word.

Daar was natuurlik ook ouers wat biddend en met versigtigheid voetspore en vingerafdrukke in hulle kinders se lewens agtergelaat het. Daardie ouers sit terug en verlustig hulle in die korrekte en verantwoordelike optrede van hulle kinders. Daardie kinders is ‘n voorbeeld in die gemeenskap en word gerespekteer vir wat hulle is.

Hoe lyk die voetspore en vingerafdrukke wat jy besig is om in jou gemeenskap te laat. Of dit nou jou kinders, familie, vriende of bure is. Trap en vat jy met verantwoordelik sodat die mense met wie jy skouerskuur, jou respekteer vir jou opinie en na jou opsien vir leiding?

Is dit wat jy nalaat navolgenswerd, sal jy eendag trots wees op daardie nalatenskap van jou?

Thursday, June 25, 2009

PSALM 117

Die Boodskap
Jan van der Watt
Stephan Joubert

Kom, prys die Here, al julle volke!
Loof Hom, al julle nasies!
Hoekom? Want Hy is baie lief vir julle;
Ja, die Here se liefde vir julle sal nooit ophou nie.
Kom, prys die Here!

Hoe kan ons nie so 'n God liefhê en aanbid nie? Hoekom is sommige mense so halstarrig dat hulle nie 'n oorgawe aan hierdie wonderlike Hemelse Vader wil maak nie? Hy sê in Sy woord dat ons moet kom net soos ons is. Ons hoef nie eers te gaan 'n mooi pakklere en das aantrek of deodorant aanspuit nie. Hoekom? Omdat, Hy elkeen van ons deur en deur ken, elke hoekie en draaitjie van ons menswees, elke skuilhoekie van ons siel. Omdat Hy God is.
Ja, kom ons gaan voluit om Hom te loof en te prys, want Hy is baie lief vir ons.


Wednesday, June 24, 2009

DIE KOELTEBOOM RUS

Groete en Vrede!!!

Dit was windstil en wolkloos daardie spesifieke koelkoue oggend. Ek was vroegdag al wakker en het buite op die sementbankie loop sit en wag dat die helderste hemellig onse Skepper se bestaan met warmte en snoesigheid verklaar. Die verlatenheid en vergetenheid van die Agter-Kalahari eggo oorverdowend stil en ek verdwaal maklik in die wonderlike gevoel van volmaakte rus in Sy teenwoordigheid.

My oë gly oor die plat, vaalbruin wêreld en skielik besef ek dat die seisoen gedraai het. Wintertyd is wakker en hy is besig om die somerslaap uit sy oë te vee. Binnekort gaan hy vir sommige rustyd en hersteltyd met sy bekende bibberende doodskoue asem oor die Kalahari-vlak aankondig en vir ander … ‘n finale rus.

Dan staan my sien stil by die vaal, liggroen koelteboom waaronder die Genadewa sy staning het. Die laaste jaar was maar dik woestynsand swaar want die lewensaanslae was almal daar, en dit terwyl hy lowergroen lewe en skuiling aan soveel ander moes bied. Geduldig, gedienstig en gedweë toring hy bo ander uit met net die helfte van sy somerskleed aan. Dorstig word gesmeek na rustyd, na hersteltyd, na sterkword-tyd want hy hoop om nog lewe, skuiling en vertroosting aan vele ander te bied.

‘n Rukkie later en die lang, donker, vroegoggend skadu van die koelteboom krimp soos wat die ylerige herfsson sy daaglikse roete loop. ‘n Skielike rukwindjie pluk speels aan sy takke en losserige blaartjies. Verdwaas sit ek en staar na ‘n klompie vaalgroen blaartjies wat half leweloos grond toe dans.

En terwyl yskoue hoendervleis oral op my lyf uitslaan begin ek stadigaan verstaan. Dat elkeen van ons, nes die koelteboom, ook maar mag wonder hoeveel seisoene nog voordat ons sal kan hoor en dit nooit verloor;

Getroue dienskneg … het Hy geseg

Somers het gekom en winters het gegaan

Bowenal alles het jou geloof soos ‘n koelteboom bly staan

Nou kan jy in My kom rus

My arms sal jou veilig sus.


Wel vanuit die Agter-Kalahari tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ...................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene

DIVINE LIFE SENDING.

(Landlyn 054-551 1000)

Tuesday, June 23, 2009

WIE IS HY WERKLIK

Ons is besig om rustig ons lewens-bootjie te roei op die lewens-oseaan. Daar is by ons nie 'n bekommernis nie want alles is onder beheer. Sonder dat ons dit agterkom gee die bootjie so af en toe so 'n effense bok-sprong, die intensiteit daarvan neem stadig en ongemerk toe en as ons die ding mooi agterkom is ons te midde in 'n storm, met swiepende winde en die mis het so toegetrek dat ons nie die ander bootjies wat oomblikke gelede nog saam met ons geroei het kan sien nie. Ons weet nie eers of hulle ook in hierdie lewens-storm beland het nie en of hulle dalk skotvry daarvan afgekom het nie. Ons is heeltemal afgesonder van die buite wêreld af. Ons begin net aan ons eie welsyn dink en hoe ons uit hierdie storm gaan loskom. Ons kan nie by die ouens wat netnou nog saam met ons geroei het vra vir hulp nie, want ons weet nie waar hulle is nie. Ons is ook skaam om te roep want wat gaan gaan hulle van ons dink as hulle ons dalk kan hoor.

Ons het nie willens en wetens in hierdie storm ingevaar nie, dit het so ongesiens om ons toegesak. Ons begin rondkyk in die bootjie, op soek na iets of iemand wat ons uit hierdie verknorsing kan red. Dan sien ons Hom, Hy lê rustig agter in die boodjie op 'n kussing en slaap.(Mark 4:38a) Ons het mos self totale beheer oor hierdie bootjie geneem, en ons het ons Stuurman so half ge-ignoreer, want ons het gedink dat alles so glad verloop, dat ons nou nie regtig van ons 'n oorlas by Hom wil maak nie. Ons het self die spane opgeneem en besluit dat ons die bootjie sonder enige hulp aan die anderkant sal kry. Hoe verder ons roei hoe groter word die golwe, en dit slaan tot binne in ons bootjie. Die bootjie word al swaarder van die water en is al hoe moeiliker hanteerbaar.
Wat moet ons doen? Ons weet nie herwaarts of derwaarts nie! Ons is half skaam om Hom te gaan wakkermaak en vir hulp te vra.....

Wat het die Dissipels onder soortgelyke omstandighede gedoen toe hulle bootjie wou sink? Die Boodskap: Mark 4:38b-41 Die dissipels skud Jesus toe wakker en sê: "Gee U nie om dat ons besig is om te sink nie?" Jesus staan toe op en praat streng met die wind en die golwe.....Dadelik het die wind gaan lê en alles was heeltemal kalm. Toe draai Hy na sy dissipels toe: "Vir wat was julle so bang? Vertrou julle my dan nie? Hulle was heeltemal verslae en het klein gevoel in Sy teenwoordigheid. "Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see doen wat Hy sê," het hulle onder mekaar gewonder

Sorg dat Jesus altyd die Stuurman van jou bootjie is. As jy na Hom luister sal jy nie in so 'n penarie beland nie.

Monday, June 22, 2009

VERHOUDINGE IS ALLES

Soms wonder 'n mens, hoekom die dood so 'n groot impak op 'n samelewing het. Het dit nie iets (of liewer alles) te doen met die feit dat God ons as verhoudingswesens geskape het nie? Tog skeep ons baie keer hierdie faset van menswees die meeste af! Wanneer ons mense se behoeftes beter verstaan, kan jy hulle beinvloed en 'n positiewe impak op hulle lewens maak. Volgens Dr John C. Maxwell is die volgende 3 sake belangrik as jy mense wil verstaan:

1. EVERYBODY WANTS TO BE SOMEBODY
Net soos wat jy 'n behoefte het aan erkenning en 'n betekenisvolle lewe, net so het elkeen rondom jou dit ook nodig. Almal (ook God se kinders) het 'n behoefte om waardig geag te word.

2. NOBODY CARES HOW MUCH YOU KNOW UNTILL THEY KNOW HOW MUCH YOU CARE
Hoeveel jy weet, beindruk nie eintlik iemand nie. Die oomblik wat mense besef jy gee regtig vir hulle om, sal hulle gesindheid teenoor jou verander.

3. Wat gebeur met 'n warm kooltjie wat uit die vuur gehaal word? Dit koel af. Die kerk vermag mos ook baie meer, as ons dinge saam doen!
Psalm 8 sê baie duidelik dat die Here ons met 'eer en aansien" gekroon het!

Kom ek daag jou uit om mense (veral kinders en jeug) se eer en aansien "terug te gee" deur hierdie drie behoeftes uit te leef teenoor hulle wat dit so nodig het....sodat God se eer meer sigbaar kan word!

Met dank aan Danie Jacobs

Sunday, June 21, 2009

GOD SE VADERHART

Dit was 'n seer oomblik toe dr Erich Heine 'n blommekrans op 'n branderplank in die see in stoot as deel van 'n intieme groetseremonie toe hulle van Erich junior afskeid geneem het. Erich is oorlede toe 'n Airbus A300-vliegtuig onlangs in die see gestort het. Wat die impak van die meer as 200 mense se dood op hulle families en vriendekringe gelaat het, is ondenkbaar, maar wat Erich Heine aanbetref, het diè vliegramp ouers sonder 'n seun, 'n vrou sonder haar man en kinders sonder 'n pa agter gelaat.

Vir elke kind wie se pa oorlede of afwesig in sy lewe is, is 'n dag soos Vadersdag waarskynlik nie so 'n feestelike geleentheid soos wat dit vir ander kinders is nie. Ons weet dat ons, ons vaders, moeders, ons geliefdes en ander mense èlke dag, en nie net hierdie dae spesiaal en besonders behoort te laat voel nie, maar dit is tog goed dat ons sulke spesifieke geleenthede het om hulle 'n bietjie ekstra te bederf en na te dink oor hulle rol en betekenis is ons lewens.

Iemand vra onlangs of God nie ook soms vir ons soos 'n afwesige vader voel nie? Dis nie nèt kinders wat sonder 'n pa(of met 'n onbetrokke pa) moes grootword wat sy vraag sal verstaan nie. Om met ons menslike Vader-prentjie, God as "Vader" te aanvaar, is nie altyd maklik nie, tog dien dit as 'n stewige basis. So baie mense identifiseer juis met hierdie metafoor omdat 'n pa, soos wat Johann Symington skryf, baie meer aan sy kinders as kos, klere en 'n dak oor hulle koppe gee. "Hy gee ook aan hulle die geloof waarmee hulle die lewe moet aandurf"(Man uit een stuk, CUM 195:95) Andries van Aarde noem dat God so 'n groot en betekenisvolle rol in Jesus van Nasaret se lewe gespeel het, juis omdat Hy sonder 'n vader grootgeword het in 'n tyd en plek waar mens nie eintlik sonder 'n vader kon funksioneer nie(Fatherless in Galilee, Trinity Press ,2001) Vir Jesus was God alles in Sy lewe en het Hy volkome op Hom as Vader vertrou. Deur ons omgang met Jesus kan ons ook vandag vir God as Vader beskou en outentiek leef.

God se Vaderhart klop sterk, ook vir kinders sonder 'n vader(Ps68:5/6; Jer 49:11) Omdat Hy oor hulle besorg is moes sy mense van vroeg af vir hulle voorsiening maak (Deut 14:29; Jak1:27) en na hulle omsien(Jes1:17; Jer 7:6) Ons, wat God Vader noem (Matt 6:9), weet almal hoeveel ons kinders vir ons beteken. Hoeveel meer beteken ons dan nie vir ons Vader nie(Matt 7:9; Luk11:11-13)?

Mag God se Vaderskap jou vandag en elke dag diep raak en motiveer!

Dank aan: Dawie van Schoor

Friday, June 19, 2009

DINK JY AARDS OF HEMELS

Richard Baxter skryf in sy boek "The saint's everlasting rest", die volgende:

"Waarom is ons harte en ons gedagtes nie voortdurend op die hemel gerig nie...? O, dissiplineer jou siel om die EWIGHEID te bestudeer! Dink gedurig aan die LEWE WAT KOM - maak dit deel van jou denkpatroon, en verlustig jouself in die heerlikhede van die hemel."

Hierdie woorde is absoluut noodsaaklik vir die tyd waarin ons lewe! Die vermoeiendheid van ons moderne lewe, het die potensiaal om ons in totaliteit is te sluk! Geweld, misdaad, korrupsie, oorloë, mammonh, najaag van produksie, skool-aktiwiteite, - om nie eers te praat van die droogte, vloede, globale verwarming, dreigende meteorietiese botsings en ander natuurrampe wat ons verbyster laat nie!

As ons kinders van God is (met 'n getuienis van wedergeboorte, volgens Joh 3:3-5) is ons nie vir altyd op planeet aarde nie. Ons gaan na 'n plek toe, wat spesiaal vir ONS voorberei is! (Joh 14:2) Ons sal oorvloedige blydskap geniet, volgens Ps16:11!

Richard Baxter gaan voort en noem vier redes waarom dit belangrik is om aan die hemel te dink:
1. Dit verminder die moontlikheid van toegee aan die versoekings, want ons gedagtes bly gefokus op die Here.
2. Dit help om die vitaliteit van die Christelike lewe te behou.
3. Dit troos ons in ons beproewinge en verlig ons lyding hier op aarde.
4. Dit maak ons tot seën vir mede-gelowiges.

"So, dink jy "aards" of "hemels"???

Thursday, June 18, 2009

LAM OP DIE KERKTORING

"n Besoeker aan Noorweë was verbaas om op die top van 'n kerktoring, die beeld van 'n lam te sien.Toe hy navraag doen, is hy vertel dat met die bou van die kerk, een van die werkers van die stellasie afgeval het. Sy medewerkers was oortuig dat hy dood moes wees, maar tot hulle groot verbasing, was hy net lig beseer.

"Maar hoe het hy die val oorleef?" wou die besoeker weet. 'n Trop skape het onder verby gestap, die oomblik toe die werker val, en hy het op een van die lammers beland! Die lam is gedood, maar die man het ongedeerd weggestap! Sy lewe is deur die lam gered! Om hierdie wonderbaarlike redding te gedenk, is die beeld van die lam op die toring aangebring, op presies die plek van waar die man neergestort het.

Johannes die Doper, het Jesus as: "Die Lam van God, wat die sondes van die wêreld wegneem", beskryf in Joh 1:29.Petrus het gesê dat Jesus die gewig van ons sondes gedra het, in Pet 2:24, en Paulus verduidelik: "Gode het Hom in ons plek as sondaar behandel, sodat ons - deur ons eenheid met Christus - deur God vrygespreek kan wees" (2Kor 5:21)

Ons het almal in sonde geval en word daarin gebore (Ps51:7)maar Jesus bied die Ewige Lewe, aan elkeen wat waarlik gered wil word (Joh3:1-16)

Is JY al deur die Lam van God gered?

Wednesday, June 17, 2009

NAGMAAL OP DIE MAAN

Op Sondag 20 Julie 1969, het Apollo op die maan geland. Die meeste van ons is bekend met Neil Armstrong se woorde: "One small step for man, one giant leap for mankind...." maar bitter min mense weet van die eerste maaltyd wat op die maan geëet is!

Buzz Aldrin se gemeente het vir hom 'n klein nagmaal-stelletjie gegee, wat hy saamgeneem het op die ruimtetuig. Nadat Armstrong se boodskao aarde toe gestuur is, het Buzz die radio afgeskakel, Johannes 15:5 gelees, en nagmaal gebruik - op die maan.

Psalm 139 leer ons dat God orals is. Buzz Aldin het hierdie waarheid geglo en dit uitgeleef. Duisende kilometers vanaf die aarde, het hy alles stilgemaak rondom hom en met God gemeenskap gehad...

Voel God vêr van jou af? Voel jy asof jy op 'n eensame bergtop of iewers in 'n donker vallei is?

Maak nie saak hoe jy voel nie, of waar jy is nie - God is net 'n gebed vêr! Sy teenwoordigheid, is een van Sy grootste geskenke aan ons!

Psalm 139:8 Klim ek op na die hemel, is U daar!

Tuesday, June 16, 2009

KONTROLEKAMER

'n Komitee is aangestel om 'n fabriek te inspekteer om vas te stel of alles doeltreffend funksioneer. Hulle is oral deur verskillende afdelings rondgewys. Die groot masjiene met baie lawaai het hulle verskriklik beindruk en hulle het vir 'n lang ruk daarna staan en kyk. Toe is hulle na 'n kleiner vertrek geneem, in die middel van die fabriek. Daar was geen masjienerie nie, slegs die verskillend kontrole-punte.

"Dit lyk nie of hier veel aangaan nie", het een van die lede gesê en uitgestap. Die gids het geantwoord: "Dit is net waar u die fout begaan! Hierdie vertrek is die belangrikste vertrek in die hele fabriek! Alles word van hier af beheer!"

In die Christelike lewe is daardie gebedskamer, daardie "stil" vertrek vanwaar jou hele lewe beheer word!! Elkeen van ons het 'n stil plekkie nodig waar ons met die Here kan kommunikeer. Daar kan ons met die Here praat en Hom toelaat om ook Sy wil aan ons bekend te maak, terwyl ons Sy Woord bestudeer! In Matt 6:6 leer Jesus ons die belangrikheid van gemeenskap met Hom, wat slegs in die binnekamer verkry kan word.

Wanneer laas het jy die deur toegetrek en alle wêreldse afleiding uitgesluit en jou hart voor die Vader uitgestort......?

Monday, June 15, 2009

DANKBAARHEID.....deur DIENS

Wanneer mens begin om voorraadopname van jou lewe te maak, sak ons ontdek hoe geseënd ons in werklikheid is en hoe genadig God in die verlede teenoor ons was en hoe genadig Hy steeds is deur in al ons behoeftes te voorsien. Die Skrif vertel aan ons dat elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk van Bo kom(Jak1:17), Wanneer ons elke dag alles bepeins wat die Here onverdiend vir ons doen, word ons herinner aan die feit dat ons oneindig baie het om voor dankbaar te wees.

Die enigste manier waarop dit enigsins moontlik is om God te proèèr dank vir Sy goedheid en seën, is deur vir Hom diens aan ons medemens te lewer. Alles wat ons van die Here ontvang, ontvang ons slegs deur genade. Daarom is dit ons plig en voorreg om dit met ander te deel in Sy Naam en tot Sy eer.
2Kor9:12 Want hierdie hulpbetoning, voorsien nie alleen in die behoeftes van die heiliges nie, maar is ook oorvloed met danksegging aan God.

Friday, June 12, 2009

NOOD LEUENTJIE....WIT LEUENTJIE?

Om 'n onwaarheid kwyt te raak word beskou as 'n leuen, of om dit redelik kras uit te druk, dit is 'n liegstorie. Vir een of ander rede word daar daagliks deur die oorgrote gros van mense baie leuens vertel. Sommige mense is nie instaat om 'n gesprek te voer sonder om leuens te vetel nie, dit noem ons mos nou weer grootpraat.

Van kleins af hoor ons kinders wanneer ons 'n leuen vertel en hulle word groot met die gedagte dat dit in orde is om maar leuens te vertel. As die kinders nou vir Ma of Pa 'n liegstorie vertel dan word hulle ernstig gekapittel en die dood voor die oë gestel as hulle weer oortree op die gebied.

Wanneer ons as ouers ons nou in die web vasgedraai het en ons wil vir ons kinders 'n voorbeeld stel, nouja dan ondergaan die leuen vinnig 'n 'n verkleining en kry nog 'n kleur ook vooraan en by alles is dit wit. Wit staan eintlik vir skoon of rein. Nou wie het nou al van 'n skoon of 'n rein leuen gehoor.
Soms verander die wit leuen in 'n nood leuen. Nood beteken nou natuurlik weer dat daar 'n krisis is dus is dit 'n krisis leuen. Wie het nou al ooit van so 'n ding gehoor.

Die leuen is natuurlik sou oud soos die mensdom self, daarom dat die Here ons ook waarsku in Joh 8:44 waar die leuen vandaan kom: " Julle het die duiwel as vader, en die begeerte van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan."

Weet jy dat die leuen is 'n gruwel in God se oë en dat dit sonde is?
Eff4:25 Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede.

Kom ons luister 'n bietjie na ons eie alledaagse praat, ons vertel in baie gevalle die waarheid krom. Ongelukkig is dit so dat ons dit nie eers agterkom nie, want ons dink nie bewustelik daaraan as 'n leuen nie. As ons bietjie blatant die waarheid omseil dan noem ons dit 'n wit leuentjie of 'n nood leuentjie.

Kom ons poog van vandag af om net die waarheid te praat. Erken as jy iets verkeerd gedoen het, moenie dit deur 'n onwaarheid probeer toe smeer nie.

Dierbare Hemelse Vader, help ons asseblief om ons tonge in toom te hou en nie 'n leuen oor ons lippe sal laat gaan nie, Amen.

Thursday, June 11, 2009

DIT IS WINTER

Ek het hierdie per e-pos van Grietha du Plessis onvang en wil dit graag deel

Die warm-kombers is op nr. 3; die olie 'heater' op sy warmste en die
badwater se stoom wasem die spieëls toe. Jy moet nou uit die bed
met sy knus komberse klim; dit is alreeds 'n halfuur na opstaantyd. Uit die
bed, in die bad, tap kort-kort nog warm water by tot jy gerimpelde
ou-mens vingers kry. 'n Warm 'vest', wolkouse, 'n dik trui en 'n serp om
die koue uit te hou. Nou is jy reg vir hierdie winterdag! Kan 'n
mens sop eet vir ontbyt? Of pannekoek? Kan ek dan maar Milo of Hot
Chocolate kry?

Dikwels ervaar ons winter in ons lewens. Soms voel dit of ons geestelike
lewe ook deur winter gaan, leeg en dood, dis asof die
Here so vêr is. Of jou huwelik gaan deur 'n wintertyd, dalk is jou
werksituasie vir jou onaangenaam en jou finansies is in 'n toestand.
Beleef JY dalk êrens in jou lewe 'n wintertyd?

Ek hoor nou die dag 'n vrou sê: "As dit winter is wil ek net die nodigste
doen en so gou as moontlik terug wees by die huis, om warm
en veilig in my huisie te bly. In wintertye wil ons onttrek en op ons
eie probeer regkom, ons wil wegkruip en hoop die seisoene draai vinnig.

Ons het mos almal op skool geleer van die diere wat hiberneer. Hersiening:
hiberneer is wanneer hulle vir die winter gaan slaap, soos die
miertjies en weer opstaan in die lente. Ek dink baie mense wens hulle kan
ook so bietjie hiberneer, net so bietjie rus en slaap en van al
die 'worries' vergeet. Daar is 'n manier om te hiberneer, 'n Bybelse resep!

Jes. 40:31sê: "...maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle
vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg
nie, hulle wandel en word nie mat nie".

Die Message vertaling sê: "But those who wait upon GOD get fresh strength.
They spread their wings and soar like eagles, they run and
don't get tired, they walk and don't lag behind."

As jy bietjie moeg is, eensaam voel, baie stres en spanning ervaar het ek
vir jou goeie nuus: Jesus wil vir jou nuwe krag gee. Daar is
tye van "DOING" in ons lewens wanneer ons baie besig is om dinge te doen en
rond te hardloop en dalk selfs geestelik te groei, maar daar moet
ook tye van "BEING" in ons lewens wees, tye wat ons net kan wees! Tye van
wag, rus en hiberneer.

Moenie skuldig voel as jy deur winter gaan nie, ons almal moet daardeur.
Soms het jy net nodig om te sit! Ja, by Jesus
se voete te sit en weer jou asem terug te kry nadat jy so vinnig en
so vêr gehardloop het. Soos die ou Boesman wat besig was om vir 'n klomp
jagters spoor te sny, hy hardloop voor die bakkie uit en volg
die bokke se spore. Op 'n stadium gaan sit hy onder 'n groot ou doringboom,
toe die jagters wou weet wat gaan nou aan was sy
antwoord:
"Ek wag vir my siel, êrens het ek vir hom weggehardloop." Winter
laat ons soms toe om so bietjie te wag vir ons siel en te vra - waarheen
hardloop jy?

Jes 30:15 "Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer
en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan
julle krag..."

Na elke winter is daar 'n kroon. 'n Kroon met bloeisels; groen blaartjies
en swaeltjies. Die Kroon van LENTE! Wat jy nooit moet
vergeet van winter nie is: hy kom volgende jaar weer. Ons lewens bestaan
uit seisoene, kom ons gebruik die winter om introspeksie te
doen, stil te wees, te rus by Sy voete en sodoende ons krag op te bou vir
die volgende lente en somer waarin ons voluit kan groei, blom en
speel. God het geweet wat Hy doen toe Hy Winter gemaak het.

GEBRUIK JOU WINTER - DIT HOU NIE VIR ALTYD AAN NIE!!

Wednesday, June 10, 2009

GEE MY 'N HART

Gee my 'n hart om U te loof,
'n Hart van sonde vry;
'n Hart gereinig deur U bloed,
Vry uitgestort vir my.

'n Need'rig hart, aan U gewy,
Troon van my Koning hier,
Waar enkel Jesus tot my spreek,
Waar Hy alleen regeer.

'n Sagte en gebroke hart,
Gelowig rein en trou,
Waar Hy deur lewe, dood en smart,
Sy woning steeds behou.

'n Nuwe hart deur U gevoed,
'n Hart vol liefde teer,
Suiwer, volmaak, opreg en goed,
Soos U hart, o my Heer!

Daar is geen vrede vir my hart,
Tot U dit skep, o Heer,
Tot elke sonde van my wyk,
En U alleen regeer.

Skenk my U goddelik natuur,
Heer, U het dit beloof,
Skryf nou die nuwe naam, o Heer
Van liefde voor my hoof

Tuesday, June 9, 2009

HET 'N DOODSKLEED SAKKE?

Die mensdom werk sy hele lewe lank. Sommige teen 'n karige loon en andere weer teen 'n enorme groot salaris. Besigheidsmanne werk nou ook nie vir kleingeld nie. Hoe dit ookal sy, ons werk nou ook nie net om siel en liggaam aanmekaar te hou nie, nee ons werk ook sodat ons kan opgaar. Bymekaarmaak, is eintlik die rede hoekom ons werk. Dit is 'n huis, grand of net gewoon. 'n Motorkar al is dit nou ook nie 'n duur Duitese model nie. Meubels al is dit nou nie met leer oorgetrek nie. Breekgoed, gereedskap, klere, skoene ens en dan natuurlik, die euwel van alle kwaad - geld. Kontant, aandele, polisse, juweliersware, diamante, goud ens. Geld se waarde verminder die heeltyd en ons kan nie veel daaraan doen nie. Dan moet ons nog boonop versekering uitneem wat ons weer ekstra geld kos om te verseker dat ons nie dalk van ons opgaarsels verloor nie, Want hier op die ondermaanse is die kans goed dat die dief ons goed sal kom steel. Dan natuurlik kan die motte ook ons duur klere en linneware kom beskadig, of die bediende kan daardie duur vaas per ongeluk van die tafeltjie afstamp.Feit is ons werk van vroeg tot laat, om op te gaar en bymekaar te maak , maar ons verwaarloos ons verhouding met die Here totaal. Ons het nie tyd vir stiltetyd nie, ons het nie tyd om te bid nie, ons het nie tyd om kerktoe te gaan nie, trouens ons het nie tyd om enigsens aan God te spandeer nie, omdat ons net werk, werk, werk.
Miskien lewe ons in die waan ons gaan eendag alles met ons saam kan neem wanneer ons die ondermaanse verlaat, maar helaas......'n doodskleed het nie sakke nie!

Dit is met hierdie in gedagte dat die Woord met ons praat Matt 6:20-25 Die Boodskap.
"Hou op om van die oggend tot die aand agter geld aan te hardloop. Dit is dom. Niks hou hier vir altyd nie. Diewe breek oral in en steel, motte en goggas vreet alles op, en ouderdom laat dinge vergaan. Maak eerder vir julle 'n bankrekening in die hemel oop, daar by God. Geen dief kan daar inbreek om iets te probeer steel nie. Daar is ook ie inflasie wat julle skatte se waarde kan laat minder word nie. En niks word daar ooit oud niew. God self pas julle skatte op. So spring nou dadelik aan die werk. Leef elke dag voluit vir God. Dit is die beste belegging wat julle ooit kan maak. Dan is julle binnekort hemelse miljoenêrs."

Monday, June 8, 2009

DIE DINGE WAT DAARBO IS.....

In die film Gladiator, probeer Generaal Maximus Meridius om sy manskappe te inspireer om goed te veg in die veldslag teen Germania. Hy spreek hulle toe en maak dan hierdie diepsinnige stelling: Wat ons in hierdie lewe doen, het 'n weerklank in die ewigheid."
Hierdie woord van 'n denkbeeldige militêre leier dra 'n besondere boodskap, veral vir gelowiges in Christus. Ons is nie net besig om tyd te verspeel op 'n rots wat in die heelal wentel nie. Nee! Ons is hier met 'n doel en het die geleentheid om 'n ingrypende verskil te maak, deur die wyse waarop ons lewe.

Jesus het self gesê: "Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie, en diewe nie inbreek en steel nie" (Matt6:20)

As ons besef dat ons vir die ewigheid lewe, maak dit 'n ontsettende verskil! Maar hoe kan ons dit regkry om ons "gedagtes op die dinge wat daarbo is"-te rig? (Kol3:2)

'n Goeie begin sal wees, deur vas te stel watter dinge ons ewige GOD waardeer. Wat is vir HOM belangrik? Ons lees in die Bybel dat God MENSE bo besittings waardeer en dat KARAKTER vir Hom belangriker is as dinge wat ons tot stand bring. Dit is die waarhede wat ewigheidswaarde het.
As ons daardie waarhede aanvaar en daarvolgens lewe, sal ons 'n ewige perspektief bekom. Kom ons maak 'n verskil!

Friday, June 5, 2009

IS GOD SKULDIG?

Soveel keer wanneer iets traumaties met iemand gebeur,is die eerste ding wat hulle vra:"hoe kan God dit toelaat"? Of 'n ander een:"Dit is God se skuld dat dit gebeur het!" Wat my deksel is, is dat dit gewoonlik kom van iemand wat normaalweg nie juis godsdienstig is nie. Iemand wat nie kerktoe gaan nie, nie Bybel lees en bid nie.
Die oomblik wat 'n sondebok gesoek word, dan word God betrek en is die mens sommer kwaad vir God en wil niks met Hom uit te waai hê nie. Tragedie is dat hulle voor die tyd niks met God uit te waai wou hê nie. So 'n persoon het geen verhouding met God nie en die kere wat die persoon God se naam gebruik, word dit ydelik as 'n skelwoord gebruik, totdat.......!
Soms kry jy hierdie selfde houding tussen kerkmense wat uiterlik gereeld kerktoe gaan, Bybel lees en bid en oor die algemeen as goeie mense geklassifiseer kan word.

Indien jy in 'n ware en diep verhouding met die Vader is, sal jy nie God beskuldig indien daar iets gebeur nie. Jy sal in erkentlikheid in gebed na Hom gaan en die probleem aan Hom voorlê en glo dat Hy jou daardeur sal help. God is getrou en regverdig en sal jou help indien dit binne Sy wil is. Dit gaan oor geloof en nie oor beskuldigings nie.

God is definitief nie skuldig aan al die dinge waarvan Hy beskuldig word nie. Hy is ook nie aan ons as mense verantwoordelik vir wat en hoe Hy iets doen nie. God is soewerein en ons moet aanpas by Sy wil vir ons lewe as ons Hom aangeneem het en hom dien.

Thursday, June 4, 2009

DIE EENDAG VERLORE DWARSDUIN

My hart swel sommer soos ‘n oorlooptenk terwyl die Genadewa gemaklik op die reeds bekende tweespoorpaadjie loop. Vanaand kan ons weer gesels oor die dwarsduine en los sand op ‘n mens se lewenspad. Dinge wat jou soos ‘n uithangtong skaap laat dors kry in jouse wandel met Hom. Vanaand is die aand wat Syse wind hierdie los sand dwarsduine plat gaan vee.

Die Genadewa gee so ’n sagte skud met die stop bo-op die groot wit sandduin langs die voormalige plaasopstal met sy afgedopte mure en roesbruin sinkdak. Verwagtend klim ons uit en stap nader. Die groenerige voordeur is toe en rondom ons het vroegdag se westewind die huismensspore reeds weggewaai. Verdwaas staan ons en kyk na mekaar. Die ooreenkoms was tog om laatmiddag hier by Kef en Willemien oor te staan.

Met die omdraai om weer in die Genadewa te klim, trek stotterende Sara se armwaai ons aandag. Stadig ry ons die duin af en stop ‘n entjie van haar netjiese huisie af. Vriendelik word ons stoele toe genooi wat in die koelte van die Suidwesdoring kort langs haar huis staan. Versigtig verduidelik sy dat die manne hierdie week in die diep-Kalahari is om skaap te werk en dat Willemien vanaand oorstaan op die buurplaas waar sy loswerk het.

Koeskop begin Sara vertel van die dwarsduine wat in haar pad met Hom lê en begin so stadig maar seker haar binneste-binne ontbloot. ‘n Los sand dwarsduin waar die lus vir rooipropwyn haar lus vir ‘n styf gerolde twak aanblaas. Katvoet verduidelik ek van Jesus se hulp en hoe ons keuses dit verkeerd kan beïnvloed. “Maar P-p-pastoor-goed moet asseb-b-blief tog vir my b-b-bid om die twak te los. Jesus sal mos h-h-help want ek’t Sy h-h-hulp nodig.”

Dis twee weke later en die Genadewa wieg gemaklik oor die sinkplaatpad om weer by Sara-hulle te gaan oorstaan. So in die ry, wonder ek en die Mooiste Mooi of Sara rotsvas was met die rookbesluit. Dit sal ‘n groot deurbraak wees as Sara met Syse wind hierdie dwarsduin kon platvee.

Nog lank voor die Genadewa se enjinklank gedoof is, begin Sara ons al tegemoet loop. Die breë glimlag op haar bruin gesig komplementeer die helder vrolike doek om die kop. Beterwetend kyk ons vir mekaar en glimlag vrolik.

“En ou Sara, hoe gaan met die rokery?” vra ek terwyl sy nog so ‘n klompie treë van ons af is. “Nee djene P-p-pastoor” stotter sy moedig, “d-d-daardie rook ge-ge-gebed van jou h-h-het net een dag ge-ge-gewerk”.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ...................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene

DIVINE LIFE SENDING.

(Landlyn 054-551 1000)

Wednesday, June 3, 2009

BOU 'N GESIN WAT GOD DIEN

In Handelinge 16:31-34 lees ons van 'n gesin wat tot bekering gekom het. Dit is 'n wonderlike gebeurtenis.... maar hoe hou ons geestelike passie in ons gesin?

Maak geestelike sake belangrik.
Ons moet ten minste probeer om 'n huishouding van geloof te hê. Hand10:2 "Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God." Daar moet immers, 'n begeerte wees om jou huis na God te rig en 'n leerbare gees wees om ook nader aan God te kan groei. Ons moet ons huise oopstel vir die werking van God as ons dit wil beleef! Dit beteken ook dat ek christen-vriende moet hê! Ook dat ek my huis oopstel vir dinge soos selgroepe en geestelike byeenkomste. Daar behoort 'n geestelike besorgdheid oor elke lid van die huishouding te wees. Die huishouding se geloofslewe moet aktief en effektief wees, anders is dit ook maar net soos 'n blom wat verwelk het.

Gebruik die bronne van die gemeente.
Jy moet deur jou voorbeeld aan jou gesin kan wys dat jy dit geniet om kerk toe te gaan en die inspraak van die kerk op jou lewe hoog aanskryf. Daar moet ook op 'n positiewe wyse oor die aktiwiteite van die kerk gepraat word en die opgewondenheid van jou kerk-belewenis moet gesien kan word! Hoe jy oor die leierskap van die kerk voel (en praat), gaan ook 'n effek op jou huissgenote se belewenis van die kerk hê. Jy sal ook by baie meer aktiwiteite as net die kerkdienste moet betrokke raak, om die egtheid van jou belewenis te staaf. "It's better caught than taught"

Bybellees en gebed is noodsaaklik.
Jou gesins-genote kyk op na jou en wil deur jou voorbeeld sien dat die Woord van God en kommunikasie met God - belangrik is. Indien jy dit beleef kan jy dit aanbeveel, of hoe? Paulus daag ons uit in 2Tim 3:14-15 om van kleins af te leer. "Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.

Deel in huisverband met mekaar julle geestelike ervarings en daag mekaar uit om getrou te wees in julle geestelike wandel. Onthou: gesonde huisgesinne maak gesonde gemeentes! Positiewe gesinne bring 'n positiewe gees in die gemeente

Met dank aan: Manie Delport

Tuesday, June 2, 2009

HAPPINESS: in Coca-Cola of in Christus

Vreugde of "happiness" is nie 'n woord wat ons kan verstaan of begryp deur dit in die H.A.T. of Oxford op te soek nie. Inteendeel, nie een van die kenmerke van die Christelike lewe kan uit 'n boek geleer word nie. Iets meer, iets soos internskap is nodig waar jy in die teenwoordigheid van iemand kan wees, wat na jare se toegewyde dissepline vir ons deur sy/haar totale gedrag kan wys wat dit is. Oomblikke van mondelingse instruksie sal definitief dan voorkom, maar die internskap-leerder sal vaardighede aanleer d.m.v. daaglikse en intieme assosiasie met die "meester" waar ons dan subtiele, maar belangrike dingetjies soos tyd, ritme en "aanraking" optel.

Wanneer ons lees wat Paulus aan die Christelike gelowiges in die stad Fillippi geskryf het, bevind ons onsself in die teenwoordigheid van so 'n meester. Paulus vertel ons nie dat ons gelukkig kan wees of hoe om gelukkig te wees nie. Hy IS net eenvoudig en onmiskenbaar gelukkig en vol lewensvreugde. Nie een van sy omstandighede dra by tot sy geluk nie: Hy skryf vanuit 'n tronksel, sy lewenswerk en arbeid was onder skoot deur sy vyande, en na ongeveer 20 jaar van harde reis in die diens van Jesus, was hy moeg, uitgeput en gedaan en sou hy 'n blaaskans baie verwelkom het!

Paulus wys aan ons dat geluk nie in ons salaristjek, kar se kenteken, huisadres, vriende en tot selfs naaste familie is nie, maar intern. In onsself. Ons ingesteldheid. Eers as ons verby onsself, ons omstandighede en ons doelwitte kyk - kan ons God sien, en besef waarom God. God genoem word en ek,ek. Ware geluk, ongeag omstandighede, verhoudings, pyn en moeilike situasies - kan gevind word deur net in God te rus en toe te laat dat Hy, God oor ALLES in jou lewe wees. Sy vrede, geluk en kalmte sal joune word.

Met die onlangse vrystelling van Coca-Cola se bemarkings film. Happiness: the movie, het ek weereens besef dat geen "dinge", al is dit 1000 liter gratis Coca-Cola my geluk en vrede kan gee soos die Seun van God, Jesus nie!

Met dank aan: Dawie van Schoor

Monday, June 1, 2009

TE VEEL DRYWERS IN JOU LEWE

Op 4 Januarie 1944 vind een van die ergste treinrampe in die geskiedenis in Spanje plaas. Meer as 500 manse stref in hierdie ramp.

'n Baie lang passassierdtrein met twee lokomotiewe, een wat voor getrek het en een wat van agter gestoot het was op die spoor. Die taak van die agterste lokomotief was om die trein teen die steiltes uit te stoot, terwyl die voorste een die trekwerk gedoen het. Soos dit nou maar somtyds gebeur het, die voorste lokomotief skielik binne in 'n tonnel gaan staan. Die drywer van die lokomotief wat stoot, het die penarie van die voorste drywer besef, en dadelik 'n plan probeer maak. Hy het sy lokomotief dadelik in trurat gesit en volstoom probeer om die trein agteruit uit die tonnel te sleep.

Intussen het die drywer van die voorste lokomotief met 'n groot gesukkel weer die lokomotief aan die gang gekry en het met volstoom vorentoe probeer gaan om die trein uit die tonnel te trek. As gevolg daarvan dat die drywers van die twee lokomotiewe nie met mekaar kon kommunikeer nie, het albei nog meer stoom opgebou om te probeer om die trein uit die tonnel te kry, maar die een het vorentoe gebeur en die ander weer agtertoe, met die gevolg is dat hulle teen mekaar getrek het en die trein het in effek doodstil gestaan.Hierdie getoutrekkery het 'n hele paar minute geduur, met die gevolglike opbou van koolstofmonoksiet in die tonnel. Honderde mense het in die tonnel gesterf aan die koolstofmonoksiet-vergiftiging bloot omdat die trein terseldertyd in twee rigting gedwing is, maar nêrens heen gegaan het nie.

Hoeveel drywers het jou lewenstrein?
Word mense se persepsie van God vergiftig as gevolg van te veel drywers in jou lewe?

God se woord waarsku ons in Matt 6:24 "Niemand kan tegelyk twee base dien nie." (ANV)


Met dank aan: Danie Jacobs