Thursday, June 4, 2009

DIE EENDAG VERLORE DWARSDUIN

My hart swel sommer soos ‘n oorlooptenk terwyl die Genadewa gemaklik op die reeds bekende tweespoorpaadjie loop. Vanaand kan ons weer gesels oor die dwarsduine en los sand op ‘n mens se lewenspad. Dinge wat jou soos ‘n uithangtong skaap laat dors kry in jouse wandel met Hom. Vanaand is die aand wat Syse wind hierdie los sand dwarsduine plat gaan vee.

Die Genadewa gee so ’n sagte skud met die stop bo-op die groot wit sandduin langs die voormalige plaasopstal met sy afgedopte mure en roesbruin sinkdak. Verwagtend klim ons uit en stap nader. Die groenerige voordeur is toe en rondom ons het vroegdag se westewind die huismensspore reeds weggewaai. Verdwaas staan ons en kyk na mekaar. Die ooreenkoms was tog om laatmiddag hier by Kef en Willemien oor te staan.

Met die omdraai om weer in die Genadewa te klim, trek stotterende Sara se armwaai ons aandag. Stadig ry ons die duin af en stop ‘n entjie van haar netjiese huisie af. Vriendelik word ons stoele toe genooi wat in die koelte van die Suidwesdoring kort langs haar huis staan. Versigtig verduidelik sy dat die manne hierdie week in die diep-Kalahari is om skaap te werk en dat Willemien vanaand oorstaan op die buurplaas waar sy loswerk het.

Koeskop begin Sara vertel van die dwarsduine wat in haar pad met Hom lê en begin so stadig maar seker haar binneste-binne ontbloot. ‘n Los sand dwarsduin waar die lus vir rooipropwyn haar lus vir ‘n styf gerolde twak aanblaas. Katvoet verduidelik ek van Jesus se hulp en hoe ons keuses dit verkeerd kan beïnvloed. “Maar P-p-pastoor-goed moet asseb-b-blief tog vir my b-b-bid om die twak te los. Jesus sal mos h-h-help want ek’t Sy h-h-hulp nodig.”

Dis twee weke later en die Genadewa wieg gemaklik oor die sinkplaatpad om weer by Sara-hulle te gaan oorstaan. So in die ry, wonder ek en die Mooiste Mooi of Sara rotsvas was met die rookbesluit. Dit sal ‘n groot deurbraak wees as Sara met Syse wind hierdie dwarsduin kon platvee.

Nog lank voor die Genadewa se enjinklank gedoof is, begin Sara ons al tegemoet loop. Die breë glimlag op haar bruin gesig komplementeer die helder vrolike doek om die kop. Beterwetend kyk ons vir mekaar en glimlag vrolik.

“En ou Sara, hoe gaan met die rokery?” vra ek terwyl sy nog so ‘n klompie treë van ons af is. “Nee djene P-p-pastoor” stotter sy moedig, “d-d-daardie rook ge-ge-gebed van jou h-h-het net een dag ge-ge-gewerk”.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ...................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene

DIVINE LIFE SENDING.

(Landlyn 054-551 1000)

4 comments:

mariki said...

Ja, "Jesus SAL mos help." Ag dankie tog dat Hy altyd hoor as ons hulp nodig het.

Oom Petrus said...

Hallo Mariki,
Baie dankie vir jou inloer. Dit is die waarheid en Jesus is so geduldig met ons. Sonder Hom kan ek nie en ek wil ook nie.
Groete

Anonymous said...

Dag Oom Petrus
Oums ht nu wee leka saam glees as oom ni mind k print ha ali kalahari stukke
my ma vra of di anne tan siek is dat sy ni mee ga blog (oom se sussie)

Sam

Oom Petrus said...

.Hallo Sam, Sê vir Oums dankie dat sy saamlees.Die druk van die Kalahari stukke is in orde. Ons moet net erkenning gee aan die persoon wat dit geskryf het.Dankie vir die inloer.
Groete