Tuesday, June 23, 2009

WIE IS HY WERKLIK

Ons is besig om rustig ons lewens-bootjie te roei op die lewens-oseaan. Daar is by ons nie 'n bekommernis nie want alles is onder beheer. Sonder dat ons dit agterkom gee die bootjie so af en toe so 'n effense bok-sprong, die intensiteit daarvan neem stadig en ongemerk toe en as ons die ding mooi agterkom is ons te midde in 'n storm, met swiepende winde en die mis het so toegetrek dat ons nie die ander bootjies wat oomblikke gelede nog saam met ons geroei het kan sien nie. Ons weet nie eers of hulle ook in hierdie lewens-storm beland het nie en of hulle dalk skotvry daarvan afgekom het nie. Ons is heeltemal afgesonder van die buite wêreld af. Ons begin net aan ons eie welsyn dink en hoe ons uit hierdie storm gaan loskom. Ons kan nie by die ouens wat netnou nog saam met ons geroei het vra vir hulp nie, want ons weet nie waar hulle is nie. Ons is ook skaam om te roep want wat gaan gaan hulle van ons dink as hulle ons dalk kan hoor.

Ons het nie willens en wetens in hierdie storm ingevaar nie, dit het so ongesiens om ons toegesak. Ons begin rondkyk in die bootjie, op soek na iets of iemand wat ons uit hierdie verknorsing kan red. Dan sien ons Hom, Hy lê rustig agter in die boodjie op 'n kussing en slaap.(Mark 4:38a) Ons het mos self totale beheer oor hierdie bootjie geneem, en ons het ons Stuurman so half ge-ignoreer, want ons het gedink dat alles so glad verloop, dat ons nou nie regtig van ons 'n oorlas by Hom wil maak nie. Ons het self die spane opgeneem en besluit dat ons die bootjie sonder enige hulp aan die anderkant sal kry. Hoe verder ons roei hoe groter word die golwe, en dit slaan tot binne in ons bootjie. Die bootjie word al swaarder van die water en is al hoe moeiliker hanteerbaar.
Wat moet ons doen? Ons weet nie herwaarts of derwaarts nie! Ons is half skaam om Hom te gaan wakkermaak en vir hulp te vra.....

Wat het die Dissipels onder soortgelyke omstandighede gedoen toe hulle bootjie wou sink? Die Boodskap: Mark 4:38b-41 Die dissipels skud Jesus toe wakker en sê: "Gee U nie om dat ons besig is om te sink nie?" Jesus staan toe op en praat streng met die wind en die golwe.....Dadelik het die wind gaan lê en alles was heeltemal kalm. Toe draai Hy na sy dissipels toe: "Vir wat was julle so bang? Vertrou julle my dan nie? Hulle was heeltemal verslae en het klein gevoel in Sy teenwoordigheid. "Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see doen wat Hy sê," het hulle onder mekaar gewonder

Sorg dat Jesus altyd die Stuurman van jou bootjie is. As jy na Hom luister sal jy nie in so 'n penarie beland nie.

2 comments:

Nimsi se Blog said...

Sjoe Oom Petrus,
Ek is self ook soms skuldig aan...
wil HOM nie pla nie...

mariki said...

Want WAAR kan ons dan ooit 'n beter Stuurman kry!