Wednesday, June 24, 2009

DIE KOELTEBOOM RUS

Groete en Vrede!!!

Dit was windstil en wolkloos daardie spesifieke koelkoue oggend. Ek was vroegdag al wakker en het buite op die sementbankie loop sit en wag dat die helderste hemellig onse Skepper se bestaan met warmte en snoesigheid verklaar. Die verlatenheid en vergetenheid van die Agter-Kalahari eggo oorverdowend stil en ek verdwaal maklik in die wonderlike gevoel van volmaakte rus in Sy teenwoordigheid.

My oë gly oor die plat, vaalbruin wêreld en skielik besef ek dat die seisoen gedraai het. Wintertyd is wakker en hy is besig om die somerslaap uit sy oë te vee. Binnekort gaan hy vir sommige rustyd en hersteltyd met sy bekende bibberende doodskoue asem oor die Kalahari-vlak aankondig en vir ander … ‘n finale rus.

Dan staan my sien stil by die vaal, liggroen koelteboom waaronder die Genadewa sy staning het. Die laaste jaar was maar dik woestynsand swaar want die lewensaanslae was almal daar, en dit terwyl hy lowergroen lewe en skuiling aan soveel ander moes bied. Geduldig, gedienstig en gedweë toring hy bo ander uit met net die helfte van sy somerskleed aan. Dorstig word gesmeek na rustyd, na hersteltyd, na sterkword-tyd want hy hoop om nog lewe, skuiling en vertroosting aan vele ander te bied.

‘n Rukkie later en die lang, donker, vroegoggend skadu van die koelteboom krimp soos wat die ylerige herfsson sy daaglikse roete loop. ‘n Skielike rukwindjie pluk speels aan sy takke en losserige blaartjies. Verdwaas sit ek en staar na ‘n klompie vaalgroen blaartjies wat half leweloos grond toe dans.

En terwyl yskoue hoendervleis oral op my lyf uitslaan begin ek stadigaan verstaan. Dat elkeen van ons, nes die koelteboom, ook maar mag wonder hoeveel seisoene nog voordat ons sal kan hoor en dit nooit verloor;

Getroue dienskneg … het Hy geseg

Somers het gekom en winters het gegaan

Bowenal alles het jou geloof soos ‘n koelteboom bly staan

Nou kan jy in My kom rus

My arms sal jou veilig sus.


Wel vanuit die Agter-Kalahari tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ...................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene

DIVINE LIFE SENDING.

(Landlyn 054-551 1000)

2 comments:

Anonymous said...

Hallo Oom
Eindelik het ek internet by die huis! het nou eers opgevang hier by oom. Ek hou baie van hierdie stukkies wat oom plaas die Kalahari stukke.
Ek het nog steeds nie werk nie maar ek glo en vertou dat ek vinnig iets sal kry.

Groete
Ina Stuard
Vereeniging

Oom Petrus said...

Hallo Ina,
Welkom terug en baie dankie vir jou besoek.
Jammer om te hoor jy het nognie werk gekry nie. Ek bid sam met jou.
Groete