Friday, June 12, 2009

NOOD LEUENTJIE....WIT LEUENTJIE?

Om 'n onwaarheid kwyt te raak word beskou as 'n leuen, of om dit redelik kras uit te druk, dit is 'n liegstorie. Vir een of ander rede word daar daagliks deur die oorgrote gros van mense baie leuens vertel. Sommige mense is nie instaat om 'n gesprek te voer sonder om leuens te vetel nie, dit noem ons mos nou weer grootpraat.

Van kleins af hoor ons kinders wanneer ons 'n leuen vertel en hulle word groot met die gedagte dat dit in orde is om maar leuens te vertel. As die kinders nou vir Ma of Pa 'n liegstorie vertel dan word hulle ernstig gekapittel en die dood voor die oë gestel as hulle weer oortree op die gebied.

Wanneer ons as ouers ons nou in die web vasgedraai het en ons wil vir ons kinders 'n voorbeeld stel, nouja dan ondergaan die leuen vinnig 'n 'n verkleining en kry nog 'n kleur ook vooraan en by alles is dit wit. Wit staan eintlik vir skoon of rein. Nou wie het nou al van 'n skoon of 'n rein leuen gehoor.
Soms verander die wit leuen in 'n nood leuen. Nood beteken nou natuurlik weer dat daar 'n krisis is dus is dit 'n krisis leuen. Wie het nou al ooit van so 'n ding gehoor.

Die leuen is natuurlik sou oud soos die mensdom self, daarom dat die Here ons ook waarsku in Joh 8:44 waar die leuen vandaan kom: " Julle het die duiwel as vader, en die begeerte van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan."

Weet jy dat die leuen is 'n gruwel in God se oë en dat dit sonde is?
Eff4:25 Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede.

Kom ons luister 'n bietjie na ons eie alledaagse praat, ons vertel in baie gevalle die waarheid krom. Ongelukkig is dit so dat ons dit nie eers agterkom nie, want ons dink nie bewustelik daaraan as 'n leuen nie. As ons bietjie blatant die waarheid omseil dan noem ons dit 'n wit leuentjie of 'n nood leuentjie.

Kom ons poog van vandag af om net die waarheid te praat. Erken as jy iets verkeerd gedoen het, moenie dit deur 'n onwaarheid probeer toe smeer nie.

Dierbare Hemelse Vader, help ons asseblief om ons tonge in toom te hou en nie 'n leuen oor ons lippe sal laat gaan nie, Amen.

2 comments:

Nimsi se Blog said...

Hallo Oom Petrus
Net gou op opvang hier by jou... Marius gisteraand besluit my blog verlof was nou lank genoeg gewees!

Dankie vir al die prag stukkies waarmee ek my siel weer kon voed vanoggend.

Liefde
Nimsi

mariki said...

Hierdie strik....eers as mens die tong in toom kan hou (leuen of skinder of vloek of kwaadpraat)...dankie, weer iets om te herkou vandag.