Tuesday, June 9, 2009

HET 'N DOODSKLEED SAKKE?

Die mensdom werk sy hele lewe lank. Sommige teen 'n karige loon en andere weer teen 'n enorme groot salaris. Besigheidsmanne werk nou ook nie vir kleingeld nie. Hoe dit ookal sy, ons werk nou ook nie net om siel en liggaam aanmekaar te hou nie, nee ons werk ook sodat ons kan opgaar. Bymekaarmaak, is eintlik die rede hoekom ons werk. Dit is 'n huis, grand of net gewoon. 'n Motorkar al is dit nou ook nie 'n duur Duitese model nie. Meubels al is dit nou nie met leer oorgetrek nie. Breekgoed, gereedskap, klere, skoene ens en dan natuurlik, die euwel van alle kwaad - geld. Kontant, aandele, polisse, juweliersware, diamante, goud ens. Geld se waarde verminder die heeltyd en ons kan nie veel daaraan doen nie. Dan moet ons nog boonop versekering uitneem wat ons weer ekstra geld kos om te verseker dat ons nie dalk van ons opgaarsels verloor nie, Want hier op die ondermaanse is die kans goed dat die dief ons goed sal kom steel. Dan natuurlik kan die motte ook ons duur klere en linneware kom beskadig, of die bediende kan daardie duur vaas per ongeluk van die tafeltjie afstamp.Feit is ons werk van vroeg tot laat, om op te gaar en bymekaar te maak , maar ons verwaarloos ons verhouding met die Here totaal. Ons het nie tyd vir stiltetyd nie, ons het nie tyd om te bid nie, ons het nie tyd om kerktoe te gaan nie, trouens ons het nie tyd om enigsens aan God te spandeer nie, omdat ons net werk, werk, werk.
Miskien lewe ons in die waan ons gaan eendag alles met ons saam kan neem wanneer ons die ondermaanse verlaat, maar helaas......'n doodskleed het nie sakke nie!

Dit is met hierdie in gedagte dat die Woord met ons praat Matt 6:20-25 Die Boodskap.
"Hou op om van die oggend tot die aand agter geld aan te hardloop. Dit is dom. Niks hou hier vir altyd nie. Diewe breek oral in en steel, motte en goggas vreet alles op, en ouderdom laat dinge vergaan. Maak eerder vir julle 'n bankrekening in die hemel oop, daar by God. Geen dief kan daar inbreek om iets te probeer steel nie. Daar is ook ie inflasie wat julle skatte se waarde kan laat minder word nie. En niks word daar ooit oud niew. God self pas julle skatte op. So spring nou dadelik aan die werk. Leef elke dag voluit vir God. Dit is die beste belegging wat julle ooit kan maak. Dan is julle binnekort hemelse miljoenêrs."

3 comments:

loeloe said...

Wyse, nee -- die allerwysste raad.

Anonymous said...

Sjoe ek kry nou eintlik so n bang benoude gevoel as ek hier lees. Ek is ongelukkig een van die mense waarvoor materiele dinge uiters belangrik is!
Dankie vir hierdie stukkie!

Groetnis
Benna Brits

Oom Petrus said...

Hallo Mariki,
Dankie vir die inloer.


Hallo Benna,
Ons is maar almal opgaarders, belangrikste is dit moenie 'n obsessie word nie en dit mag ons ook nie van die Here af weghou nie.

Geniet die dag