Tuesday, December 29, 2009

Desembermaand = Dankbaarheidsmaand

‘n Maand om jou te verbeel

Dat elke sonstraal wat jou ontblote vel warm streel,

Jou oortuig van ‘n sagte soen

Wat Vader liefderik en aanhoudend doen.

‘n Maand waar Sy liefde as warm herinnering

Lewegewende reënwolke van Bo af bring,

‘n Genademantel wolksambreel

Wat jy met almal na aan jou moet deel.

Desembermaand is veral vir my en die Mooiste Mooi ‘n spesiale maand want Desembermaand is DANKIE Sê maand. Dankie sê vir soveel mense wat êrens in die loop van die jaar by onse harte stilgestaan het. Dankie vir die wete dat daar spesiale voorwêreld mensegoed soos jy is. Jy wat, wanneer Vader op jou knoppie druk, met liefde en deernis aan ons dink in jou binnekamer gebede of selfs ‘n kosbare bydra ten opsigte van ons welstand om die Kêrelkind van God se evangelie te verkondig. Al woon en werk ons in ‘n uitgestrekte wêreld vol sand, son en klip, is die wete dat jy aan ons dink kosbaarder as koel soetwater in ‘n dorre woestyn. Dit bly maar net ‘n voorreg!

Desembermaand se sonsteek dae skuif stadig aan om skielik een oggend Kersfees aan te kondig. Vir sommige bring hierdie onvermydelike vreugde terwyl ander se slagare rooipers bult want dit is 'n heidense gemors met 'n Jesus baadjie aan. Raak tog maar nie betrokke in hierdie oorlog nie en fokus eerder daarop dat sonder die Kripkind geen Vrede en Genade moontlik sou wees nie.

Wees daarom eerder stil, hou eerder op met dink en dank die Kripkind net.

Mag die jaar wat kom, ‘n besondere geloofsjaar wees waar jou verhouding met die Skepper van Hemelgoed en Stofaarde meer intenser en intiemer sal wees.

Wel, vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou .............................

Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy spesiaal net jy is.

Die Kalahari Cronjé's

Monday, December 21, 2009

KINDER REGTE

Soms rek my oge as ek sien en hoor hoe spandeer kinders handevol geld, wat hulle nie self verdien het nie!
Dan kom die vraag onmiddelik by my op "het kinders reg op hulle ouers se geld?


Wat se regte het kinders, ek praat nou nie van wetlike reg nie, maar van morele reg, en waar verander die regte in voorregte..!
My gevoel is dat kinders die volgende regte het en ek noem dit in geen spesifieke volgorde nie:
1. Vol magie....
2. Warm Bedjie....
3. Kleertjies aan die bas....
4. Hope liefde....
5. Behoorlike opvoeding....


Verder dink ek het hulle geen regte nie. Hulle het nie reg tot sakgeld nie, tensy hulle daarvoor 'n spesifieke taak by die huis vir die gesin verrig. Dan is die betaling wat hulle vir hulle werk verdien ook nou nie so dat hulle die koopgier daarmee kan ontwikkel nie. Nou wat se take kan kinders verrig om sakgeld mee te verdien.

Ek noem weer 'n paar daarvan in geen spesifiek volgorde nie:
- bed opmaak
- kamer en badkamer aan die kant maak
- skottelgoed was
- ma en pa se motors was
- grassny
- enige ander take wat pa of ma gedoen wil he.

Ry maar bietjie op 'n Saterdag of 'n vakansiedag in die buurt rond en kyk hoeveel kinders is besig om hulle ouers te help met take om die huis. Bitter min! Gaan maak terselfdertyd 'n draaitjie in die plaaslike inkopie sentrum of mall en kyk bietjie hoeveel kinders sluip daar rond. Verskriklik baie!

Kyk, 'n kind sal uit sy ouers suig soveel hy kan, sonder dat hy/sy enigsens sal skuldig voel. "n Kind voel hy het die reg om met 'n beursie vol geld rond te loop en te koop wat hy wil. Hulle is inherent lui en wil niks doen om daardie geld te verdien nie. Wat hulle wel baie goed kan doen is, om hulle ouers so te manipuleer om vir hulle geld te gee, sonder dat hulle 'n steek werk daarvoor gedoen het.

Aan die ander kant van die spektrum, is daar die ouers wat met skuldgevoelens rondloop. Hulle voel dat hulle wil hulle kinders meer gee as wat hulle gehad het en daarom stop hulle die kinders net in met geld. Daar is natuurlik ook die ouers wat dink hulle moet die kinders vergoed met geld omdat hulle nie tyd het om tyd aan die kinders af te staan nie van wee 'n druk sosiale lewe. Party voel ook skuldig dat ma ook werk om die luukses te kan bekostig, daarom staan hulle handevol geld aan die kinders af.

Wat wil die kinders regtig he? As hulle kan kies tussen 'n waarlike liefdevolle gesinslewe en daardie oorvloedige geld, wat sal hulle kies? Ek wonder nogal....!

Thursday, December 10, 2009

BRULPADDA

Haai is jy ook een van daardie mense, wat as jy in die oggend wakker word en jou oë oopmaak, dan sit die ou brulpadda wat jou helfte van die nag uit die slaap gehou het op jou bedkassie en kyk vir jou. Hy knip sy oë so stadig asof hy verveeld is. Miskien ruk jy die kombers so ergerlik van jou af en spring onder die stort in. Salig wanneer daardie eerste strale water so oor jou gesig en lyf spat.
As mens net eers skoongewas is sal jy beter voel. Jy maak jou oë oop om die seep by te kom, maar wat sal jy sien..,hy sit in die seepbakkie vir jou en kyk.

So volg die pestelensie jou dag vir dag, saam in die kar oppad werk toe, elke keer as die telefoon lui, sit hy daar vir jou en knipoog. As jy die toilet besoek, sit hy daar vir jou en wag. Jy kan jou sterre nie draai nie, dan is hy daar. Hy neem jou hele gedagtegang oor. Dag vir dag sit hy daar op jou skouer net as jy so bietjie van hom vergeet, roer hy so effens en maak so 'n geluidjie, net om jou van sy bestaan te herinner.
Tragedie is, hy word al groter! Jy kan sy gewig voel toeneem.... Jy kan die druk op jou knieë voel en jou rug begin al effentjies knak onder brulpadda se gewig.

Hoe lank sal jy dit nog hou voordat jy heeltemal ingee? Ons kan nie vir 'n onbepaalde tyd met die vrag op ons skouer en in ons binneste loop nie. Gewoonlik deel ons nie daardie probleem met iemand nie, allermins met ons man of vrou. Nee, ons dra alleen daaraan, miskien vir jare of maande. Dit beinvloed ons verhouding binne die gesinsverband, met ander mense en ons gaan geestelik dood. Ons sosiale lewe ly grootliks daaronder en ons onttrek van die samelewing.

Help dit? Nee inteendeel dit maak die brulpadda net groter want nou begin jy hom blameer omdat jou verhoudings skeefloop, omdat jou huwelik besig is om daaronder te ly.
Wat is die antwoord? Gewoonlik gaan soek ons die antwoorde op die verkeerde plek. Alkohol verbruik neem toe, want terwyl ek beskonke is, kan ek die brulpadda nie so duidelik sien nie. Verdowingsmiddels....? terwyl ek op 'n trip is gee ek eintlik nie 'n flenter om nie en ek hoor gladnie sy gekwaak nie.
Selfmoord....? Ja... dit maak 'n einde aan alles..., OF SO DINK ONS...!!!

Geen mens se probleme is so groot om so 'n drastiese stap te regverdig nie! So 'n daad is ook baie ver buite die wil van God vir ons lewens. Hy wil vir ons 'n lewe van oorvloed gee!

As ons 'n probleem van een of ander aard optel, ons is maar net gewone mense, moet ons dit net nie probeer wegwens nie, want dit sal nie van self weggaan nie. Enige probleem moet mee gedeel word. As dit bv. 'n finansiele probleem is, moet dit in die gesin bespreek word. As almal weet die geldkrane word nou toegedraai, dan moet almal dit aanvaar dat daar geen geld meer beskikbaar is vir enige iets anders as basiese oorlewings middele nie. Innovering is die antwoord om te kan oorleef.

Baie jare gelede het ons gesin deur so 'n moeilike geldkrisis gegaan.Al die krane is toegedraai, en daardie kredietkaart, wat die probleem veroorsaak het, het onder die sker deurgeloop. Ons kruideniersware trollie het net die nodigste bevat waarsonder ons regtig nie kon klaarkom nie. Vroulief het maandeliks net 'n bietjie maalvleis gekoop en sulke klein-klein frikadelletjies gemaak. In die aand het ons elkeen net een so 'n frikadelletjie by ons ander kos gekry. Die het nie uit blikkies gekom nie, nee dit was vars groente wat ons self bewerk het. Natuurlik het ons stapelvoedsel ook mieliepap geword en bietjie pasta. Vroulief het self brood begin bak, hierdie tuisgebakte brood hou verseker baie langer as as die gekoopte brode en dit is nie duurder nie. O ja, die tuisgebakte brood is natuurlik baie meer vullend dus gebruik jy minder en kom langer daarmee uit..! Ons het ook nie meer varsmelk gebruik nie ' maar poeiermelk wat ons ook net aangemaak het soos wat ons dit regtig nodig gekry het. Die bediende is laat loop en ons het as span poging self die huiswerk behartig. Wat ons eintlik vir baie jare daarna nog self gedoen het. Ons het ons ryery tot die minimum beperk om geld te spaar. Ons het ook begin om op die elektrisiteit rekening te spaar. Net die lig van die vertrek waar ons in is het gebrand, die huis het nie meer soos 'n krismisboom gelyk nie. Ons het geleer om 'n lig af te sit wanneer ons 'n vertrek nie gebruik nie. Die gieser is in die oggend wanneer ons klaar gestort het afgesit en weer aangeskakel vanaand wanneer ons gaan slaap. Ons het ook 'n ander ding agter gekom. In die somer kon ons net elke tweede dag weer die gieser aanskakel omdat die water die tweede oggend nog warm genoeg was. Ja dit kos somtyds bietjie beplanning, maar tot vandag toe probeer ons nog so min as moontlik krag gebruik, nie omdat Escom elke aand op die TV vra nie, maar omdat die besparing ons sakke pas.

Dit het vir ons gewerk. Elke sent wat ons gespaar het, is gebruik om ons probleme mee te oorkom. Dit was nie 'n oornag gebeurtenis nie. O nee, ons het vir baie maande daardie, amper niks frikadelletjies smaaklik met ons ander ekonomiese kosse geniet. Soos die maande verbygegaan het, kon ons voel hoe die gewig van daardie brulpadda stadig krimp. Het die gewig van ons knieë gelig, kon ons makliker begin asemhaal, ons rug het weer reguit geword. Ons kon weer rustig gaan slaap sonder om gepla te word. Die brulpadda het nie meer in die oggend op die bedkassie gesit en oogknip nie of in die seepbakkie van die stort gewag nie.

O, ja natuurlik, ek het nie vergeet nie, ek het die beste gehou vir laaste. Al hierdie pogings van ons sou nie die vrugte afgewerp het as ons dit in ons eie krag probeer doen het nie. O, nee sonder die dierbare Vader in die Hemel ons Verlosser en Saligmaker, Jesus, sou ons dit nie reggekry het nie. Ons het ons hand in Sy hand geplaas en Hy het vir ons daardeur gelei.

Bebed: Baie dankie Vader dat U vir ons toe gehelp het en vandag steeds daagliks deurdra. Ek loof eer en dank U daarvoor deur U Seun Jesus Christus wat aan die kruis vir ons gesterf het. Amen.

Tuesday, December 8, 2009

GEDIG - Skrywer onbekend

Gaan slaap in die aand met God in jou kop,
In die oggend staan saam met Hom op
In die dag stap Hy saam sonder om te kla
Waar jy nie kan loop, sal Hy jou dra.

Al jou vrese en behoeftes ken Hy so goed
As jy val, en nie wil opstaan, gee Hy jou moed
As jy bly is en lag, jubel Hy saam met jou
As jy hartseer en bevange is, troos Hy jou

Deur al die seisoene - in winter tot somer
In die dag en die nag - al is jy 'n dromer
Gee hy die pas aan wat jy moet loop
Al voel jy soms ook heeltemal gestroop

Hy is die alfa, die omega, die spil waarom alles draai
In die donker, sal Hy jou na die lig toe laat draai
Hy beskerm ons en vou ons toe in Sy hande
Hy vra nie jou taal, God bly groot in alle lande

Ons vra en ons smeek vir hulp en vir raad
Vir vrede en gesondheid en ook die regte maat
Maar gesels ons met God in voorspoed en geluk
Of is Hy net die noodlyn wat ons so gerieflik pluk?

Leef voluit elke dag wat God aan jou gee
Bly op jou knieë waar Hy jou krag kan gee
Leef so jou drome vir almal om te sien
Wie jy is, en watter God jy dien.

Per e-pos van Christa Els ontvang.

Thursday, December 3, 2009

Stort vol gistergoed

Dit was een van daardie enig-van-sy-soort, spesiale Kalahari-aande. ‘n Flou suidewindjie met sy bietjie-bietjie asem probeer ‘n paar uur gelede se steeksonhitte wegblaas, maar sy wen is maar aan die skraps kant. Die geelwit helder volmaan verbeel hom hy’s die son en koggel ‘n wolklose hemelruim met ‘n skielike vermoë om donker skadu’s te gooi. Daarmee saam lê hemelstraat versprei van verste sien tot verste sien en skilder ‘n diamantblink prentjie vol helderheid en vrolikheid met sy skitter silwer sterreprag. Onse wêreld was in ‘n kombers van donkerblink skoonheid vol hemelse stilte toegevou. ‘n Hemelse stilte waarin jy maklik kan wegraak en vasgevang word in die gistergoed van jou eie unieke binnewêreld. Gistergoed waar sommige onlekker gedagtes en ervarings diep en seer littekens nagelaat het.

Dis amper middernag toe ek by die huis uitstap om in die uniekheid van ons eenvoudige buitestort met grasgedekte kante te gaan stort. Versigtig maak ek die enigste kraan in die swart PVC pyp oop en dan spoel die louwarm brakwater vanuit die songebakte waterdrom met ‘n dun straaltjie oor my se moeë en droë geswete liggaam. Soos inspandonkies wat saam-saam loop, spoel die moegheidsweet saam met die watertjies op die stort se sementblad af waarna dit gulsig opgeslurp word deur ‘n dorstige stuk aarde langs die stort. Salig, al te salig, geniet ek die louwarm water wat op my val.

Onverwags en listig soos ‘n uitgeteerde en honger, vraatsige jakkals, kruip ‘n episode van my se onlekker gistergoed al nader en nader. Ek onthou weer my en die Mooiste Mooi se oorstaan by hulle verwaarloosde eenkantstaan volkshuisie ‘n paar maande gelede. Daar waar Leya met trots tussen die duine en oor die Kalahari-vlak uitbasuin het dat sy Hom nie nou nodig het nie. “Miskien later, Pastoor” het sy met ‘n breë glimlag gespog, “ek het Hom nie nou nodig nie, miskien ‘n bietjie later. Ek is mos nie van plan om nou se tyd al dood te lê nie.”

Die onverwagse onthou van haar se woorde herinner my weer aan die spot in die “aanklaer” se stem terwyl die Genadewa daardie aand gemaklik sy pad oor die Kalahari sinkplaatpad terug huis toe wieg. “Jy’s nutteloos, nie eers goed genoeg om ‘n verskil te maak in die lewe van ‘n vergete eenkantgooi mens nie. Jy’s pateties, man. Dink net, jy kon nie eers ou Leya kry om uit te kniel vir die Kêrelkind van God nie en nou is sy myne. Myne vir altyd want jou bediening is soos die wêreld waar jy bly - onvrugbaar en nutteloos.”

Oor en oor eggo, maal en draai daardie gewraakte aanklagwoorde in my binneste-ore en ek druk my se kop met skaamte onder die louwarm straal water in. Ek draai my kop skeef sodat die waterstraal op my oor val met die hoop dat dit die “aanklaer” se stem sal verdoof of selfs uitvee. Dit help nie en onophoudelik maal en draai sy geesbrekende teleurstellingsaanklag binne-in my. Vinniger en vinniger weerklink sy refrein “Jy is nutteloos man, jy’s pateties”. Binnekant trane wat hulle oorsprong in my gekneusde binnevoering het, styg met elke herhaling en bars spoedig soos ‘n gebreekte damwal oor my se gesig om saam met die brakwater op die sementblad te val.

Hierdie binnekant marteling raak net te veel, heel te veel vir my. “Hou op. In Jesus naam, hou tog net op en bly stil,” bars dit oor my lippe en so word die uitroep van my se hart opgeneem in die stilte van die nag. “Ek wil dit nie meer hoor nie, nooit weer nie. Ek is spesiaal vir Hom want ek glo Hom. Hy sal my vir altyd vashou, ongeag wat. Ek glo Hom en ek vertrou Hom.”

Saggies en geruisloos omvou Sy se salige stilte my en Sy se goddelike vrede deurdrenk my hele wese. Alles is skielik anders, lyk anders, voel anders, klink anders, proe anders en ruik selfs anders. Eerbiedig en vol erkenning kyk ek op na die helder sterreprag van die hemelstraat met sy helder geelwit hemellig. Nakend, met arms wyd oop gestrek na bo staan ek daar en verklaar in die stilte van die middernag dat Hy steeds die Skepper van alle Hemelgoed en Stofaarde is. Hy wat selfs vrede en kalmte gee vir die pyn en seer van onse onlekker gistergoed.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ...................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene
DIVINE LIFE.
(Landlyn 054-551 1000)