Thursday, December 10, 2009

BRULPADDA

Haai is jy ook een van daardie mense, wat as jy in die oggend wakker word en jou oë oopmaak, dan sit die ou brulpadda wat jou helfte van die nag uit die slaap gehou het op jou bedkassie en kyk vir jou. Hy knip sy oë so stadig asof hy verveeld is. Miskien ruk jy die kombers so ergerlik van jou af en spring onder die stort in. Salig wanneer daardie eerste strale water so oor jou gesig en lyf spat.
As mens net eers skoongewas is sal jy beter voel. Jy maak jou oë oop om die seep by te kom, maar wat sal jy sien..,hy sit in die seepbakkie vir jou en kyk.

So volg die pestelensie jou dag vir dag, saam in die kar oppad werk toe, elke keer as die telefoon lui, sit hy daar vir jou en knipoog. As jy die toilet besoek, sit hy daar vir jou en wag. Jy kan jou sterre nie draai nie, dan is hy daar. Hy neem jou hele gedagtegang oor. Dag vir dag sit hy daar op jou skouer net as jy so bietjie van hom vergeet, roer hy so effens en maak so 'n geluidjie, net om jou van sy bestaan te herinner.
Tragedie is, hy word al groter! Jy kan sy gewig voel toeneem.... Jy kan die druk op jou knieë voel en jou rug begin al effentjies knak onder brulpadda se gewig.

Hoe lank sal jy dit nog hou voordat jy heeltemal ingee? Ons kan nie vir 'n onbepaalde tyd met die vrag op ons skouer en in ons binneste loop nie. Gewoonlik deel ons nie daardie probleem met iemand nie, allermins met ons man of vrou. Nee, ons dra alleen daaraan, miskien vir jare of maande. Dit beinvloed ons verhouding binne die gesinsverband, met ander mense en ons gaan geestelik dood. Ons sosiale lewe ly grootliks daaronder en ons onttrek van die samelewing.

Help dit? Nee inteendeel dit maak die brulpadda net groter want nou begin jy hom blameer omdat jou verhoudings skeefloop, omdat jou huwelik besig is om daaronder te ly.
Wat is die antwoord? Gewoonlik gaan soek ons die antwoorde op die verkeerde plek. Alkohol verbruik neem toe, want terwyl ek beskonke is, kan ek die brulpadda nie so duidelik sien nie. Verdowingsmiddels....? terwyl ek op 'n trip is gee ek eintlik nie 'n flenter om nie en ek hoor gladnie sy gekwaak nie.
Selfmoord....? Ja... dit maak 'n einde aan alles..., OF SO DINK ONS...!!!

Geen mens se probleme is so groot om so 'n drastiese stap te regverdig nie! So 'n daad is ook baie ver buite die wil van God vir ons lewens. Hy wil vir ons 'n lewe van oorvloed gee!

As ons 'n probleem van een of ander aard optel, ons is maar net gewone mense, moet ons dit net nie probeer wegwens nie, want dit sal nie van self weggaan nie. Enige probleem moet mee gedeel word. As dit bv. 'n finansiele probleem is, moet dit in die gesin bespreek word. As almal weet die geldkrane word nou toegedraai, dan moet almal dit aanvaar dat daar geen geld meer beskikbaar is vir enige iets anders as basiese oorlewings middele nie. Innovering is die antwoord om te kan oorleef.

Baie jare gelede het ons gesin deur so 'n moeilike geldkrisis gegaan.Al die krane is toegedraai, en daardie kredietkaart, wat die probleem veroorsaak het, het onder die sker deurgeloop. Ons kruideniersware trollie het net die nodigste bevat waarsonder ons regtig nie kon klaarkom nie. Vroulief het maandeliks net 'n bietjie maalvleis gekoop en sulke klein-klein frikadelletjies gemaak. In die aand het ons elkeen net een so 'n frikadelletjie by ons ander kos gekry. Die het nie uit blikkies gekom nie, nee dit was vars groente wat ons self bewerk het. Natuurlik het ons stapelvoedsel ook mieliepap geword en bietjie pasta. Vroulief het self brood begin bak, hierdie tuisgebakte brood hou verseker baie langer as as die gekoopte brode en dit is nie duurder nie. O ja, die tuisgebakte brood is natuurlik baie meer vullend dus gebruik jy minder en kom langer daarmee uit..! Ons het ook nie meer varsmelk gebruik nie ' maar poeiermelk wat ons ook net aangemaak het soos wat ons dit regtig nodig gekry het. Die bediende is laat loop en ons het as span poging self die huiswerk behartig. Wat ons eintlik vir baie jare daarna nog self gedoen het. Ons het ons ryery tot die minimum beperk om geld te spaar. Ons het ook begin om op die elektrisiteit rekening te spaar. Net die lig van die vertrek waar ons in is het gebrand, die huis het nie meer soos 'n krismisboom gelyk nie. Ons het geleer om 'n lig af te sit wanneer ons 'n vertrek nie gebruik nie. Die gieser is in die oggend wanneer ons klaar gestort het afgesit en weer aangeskakel vanaand wanneer ons gaan slaap. Ons het ook 'n ander ding agter gekom. In die somer kon ons net elke tweede dag weer die gieser aanskakel omdat die water die tweede oggend nog warm genoeg was. Ja dit kos somtyds bietjie beplanning, maar tot vandag toe probeer ons nog so min as moontlik krag gebruik, nie omdat Escom elke aand op die TV vra nie, maar omdat die besparing ons sakke pas.

Dit het vir ons gewerk. Elke sent wat ons gespaar het, is gebruik om ons probleme mee te oorkom. Dit was nie 'n oornag gebeurtenis nie. O nee, ons het vir baie maande daardie, amper niks frikadelletjies smaaklik met ons ander ekonomiese kosse geniet. Soos die maande verbygegaan het, kon ons voel hoe die gewig van daardie brulpadda stadig krimp. Het die gewig van ons knieë gelig, kon ons makliker begin asemhaal, ons rug het weer reguit geword. Ons kon weer rustig gaan slaap sonder om gepla te word. Die brulpadda het nie meer in die oggend op die bedkassie gesit en oogknip nie of in die seepbakkie van die stort gewag nie.

O, ja natuurlik, ek het nie vergeet nie, ek het die beste gehou vir laaste. Al hierdie pogings van ons sou nie die vrugte afgewerp het as ons dit in ons eie krag probeer doen het nie. O, nee sonder die dierbare Vader in die Hemel ons Verlosser en Saligmaker, Jesus, sou ons dit nie reggekry het nie. Ons het ons hand in Sy hand geplaas en Hy het vir ons daardeur gelei.

Bebed: Baie dankie Vader dat U vir ons toe gehelp het en vandag steeds daagliks deurdra. Ek loof eer en dank U daarvoor deur U Seun Jesus Christus wat aan die kruis vir ons gesterf het. Amen.

No comments: