Tuesday, December 29, 2009

Desembermaand = Dankbaarheidsmaand

‘n Maand om jou te verbeel

Dat elke sonstraal wat jou ontblote vel warm streel,

Jou oortuig van ‘n sagte soen

Wat Vader liefderik en aanhoudend doen.

‘n Maand waar Sy liefde as warm herinnering

Lewegewende reënwolke van Bo af bring,

‘n Genademantel wolksambreel

Wat jy met almal na aan jou moet deel.

Desembermaand is veral vir my en die Mooiste Mooi ‘n spesiale maand want Desembermaand is DANKIE Sê maand. Dankie sê vir soveel mense wat êrens in die loop van die jaar by onse harte stilgestaan het. Dankie vir die wete dat daar spesiale voorwêreld mensegoed soos jy is. Jy wat, wanneer Vader op jou knoppie druk, met liefde en deernis aan ons dink in jou binnekamer gebede of selfs ‘n kosbare bydra ten opsigte van ons welstand om die Kêrelkind van God se evangelie te verkondig. Al woon en werk ons in ‘n uitgestrekte wêreld vol sand, son en klip, is die wete dat jy aan ons dink kosbaarder as koel soetwater in ‘n dorre woestyn. Dit bly maar net ‘n voorreg!

Desembermaand se sonsteek dae skuif stadig aan om skielik een oggend Kersfees aan te kondig. Vir sommige bring hierdie onvermydelike vreugde terwyl ander se slagare rooipers bult want dit is 'n heidense gemors met 'n Jesus baadjie aan. Raak tog maar nie betrokke in hierdie oorlog nie en fokus eerder daarop dat sonder die Kripkind geen Vrede en Genade moontlik sou wees nie.

Wees daarom eerder stil, hou eerder op met dink en dank die Kripkind net.

Mag die jaar wat kom, ‘n besondere geloofsjaar wees waar jou verhouding met die Skepper van Hemelgoed en Stofaarde meer intenser en intiemer sal wees.

Wel, vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou .............................

Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy spesiaal net jy is.

Die Kalahari Cronjé's

No comments: