Monday, January 4, 2010

ONVERGEWENSGESINDHEID

Hier aan die begin van die nuwe jaar, die jaar waarvan almal van ons so baie verwag, wil ek jou vra of daar onvergewensgesindheid in jou hart is.
Miskien het daar al gras oor gegroei en jy dink nie meer bewustelik daaraan nie. Dit het so half in die vergetelheid geraak. Het jy al gesien, as 'n gat in die grond toegegroei is met gras dan raak jy onbewus van die bestaan van die gat. Die feit dat hy toegegroei is, maak nie dat die gat nie meer bestaan nie. Jy sal gou van die gat se bestaan bewus word wanneer jy daarin trap........!

Dit is dieselfde met onvergewensgesindheid....!

Gaan bietjie bewustelik terug in jou lewe en ondersoek jouself behoorlik en kyk of jy vrede gemaak het met diegene deur wie jy seergekry het.
Miskien 'n egskeiding..., onmin met 'n familielid..., verkragting...., vennootskap wat suur geword het...., iemand het dalk iets aan een van jou gesinslede gedoen..., jy het jou werk verloor...., jou motor is gesteel of daar is by jou ingebreek..., jy is dalk aangerand..., dalk iemand aan die dood afgestaan..!

Om met opgekropte woede in jou te loop, benadeel net jouself en diegene om jou. As jy daarmee sukkel sal jy nooit 'n behoorlike verhouding met die Here kan hê nie en ook nie met jou medemens nie. Woede oor dinge buite jou huwelik, sal selfs 'n invloed op die geluk in jou huwelik uitoefen.

My vriend, smag jy nie ook na 'n vredevolle en vreugdevolle lewe nie? 'n Lewe waarin jy nie gejaagd is nie. 'n Lewe waarin jy nie vir jouself en almal om jou kwaad is nie. ''n Lewe waarin jou knieë nie knak onder daardie woede en onvergenoegdheid nie...!

Jy het dit seker al baie keer gehoor? Vat al daardie goed waaroor jy onvergenoegd, kwaad is en skuldig oor voel, en gaan sit dit voor ons Liewe Heer se voete neer. Gaan bely dit voor Hom en vra Hom om jou daarvan te reinig met Sy bloed. Spreek die persone vry en vergewe hulle, wat jy voel jou te na gekom het - en begin lewe.

As ons andere nie kan vergewe en vryspreek nie, hoe kan ons na Jesus toe gaan en vergifnis vra
en verwag dat Hy dit sal doen. Soos wat ons keer op keer na Jesus toe gaan as ons iets verkeerds gedoen het, so moet ons ook teenoor ons naaste optree en hulle vergewe.
Moet asb nooit, ooit sê "ek sal nooit so-en-so kan vergewe vir wat hy of sy aan my gedoen het nie!"
Jou vrede is baie belangriker as die vete met 'n ander persoon.

Ek bid dat 2010 jou so naby aan Jesus sal bring, dat Sy geur, deur jou - aan andere versprei sal word.

No comments: