Tuesday, March 31, 2009

DIE GROOTSTE VAN ALLES IS DIE LIEFDE

Sê nou maar ek is so "geestelik" dat ek die tale kon praat wat die engele in die hemel praat en selfs nog 'n klomp ander, maar het nie ander mense lief nie, wat dan? Vir die Here klink hierdie "geestelike gepraat" dan na niks anders as 'n geraas soos iemand wat teen 'n yster kap nie. Sê nou ek kan uitstekend preek, is hoog geleerd in die dinge van die Here en verstaan dinge van God wat ander mense nie eers weet nie, en boonop het ek die grootste geloof wat jy jou kan voorstel, maar ek het nie ander mense lief nie, dan is ek vir die Here 'n nul op 'n kontrak. Al gee ek alles wat ek besit vir arm mense en word as martelaar vir die Here verbrand, maar ek het nie lief nie, help dit alles niks.

Om ander lief te hê beteken:

  • om nooit iemand sleg te behandel wat jou irriteer nie;
  • om altyd mense so te hanteer dat hulle graag by jou wil wees sonder om bang te wees dat jy hulle sleg sal behandel;
  • om ander mense dit wat hulle het of kry te gun sonder om lelik daaroor te wees as hulle dinge het wat jy nie het nie;
  • om nie heeltyd oor jouself te praat en te spog nie;
  • om nie heeltyd te maak asof jy soveel beter as ander mense is nie;
  • om nie ongeskik te wees nie, maar jou so te gedra dat ander nie ongemaklik saam met jou voel nie;
  • om nie net heeltyd aan jouself en jou eie voordeel te dink nie;
  • om nie sommer vir niks kwaad te word nie;
  • om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthousodat jy hom of haar kan terugkry nie.

Maar liefde het ook grense: Liefde kan nooit kant kies vir dinge wat verkeerd is nie. Net so sal liefde altyd net bly wees oor dit oor dit wat regtig gebeur soos God dit bedoel het. Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het; liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit ook van hulle. Liefde ken ook g'n einde nie.

Liefde is nie iets wat mens kan opgebruik en dan sê dis klaar nie. Maar die spesiale geskenke wat die Gees aan mense gee soos om die Woord oor te dra of in "spesiale tale" te praat of om dinge van die godsdiens te verstaan waarvan ander nie veel weet nie, dit sal nie vir altyd hou nie.

Die Boodskap

Jan van der Watt

Stefan Joubert

Monday, March 30, 2009

MY PAPPA 4

My kind, My oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op My gerig is (2Kron16:9). Ek sien dat jou gesindheid en jou hart reg is en dat jy My my dien met 'n onverdeelde hart. Hou so aan My kind, ek weet die stryd is vel en nie aldag maklik nie. Vir jou lyk dit miskien nog na 'n baie lang pad wat jy moet loop voordat jy by My kan kom rus. Hou net aan, moet net nie gaan sit en boedel oorgee nie, die beloning wat vir jou wag is groot.

Elkeen van My kinders wat vandag by My in die hemel is, het ook hart gestry. Vir sommige was die stryd feller as vir ander, hulle wat aangehou het het die eindstreep gehaal. Ongelukkig het baie van die wat saam met hulle die pad geloop het, besluit dat dit nie die moeite werd is nie. O, weet jy hoe baie het hulle verloor en weet jy hoe seer My hart daaroor is. Ek wonder baie keer hoekom hulle nie net nog 'n bietjie aangehou het nie, die einde was in sig.

My kind Ek sien dat jy sommige dae swaar kry, jy moet die dinge wat jou pla hier voor My kom noem. Jy moet my vertrou, ek het jou fyntjies in jou moederskoot geweef, ek ken jou van daardie eerste oomblik af. Kom vertel my van al die hartseer en pyn wat jy daagliks beleef. Al dink jy miskien dit is 'n nietigheid, Ek wil hê jy moet my daarvan kom vertel. As dit vir jou 'n probleem gee wil Ek graag daarvan weet. Miskien, My kind, is die probleem so groot dat jy weet jy kan daar niks aan doen nie. Dalk het jy 'n verkeerde besluit geneem, daardie duur motor wat jy gekoop het wat jy nou nie kan betaal nie. Ek het gewag dat jy my moet kom vertel dat jy beplan om die motor te koop, maar jy was so opgewonde daaroor dat jy vergeet het om my daarvan te kom vertel. Ek het toe nooit die kans gekry om jou te waarsku teen dit wat voorlê nie.

My kind, die probleme wat vir jou so groot en onoorkomlik lyk is vir My 'n nietigheid. Daar is 'n oplossing vir elke probleem, bring dit na my toe. My manier van 'n probleem oplos is nou nie altyd hoe jy dit sou gedoen het nie, maar Ek weet wat die beste vir jou is.

Jy moet elke dag met My kom gesels Ek sien daarna uit en wag vir jou. As jy dit die dag nie doen nie is Ek hartseer want Ek wil nie hê dat jy my afskeep of net 'n spaarwiel van my maak nie.
My kind, Ek wil hê dat daar 'n lewende verhouding tussen jou en My is en 'n band wat elke dag groei en sterker word. Ek wil jou nog so baie dinge leer, daar is soveel waarhede in My Woord opgesluit wat jy nog moet ontdek, kom na My toe My kind.

Ek wag elke dag vir jou!

Friday, March 27, 2009

STRYD EN VOORGEE

Elke oggend wat ons, ons oë oopmaak begin ‘n nuwe stryd, ‘n stryd wat ons nooit op ons eie kan wen nie. Ons sal aanhou om hierdie stryd te voer tot die dag dat ons, ons koppe neerlê. Ons moet net nooit vergeet dat ons nie alleen staan in die stryd nie. Vader in die hemel het geweet van hierdie stryd wat alreeds in die Paradys begin het en tot vandag toe nog voortduur en Hy het in Sy alwetendheid ‘n plan gemaak deur Sy Seun Jesus te stuur om die stryd saam met ons te stry.
Sonder Jesus in ons lewens is ons total gestrand en gaan ons nêrens heen nie. Die persoon wat onder die indruk verkeer dat hy op sy eie kan voortploeter, maak die fout van sy lewe. Sonde en ongeregtigheid is om ons en selfs binne in ons en dit kelder ons as ons nie werk daarvan maak en ons lewe met God regmaak nie.

As ons, ons lewe met God regmaak, verdwyn al hierdie versoekings nie......, in teendeel dan word die aanslag teen ons verskerp en word dit al veller omdat die siele vyand prober om ons van daardie spreekwoordelike nou paadjie af te kry. So lank as wat ons die breë weg bewandel, het die vyand nie veel saak met ons nie, hy is gelukkig dat ons dan sy volgelinge is wat eendag saam met hom in die hel sal brand. Wat ‘n aaklige vooruitsig....!

Dit help nie om doekies om te draai of mooi broodjies te bak nie. Ons word in sonde gebore en ons hoef niks te doen om 100% seker te maak dat ons in die hel sal beland nie. Dit is waarheen die grootste gros mense op hierdie aarde oppad is.
God praat en praat met ons deur Predikante van soveel kansels af, Sy woord word oor die radio verkondig, daar word duisende geestelike boeke geskryf en gelees. Ons stoot die Bybel bietjie eenkant toe terwille van al die geestelike boeke. Die Woord van God is al die eeue met ons en daarin kry jy alles wat jy nodig het om by Hom uit te kom. Vraag is: Luister ons....? Doen ons....? Lewe ons soos kinders van God?

Dit is deesdae algemeen in gesprekke om te hoor hoe mense oor die Here praat. Die vraag is net of al hierdie praatjies wat ons hoor, nie maar net “make believe” is nie. Is dit nie dalk maar soos daardie speletjie Stomstreke nie. Die hand word so agter die oor gehou om aan te dui “dit-klink-soos.” Dit klink soos die ware Jakob. Dit klink asof hy of sy ‘n kind van die Here is, maar wanneer Sondag verby is, is daar geen verskil tussen diegene wat sê hulle is kinders van die Here en hulle wat nog nooit by die Here uitgekom het nie. Dan gaan die ou sondige lewe maar net aan, dit rook, drink, vloek, hoereer, lieg en bedrieg......!

Dit is elke indiwidu se eie verantwoordelikheid om ‘n skoon en rein lewe te lei..... en as jy val.., op te staan.... reg te maak..... vergifnis te vra en aan te gaan. God is getrou en regverdig, as jy met berou bely sal hy jou vergewe en nooit weer daaraan dink nie. Moet dan net nie toelaat dat die vyand jou van jou vrede beroof nie. Jou maak voel dat jy nie met die Here kan praat nie. Dat jy nie kan bid nie. Wanneer jy vergifnis ontvang het haal die Here dit nooit weer op nie en Hy sal dit nooit teen jou hou nie want Hy is nie ‘n mens nie, Sy bloed bedek alle sondes.
1 Joh 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Thursday, March 26, 2009

MY PAPPA 3

My dierbare kind, is daar vreugdes in jou lewe? Wil jy My nie maar daarvan vertel nie, hoekom laat jy my nie deel in die dinge wat vir jou bly maak nie!
Vertel vir My wat het alles met jou gebeur van gister af. Het daar iets gebeur wat dalk troos vir jou gebring het of jou hart bly gemaak het?
Het jy dalk 'n onverwagte besoeker gekry wat vir jou baie plesier verskaf het of het die besoek dalk een van jou vrese besweer? Was die besoeker dalk die draer van goeie nuus, van een of ander sukses wat jy gedink het nie vir jou beskore was nie?
Het jy dalk 'n brief of 'n geskenkie ontvang, het iemand van wie jy dit nooit verwag het nie, jou 'n wonderlike kompliment gegee? Het iemand dalk vandag op 'n onverwagse tyd of plek, 'n liedesdaad aan jou bewys?
Het jy dalk daardie aanstelling by die werk gekry. Die een wat jy heimlik gehoop het vir jou ge-oormerk is maar wat jy en almal gedink het vir die die hoof se witbroodjie gegee sal word?
Het jy dalk iets in My Woord raakgelees wat vir jou verklaar waaroor jy lankal wonder. Jy weet My Woord is 'n skatkis en hoe meer jy daaring rondkrap hoe meer kom jy op die wonderlikste ding af. Hou net aan soek daar wag 'n wonder wêreld van openbaring op jou.

Weet jy dat Ek dit alles vir jou beplan het....., Ek weet wat goed is vir jou en Ek weet wat jy nodig het. Het iemand dalk vandag liefde aan jou bewys op 'n onverwagse tyd of plek

Jy kan maar hier by My kom sit en vir My sê hoe bly jy is en dat jy ook dankbaar is.

Is daar versoekings in jou lewe, My kind?
Daardie boek wat jou so prikkel, wil jy dit nie maar neersit en besluit om nooit weer daarin te lees nie. Wat van al die dinge op die internet, dit wat jou so aand vir aand vasgenael voor die rekenaar hou. Die wilde hartklop terwyl jy die internet blaaie toemaak as jy hoor iemand kom die gang afgeloop, want jy wil nie hê hulle moet sien waarna jy kyk nie.
Wil jy nie maar die besluit neem om daardie dinge te los nie, klaar te kry met die dinge wat jy weet nie goed vir jou is nie.

My kind ek nooi jou uit om by My te kom sit en my van al die dinge te vertel. Daardie ding wat jy doen of waarna jy kyk, of dalk wat jy besig is om te beplan. Kom praat met My daaroor, kom bely dit teenoor My en Ek sal jou sondes vergewe. Ek sal dit in die diepste dieptes van die see werp en nooit weer daaraan dink nie.

Ek wil hê dat jy 'n skoon en smetlose lewe lei, eenkant gesit vir My uitsluitlike gebruik. Dit is alleenlik moontlik as jy jou ten volle oorgee aan My volmaakte wil vir jou lewe.

Gaan dan nou uit en begin om vir My te werk, wees sagmoedig en nederig. Betoon liefde aan almal met wie jy skouerskuur en vertel hulle van My. Moenie vergeet nie, kom elke dag terug om weer met My te gesels en te vetel van al jou wedervaringe. Kom wys elke dag jou meer toegewyde hart vol liefde vir My, sodat ek jou met seëninge kan oorlaai.

Wednesday, March 25, 2009

MY PAPPA 2

My kind, wat wil jy vandag van my hê? Ek wonder of jy ooit besef hoe verskriklik graag ek jou wil help. Daardie planne wat jou so besig hou, hoekom lê jy dit nie voor my nie? Wil jy graag jou familie tevrede stel en help, hulle met wie jy elke dag intiem 'n huis deel, jou vader, jou moeder, jou boeties en sussies, jou vrou, jou man, jou kinders. Wat wil jy vir hulle doen en bowenal wat wil jy hê dat Ek vir hulle moet doen?



Maar nou My kind, wat van My. Wil jy nie maar 'n bietjie praat en werk aan die siele van jou vriende wat My dalk al vergeet het nie. Miskien is daar onder jou vriende iemand wat al laat deurskemer het dat hy 'n nouer verhouding met My wil hê, maar jy was te skaam om met hom daaroor te praat. Nou, is die tyd om dit te doen. Miskien is daar onder hulle iemand wat My naam ydelik gebruik, dit pla jou verskriklik maar jy het nie die hart om hom daaroor aan te spreek nie. Doen dit nou, Ek sal jou help, vra My net.



My kind, wie het jou seer gemaak, wat se moeilikhede het jy? Kom vertel My van al jou floppies en jou hartseer. As iemand jou te na gekom het vertel my daarvan, Ek sal jou help om te vergewe en vry te spreek.



Is jy bang vir iets? Is daar iets daar diep in jou binneste wat jou bangmaak. Dit is dalk so onnodig, maar dit vreet jou op van binne af. Jy kan My daarvan vertel! Jy moet nie vergeet dat Ek van al die dinge weet nie, maar Ek wil hê jy moet My vertrou en dit self vir My kom vertel, in jou eie woorde vir My kom sê wat jou pla. Ek is altyd beskikbaar, Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie. Vra net na My, ek sal jou hoor.

Tuesday, March 24, 2009

KYK MET NUWE Oë NA DIE ALLEDAAGSE

" En wees verseker: Ek verwag nie dat julle dit alleen moet doen nie. Elke dag tot met die wederkoms, sal Ek self by julle wees! (Die Boodskap: Mat 28:20)

..dit is 'n belofte van God...

Dalk kan die alledaagse klein dingetjies in die lewe jou help om jou te herinner aan die hartklop van God wese en Sy bedoeling vir ons lewe op aarde.

WONDERGOM
Om my te herinner dat 'n gebroke hart met God se helende liefde herstel kan word Ps 147:3

UITVEëR
Om te onthou dat Jesus jou verlede (sondes) uitgewis het. Jes1:18

SNEESDOEKIE
Om my te herinner om iemand anders se trane met behulp van 'n woord, 'n briefie, 'n drukkie of 'n besoek af te droog 2Kor 1:4

POTLOOD
Om te gebruik om jou seëninge mee neer te skryf.

KLIPPIE
Wat my herinner: God is my rots Ps 18:3

SPYKER
Om my te herinner dat Jesus baie gely het terwille van my. Joh 20:25

DUIMSPYKER
Om my te herinner om nie op my probleme te sit en broei nie. Luk12:23

SOUT
Om my te herinner : Ek is die sout van die aarde. My woorde moet altyd die omstandighede beter maak. Mat 5:13

SPONS
Om my te herinner om die Woord gereeld in te neem - soos 'n spons water opsuig. Hebr 4:12

KERS
Om my te help om my "lig" helder te laat skyn. Mat 5:16

BOTTEL
Om my te herinner dat God my trane opgevang het. Hy weet alles omtrent my. Ps 56:9

Met erkenning en dank aan: Danie Jacobs

Monday, March 23, 2009

MY PAPPA 1

Ag, my kind, dit is nie nodig dat jy baie kennis hoef te hê nie; weet jy, dit is genoeg as jy 'n groot hart vol liefde het. Jy kan maar met My praat, soos jy met jou moeder as sy op hierdie oomblik by jou was!

Is daar iemand vir wie jy wil bid? Noem die naam van jou vriende of familie voor My, en dan sê jy vir My wat ek vir hulle moet doen. Jy kan maar baie vra vir elkeen, want Ek het 'n groot hart vol van die liefde vir ander.

Jy kan my vertel van die siek persoon wat jy sien ly het, van die oom of tannie wat jy gesien het wat swaar loop, van die arme wat jy graag sou wou help, selfs van die sondaars wat jy graag sou wou hê van hulle sondes verlos moet word. As daar 'n verwydering tusse jou en 'n geliefde gekom het en jy wil daardie liefde terugwen, vertel My daarvan.

Watter deugde is daar wat jy graag sal wil besit, jy mag maar 'n lys maak van al jou behoeftes, en dit dan vir My kom voorlees.

Kom vertel My van al jou lelike karaktertrekke, van daardie humeur waarmee jy so sukkel, hoe fyngevoelig jy is, miskien hoe gemeen jy teenoor andere kan wees; hoe agterlosig jy dalk in sommige areas van jou lewe is; dalk hoe hoogmoedig jy is, en daardie gesukkel met die "eie ek" wat altyd bo en voor wil wees. My kind, moenie skroom om my daarvan te vertel en jou hart voor my uit te stort nie. Baie van My kinders wat vandag in die Hemel is het daarmee gesukkel, hulle het tot My geroep en oor tyd is hulle van al daardie gebrek verlos en lewe as heiliges in My Hemel

Jy kan My gerus maar vra om jou liggaam en jou geestelike vermoëns te seën; jou gesondheid. Jy mag My vir vra om jou te seën met 'n goeie geheue en met voorspoed.... Ek kan in alles voorsien en ek voorsien met graagte, wanneer dit gaan oor siele wat gered moet word en heiligheid moet leer ken.

Ek kan alles gee...... vra My net.

Friday, March 20, 2009

PROBLEME IN JOU LEWE

In die dag waarin ons lewe is daar sekerlik nie 'n persoon wat nie 'n probleem van een of ander aard het nie. Jy mag net nie toelaat dat dat die probleem so groot in jou gedagtes word dat dit die Here totaal uitsluit nie. As jy toelaat dat jou probleme jou gedagtes totaal oorheers, dan laat jy geen plek vir die Here om Sy wil in jou lewe ten uitvoer te bring nie. Die probleem sit soos 'n brulpadda voorop in jou gedagtes, daarvan is jy dan baie meer bewus as van die Here, hierdie toestand is uiters nadelig vir jou gees.

Mens moet seker maak dat jou probleme op 'n positiewe manier benader word. Dit is baie maklik om jou teen een groot probleem blind te staar, en geen uitweg uit die situasie te sien nie. As jy egter gaan sit en die probleem analiseer, doen dit op skrif, en probeer dit sover moontlik opdeel in kleiner hanteerbare stukkies, dan het jy reeds ver gevorder op die pad om die probleem op te los.

God moet egter nooit uit die prentjie gelaat word nie, wat jy ookal doen en hoe jy dit ookal analiseer, doen dit biddend. Onthou een ding, God is groter as enige probleem wat jy ooit mag ondervind, Sy arm is nie te kort om te help nie. As jy nou jou plan op skrif gesit het, gaan dan met daardie plan na die Here toe en le dit aan hom voor en verklaar dat jy gewillig is om Sy leiding in die saak te volg. Wees sensitief vir Sy stem en leiding. Vertrou Hom volkome en doen wat Hy vir jou se om te doen. God se oplossing vir 'n probleem is nie altyd soos ons s'n nie. Moet dus nie verbaas wees as God die probleem heel anders oplos as wat jou beplanning was nie. Pasop om nie net in te storm en dinge op jou manier te wil doen nie. Moenie soos gewoonlik self besluit en op jou eie aangaan nie. Wag op die Here.

Jes 40:31 maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende;...................

Thursday, March 19, 2009

HET JY DALK VERDWAAL

Het jy al ooit in jou lewe verdwaal....? Dit is seker die mees verskriklike gevoel wat jy kans kry. Niks lyk vir jou bekend nie, jy weet nie of jy moet links of regs gaan of dalk reguit vorentoe, of altemits op jou spore terug gaan nie. As jy nou so verdwaal het, en jy kom dalk per ongeluk op 'n bekende baken af, sal selfs dit nie eers vir jou bekend lyk nie. "n Familielid van my het eendag op hulle familieplaas in die bosveld verdwaal. Volgens hom het hy nie 'n idee gehad waarheen om te loop nie, maar het seker vir 'n goeie halfdag rondgedwaal totdat dit al begin skemer raak. Skielik het hy die liggies van 'n huis tussen die doringbome deur sien flikker. Hy besluit om daarheen te loop en te gaan padvra. Hy was seker so 200 meter van die huis af toe hy een van die werkvolk op die plaas raakloop. Hy besluit toe om sommer vir die te vra waar bly sy ouers. Oopmond het die ou skepsel na hom gekyk en net woordeloos beduie na die huis so ongeveer 200 meter van hom af. Eers toe het hy die plek herken asook die ou skepsel wat al 'n leeftyd vir sy pa gewerk het.
So maklik raak 'n mens gedisorienteerd, en dan herken jy niks wat bekend is nie.

Dink net hoe groot die trauma vir iemand is wat eers die pad van die Here geloop het, maar stadig sonder dat hy dit agterkom die pad byster geraak het. Deur hier 'n bietjie toe te gee, of daar 'n bietjie af te dwaal, of hierdie verkeerde dingetjie te doen want dit is mos nou nie so erg nie of daardie skelmpie te ontmoed en saam te gaan 'n drankie drink.
Dan op 'n dag het kom hy agter dat hy totaal verdwaal het. Hy weet nie herwaarts of derwaarts nie, die tragedie van alles is dat hy, nie eers die bekende kan herken nie.....! Niks lyk vir hom bekend nie, alles lyk vir hom reg, al staan hy amper bo-op die bekende dan herken hy dit steeds nie.

Dalk het 'n persoon nog nooit die pad van die Here geloop nie, hy weet nie van beter nie, hy sal dus ook nie die waarheid herken nie, al trap hy daarop.

Miskien sien jy ook daardie liggies tussen die bome skyn en jy herken dit nie, omdat jy verdwaal is of miskien omdat dit nog nooit aan jou bekend was nie. Stap nader man, stap nader, jy gaan weldra iemand raakloop wat jou die regte rigting gaan wys.

Daar is en bly, maar net een Weg en Waarheid en Lewe, niemand gaan na die Vader behalwe deur Jesus die Seun nie. Om by die Vader uit te kom, moet jy 'n lewende, werkende verhouding met Sy Seun Jesus Christus het. Daardie verhouding moet intiem wees en daagliks groei omdat jy Hom dag vir dag nodig het. Jou verhouding met Hom kan nie stagneer nie, dan is jy besig om te verloor.

Die tyd raak minder, die uurglas is besig om leeg te loop.

Rom 8:19 Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God.

Wednesday, March 18, 2009

BLY NABY DIE HERE IN JULLE STRYD TEEN DIE BOSE

Ef 6:10-20



As Christene moet julle in hierdie lewe sterk staan, maar julle kan dit alleen doen, as julle naby die Here bly. Hy is sterk en daarom kan Hy julle sterk maak. Laat ek die voorbeeld van soldate in 'n oorlog gebruik. Trek die klere aan wat God julle gegee het om mee te veg, sodat die duiwel julle nie sommer om die eerste hoek en draai met al sy slim planne oorrompel nie. Een ding moet julle weet. Daar is 'n oorlog aan die gang en ons veg ook daarin. Dis nie 'n oorlog teen gewone mense nie. Ons moet teen die onsigbare geestelike magte van satan veg. Hulle hou hulle sterk hier op aarde en doen bose dinge, maar kom eintlik van orals af. Sorg dat julle al die wapens wat God vir julle gegee het, reg hou, sodat as die bose magte op julle toesak, julle nie 'n duim vir hulle hoef terug te tree nie. Met al sy aanvalle en dinge sal die duiwel net mooi niks aan julle kan doen nie. Julle sal die wenners wees

Dit is die klere wat julle moet aantrek om te keer dat die duiwel iets aan julle doen:
  • Die waarheid moet julle soos 'n belt om julle middel vasbind.
  • Die wete dat God jou van al jou sonde vrygespreek het,moet soos 'n stuk staal jou bors beskerm.
  • Jy moet altyd gereed wees om vir ander te vertel van die vrede wat Jesus vir ons bring. Dit moet soos die skoene aan jou voete wees.
  • Dan is daar nog jou geloof. Die intieme verhouding met die Here moet soos 'n skild wees waarmee jy al die giftige aanvalle van die bose keer en eenkant toe slaan.
  • Jy is nie meer in die kloue van die sonde nie, nee, jy is gered. Dit is soos 'n ysterhelm wat jou gesig en kop beskerm
  • Die boodskap van God is soos 'n swaard wat die Heilige Gees vir julle gee om die stryd mee te voer.

Dit maak nie saak wat gebeur nie, julle moet altyd bid. Praat met God en vra Hom wat julle wil weet. Die Heilige Gees sal julle daarmee help. Onthou dit en moenie julle onkant laat vang nie. Moet ook nie vergeet om gedurig vir julle mede-Christene te bid nie.

Die Boodskap

Jan van der Watt

Stephan Joubert

Tuesday, March 17, 2009

GROEI GROEI GROEI

Hoekom moet ek en jy aandag gee aan ons Geestelike lewe, en veral om te groei?

A short interview with Rick Warren, "Purpose Driven Life" author and pastor of Saddleback Church in California. Rick said:

People ask me, what is the purpose of life....? In a nutshell......., life is preparation for eternity. We were not made to last forever, and God wants us to be with Him in Heaven. I may live 60 to 100 years on earth , but I am going to spend trillions of years in eternity. This is the warm-up act. God wants us to practice on earth what we will do forever in eternity. We were made by God and for God, and until you figure that out, life isn't going to make sense. Life is a series of problems: Either you are in one now, you're just comming out of one, or you're getting ready to go into another one.

God is more interested in your caracter than your comfort: God is more interested in making your life holy than He is in making your life happy. We can be reasonably happy here on earth, but that's not the goal of life. The goal of life is to grow character, in Christ likeness.

Groei beteken dus ook dat ek met my verlede moet breek en genesing in my emosionele menswees moet ervaar.

God het reeds Sy deel gedoen. Ons deel is om ons probleme te herken en ons aandeel te aanvaar en te streef na vergifnis en bevryding. Jou probleem is daar om jou te help groei en onthou dit help ook dat ek my doel ('purpose') meer effektief kan bereik.

Groei beteken dat ek nader aan God kom, meer vir mense kan beteken en dus ook die lewe in volheid kan geniet.

Met erkenning en dank aan Manie Delport

Monday, March 16, 2009

GEE REGTIG VIR MEKAAR OM

Rom 12:9 - 21

Moenie net maak asof julle mekaar lief het nie. Nee, wees regtig lief vir mekaar. Haat alles wat sleg is. Doen net waarvan God hou. Julle moet mekaar soos broers en susters liefhê. Besef dat die Heilige Gees in almal van julle woon; dan sal julle mekaar met groot resopek behandel.

Moenie een oomblik verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef. Dien die Here met groot oorgawe. Sien met blydskap uit na daardie dag dag waarop die Here alles nuut kom maak. Moenie mismoedig word as julle ly omdat julle Christene is nie. Julle weet mos dat julle saam met Christus sal triomfeer. Hou net aan om te bid.

Help ander mense wat swaarkry. Wees altyd gasvry. Stel julle huise tot beskiking van gelowiges wat nie 'n plek het om tuis te gaan nie.

Moenie allerhande oordele uitspreek oor mense wat julle vervolg nie. Sê eerder vir hulle dat julle bid dat God Sy genade in hulle lewe sal uitstort,

Lag en vier fees saam met elkeen wat bly is. Huil saam met elkeen wat hartseer is.

Leef in harmonie met mekaar moenie baklei nie.

Moenie beter as ander mense probeer wees nie. Maak vriende met mense wat nie te veel van hulleself dink nie. Onthou: julle beskik nie oor die al die kennis en wysheid in die wêreld nie. Wees nederig.

Moenie net regsit om ander mense in eie munt terug te betaal as hulle iets verkeerds aan julle gedoen het nie. Laat hulle liewers deel hê in God se goedheid. Vertel vir hulle die goeie nuus van Christus.

Doen julle bes om in vrede met ander mense te leef. Laat staan al julle wraakgedagtes, my liewe broers en susters. Dit pas glad nie by gelowiges nie. Los dit vir God. Daar staan immers in die Bybel:

"Ek alleen het die reg om te straf; Ek sal wraak neem, ' sê die Here.''

"As jou vyand honger is, moet jy sorg dat hy iets te ete kry.

As hy dors is moet jy hom iets gee om te drink. As jy dit doen sal jy hom sommer baie

skaam maak''

Moenie toelaat dat dit wat sleg is in jou lewe die botoon voer nie. Oorwin die bose deur te doen wat God van jou vra.

Friday, March 13, 2009

LEWE VIR JESUS

Lewe vir Jesus, watter vreug!
Strome van blydskap raak nooit leeg:
Toetse mag kom, maar 'k sal nie vrees;
Jesus sal altyd by my wees.

Refrein
Help my U dien al meer en meer,
Help my U loof steeds keer op keer
In U teenwoordigheid en krag -
Nooit van U wegdwaal dag of nag

Lewe vir Jesus, wat 'n rus!
Hom te behaag, dit is my lus
Om slegs te leef vir Hom alleen,
Sy wil te doen is my tot seën.

Lewe vir Jesus overal,
Al my swaar laste dra Hy pal.
Vriende mag wyk, maar Hy bly trou;
Ek steun op Hom, Hy lei my nou.

Lewe vir Jesus tot die end,
Ja my bevind in heerlikheid;
Daar voor Sy troon sal'k voor Hom staan
En Hom hoor sê: "Kind, welgedaan!"

Is jy so op standaard dat jy die woorde "welgedaan" uit die Meester se mond sal hoor?
As jy nognie daar is nie, werk asseblief daaraan...! Die lewe is kort, en die ewigheid is lank.
Luister mooi na die Vader se stem, ek is seker Hy roep na jou....! Hy wil lei en jy moet volg.

Thursday, March 12, 2009

STILTE IS GOED VIR JOU

Ken jy die groot stilte van die anderkant af as jy met God praat en soms niks terughoor nie? Wel..., stilte is soms presies die regte antwoord!
Die woestyn is dikwels beter as die bergtoppe. Hoekom..? Wel, in die woestyn leer ons om afhanklik van God te wees. Daar leer jy om vas te byt en deur te druk. Daar leer jy God se teenwoordigheid ken en kan jy Sy stem oor, want daar is niks anders wat harder as God praat nie! In die woestyn is dit net jy en God...., Sy stem teen jou oor.
Stilte is nie ‘n “nee” van God se kant af nie. Stilte is wagtyd....., rustyd....! Stilte is nie regtig stilte as dit nie die Here se soort stilte is nie.
By God is stilte juis ‘n tyd van leer, soek, nadink en nuwe insigte. In sulke tye doen jy wat Psalm 30 sê – dan wag jy op die Here.
Wag in die Here se voorhowe is nie om op “goed” te wag nie. Gebed gaan nie regtig oor versoeke, vrae en antwoorde nie, maar oor GOD. Gebed is om net by Hom te wees. Dis om in ‘n verhouding met Hom te staan in Jesus se Naam. Dis om God se lof te besing, al wil letterlik alles in jou uitroep dat daar geen rede vir lof is nie. Gebed is om die Here groot te maak. Gebed is om Sy skoonheid te beleef en daaroor bly te wees. Gebed is om met aktiewe uitsien op God te wag om Sy beloftes ‘n werklikheid in jou lewe te maak. Om te erken God werk in ‘n ander tydsone en om te wag dat my tydsone en God s’n mekaar ontmoed.
Gebedstilte sê nie God is weg of besig met belangriker dinge nie. Hy is naby.
Wag op die Here!
Wag totdat jy Hom in die stilte hoor.
Nee , wag totdat jy God se soort stilte hoor.

Met dank en erkenning aan: Dawie van Schoor

Wednesday, March 11, 2009

WONDERLIK OM MET HOM TE PRAAT

Dit is algemeen in die dae waarin ons lewe dat kommunikasie so maklik is dat ons hier in Suid Afrika sit en met ons vriende in Amerka per e-pos korrespondeer.
‘n Besigheidsman kan die wêreld vol reis en steeds met sy kantoor in Johannesburg in verbinding bly. Met sy skootrekenaar kan hy in ‘n trein iewers op ‘n roete kontak hou met sy mense en sy besigheid na behore bedryf.

Dit is nie verbasend om met Skype en die internet jou kinders in Amerika te sien en met hulle te gesels nie. Al hierdie wonderlike maniere van kommunikasie is nie meer vir ons so wonderlik nie, dit begin so algemeen raak dat ons dit as vanselfsprekend ervaar. Ons gebruik dit net wanneer ons die tegnologie nodig het, en dan kla ons ook nog omdat die selfoon tegnologie ons eintlik ooral heen volg. Ons het geen privaatheid nie, ons het geen tyd vir ons self nie tot in die toilet pla die ding ons.

Ons moet in weklikheid net oppas dat ons nie so begin voel oor ons kommunikasie met die Here nie dat ons nie ons verwondering oor die krag van gebed verloor nie. Ons kan mos enige oomblik op enige plek met die Here praat. Ons het nie nodig om ‘n afspraak met Hom te maak nie, ons kan ons net afsonder en met Hom begin gesels.

Ek wonder hoeveel oopoog gebede word daagliks agter die stuurwiel van motors gebid. Hoeveel mense staan en kommunikeer met God terwyl die hysbak hulle in die hoë geboue op en af vervoer nie.

Hierdie kort of skiet gebede word so deel van ons daaglikse bestaan, net soos die tegnologie, ons aanvaar dit en gee dit nie eers ‘n tweede gedagte nie.

Hierdie skietgebede is goed, maar wat het geword van daardie opreg na die Here gaan en tyd met hom spandeer. Hom raadpleeg oor al die dingetjies wat jou pla. Hom raadpleeg oor al die besluite wat jy moet neem. Sy antwoorde vir jou vrae in Sy Woord soek. Dit gaan oor daardie lewende verhouding met die Here.

Die Here en gebede tot Hom is nie net ‘n middel tot ‘n doel nie.Dit is nie net afgewaterde kommunikasie nie, wat ons so gewoond geraak het dat ons nie oorweging skenk aan wat ons bid nie. Ons bid eintlik maar sommer uit gewoonte uit, omdat dit so maklik is om te doen, amper soos om die telefoon op te tel en jou ma te skakel om te hoor hoe dit gaan.

Nee ons moet strewe na ‘n meer diepe geestelike lewe, waardeur ons God kan verheerlik en Hom laat glimlag.

Tuesday, March 10, 2009

PSALM 130

Ek is in groot moeilikheid. Help my asseblief Here. Moet asseblief nie my problem miskyk nie. Wys dat U my hulpgeroep hoor.
As U die hele tyd mense se sondes onder hulle neus moes vryf, sou niemand meer kon lewe nie.
Gelukkig vergewe U on sons sondes. Daarom sien mense op na U en dien hulle U.

Ek vertrou op die Here. Met ny hele lewe vertrou ek op Hom.
Ek hou vas aan alles wat Hy beloof het.
Hy vergewe my ook. Daarom sal ek aan Hom vashou.
Ek hou vas aan die Here, meer as wat ‘n kleintjie aan sy ma vasklou.
Ek sal U nooit los nie.

Julle wat die Here liefhet, moet in Hom bly glo, want HY het Sy kinders lief.
Hy vergewe hulle weer en weer.
Hy sal al die dinge vergewe wat Sy kinders verkeerd gedoen het.

Die Boodskap
Jan van der Watt
Stephan Joubert

Monday, March 9, 2009

SPAARWIEL

Ons ou mensies is seker die skelmste goed wat op die aarde loop. Ons hou darvan om alles in die lewe te plooi sodat dit ons pas. Ons het nou nie ‘n saak daarmee as ons in die proses onsself of andere benadeel nie, solank ons eerste prioritet net onsself is. Die onsself is nou ook nie altyd die wenner nie, trouens……!

So kom dit dan somtyds dat ons, ons in so ‘n hoek bevind dat ons nie weet hoe om daar uit te kom nie. Bewend sak ons dan op ons knieë neer en bid dan die Hemelse Vader om, ons met dit of dat te help. Boonop maak ons dan nog ‘n ooreenkoms ook met Hom, normaalweg iets soos ek belowe dat ek meer gereeld kerk toe sal gaan as U my deur hierdie of daardie krisis sal help. Baie keer is dit ‘n kind of ‘n ouer wat ernstig siek is wat ons tot hierdie onderhandeling met die Here laat toe tree. Here as u my kind gesond maak sal ek meer gereeld kerktoe gaan.

Ons wil die Here vasmaak op dit wat ons van Hom verwag. As hy ons kind gesond maak…….. dan sal ek meer kerk toe gaan…. Ek maak nie met hom my kant van die saak vas nie, nee ek belowe nie om elke Sondag kerk toe te gaan nie, want ek weet ek sal nie daardie ooreenkoms na kan kom nie. As ek belowe ek sal meer gereeld kerktoe gaan, dan weet ek as ek net een ekstra keer kerktoe gaan dan het ek by my ooreenkoms gebly. As ek in die verlede twee keer per jaar kerktoe gegaan het en ek gaan dan nou driekeer per jaar, gaan dit nie soveel van my tyd neem nie en ek voel dan nie skuldig nie, maar ek het darem my kant van die ooreenkoms nagekom.

As die Here gehoor gee aan daardie gebed en die kind of wie ookal, aanraak en gesond maak uit Sy groot genade, hou ons in elkgeval nie by ons ooreenkoms om meer keer kerk toe te gaan nie. O nee ons vergeet geriefliheidshalwe alles wat ons die Here belowe het en gaan aan met ons lewens tot ‘n volgende keer……!

Het jy al gesien hoe lyk ‘n spaarwiel onder aan ‘n bakkie. Dink jy dit is altyd skoon en netjies gepoleer, die druk een honderd persent reg? Die skarnier of die oprol aparaat altyd geolie omdat ek hom daagliks nodig het? Nee, die ding sit daar onder die pens van die bakkie vasgemaak, tot die dag dat ek hom nodig kry. Dan sukkel ek my kapot om hom losgemaak te kry, ek kom agter die skarnier of afrol aparaat is so gepak van die modder, en as ek dan met groot gesukkel en geswets eindelik die noodwiel langs die bakkie staangemaak het, kom ek agter, dat dit so lank laas gebruik is dat dit oor tyd pap geword het.

Dan maak ek allerhande beloftes aan myself, ek sal nou weekliks na die spaarwiel omsien, dat hy volgepomp is, dat die modder afgewas is dat ek nie weer so sal sukkel om dit lost e kry en te lat sak nie, die katrol sal nou gereeld geolie word, ek sal van nou af sorg dat ek paraat is en bly sover dit die spaarwiel aan betref.

So maak ons ook met die Here, ons weet Hy is daar, maar ons het ‘n swak verhouding met Hom. Ons sorg nie dat ons verhouding met hom skoon en smetloos is nie. Trouens ons het geen lewendige vehouding met Hom nie, en die bietjie wat ons miskien het of gehad het, verwaarloos ons, ons laat toe dat dit vuil en besoedel word totdat ons Hom weer ‘n slag nodig kry……..!

2Kron 30:8 Verhard nou nie julle nek soos julle vaders nie, gee aan die HERE die hand en kom na sy heiligdom wat Hy vir ewig geheilig het, en dien die HERE julle God.............

1Sam 12:20 Toe sê Samuel vir die volk: Wees nie bevrees nie. Julle het al hierdie kwaad gedoen; maar wyk nie van die HERE af nie, en dien die HERE met
julle hele hart.

Kom ons kry klaar om kerk-kerk te speel, die tyd loop vinnig uit en as ons nie ons verhouding met die Here nou regkry en reghou nie, gaan ons die hemel met al sy heerlikheid mis.

Friday, March 6, 2009

Want Woorde Ontbreek

Die klein groepie mense in die bakkende rooidak saaltjie lyk tog te dankbaar om uit die moordende geskroei van ‘n vuurwit versengende Kalahari Sondag son te wees. Blink druppels sweet beklemtoon elke lewenspoor wat tog te diep op elke gesig lê. Kort-kort word hierdie soutwater sommer sonder seremonie met die plathand weg gevee. Buite verswelg die een hitte golf die ander bloot uit frustrasie terwyl die laat oggend windjie êrens elders gaan wegkruipplek soek het. Wit watte wolkies sweef lusteloos rond om later geruisloos saggies agter die rant van die vêrste sien weg te raak.

Ons kuier-kuier oor ‘n verhouding met Hom en Sy oorvloedige liefde en genade waarin Hy ons sal bewaar. Dan raak die gekuier stil, baie stil en woordeloos word die koel lafenis van Sy teenwoordigheid ingedrink, want woorde ontbreek.

Wiena staan op en loop half vooroor stadig na die oop sitplek regs van my. Met elke tree wat sy gee steek die pyn in haar rug diep in haar amper swart oë vas. Almal kyk na haar en word wreed herinner aan daardie aaklige dag ‘n paar jaar gelede toe twee voertuie, mekaar met ‘n oorverdowende slag, kop-aan-kop oor ‘n blinde rooi sandduin intens leer ken het. Sommige van die kerklopers, beleef en ervaar weer die hulpeloosheid om êrens gebroke en gekneus op daardie rooi sandduin met pyn en lyding te lê. Die gelukkiges wat nie daar was nie, skets ‘n eie prentjie van lydingsgebeure gebaseer op kleurvolle beskrywings en verduidelikings, spoggerig vertel.

Met moeite sak Wiena stadig op ‘n oop stoel neer en kyk met kinderlike verwagting rond. Haar oë soekend en verwagtend na ‘n aanraking van Sy liefde, Sy vrede, Sy genesing en Sy genade. Steeds met die stilte hoorbaar hard, staan ek nader en sit my hande saggies op haar benerige skouertjies neer en voel hoe sy baie effentjies begin te bewe. Dan fluister sy amper onhoorbaar saggies, “Dankie Here Jesus vir U oorvloedige genade”, staan op uit die sitplek, beweeg haar skouers, rek haar nek en rug en stap regop en gemaklik terug na haar oorspronklike sitplek. Verligting stroom by wyse van trane en sweet oor haar ligbruin wange en verdwyn in haar opgefrommelde neuspapier. Stom stil sit die res van hul en staar …………………………………… want woorde ontbreek.

Later daardie selfde donkermaan aand sit ek buite op die warmerige sementbankie en bedink weer Vader se genade wat in stilte jammer kry, in stilte toevou en versterk. ‘n Kosbare lewensveranderende asook lewegewende geskenk bloot omrede Hy ons eerste liefgehad het.

Dan besef ek dat God ons hart en gedagtes deurgrond - want woorde ontbreek. Ook wag Hy gewoonlik totdat ons nie meer kan nie - want woorde ontbreek, en dan gryp Hy in - want woorde ontbreek.

Hy is …………………………………… want my woorde ontbreek.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou …………………………..

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene
DIVINE LIFE MINISTRIES
(Landlyn 054-551 1000)

Thursday, March 5, 2009

SOVEEL DINGE

Met erkenning aan Flip Nel

Met al die gewoel en werskaf van die lewe, leef ons so maklik by mekaar verby! Ons sê so maklik vir mekaar, wees geseënd, of gaan jou goed.....

Is ons nog opreg en sensitief genoeg om mekaar se behoeftes aan te voel, of is daar ook soveel dinge in die weg wat dit verhoed dat ons in voeling met mekaar bly?

Weet ons van die mense wat tekort gehad het die afgelope tydperk, soveel so dat hulle honger/naak/siek/gebind/dors gely het en niemand dalkdaarvan geweet het nie? Of dalk het ons geweet?

Daarom dat Jesus ons aandag vestig op:
Mat 25:42 Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad , en julle het My nie te drinke gegee nie.
Mat 25:43 Ek was 'n vreemdeling, en julle het my nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis en julle het My nie besoek nie

Lees self verder tot by vers 46.

Soveel ding wat ons nagelaat het.
Soveel dinge om aan te werk tydens ons verblyf op aarde.

Jesus sê: "Ek het gekom, dat hulle LEWE en OORVLOED kan hê"

As ek van my oorvloed deel, en jy van joune... kan "hulle" OOk die oorvloed van Jesus smaak.

Kom ons konnekteer weer met mekaar, ook met die wat ons graag wil vermy... en ons laat SY OORVLOED oor en deur ons vloei.

Wednesday, March 4, 2009

HET JY GEWEET

....Die Here het 'n groter begeerte na jou gehoorsaamheid as aan jou offers. Ps40:7 U het geen behae in slagoffer of spysoffer nie.............

....Die Here wil hê jy moet jou Pa en Ma eer en respekteer sodat jy 'n lang lewe kan hê en dat dit met jou goed sal gaan Deut 5:16 Eer jou vader en jou moeder soos die Here jou God jou beveel het...........

...Die Here nooi jou om op hom te vertrou dan sal jy vervris word. Spr28:25.....maar hy wat op die Here vertrou word verkwik.

....Die Here nooi jou om vir ewig op hom te vertrou Jes26:4 .....want die Here Here is 'n ewige rots.

....Die Here nooi jou om vir Sy antwoord te wag Jes.40:31 maar die wat op die Here wag kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

Dien net die Here alleen, met alles wat jy is, dan sal dit met jou goedgaan....!Mat6:24 Niemand kan twee here dien nie; want of hy sal die een haat en die ander liefhê.....Julle kan nie God en Mammon dien nie!

Tuesday, March 3, 2009

DIE GROOTSTE WISKUNDIGE WONDERWERK OOIT

Enn van die grootste wiskundige wonderwerke, sentreer rondom Moses en die Israeliete. In die woestyn moes die Israeliete kos kry.... Hoe voed jy 3 - 5 miljoen mense? Volgens die Kwartiermeester-Generaal van die weermag, het Moses omtrent 1500 ton kos per dag nodig gehad! 'n Ses kilometer lange goederetrein sou nodig wees om die kos te vervoer!

Die kos moes gaar gemaak word met houtvure. Jy moet onthou hulle was in die woestyn. 4000 Ton hout sou nodig wees per dag en weer 'n paar goederetreine, elk amper 2 km lankl, om die hout te vervoer. Onthou bietjie dat hulle 40 jaar deur die woestyn getrek het.

Wat van water? Net genoeg vir 'n bietjie drink en en opwas sou hulle 50 miljoen liter water daagliks nodig gehad het, en 'n goederetrein met tenkwaens, omtrent 19 km lank, sou nodig wees om die water te bring. Daar was net 'n paar putte in die woestyn! Hoe het hulle genoeg water gekry?

Nog 'n deel van die logistieke nagmerrie was, dat hulle in een nag oor die Rooi See moes trek! As hulle met 'n nou paadjie , twee-twee, sou loop, sou die lyn 1280km lank wees en sou dit 35 dae en nagte neem om deur te gaan. So daar moes 'n pad deur die Rooi See gewees het van amper 5 km breed sodat 5000 mense langs mekaar kon loop om in een nag deur te loop.

Nog 'n uitdaging was elke aand se kamp opslaan. "n Terrein van 1200 vierkante km was nodig, dit is so 40 km breed en 48 km lank.

Dink julle Moses het dit alles haarfyn uitgewerk voordat hy die Israeliet uit Egipte gelei het. Nee, hy was maar net 'n gewone mens met 'n onwrikbare geloof en vertroue in God. God sou sorg vir alles!

Kom skep moed, ons dien vandag nog dieselfde God. Kom vergelyk bietjie jou probleme met Moses se probleme.....!

Ons dink ons probleme is groot..!!

ONTHOU WAT GOD KAN DOEN!

Monday, March 2, 2009

INSPIRASIE

Is jy, vir jou medemens met wie jy elke dag skouerskuur, ‘n inspirasie en ‘n seën, of is jy ‘n doemprofeet wat altyd die slegste ding sien en verkondig? As ons so rondom ons kyk is daar so baie dinge om oor te kla, maar die vraag is, help ons klaagliedere enigsins om dinge te verbeter.

Wat sal ons negatiewe praatjies nou mee help om die swak ekonomie te verbeter, of om die misdaad te verlig of om die oorlog in die of daardie land te stop? Net mooi niks nie..!

Let bietjie op dat ons geselskap die meeste van die tyd negatief is. Ons praat liewer oor die persoon wat iets negatiefs aangevang het as oor die persoon wat positief hoë hoogtes bereik het. Ons praat liewer oor ‘n persoon se slegte eienskappe as oor so ‘n persoon se goeie eienskappe. Ons spreek dood in ander mense se lewens of ons laat toe dat hulle dood spreek in ons lewens! Dit is ‘n siklus waaruit ons moet wegbreek en ons wegdraai van die negatiewe waarmee ons gebombardeer word, en miskien waarmee ons ander bombardeer.

Ons moet ons met positiewe mense omring dan sal ons ook begin om positiewe ding te praat en ‘n positiew gees uit te straal.

Ek lees nêrens in die Bybel dat Jesus in Sy aardse wandel negatief was nie. Hy het net positiewe ding gesê en positiewe dinge gedoen. Siekes genees, dooies opgewek, dowes laat hoor, stommes laat praat, kreupeles laat loop, blindes laat sien…..!

Nooit het Jesus ‘n treurmare gemaak van die dinge wat Hy geweet het wat kom en wat met Hom sou gebeur. Hy het stuk stuk deur gelykenisse met die mense gepraat en al die dinge aan hulle bekend gemaak sonder om negatief daaroor te wees. Hoe het Hy dit reg gekry? Hy het deurentyd Sy oë op God gerig gehou. Hy het heeltyd binne die wil van God gebly, Hy het nie bietjie Sy eie pad geloop soos ons soms doen nie! Nee, Hy het God se pad geloop, sonder om een oomblik te wankel, tot die einde toe.

Kom ons draai weg van hierdie negatiewe manier van lewe, kom ons verander ons modus operandi, kom ons gaan haal elke oggend die positiewe direk van die Here af voordat ons werk toe gaan. Dan wanneer ons uitgaan en met mense praat en skouerskuur inspireer ons hulle met al die mooi en wonderlike dinge wat elke dag oplewer. Sit effort daarin om die positiewe uit te lig in elke situasie ipv die negatiewe. Almal om ons praat negatief daarom sal dit moeilik wees om stroomop te swem. Dit is net om eers daardie eerste tree te gee. Die Here sal ons help

May the Lord bless you so that you can be a blessing to others!