Wednesday, March 25, 2009

MY PAPPA 2

My kind, wat wil jy vandag van my hê? Ek wonder of jy ooit besef hoe verskriklik graag ek jou wil help. Daardie planne wat jou so besig hou, hoekom lê jy dit nie voor my nie? Wil jy graag jou familie tevrede stel en help, hulle met wie jy elke dag intiem 'n huis deel, jou vader, jou moeder, jou boeties en sussies, jou vrou, jou man, jou kinders. Wat wil jy vir hulle doen en bowenal wat wil jy hê dat Ek vir hulle moet doen?



Maar nou My kind, wat van My. Wil jy nie maar 'n bietjie praat en werk aan die siele van jou vriende wat My dalk al vergeet het nie. Miskien is daar onder jou vriende iemand wat al laat deurskemer het dat hy 'n nouer verhouding met My wil hê, maar jy was te skaam om met hom daaroor te praat. Nou, is die tyd om dit te doen. Miskien is daar onder hulle iemand wat My naam ydelik gebruik, dit pla jou verskriklik maar jy het nie die hart om hom daaroor aan te spreek nie. Doen dit nou, Ek sal jou help, vra My net.



My kind, wie het jou seer gemaak, wat se moeilikhede het jy? Kom vertel My van al jou floppies en jou hartseer. As iemand jou te na gekom het vertel my daarvan, Ek sal jou help om te vergewe en vry te spreek.



Is jy bang vir iets? Is daar iets daar diep in jou binneste wat jou bangmaak. Dit is dalk so onnodig, maar dit vreet jou op van binne af. Jy kan My daarvan vertel! Jy moet nie vergeet dat Ek van al die dinge weet nie, maar Ek wil hê jy moet My vertrou en dit self vir My kom vertel, in jou eie woorde vir My kom sê wat jou pla. Ek is altyd beskikbaar, Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie. Vra net na My, ek sal jou hoor.

No comments: