Wednesday, March 11, 2009

WONDERLIK OM MET HOM TE PRAAT

Dit is algemeen in die dae waarin ons lewe dat kommunikasie so maklik is dat ons hier in Suid Afrika sit en met ons vriende in Amerka per e-pos korrespondeer.
‘n Besigheidsman kan die wêreld vol reis en steeds met sy kantoor in Johannesburg in verbinding bly. Met sy skootrekenaar kan hy in ‘n trein iewers op ‘n roete kontak hou met sy mense en sy besigheid na behore bedryf.

Dit is nie verbasend om met Skype en die internet jou kinders in Amerika te sien en met hulle te gesels nie. Al hierdie wonderlike maniere van kommunikasie is nie meer vir ons so wonderlik nie, dit begin so algemeen raak dat ons dit as vanselfsprekend ervaar. Ons gebruik dit net wanneer ons die tegnologie nodig het, en dan kla ons ook nog omdat die selfoon tegnologie ons eintlik ooral heen volg. Ons het geen privaatheid nie, ons het geen tyd vir ons self nie tot in die toilet pla die ding ons.

Ons moet in weklikheid net oppas dat ons nie so begin voel oor ons kommunikasie met die Here nie dat ons nie ons verwondering oor die krag van gebed verloor nie. Ons kan mos enige oomblik op enige plek met die Here praat. Ons het nie nodig om ‘n afspraak met Hom te maak nie, ons kan ons net afsonder en met Hom begin gesels.

Ek wonder hoeveel oopoog gebede word daagliks agter die stuurwiel van motors gebid. Hoeveel mense staan en kommunikeer met God terwyl die hysbak hulle in die hoë geboue op en af vervoer nie.

Hierdie kort of skiet gebede word so deel van ons daaglikse bestaan, net soos die tegnologie, ons aanvaar dit en gee dit nie eers ‘n tweede gedagte nie.

Hierdie skietgebede is goed, maar wat het geword van daardie opreg na die Here gaan en tyd met hom spandeer. Hom raadpleeg oor al die dingetjies wat jou pla. Hom raadpleeg oor al die besluite wat jy moet neem. Sy antwoorde vir jou vrae in Sy Woord soek. Dit gaan oor daardie lewende verhouding met die Here.

Die Here en gebede tot Hom is nie net ‘n middel tot ‘n doel nie.Dit is nie net afgewaterde kommunikasie nie, wat ons so gewoond geraak het dat ons nie oorweging skenk aan wat ons bid nie. Ons bid eintlik maar sommer uit gewoonte uit, omdat dit so maklik is om te doen, amper soos om die telefoon op te tel en jou ma te skakel om te hoor hoe dit gaan.

Nee ons moet strewe na ‘n meer diepe geestelike lewe, waardeur ons God kan verheerlik en Hom laat glimlag.

No comments: