Friday, March 6, 2009

Want Woorde Ontbreek

Die klein groepie mense in die bakkende rooidak saaltjie lyk tog te dankbaar om uit die moordende geskroei van ‘n vuurwit versengende Kalahari Sondag son te wees. Blink druppels sweet beklemtoon elke lewenspoor wat tog te diep op elke gesig lê. Kort-kort word hierdie soutwater sommer sonder seremonie met die plathand weg gevee. Buite verswelg die een hitte golf die ander bloot uit frustrasie terwyl die laat oggend windjie êrens elders gaan wegkruipplek soek het. Wit watte wolkies sweef lusteloos rond om later geruisloos saggies agter die rant van die vêrste sien weg te raak.

Ons kuier-kuier oor ‘n verhouding met Hom en Sy oorvloedige liefde en genade waarin Hy ons sal bewaar. Dan raak die gekuier stil, baie stil en woordeloos word die koel lafenis van Sy teenwoordigheid ingedrink, want woorde ontbreek.

Wiena staan op en loop half vooroor stadig na die oop sitplek regs van my. Met elke tree wat sy gee steek die pyn in haar rug diep in haar amper swart oë vas. Almal kyk na haar en word wreed herinner aan daardie aaklige dag ‘n paar jaar gelede toe twee voertuie, mekaar met ‘n oorverdowende slag, kop-aan-kop oor ‘n blinde rooi sandduin intens leer ken het. Sommige van die kerklopers, beleef en ervaar weer die hulpeloosheid om êrens gebroke en gekneus op daardie rooi sandduin met pyn en lyding te lê. Die gelukkiges wat nie daar was nie, skets ‘n eie prentjie van lydingsgebeure gebaseer op kleurvolle beskrywings en verduidelikings, spoggerig vertel.

Met moeite sak Wiena stadig op ‘n oop stoel neer en kyk met kinderlike verwagting rond. Haar oë soekend en verwagtend na ‘n aanraking van Sy liefde, Sy vrede, Sy genesing en Sy genade. Steeds met die stilte hoorbaar hard, staan ek nader en sit my hande saggies op haar benerige skouertjies neer en voel hoe sy baie effentjies begin te bewe. Dan fluister sy amper onhoorbaar saggies, “Dankie Here Jesus vir U oorvloedige genade”, staan op uit die sitplek, beweeg haar skouers, rek haar nek en rug en stap regop en gemaklik terug na haar oorspronklike sitplek. Verligting stroom by wyse van trane en sweet oor haar ligbruin wange en verdwyn in haar opgefrommelde neuspapier. Stom stil sit die res van hul en staar …………………………………… want woorde ontbreek.

Later daardie selfde donkermaan aand sit ek buite op die warmerige sementbankie en bedink weer Vader se genade wat in stilte jammer kry, in stilte toevou en versterk. ‘n Kosbare lewensveranderende asook lewegewende geskenk bloot omrede Hy ons eerste liefgehad het.

Dan besef ek dat God ons hart en gedagtes deurgrond - want woorde ontbreek. Ook wag Hy gewoonlik totdat ons nie meer kan nie - want woorde ontbreek, en dan gryp Hy in - want woorde ontbreek.

Hy is …………………………………… want my woorde ontbreek.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou …………………………..

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene
DIVINE LIFE MINISTRIES
(Landlyn 054-551 1000)

No comments: