Monday, March 30, 2009

MY PAPPA 4

My kind, My oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op My gerig is (2Kron16:9). Ek sien dat jou gesindheid en jou hart reg is en dat jy My my dien met 'n onverdeelde hart. Hou so aan My kind, ek weet die stryd is vel en nie aldag maklik nie. Vir jou lyk dit miskien nog na 'n baie lang pad wat jy moet loop voordat jy by My kan kom rus. Hou net aan, moet net nie gaan sit en boedel oorgee nie, die beloning wat vir jou wag is groot.

Elkeen van My kinders wat vandag by My in die hemel is, het ook hart gestry. Vir sommige was die stryd feller as vir ander, hulle wat aangehou het het die eindstreep gehaal. Ongelukkig het baie van die wat saam met hulle die pad geloop het, besluit dat dit nie die moeite werd is nie. O, weet jy hoe baie het hulle verloor en weet jy hoe seer My hart daaroor is. Ek wonder baie keer hoekom hulle nie net nog 'n bietjie aangehou het nie, die einde was in sig.

My kind Ek sien dat jy sommige dae swaar kry, jy moet die dinge wat jou pla hier voor My kom noem. Jy moet my vertrou, ek het jou fyntjies in jou moederskoot geweef, ek ken jou van daardie eerste oomblik af. Kom vertel my van al die hartseer en pyn wat jy daagliks beleef. Al dink jy miskien dit is 'n nietigheid, Ek wil hê jy moet my daarvan kom vertel. As dit vir jou 'n probleem gee wil Ek graag daarvan weet. Miskien, My kind, is die probleem so groot dat jy weet jy kan daar niks aan doen nie. Dalk het jy 'n verkeerde besluit geneem, daardie duur motor wat jy gekoop het wat jy nou nie kan betaal nie. Ek het gewag dat jy my moet kom vertel dat jy beplan om die motor te koop, maar jy was so opgewonde daaroor dat jy vergeet het om my daarvan te kom vertel. Ek het toe nooit die kans gekry om jou te waarsku teen dit wat voorlê nie.

My kind, die probleme wat vir jou so groot en onoorkomlik lyk is vir My 'n nietigheid. Daar is 'n oplossing vir elke probleem, bring dit na my toe. My manier van 'n probleem oplos is nou nie altyd hoe jy dit sou gedoen het nie, maar Ek weet wat die beste vir jou is.

Jy moet elke dag met My kom gesels Ek sien daarna uit en wag vir jou. As jy dit die dag nie doen nie is Ek hartseer want Ek wil nie hê dat jy my afskeep of net 'n spaarwiel van my maak nie.
My kind, Ek wil hê dat daar 'n lewende verhouding tussen jou en My is en 'n band wat elke dag groei en sterker word. Ek wil jou nog so baie dinge leer, daar is soveel waarhede in My Woord opgesluit wat jy nog moet ontdek, kom na My toe My kind.

Ek wag elke dag vir jou!

2 comments:

Nimsi se Blog said...

Hello oom Petrus,
Hierdie My pappa stukkies is werklik vir my baie spesiaal.
Mooi week vir julle Oom petrus
xxx

Oom Petrus said...

Hallo Nimsi
Dankie vir jou inloer.Waardeer dit verskriklik
Geseënde week ook daar by julle