Monday, March 9, 2009

SPAARWIEL

Ons ou mensies is seker die skelmste goed wat op die aarde loop. Ons hou darvan om alles in die lewe te plooi sodat dit ons pas. Ons het nou nie ‘n saak daarmee as ons in die proses onsself of andere benadeel nie, solank ons eerste prioritet net onsself is. Die onsself is nou ook nie altyd die wenner nie, trouens……!

So kom dit dan somtyds dat ons, ons in so ‘n hoek bevind dat ons nie weet hoe om daar uit te kom nie. Bewend sak ons dan op ons knieë neer en bid dan die Hemelse Vader om, ons met dit of dat te help. Boonop maak ons dan nog ‘n ooreenkoms ook met Hom, normaalweg iets soos ek belowe dat ek meer gereeld kerk toe sal gaan as U my deur hierdie of daardie krisis sal help. Baie keer is dit ‘n kind of ‘n ouer wat ernstig siek is wat ons tot hierdie onderhandeling met die Here laat toe tree. Here as u my kind gesond maak sal ek meer gereeld kerktoe gaan.

Ons wil die Here vasmaak op dit wat ons van Hom verwag. As hy ons kind gesond maak…….. dan sal ek meer kerk toe gaan…. Ek maak nie met hom my kant van die saak vas nie, nee ek belowe nie om elke Sondag kerk toe te gaan nie, want ek weet ek sal nie daardie ooreenkoms na kan kom nie. As ek belowe ek sal meer gereeld kerktoe gaan, dan weet ek as ek net een ekstra keer kerktoe gaan dan het ek by my ooreenkoms gebly. As ek in die verlede twee keer per jaar kerktoe gegaan het en ek gaan dan nou driekeer per jaar, gaan dit nie soveel van my tyd neem nie en ek voel dan nie skuldig nie, maar ek het darem my kant van die ooreenkoms nagekom.

As die Here gehoor gee aan daardie gebed en die kind of wie ookal, aanraak en gesond maak uit Sy groot genade, hou ons in elkgeval nie by ons ooreenkoms om meer keer kerk toe te gaan nie. O nee ons vergeet geriefliheidshalwe alles wat ons die Here belowe het en gaan aan met ons lewens tot ‘n volgende keer……!

Het jy al gesien hoe lyk ‘n spaarwiel onder aan ‘n bakkie. Dink jy dit is altyd skoon en netjies gepoleer, die druk een honderd persent reg? Die skarnier of die oprol aparaat altyd geolie omdat ek hom daagliks nodig het? Nee, die ding sit daar onder die pens van die bakkie vasgemaak, tot die dag dat ek hom nodig kry. Dan sukkel ek my kapot om hom losgemaak te kry, ek kom agter die skarnier of afrol aparaat is so gepak van die modder, en as ek dan met groot gesukkel en geswets eindelik die noodwiel langs die bakkie staangemaak het, kom ek agter, dat dit so lank laas gebruik is dat dit oor tyd pap geword het.

Dan maak ek allerhande beloftes aan myself, ek sal nou weekliks na die spaarwiel omsien, dat hy volgepomp is, dat die modder afgewas is dat ek nie weer so sal sukkel om dit lost e kry en te lat sak nie, die katrol sal nou gereeld geolie word, ek sal van nou af sorg dat ek paraat is en bly sover dit die spaarwiel aan betref.

So maak ons ook met die Here, ons weet Hy is daar, maar ons het ‘n swak verhouding met Hom. Ons sorg nie dat ons verhouding met hom skoon en smetloos is nie. Trouens ons het geen lewendige vehouding met Hom nie, en die bietjie wat ons miskien het of gehad het, verwaarloos ons, ons laat toe dat dit vuil en besoedel word totdat ons Hom weer ‘n slag nodig kry……..!

2Kron 30:8 Verhard nou nie julle nek soos julle vaders nie, gee aan die HERE die hand en kom na sy heiligdom wat Hy vir ewig geheilig het, en dien die HERE julle God.............

1Sam 12:20 Toe sê Samuel vir die volk: Wees nie bevrees nie. Julle het al hierdie kwaad gedoen; maar wyk nie van die HERE af nie, en dien die HERE met
julle hele hart.

Kom ons kry klaar om kerk-kerk te speel, die tyd loop vinnig uit en as ons nie ons verhouding met die Here nou regkry en reghou nie, gaan ons die hemel met al sy heerlikheid mis.

No comments: