Monday, October 25, 2010

LEWENSPAD NA NERENS

Daardie een spesifieke lente oggend was seker die naaste aan 'n perfekte Kalaharidag wat daar kan wees. Die lug is blouer as blou, die geelwit sonnetjie bak teen ‘n aanvaarbare temperatuur en die koelerige windjie uit die suide stoot net genoeg om jou te herinner aan die Skepper van Hemelgoed en Stofaarde se alomteenwoordigheid. Op die winkel se stoepie draal ‘n paar vrouens rond want dis amper weer tyd vir die vroue om bymekaar te kom. Daar waar hul geknakte selfbeelde by wyse van bemoedigende woorde uit Vader se hart sonder enige druk regop gehelp word en dit terwyl die mooiste goeters uit ander se weggooidinge gemaak word.

Ek hou haar wat voorwaar heel te vroeg haar se tienerwees verloor het deur die die kantoorvenster dop. Sy dwaal doelloos en soekend rond so al asof sy verdwaal is. Haar onversorgde kop hang skuins-skeef en eens trotse jonkwees-skouers verloor ‘n stille stryd teen die swaartekrag. Met verslete skoene laat sy sleepspore na as stille bewys van ‘n ongenaakbare wêreld wat met ‘n wrede spoor haar se binnevoering verbrysel het. ‘n Wrede spoor deurtrek van laakbare gebruike, onbedoelde woorde vol leuens en leë beloftes wat so kenmerkend eie is. Haar se aanstap na my werf se kant toe, basuin oor die Kalahari-vlak dat haar kosbare lewensvreugdes deur hierdie brutale spoor vermorsel is. Nou lê waardevolle lewensdrome so ver, so onbereikbaar ver en dit terwyl sy nog ‘n jaar of drie moet wag vir mondigwording.

Die groepie vroue wat om die groot tafelblad sit, kyk verbaas op toe ek haar wys waar hulle weekliks ontmoet. Die meeste van hulle snak so half na hulle asems want niemand het ooit gedink dat sy hierheen sou wou kom nie. Die Mooiste Mooi kyk met kwaai oë na hulle en nooi haar dan vriendelik om sommer daar langs haar te kom sit. “Hopelik Vader, hopelik vandag sal alles draai, hopelik sal die lewe vandag weer vir haar begin sin maak, hopelik sal sy vandag besluit om ‘n pad vol hoop saam met Jesus te stap,” vra ek so in my se binneste-binne en stap dadelik uit. Rustig speel die musiek in die agtergrond en die Mooiste Mooi vertel ongestoord verder van die Skepper se allesvergewende liefde en genade.

Net so voor die middaguur se uitval, dwing die nuuskierigheid my terug na die groepie toe. Haar se verslaentheid en vreugdelose lewensuitkyk het die hele oggend voor my binneste oog gedraai en ek kon haar nie uit my gedagtes kry nie. Vol verwagting stap ek nader en hoor hoe daar gekoggel en dan hartlik uit die maag vir mekaar gelag word. Versigtig staan ek nader aan die venster en loer skelmpies na binne. Doodstil, met haar donker oë stip gefokus, konsentreer sy om ‘n knoop aan die einde van die stringetjie kraletjies wat sy geryg het, te maak. Dan kruip ‘n breë glimlag oor haar donkerbruin gesig toe die Mooiste Mooi oor haar se eie onhandigheid kla. “Dankie, Vader vir ‘n geleentheid wat sy het om tussen ander gebrokenes gesond te word. Ek hoop van harte dat sy vandag goed sal kies. Hoop dat lewensvreugdes vandag ‘n werklikheid vir haar sal wees. Hoop dat sy vandag op ‘n pad van hoop sal besluit,” bid ek in stilte.

Sowat ‘n uur of wat later en die meeste van die vrouens het reeds weer ingeval, maar die jongvroutjie se stoel langs die Mooiste Mooi s’n is leeg toe ons daar aankom. Miskien is sy maar net so ‘n bietjie laat of dalk het haar jongste, wat nog is die doeke is, haar aandag nodig hoop ek terwyl ek besig raak met kantoorwerk. ‘n Rukkie later hoor ek ‘n geskel en ‘n gebaklei buite by die winkel. Ek kyk weer deur die kantoorvenster en is net betyds om te sien hoe sy so ‘n tree of wat nog rondslinger en toe plat in die vaalbruin stof neerslaan. En ‘n ferm koel suidewindjie waai haar leë rooiprop wynbottel saam met vergete lewensdrome wyd oor die vlak heen.

Die die prys van hoop was vir voorwaar net te swaar vir haar. Nou strompel sy maar vandag steeds weerloos voort op haar eie vernietigende lewenspad na nêrens met kosbare lewensdrome wat nog steeds ... onbereikbaar ver is.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ........................

Êrens tussen duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

Landlyn 054 - 551 1000

Monday, October 11, 2010

SANDGLAS VAN DIE GENADEWA

Geen grensdraad kan die opgewondenheid in onse harte inhou nie, want ek en die Mooiste Mooi gaan weer voorwêreld toe. Vroegoggend draai die Genadewa sy neus in Gauteng se rigting en in my hart is ek diep dankbaar want die hele dag lê oop en wag en ons kan rustig ry. Saggies wieg die ou grote die Mooiste Mooi se ooglede al laer en met elke kilometer wat onder sy breë bande verbyskuif raak my se hart voller want helaas, kosbare voorwêreld mensegoed gaan ook die voorreg hê om die Genadewa te sien.

Sowat 280km van die huis af gebeur die onverwagte en die ondenkbare. ‘n Hengse harde slag weerklink in ons ore en wit rook borrel en kook uit die enjin van die Genadewa. Die Mooiste Mooi skrik gillend en dan is alles om ons stil, ... doodstil. Slegs die suisklanke van die breë swart bande wat al stadiger en stadiger draai is hoorbaar in ons ore. Verbaas kyk ons na mekaar en op elkeen se gesig staan ‘n menigte vrae geskryf. So kry hy sy staan langs die teerpad en ons klim uit. Versigtig word die enjinkap oopgemaak want steeds borrel rook daaronder uit. Die Mooiste Mooi maan my om tog versigtig te wees en wil angstig weet wat aangaan.

Dit kan nie wees nie, skreeu my hele wese ten hemele, die voertuig is dan nou kort gelede oorgedoen. Stilswyend draai ek om en stap met gekromde skouers van die Genadewa af weg – sommer net êrens heen. Die Mooiste Mooi wil nog troos met ‘n drukkie en sagte woorde maar my se ore is doof. Los my net uit, ek wil alleen wees, heel alleen. Daardie hengse slag het nie net ‘n gat in die Genadewa se blok geslaan nie, maar dit het ook my binnevoering flenters geskeur.

‘n Rukkie later sit ek verwese en gebroke met my rug teen die linker voorwiel van die Genadewa terwyl die vroeë lentesonnetjie my gesig warm brand. Skerp stokkies van ‘n graspol en ‘n paar ongemaklike klippe maak my se sit maar ongemaklik maar dit maak nie saak nie. Vieserig skop ek hulle uit en so raak dit rustig om my. Vlak, baie vlak lê my trane en die sluk in my keel raak al dikker en moeiliker, want diep in my binneste-binne hou ek by myselwers begrafnis want die Genadewa, soos ek hom ken, is dood – morsdood en ek moet groet. Sy sandglas het vireers leeg geloop.

So diep ek die Genadewa uit die gistergoed van my Kalaharilewe en besef weereens dat hy op sy eie unieke manier kosbare eienskappe van Vader se genade verteenwoordig – sterk, dapper, onverskrokke, eenvoudig en waarlik sonder enige tierlantyntjies. Ek onthou weer die sielsvreugde op die sonverskroeide bruin gesigte van die vergete en alleenmense wat êrens in vergetelheid woon as die Genadewa sy staning langs hulle kry. In my gedagtes flits sommiges se dorstige oë verby wat dan skielik vol dankbaarheidswater blink as hulle, vanuit ‘n oorvol vernietwinkel agter op sy lang bak, kossigheid en klere kan koop met net ‘n opregte dankie-briefie. En ek hoor ook weer hoe die Genadewa ‘n tydjie gelede die teenwoordigheid van vernietgenade oor die Kalahari-vlak met ‘n diep gebrul aangekondig het toe sy uitlaatpyp stukkend was.

Die onverwagse woorde “Ek het My gesig vir ‘n oomblik van die Genadewa weggedraai” steek soos ‘n skerp pendoring diep in my hart terwyl trane vrylik nat spore op my kort grys baard los. Dan weet ek dat die Genadewa, soos ek hom al die jare hier in die vergeetkant van die land geken het, nie gou weer oor die sandpaaie van die Kalahari sal wieg nie. Die Jeremia in my wou nog my lot bekla toe Hy met ‘n liefdevolle dringendheid die volgende van my vra.

“Kom ons neem 'n rukkie van jou tyd

En oordink saam-saam ‘n ewigheidsfeit

Ongeag jou pyn en seer bly dit steeds My wens

Dat jy ook soms moet opoffer vir jou medemens

Jou hart mag gebroke wees selfs onmeetlik swaar

Alles en almal is teen jou, jy voel jy’s klaar voorwaar

Wees in alles gehoorsaam Ek’s jou Koning, Skepper en Heer

Ek sal jou met oorvloedsgenade altyddeur eer

Gaan hoor by mense, maak tog gou,

wat sal gebeur as Ek My genade weerhou?"

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ......................

Êrens tussen duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

Landlyn (054) 551 1000

Monday, October 4, 2010

GLO JY

“Pastoorgoed vra of ek in die Djere glo,” sê sy terwyl warm koffiestoom uit die nerfaf en ingeduikte blikbekers lui boontoe beur.

“Ek weet nie so mooi nie maar sê my, dink Pastoorgoed ek glo?" terwyl sy so 'n veraf Kalahari uitdrukking in die oog kry.

"Hier in die Agter-Kalahari is mos nie eintlik werk vir Ma-goed nie en so by so is onse geldjies maar aan die skraps kant. Noudat ons Pa-goed voorlaaste jaar daar in die eenkantstaan begraafplaas begrawe het en ouboet die lekkerte van die rooipropwyn gesmaak het, kom geldjies maar nie te gereeld onse kant toe nie.

Net so in die begin laaste maand hoor ek Ma-goed een oggend hardop bid dat Kêrelkind van God tog die hongerte van onse mage moet wegvat. Seker oorlat onse kossigheid al die laaste week heel op is. Daar was nie eers broodmeel vir ‘n klein broodjie nie.

Ma-goed het daardie een oggend lank gebid. Soms het sy gepraat en dan weer was sy stil, doodstil soos wanneer sy haar se ore vir my gee as ek haar ‘n mooi storie vertel. ‘n Rukkie later hoor ek haar amen sê en dan staan sy moeilik van haar se moeilike knieë op. Skielik sê sy moet ons loop hout maak en ek stribbel en stry want my se hart is swaar. Daarmee saam brand die son warm en onse kosrak is leeg – heel leeg. Hoekom dan nou al die moeite? Ma-goed bly daarop aandring en gooi haar se botteltjie vol brakwater. Nukkerig loop ek saam al op haar se spoor met oë wat bly grond toe kyk.

Ma-goed het ver gaan draai, daar waar die diksandduine langs die verste sien lê, want die naby houtjies is amper almal opgetel. Êrens langs die pad bekruip die hongerte en dorstigheid my en my se kragte loop leeg. Die terugkom was nie lekker nie, want my se voete sleep en my se hart lê swaarder as ‘n groot slagskaap.

Pastoorgoed sal nie glo nie, toe ons by die huis kom en Ma-goed die deur oopstoot steek sy skielik vas asof daar ‘n geelslang voor haar lê en ek loop teen haar vas. Voor haar se voete op die grond lê ‘n klein bruin koevertjie met iets buite op geskryf. Stadig buk sy vooroor, tel die vreemdheid op en maak dit met skilpadspoed en dom vingers versigtig oop. Vraend kyk ek na haar en skielik raak haar se oë groot. ‘n Honderd rand, Pastoorgoed, ‘n honderd rand noot lê in haar hand en toe hoor ek haar saggies sê ‘U het voorsien want U het mos so gesê’.

Nou weet ek nie so mooi nie, maar sê my, dink Pastoorgoed ek glo?”

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou .....................

Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn 054-551 1000)