Monday, October 11, 2010

SANDGLAS VAN DIE GENADEWA

Geen grensdraad kan die opgewondenheid in onse harte inhou nie, want ek en die Mooiste Mooi gaan weer voorwêreld toe. Vroegoggend draai die Genadewa sy neus in Gauteng se rigting en in my hart is ek diep dankbaar want die hele dag lê oop en wag en ons kan rustig ry. Saggies wieg die ou grote die Mooiste Mooi se ooglede al laer en met elke kilometer wat onder sy breë bande verbyskuif raak my se hart voller want helaas, kosbare voorwêreld mensegoed gaan ook die voorreg hê om die Genadewa te sien.

Sowat 280km van die huis af gebeur die onverwagte en die ondenkbare. ‘n Hengse harde slag weerklink in ons ore en wit rook borrel en kook uit die enjin van die Genadewa. Die Mooiste Mooi skrik gillend en dan is alles om ons stil, ... doodstil. Slegs die suisklanke van die breë swart bande wat al stadiger en stadiger draai is hoorbaar in ons ore. Verbaas kyk ons na mekaar en op elkeen se gesig staan ‘n menigte vrae geskryf. So kry hy sy staan langs die teerpad en ons klim uit. Versigtig word die enjinkap oopgemaak want steeds borrel rook daaronder uit. Die Mooiste Mooi maan my om tog versigtig te wees en wil angstig weet wat aangaan.

Dit kan nie wees nie, skreeu my hele wese ten hemele, die voertuig is dan nou kort gelede oorgedoen. Stilswyend draai ek om en stap met gekromde skouers van die Genadewa af weg – sommer net êrens heen. Die Mooiste Mooi wil nog troos met ‘n drukkie en sagte woorde maar my se ore is doof. Los my net uit, ek wil alleen wees, heel alleen. Daardie hengse slag het nie net ‘n gat in die Genadewa se blok geslaan nie, maar dit het ook my binnevoering flenters geskeur.

‘n Rukkie later sit ek verwese en gebroke met my rug teen die linker voorwiel van die Genadewa terwyl die vroeë lentesonnetjie my gesig warm brand. Skerp stokkies van ‘n graspol en ‘n paar ongemaklike klippe maak my se sit maar ongemaklik maar dit maak nie saak nie. Vieserig skop ek hulle uit en so raak dit rustig om my. Vlak, baie vlak lê my trane en die sluk in my keel raak al dikker en moeiliker, want diep in my binneste-binne hou ek by myselwers begrafnis want die Genadewa, soos ek hom ken, is dood – morsdood en ek moet groet. Sy sandglas het vireers leeg geloop.

So diep ek die Genadewa uit die gistergoed van my Kalaharilewe en besef weereens dat hy op sy eie unieke manier kosbare eienskappe van Vader se genade verteenwoordig – sterk, dapper, onverskrokke, eenvoudig en waarlik sonder enige tierlantyntjies. Ek onthou weer die sielsvreugde op die sonverskroeide bruin gesigte van die vergete en alleenmense wat êrens in vergetelheid woon as die Genadewa sy staning langs hulle kry. In my gedagtes flits sommiges se dorstige oë verby wat dan skielik vol dankbaarheidswater blink as hulle, vanuit ‘n oorvol vernietwinkel agter op sy lang bak, kossigheid en klere kan koop met net ‘n opregte dankie-briefie. En ek hoor ook weer hoe die Genadewa ‘n tydjie gelede die teenwoordigheid van vernietgenade oor die Kalahari-vlak met ‘n diep gebrul aangekondig het toe sy uitlaatpyp stukkend was.

Die onverwagse woorde “Ek het My gesig vir ‘n oomblik van die Genadewa weggedraai” steek soos ‘n skerp pendoring diep in my hart terwyl trane vrylik nat spore op my kort grys baard los. Dan weet ek dat die Genadewa, soos ek hom al die jare hier in die vergeetkant van die land geken het, nie gou weer oor die sandpaaie van die Kalahari sal wieg nie. Die Jeremia in my wou nog my lot bekla toe Hy met ‘n liefdevolle dringendheid die volgende van my vra.

“Kom ons neem 'n rukkie van jou tyd

En oordink saam-saam ‘n ewigheidsfeit

Ongeag jou pyn en seer bly dit steeds My wens

Dat jy ook soms moet opoffer vir jou medemens

Jou hart mag gebroke wees selfs onmeetlik swaar

Alles en almal is teen jou, jy voel jy’s klaar voorwaar

Wees in alles gehoorsaam Ek’s jou Koning, Skepper en Heer

Ek sal jou met oorvloedsgenade altyddeur eer

Gaan hoor by mense, maak tog gou,

wat sal gebeur as Ek My genade weerhou?"

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ......................

Êrens tussen duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

Landlyn (054) 551 1000

No comments: