Monday, October 4, 2010

GLO JY

“Pastoorgoed vra of ek in die Djere glo,” sê sy terwyl warm koffiestoom uit die nerfaf en ingeduikte blikbekers lui boontoe beur.

“Ek weet nie so mooi nie maar sê my, dink Pastoorgoed ek glo?" terwyl sy so 'n veraf Kalahari uitdrukking in die oog kry.

"Hier in die Agter-Kalahari is mos nie eintlik werk vir Ma-goed nie en so by so is onse geldjies maar aan die skraps kant. Noudat ons Pa-goed voorlaaste jaar daar in die eenkantstaan begraafplaas begrawe het en ouboet die lekkerte van die rooipropwyn gesmaak het, kom geldjies maar nie te gereeld onse kant toe nie.

Net so in die begin laaste maand hoor ek Ma-goed een oggend hardop bid dat Kêrelkind van God tog die hongerte van onse mage moet wegvat. Seker oorlat onse kossigheid al die laaste week heel op is. Daar was nie eers broodmeel vir ‘n klein broodjie nie.

Ma-goed het daardie een oggend lank gebid. Soms het sy gepraat en dan weer was sy stil, doodstil soos wanneer sy haar se ore vir my gee as ek haar ‘n mooi storie vertel. ‘n Rukkie later hoor ek haar amen sê en dan staan sy moeilik van haar se moeilike knieë op. Skielik sê sy moet ons loop hout maak en ek stribbel en stry want my se hart is swaar. Daarmee saam brand die son warm en onse kosrak is leeg – heel leeg. Hoekom dan nou al die moeite? Ma-goed bly daarop aandring en gooi haar se botteltjie vol brakwater. Nukkerig loop ek saam al op haar se spoor met oë wat bly grond toe kyk.

Ma-goed het ver gaan draai, daar waar die diksandduine langs die verste sien lê, want die naby houtjies is amper almal opgetel. Êrens langs die pad bekruip die hongerte en dorstigheid my en my se kragte loop leeg. Die terugkom was nie lekker nie, want my se voete sleep en my se hart lê swaarder as ‘n groot slagskaap.

Pastoorgoed sal nie glo nie, toe ons by die huis kom en Ma-goed die deur oopstoot steek sy skielik vas asof daar ‘n geelslang voor haar lê en ek loop teen haar vas. Voor haar se voete op die grond lê ‘n klein bruin koevertjie met iets buite op geskryf. Stadig buk sy vooroor, tel die vreemdheid op en maak dit met skilpadspoed en dom vingers versigtig oop. Vraend kyk ek na haar en skielik raak haar se oë groot. ‘n Honderd rand, Pastoorgoed, ‘n honderd rand noot lê in haar hand en toe hoor ek haar saggies sê ‘U het voorsien want U het mos so gesê’.

Nou weet ek nie so mooi nie, maar sê my, dink Pastoorgoed ek glo?”

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou .....................

Êrens tussen die duine woon mense wat jou waardeer omrede jy kosbaar en spesiaal is.

Die Kalahari Cronjé's

(Landlyn 054-551 1000)

No comments: