Monday, November 30, 2009

CHRISTEN OF DISSIPEL

Word ek nou onlangs gekonfronteer met die dubbeldoor vraag: “Is jy ‘n Christen of is jy ‘n dissipel van Christus?”
My eerste reaksie was sekerlik om te sê “Natuurtlik is ek ‘n Christen!” Ek ken mos die Here en dit op sigself maak van my ‘n Christen, daarom is ek nie ‘n heiden nie.

Toe begin ek oor hierdie saak dink….! In Markus 8:34 staan ……..Wie agter My aan wil kom moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Nou wat beteken verloën dan nou eintlik.
Dink aan die gedeelte in Markus 14:66-72. Daar het Petrus Jesus sommer driekeer verloën gedurende een nag. Petrus het ontken dat hy Jesus ken of geken het. Hy het eintlik ontken dat Jesus bestaan en hy was so ernstig dat hy dit driekeer gedoen het en eintlik bietjie opgewonde daaroor geraak het. Verloën beteken dan seker in effek dat mens die bestaan van ‘n persoon ontken. As ek myself dus moet verloën om Jesus te kan volg, dan moet ek dus my bestaan tot op die punt wat ek besluit om Hom te volg, ontken. Ek moet dus ophou om te lewe soos ek tot nou toe gelewe het. Dit wat tot nou toe my lewe was’ is dan sekerlik nie goed genoeg nie, ek moet dit aflê, klaarkry daarmee sodat ek my kruis kan opneem om Hom te volg
Nou wat beteken dit om jou kruis op te neem sodat jy Hom kan volg? Dit het nie beteken dat jy ‘n stuk hout met ‘n dwarsbalk moes optel en al agter Jesus aan dra nie. Soos ek toe nou die saak verstaan, was die Joodse Rabbies van daardie die Bybelse tyd, baie slim. Hulle het die geskrifte van die ou testament woordeliks uit hulle koppe geken. Trouens hulle moes dit woord vir woord ken om ‘n Rabbie te kon word.
Hulle taak was dan nou om om die geskrifte te interpreter. Ek wil amper aanvaar dat elkeen van hulle seker ok maar sy eie spesialiteitsveld gehad het.
Daardie las van die interpretasie van die geskrifte was blykbaar die Rabbie se kruis genoem.

Om die volgeling of leerling van iemand soos ‘n Rabbie te wees, beteken dat jy moet so na aan die Rabbie lewe en hom oral volg om die heeltyd van hom te leer. Omdat hulle in daardie tyd nie motorkarre gehad het nie, het hulle geloop waarheen hulle ookal wou of moes gaan. Die leerling of die dissipel van die Rabbie moes so naby aan hom beweeg dat die stof wat die Rabbie se voet op die pad gemaak het, op sy gesig en liggaam gaan lê het.

As Jesus ons dan nooi om Hom te volg en om sy dissipel te word, beteken dit dat ek my ou lewe moet aflê, vergeet dat ek ‘n vorige bestaan gehad het, ‘n nuwe lewe in Christus begin en Hom dan so naby volg dat Jesus aan my afgee.
Jesus moet op my gesig en my liggaam afgee, sodat andere dit kan sien en weet dat ek ‘n volgeling, ‘n leerling, ‘n dissipel van Jesus Christus is.

Per slot van sake as ons kyk na wat die groot opdrag aan ons is, Daar staan nie, dat ons moet gaan Christene maak van alle nasies nie…… Daar staan in Matt 28:19 Gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die naam van die Vader die Seun en die Heilige Gees.

Is jy ‘n Christen of is jy ‘n dissipel van Jesus? Om ‘n dissipel te wees moet jy ‘n vertrekpunt hê en jy moet die tekens dra dat jy Hom, onvoorwaardelik volg en dat jy van die Meester leer. Hy sê dat sy juk is sag en Sy las is lig, baie ligter as die las wat die wêreld op ons plaas. Hy gee vir ons lewe, nie net ‘n sleur bestaan van een salaries tjek na die volgende nie, nee ‘n oorvloedige lewe.
Ons moet Hom net vertrou.
Dan vra Hy, hoe die mense sal weet dat julle My dissipels is. Die mense sal dit weet as hulle sien dat julle mekaar liefhet.

Monday, November 23, 2009

BELEEF GOD

Die wêreldwye ekonomiese krisis.......almal wat moeg raak so aan die einde van die jaar, afskeiddfunksies, prysuitdelings.... genoeg is genoeg!!!! Die jaar moet nou net verby kom... Voel jy ook so?

Al die besigwees (selfs met die regte ding)kan ons fokus steel, wat dan uitloop op ons lewensvreugde wat weggespoel raak. Miskien is dit nodig om die volgende weer ter harte te neem wat Henry Blackaby skryf in sy boek, Beleef God. God nooi ons uit om by Sy planne betrokke te raak en nie andersom nie.

As God gereed is om iets te doen, maak Hy dit aan 'n persoon of 'n kerk bekend wat Hy gaan doen. God voer Sy werk deur Sy kinders uit.Dit is ook die manier wat God met jou werk. Die Bybel is ontwerp om jou te help om God se metodes te verstaan. As jy daarop ag gee, sal jy, wanneer God begin optree in jou lewe, herken dat dit God is wat aan die werk is.

SEWE WAARHEDE OMTRENT JOU BELEWENIS VAN GOD
- God is altyd rondom jou aan die werk.
- God soek 'n innige en blywende persoonlike liefdesverhouding met jou.
- God nooi jou om saam met Hom in Sy werke betrokke te raak.
- Met behulp van die Heilige Gees praat God met ons deur die Bybel, deur gebed, deur omstandighede, en deur die kerk. So openbaar Hy Homself, Sy planne en Sy metodes aan jou.
- God se uitnodiging dat jy saam met Hom moet werk, lei altyd tot 'n vertrouenskrisis (ek moet die Here vertrou) wat geloof en aksie vereis.
- 'n Mens moet groot aanpassings in jou lewe maak as jy by God se werk wil aansluit. - 'n Mens leer God ken deur persoonlike ervaring van Hom terwyl jy Hom gehoorsaam en Hy Sy doel deur jou bereik.

GEBED:
Here help my dat die besige wêreld nie my belewing van U steel nie en help my om duidelik te weet waar U wil hê ek my tyd en energie moet op fokus.

Dank aan: Danie Jacobs

Monday, November 16, 2009

AS EK TOE GEWEET HET WAT EK NOU WEET

Die jaar 2009 is besig om ten einde te snel. Dink net daaraan oor bietjie meer as 'n maand is dit alweer Kersfees en 'n week later is dit Nuwe Jaar 2010.
Het jy daardie dinge in hierdie jaar gedoen wat jy aan die begin besluit het om te doen? Het jy goedgedoen aan die persone wat oor jou pad gekom het..? Was jy Jesus vir mense wat jy gesien het wat swaarkry...?
Die ekonomie het hierdie afgelope jaar gedruk soos lanklaas. Mense het hulle werk verloor, miskien meer as eenkeer in hierdie jaar. Mense kry swaar finansieël.
Baie ouens het hulle karre verloor, baie ander het weer hulle huise verloor...!Mense wat redelik goed gelewe het, sit nou in 'n agterkamertjie en krepeer.

Daar is niemand wat nie moes afskaal op sy lewensstandaard nie. Hierdie jaar het by elkeen van ons tot op die been gesny.

Die tyd kom weer nader dat mense wat nog werk het bonusse kry. Hulle slyp reeds hulle tande vir die groot koop wat in aantog is. Desember is mos die maand van die groot spandeer. Dan max ons daardie kredietkaarte sommer maklik, omdat ons vir ons geliefdes al die mooi goed wil koop wat ons dink hulle verdien.....of sommer omdat ons nou geld het om te kan spandeer!
Ek wonder my vriend, jy wat hierdie einde van die jaar 2009 tegemoedgaan sonder 'n inkomste, sonder 'n bonus. Sou jy verlede Desember toe jy nog 'n groot salaris en 'n vet bonus gekry het, al die geld spandeer het op geskenke en goed waarsonder jy kon klaarkom? Sou jy daardie kredietkaart so geredelik aangebied het? As jy toe geweet het wat jy nou weet?

Ons is maar net bywoners op hierdie ou aarde. Ons is net tydelik hier, Maar elkeen van ons leef asof ons vir ewig hier sal wees. On besit eintlik niks. Ons is maar net aangestel as rentmeesters van dit wat na ons kant toe kom. Hag.2:8 Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die Here van die leërskare. In Ps 50:9-10 staan daar: Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op die berge by duisende.

Ons land gaan 'n hartseer Kersfees te gemoed. Kom ons gaan hierdie jaar omsigtig te werk met die finansies waarmee God ons toevertrou het. Laat ons nie oorboort gaan nie maar alles binne perke doen. Dit is so dat die feestyd al so gekommersialiseer is en dat alles so aangepas is om daardie geld uit ons sakke te laat stroom in die kasregisters van die handelaars in.
Wanneer ons begin koop, dink 'n oomblik aan hulle wat hierdie jaar nie die vermoeë het om te koop nie. Bly by klein geskenkies.....dalk is ek en jy volgende jaar onder diegene wat nie iets kan koop nie. Dan moet ons nie terugkyk en sê "as ek verlede jaar geweet het, wat ek nou weet......!"

Liewe Vader in die hemel, ons is besig om die moeilikste tyd van die jaar tegemoed te gaan. Here slegs U kan ons deur hierdie tyd dra. Verander asb ons gesindhede en bring hoop in ons dowwe oë. Jesus gee asb vrede in ons harte met wat ookal ons omstandighede in hierdie tyd is.As ons hartseer is oor ons omstandighede, Here droog asb ons trane af en sit daardie hoop in ons harte dat dit more sal beter gaan.
Hou die oë op Jesus, kyk op in sy vriendelik gesig, alle aardse dinge word nietig en klein by die glans van Sy heerlike lig. Amen

Thursday, November 12, 2009

ALLES KAN VERANDER


Alles kan in 'n oogwink verander.
Want God werk op vreemde wyses.
Sy wil is nie ons wil nie.
Sy gedagtes is nie ons gedagtes nie.
Sy tyd is nie ons tyd nie.
Daarom moet jy:
Diep dink
Saggies praat
Baie liefhê
Vriendelik wees
Gereeld lag
Blymoedig gee
Opreg bid
Hard werk
Voluit lewe.
Want elkeen wat goed lewe,
Lewe lank want ons lewenstyd word nie bereken
In jare, dae of ure nie..........
Onthou veral:
Vreugde sterf as jy dit nie vertroetel nie.
Daarom is dit nou tyd dat ons
Met sagte hande aan mekaar begin vat
Met sagte oë na mekaar begin kyk
Met sagte tonge met mekaar praat en
'n daaglikse dosis lag inkry !

Met dank aan Christa Els

Monday, November 9, 2009

JY MAAI WAT JY SAAI

Die man kyk stadig op. Voor hom staan ‘n dame wat duidelik die beter dinge in die lewe gewoond is. Haar klere lyk splinternuut en dit wil voorkom asof sy nog nooit ‘n ete in haar lewe gemis het nie, Sy eerste gedagte is dat sy hom wil verkleineer soos soveel ander mense wat hier verbyloop.
“Los my uit,” grom hy…. Tot sy verbasing bly sy staan. Haar glimlag vertoorn twee rye spierwit tande.
“Is jy honger?” vra sy.
“Nee!” antwoord hy sarkasties. “Ek kom nou net van ‘n presidensieële ete af…”los my nou uit”
Die dame se glimlag word al breër.
Skielik voel die man ‘n vriendelike hand onder sy arm. “Wat doen jy vroumens” vra die man ergerlik. “ek het mos gesê los my uit”
Op daardie stadium kom ‘n polisieman daar verby: Dame, is daar ‘n problem?” vra hy. “Daar is geen problem nie, sal jy my net asseblief help om hierdie man op sy voete te kry?”
Die polisieman vryf so oor sy ken en sê dan: “Dit is ou Jan, hy sit al vir baie jare hier rond, wat wil u met hom maak?
“Sien jy daardie restaurant daar oorkant die straat? Ek wil hom daarheen neem uit die koue en dan vir hom iets kry om te eet….” sê die ou dame.
“Is jy gek vroumens,” protester die boemelaar. “Ek wil nie soontoe gaan nie,” Dan voel hy hoe twee sterk hande hom onder die arms oplig.
“Los my uit poliesman, ek het niks verkeerd gedoen nie...”
“Jan, hierdie is ‘n goeie geleentheid vir jou, moet nou nie wederstrewig wees nie..!” Met groot moeite het die vrou en die poliesman uiteindelik vir Jan tot in die restaurant gekry en langs ‘n tafel gemaak sit.

Die bestuurder van die restaurant kom met wringende hande aangestap. “Wat gaan hier aan, is die man in die moeilikheid.”
“Nee.” antwoord die polisieman. “Die dame het hom net hierheen gebring om hom te laat eet.”
“Nie hier nie.” Sê die bestuurder geirriteerd. “Dit is sleg vir besigheid om so ‘n ou hier te laat sit”
Ou Jan grinnik met sy papmond. “Sien jy vroumens ek het jou mos gesê. Los my nou dat ek kan loop, ek wou in die eerste plek nie gekom het nie.”

Die ou dame draai met ‘n glimlag na die restaurant bestuurder toe: “ Meneer, is jy bekend met Marais en Genote, die finansiële instelling hier af in die straat?”
“Natuurlik is ek dame,” antwoord die bestuurder ongeduldig. “Hulle hou hulle weeklikse vergadering in een van my banketvertrekke.”
Maak jy elke week goeie geld uit die kos wat jy aan hulle voorsien? Vra die ou dame.
“Wat het dit met jou te doen,” vra die bestuurder.

“Ek, meneer…., is Hannatjie Marais, president en HUB van die maatskappy”

“Oo….”

Die ou dame glimlag weer….”Ek het gedink dit mag dalk ‘n verskil maak.” Sy kyk na die polisieman wat homself wil kraak. “Gaan jy saam met ons ‘n koffietjie drink en iets eet Sersant?”
“Nee dankie, dame, ek is nog op diens..!”
“Wat dan van net ‘n koppie koffie voor jy gaan?”
“Baie dankie dit sal heerlik wees.”

Die Bestuurder draai op sy hakke om. Sersant, ek gaan gou vir jou koffie haal..!”

Die Sersant hou hom dop terwyl hy wegstap. “U het hom behoorlik op sy plek gesit.”
“Dit was nie my bedoeling nie….glo my vry, ek het ‘n rede hiervoor.

Sy gaan sit teenoor haar verbaasde etegas en staar hom aan.

“Jan, onthou jy my nog?”

Ou Jan deursoek haar gesig met sy waterige ogies. “Ek dink so— u kom vir my bekend voor.”
“Ek is nou ‘n bietjie ouer” sê sy. Miskien het ek bietjie gewig aangesit sedert my jongdae, toe jy hier gewerk het.en ek het deur daardieselfde deur koud en honger hier ingekom het…!”
“Mevrou?” sê vra die polisieman. Hy kan nie glo dat ‘n dame met so ‘n voorkoms ooit kon honger ly nie.
“Ek was so pas uit universiteit,” begin die ou dame, Ek het na die stad toe gekom om werk te soek, maar ek kon niks kry nie. Ek het naderhand nie meer geld gehad nie en is ook uit my woonstel geskop. Ek het vir dae die strate deurkruis sonder sukses. Ek was koud en honger toe ek hierdie plek sien. Ek het hier ingeloop in die hoop date k hier iets kon kry om te eet

Jan se gesig verhelder. “Nou onthou ek,” sê hy. Ek was agter die toonbank. Jy het na my toe gestap en gevra of jy kan werk vir iets om te eet en ek het gesê dit is teen die reels van die maatskappy.”
“Ek weet,” sê die dame. “Toe het jy vir my die grootste geroosterde vleistoebroodjie gemaak, wat ek nog ooit gesien het. Saam met ‘n lekker koppie koffie het jy my by ‘n half verskuilde hoektafel laat sit en gesê ek moet dit geniet. Ek was bang dat jy daaroor in die moeilikheid so kom, maar toe sien ek dat jy die koste van my ete in die geldlaai plaas. Toe weet ek alles sal reg wees.”
“So toe begin jy jou eie besigheid?” sê ou Jan.
“Ek het daardie selfde middag ‘n pos gekry. Ek het my opgewerk. Uiteindelik het ek my eie besigheid begin en met die hulp van God en Sy genade gaan dit baie goed…”
Sy maak haar beursie oop en oorhandig ‘n besigheidskaartjie aan hom, “Wanneer jy hier klaar is wil ek hê jy moet ‘n draai maak by Mnr Herman. Hy is die personeel direkteur van my maatskappy. Ek sal nou met hom gaan praat, ek is seker dat hy vir jou ‘n werkie sal hê in die kantoor.”
Sy glimlag. “Ek dink hy sal jou dalk ook kan help met ‘n geldjie sodat jy kan klere koop en ‘n plek kry om te bly, totdat jy weer op die been is. As jy ooit iets nodig het, onthou my deur sal altyd oop wees.”

Daar was trane in ou Jan se oë. “Hoe sal ek jou ooit hiervoor kan bedank?”
“ Moenie my bedank nie. Alle eer aan die Here wat my na jou gelei het”

Buite die restaurant het die vrou en die polisieman vir ‘n oomblik getalm voordat hulle paaie geskei het.
“Baie dankie vir al jou hulp sersant..!” het sy gesê.
“Mevrou Marais, ek moet u bedank… vandag het ek ‘n wonderwerk gesien wat ek nooit sal vergeet nie, en…en dankie vir die koffie.”

Ek vertrou jy het ‘n wonderlike dag. Mag God se seën altyd op jou rus. Moenie vergeet, as jy jou brood op die water werp, het jy nie ‘n idée hoe dit eendag na jou sal terugkom nie

God is so groot, Hy kan die hele wêreld toevou in sy liefde, maar tog kan hy Homself in jou hart tuismaak, as jy dit toelaat.

As God jou tot by die afgrond lei, vertrou Hom ten volle . Daar sal net een van twee dinge gebeur. Hy gaan jou of vang as jy val, of Hy gaan jou leer om te vlieg

Onthou: God sluit deure wat geen mens kan oopmaak nie en God maak deure oop wat geen mens kan sluit nie

Thursday, November 5, 2009

GETUIG DEUR LEWENSWANDEL

1Tim 4:15 Wees vlytig in hierdie dinge,leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.
(16)Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.

Die boodskap van Paulus aan Timoteus is duidelik. Daarom dat die duiwel juis die kinders van God wil verhoed om hulle volle potensiaal te bereik. Ons kan en moet egter as kinders van die Vader ons uitleef in die oorwinning wat Christus reeds vir ons bereik het deur Sy kruisdood. Elkeen se vooruitgang moet sigbaar wees vir alle mense, gelowig sowel as ongelowig.

Ons moet by onsself begin en nie ander ondersoek sonder om self eers voor die Vader te kniel nie. Bou jouself op in die teenwoordigheid van die Vader sodat jy die brug kan wees tussen die kundiges en onkundiges. Redding is reeds verkry, maar die aanneming is net so belangrik, waarsonder dit geensins tot voordeel kan wees nie.

Raak die omstanders in jou omgewing opgewonde oor jou praat, handelinge en gewoontes? Komaan manne en vroue van God, hoor die boodskap, ons het leiers nodig in die tyd, wat kan vasstaan in die opdrag, deur hul lewenswandel!!

Met dank aan: Flip Nel

Monday, November 2, 2009

WINKELSTOEP DANKBAARHEID

Groete en Vrede!!!


So amper half verwese, met sy kop omlaag, sit hy in sy wielestoel op die koöperasie se stoep en wag dat die invaluur moet kom. Langs hom is Albert, sy getroue helper, wat so staan-staan in die stofferige vensterbank sit. Dis stil tussen hierdie twee Agter-Kalahari legendes, baie stil, amper grafstil want jare se saamwees het hulle geleer om woordloos te kommunikeer. Ek stap nader en hou hom so onderlangs dop. Skielik kyk hy op en begin dan soekend oor die oop stuk grond voor die koöpererasiewinkel rondkyk, kompleet asof hy weet dat ek oppad is.

Ek groet met ‘n armswaai van ver af en die blydskap op sy geplooide, sonverskroeide gesig staan soos ’n grashalmpie wat sagte, blinkwater reën gedrink het, orent. Versigtig trek ek die swart plastiekasblik nader, draai hom kop onderstebo en maak my sit so gemaklik moontlik daarop. Nog net so amper ‘n halfuur dan sal hierdie Maandag se middagete agter ons lê en ander mense se bewegings sal die kosbare tydjie saam met hulle kom versteur.

Ons gesels begin en ek hoop stilweg dat hy oor sy binnekantgoeters van daardie laaste paar traandae sou praat. Daardie aaklike dag toe die ambulans plaas toe geroep is en die pynsteekwoorde ‘n dag later van die gryse dokter dat hoop vir haar oorlewing maar bitter skralerig is. Of selfs daardie wrede en hartseerdag toe hy haar met ‘n kragtelose handwaai vir die laaste keer gegroet het. Dit, terwyl die rooibruin Kalaharistof wat met die toegooi uit haar graf opdwarrel, sy geplooide nat wange vuil kleur.

Helaas, sy hartsverlange stroom soos ‘n oorlooptenk uit sy gebroke hart en raak verstrengel in ‘n diep gesetelde dankbaarheid. ‘n Dankbaarheid teenoor haar en dan veral teenoor Vader wat haar aan hom geleen het. Sy wat vir meer as 60 jaar styf langs hom op die kronkel en soms dwarsduin paaie van die lewe gereis het. Hartsverlange maak plek vir dankbaarheidswoorde en steeds stroom dit sonder ophou uit sy hart. Albert sit nog steeds so staan-staan doodstil en ek besef dat hy weer terugloop op sy eie onsigbare spore langs vergange se paaie. Lankal terug se paaie waar hom se spore saam met die wielestoel s’n lê. Paaie waar die dankbaarheid om daar te kon loop groter is as die onthou.

Ons tydjie saam op die koöperasie se winkelstoep staan einde se kant toe want van die werksmense kom sit ook nou op die stoep. ‘n Kosbare tydjie vol hartsverlange en ‘n diepe dankbaarheid. Daar is ‘n blink nattigheid in onse oë toe hy groet met: “Dankie dat ek kon dankie sê”. Ek draai om en begin huiswaarts oor die oop stuk grond loop terwyl Albert hom kop omhoog die koöperasie instoot.

Met my kop onderstebo loop ek weer saam met hulle terug op my eie vergange paadjie. Ek beleef weer sy vorige dankbare vertelling van hulle laaste geleentheid om saam hemelbrood en hemeldrank in die rustigheid van die plaasopstal te kon nuttig. Ek sien hulle weer sit soos verliefde skoolkinders met vingers ineengestrengel terwyl die glasie met die rooi goed in sy sonverskroeide regterhand wegraak. Ek kyk hoopvol terug om vir oulaas te wuif maar die koöperasiestoep is verlate en leeg. Dan dreun die rustige diep gefluister van die oom se opregte gebed vol dankbaarheid in my se ore. Opnuut besef ek weer die waarde van ‘n opregte dankbare lewenspad en wonder oor my eie dankbaarheid en dié s’n waarvoor ek lief is.

Geloofsgenoot onthou tog dat dankbaarheid teenoor Vader se Kêrelkind tesame met ‘n rede om ander se lewensloop makliker te maak met ‘n egte en opregte dankiewoord vanuit die bêreplek van jou se binnekantskatte, jou se eie kronkel en dwarsduinpad reguit en gelyk sal help maak.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ...................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene
DIVINE LIFE.
(Landlyn 054-551 1000)