Monday, November 16, 2009

AS EK TOE GEWEET HET WAT EK NOU WEET

Die jaar 2009 is besig om ten einde te snel. Dink net daaraan oor bietjie meer as 'n maand is dit alweer Kersfees en 'n week later is dit Nuwe Jaar 2010.
Het jy daardie dinge in hierdie jaar gedoen wat jy aan die begin besluit het om te doen? Het jy goedgedoen aan die persone wat oor jou pad gekom het..? Was jy Jesus vir mense wat jy gesien het wat swaarkry...?
Die ekonomie het hierdie afgelope jaar gedruk soos lanklaas. Mense het hulle werk verloor, miskien meer as eenkeer in hierdie jaar. Mense kry swaar finansieël.
Baie ouens het hulle karre verloor, baie ander het weer hulle huise verloor...!Mense wat redelik goed gelewe het, sit nou in 'n agterkamertjie en krepeer.

Daar is niemand wat nie moes afskaal op sy lewensstandaard nie. Hierdie jaar het by elkeen van ons tot op die been gesny.

Die tyd kom weer nader dat mense wat nog werk het bonusse kry. Hulle slyp reeds hulle tande vir die groot koop wat in aantog is. Desember is mos die maand van die groot spandeer. Dan max ons daardie kredietkaarte sommer maklik, omdat ons vir ons geliefdes al die mooi goed wil koop wat ons dink hulle verdien.....of sommer omdat ons nou geld het om te kan spandeer!
Ek wonder my vriend, jy wat hierdie einde van die jaar 2009 tegemoedgaan sonder 'n inkomste, sonder 'n bonus. Sou jy verlede Desember toe jy nog 'n groot salaris en 'n vet bonus gekry het, al die geld spandeer het op geskenke en goed waarsonder jy kon klaarkom? Sou jy daardie kredietkaart so geredelik aangebied het? As jy toe geweet het wat jy nou weet?

Ons is maar net bywoners op hierdie ou aarde. Ons is net tydelik hier, Maar elkeen van ons leef asof ons vir ewig hier sal wees. On besit eintlik niks. Ons is maar net aangestel as rentmeesters van dit wat na ons kant toe kom. Hag.2:8 Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die Here van die leërskare. In Ps 50:9-10 staan daar: Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op die berge by duisende.

Ons land gaan 'n hartseer Kersfees te gemoed. Kom ons gaan hierdie jaar omsigtig te werk met die finansies waarmee God ons toevertrou het. Laat ons nie oorboort gaan nie maar alles binne perke doen. Dit is so dat die feestyd al so gekommersialiseer is en dat alles so aangepas is om daardie geld uit ons sakke te laat stroom in die kasregisters van die handelaars in.
Wanneer ons begin koop, dink 'n oomblik aan hulle wat hierdie jaar nie die vermoeë het om te koop nie. Bly by klein geskenkies.....dalk is ek en jy volgende jaar onder diegene wat nie iets kan koop nie. Dan moet ons nie terugkyk en sê "as ek verlede jaar geweet het, wat ek nou weet......!"

Liewe Vader in die hemel, ons is besig om die moeilikste tyd van die jaar tegemoed te gaan. Here slegs U kan ons deur hierdie tyd dra. Verander asb ons gesindhede en bring hoop in ons dowwe oë. Jesus gee asb vrede in ons harte met wat ookal ons omstandighede in hierdie tyd is.As ons hartseer is oor ons omstandighede, Here droog asb ons trane af en sit daardie hoop in ons harte dat dit more sal beter gaan.
Hou die oë op Jesus, kyk op in sy vriendelik gesig, alle aardse dinge word nietig en klein by die glans van Sy heerlike lig. Amen

No comments: