Monday, November 2, 2009

WINKELSTOEP DANKBAARHEID

Groete en Vrede!!!


So amper half verwese, met sy kop omlaag, sit hy in sy wielestoel op die koöperasie se stoep en wag dat die invaluur moet kom. Langs hom is Albert, sy getroue helper, wat so staan-staan in die stofferige vensterbank sit. Dis stil tussen hierdie twee Agter-Kalahari legendes, baie stil, amper grafstil want jare se saamwees het hulle geleer om woordloos te kommunikeer. Ek stap nader en hou hom so onderlangs dop. Skielik kyk hy op en begin dan soekend oor die oop stuk grond voor die koöpererasiewinkel rondkyk, kompleet asof hy weet dat ek oppad is.

Ek groet met ‘n armswaai van ver af en die blydskap op sy geplooide, sonverskroeide gesig staan soos ’n grashalmpie wat sagte, blinkwater reën gedrink het, orent. Versigtig trek ek die swart plastiekasblik nader, draai hom kop onderstebo en maak my sit so gemaklik moontlik daarop. Nog net so amper ‘n halfuur dan sal hierdie Maandag se middagete agter ons lê en ander mense se bewegings sal die kosbare tydjie saam met hulle kom versteur.

Ons gesels begin en ek hoop stilweg dat hy oor sy binnekantgoeters van daardie laaste paar traandae sou praat. Daardie aaklike dag toe die ambulans plaas toe geroep is en die pynsteekwoorde ‘n dag later van die gryse dokter dat hoop vir haar oorlewing maar bitter skralerig is. Of selfs daardie wrede en hartseerdag toe hy haar met ‘n kragtelose handwaai vir die laaste keer gegroet het. Dit, terwyl die rooibruin Kalaharistof wat met die toegooi uit haar graf opdwarrel, sy geplooide nat wange vuil kleur.

Helaas, sy hartsverlange stroom soos ‘n oorlooptenk uit sy gebroke hart en raak verstrengel in ‘n diep gesetelde dankbaarheid. ‘n Dankbaarheid teenoor haar en dan veral teenoor Vader wat haar aan hom geleen het. Sy wat vir meer as 60 jaar styf langs hom op die kronkel en soms dwarsduin paaie van die lewe gereis het. Hartsverlange maak plek vir dankbaarheidswoorde en steeds stroom dit sonder ophou uit sy hart. Albert sit nog steeds so staan-staan doodstil en ek besef dat hy weer terugloop op sy eie onsigbare spore langs vergange se paaie. Lankal terug se paaie waar hom se spore saam met die wielestoel s’n lê. Paaie waar die dankbaarheid om daar te kon loop groter is as die onthou.

Ons tydjie saam op die koöperasie se winkelstoep staan einde se kant toe want van die werksmense kom sit ook nou op die stoep. ‘n Kosbare tydjie vol hartsverlange en ‘n diepe dankbaarheid. Daar is ‘n blink nattigheid in onse oë toe hy groet met: “Dankie dat ek kon dankie sê”. Ek draai om en begin huiswaarts oor die oop stuk grond loop terwyl Albert hom kop omhoog die koöperasie instoot.

Met my kop onderstebo loop ek weer saam met hulle terug op my eie vergange paadjie. Ek beleef weer sy vorige dankbare vertelling van hulle laaste geleentheid om saam hemelbrood en hemeldrank in die rustigheid van die plaasopstal te kon nuttig. Ek sien hulle weer sit soos verliefde skoolkinders met vingers ineengestrengel terwyl die glasie met die rooi goed in sy sonverskroeide regterhand wegraak. Ek kyk hoopvol terug om vir oulaas te wuif maar die koöperasiestoep is verlate en leeg. Dan dreun die rustige diep gefluister van die oom se opregte gebed vol dankbaarheid in my se ore. Opnuut besef ek weer die waarde van ‘n opregte dankbare lewenspad en wonder oor my eie dankbaarheid en dié s’n waarvoor ek lief is.

Geloofsgenoot onthou tog dat dankbaarheid teenoor Vader se Kêrelkind tesame met ‘n rede om ander se lewensloop makliker te maak met ‘n egte en opregte dankiewoord vanuit die bêreplek van jou se binnekantskatte, jou se eie kronkel en dwarsduinpad reguit en gelyk sal help maak.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot 'n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ...................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene
DIVINE LIFE.
(Landlyn 054-551 1000)

No comments: