Monday, November 30, 2009

CHRISTEN OF DISSIPEL

Word ek nou onlangs gekonfronteer met die dubbeldoor vraag: “Is jy ‘n Christen of is jy ‘n dissipel van Christus?”
My eerste reaksie was sekerlik om te sê “Natuurtlik is ek ‘n Christen!” Ek ken mos die Here en dit op sigself maak van my ‘n Christen, daarom is ek nie ‘n heiden nie.

Toe begin ek oor hierdie saak dink….! In Markus 8:34 staan ……..Wie agter My aan wil kom moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Nou wat beteken verloën dan nou eintlik.
Dink aan die gedeelte in Markus 14:66-72. Daar het Petrus Jesus sommer driekeer verloën gedurende een nag. Petrus het ontken dat hy Jesus ken of geken het. Hy het eintlik ontken dat Jesus bestaan en hy was so ernstig dat hy dit driekeer gedoen het en eintlik bietjie opgewonde daaroor geraak het. Verloën beteken dan seker in effek dat mens die bestaan van ‘n persoon ontken. As ek myself dus moet verloën om Jesus te kan volg, dan moet ek dus my bestaan tot op die punt wat ek besluit om Hom te volg, ontken. Ek moet dus ophou om te lewe soos ek tot nou toe gelewe het. Dit wat tot nou toe my lewe was’ is dan sekerlik nie goed genoeg nie, ek moet dit aflê, klaarkry daarmee sodat ek my kruis kan opneem om Hom te volg
Nou wat beteken dit om jou kruis op te neem sodat jy Hom kan volg? Dit het nie beteken dat jy ‘n stuk hout met ‘n dwarsbalk moes optel en al agter Jesus aan dra nie. Soos ek toe nou die saak verstaan, was die Joodse Rabbies van daardie die Bybelse tyd, baie slim. Hulle het die geskrifte van die ou testament woordeliks uit hulle koppe geken. Trouens hulle moes dit woord vir woord ken om ‘n Rabbie te kon word.
Hulle taak was dan nou om om die geskrifte te interpreter. Ek wil amper aanvaar dat elkeen van hulle seker ok maar sy eie spesialiteitsveld gehad het.
Daardie las van die interpretasie van die geskrifte was blykbaar die Rabbie se kruis genoem.

Om die volgeling of leerling van iemand soos ‘n Rabbie te wees, beteken dat jy moet so na aan die Rabbie lewe en hom oral volg om die heeltyd van hom te leer. Omdat hulle in daardie tyd nie motorkarre gehad het nie, het hulle geloop waarheen hulle ookal wou of moes gaan. Die leerling of die dissipel van die Rabbie moes so naby aan hom beweeg dat die stof wat die Rabbie se voet op die pad gemaak het, op sy gesig en liggaam gaan lê het.

As Jesus ons dan nooi om Hom te volg en om sy dissipel te word, beteken dit dat ek my ou lewe moet aflê, vergeet dat ek ‘n vorige bestaan gehad het, ‘n nuwe lewe in Christus begin en Hom dan so naby volg dat Jesus aan my afgee.
Jesus moet op my gesig en my liggaam afgee, sodat andere dit kan sien en weet dat ek ‘n volgeling, ‘n leerling, ‘n dissipel van Jesus Christus is.

Per slot van sake as ons kyk na wat die groot opdrag aan ons is, Daar staan nie, dat ons moet gaan Christene maak van alle nasies nie…… Daar staan in Matt 28:19 Gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die naam van die Vader die Seun en die Heilige Gees.

Is jy ‘n Christen of is jy ‘n dissipel van Jesus? Om ‘n dissipel te wees moet jy ‘n vertrekpunt hê en jy moet die tekens dra dat jy Hom, onvoorwaardelik volg en dat jy van die Meester leer. Hy sê dat sy juk is sag en Sy las is lig, baie ligter as die las wat die wêreld op ons plaas. Hy gee vir ons lewe, nie net ‘n sleur bestaan van een salaries tjek na die volgende nie, nee ‘n oorvloedige lewe.
Ons moet Hom net vertrou.
Dan vra Hy, hoe die mense sal weet dat julle My dissipels is. Die mense sal dit weet as hulle sien dat julle mekaar liefhet.